Die Handelinge Van Die Apostels

23/59

Hoofstuk 22—Thessalonika*

Nadat hulle Filippi verlaat het, het Paulus en Silas na Thessalonika vertrek. Hier is die voorreg hulle vergun om groot gehore in die Joodse sinagoge toe te spreek. Hulle voorkoms het van die skandelike behandeling wat hulle onlangs ontvang het getuig en het ‘n verduideliking van wat plaasgevind het genoodsaak. Dit het hulle gedoen sonder om hulself te verhef, maar die Een wat die verlossing bewerk het, verhef. DHDA 187.1

In sy prediking aan die Thessalonicense het Paulus hom op die Ou-Testamentiese profesieë aangaande die Messias beroep. In Sy bediening het Christus Sy dissipels se denke vir hierdie profesieë geopen. “Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” (Lukas 24:27). In sy prediking van Christus, het Petrus sy getuienis uit die Ou Testament gelewer. Stefanus het dieselfde roete gevolg. En Paulus het hom ook in sy bediening, op die skrifgedeeltes wat die geboorte, lyding, dood, opstanding en Hemelvaart van Christus beskryf het, beroep. Deur die ingegewe getuienis van Moses en die profete het hy duidelik die identiteit van Jesus van Nasaret as die Messias bewys en getoon dat dit vanaf die dae van Adam die stem van Christus was wat deur patriarge en profete gepraat het. DHDA 187.2

Duidelike en bepaalde profesieë is aangaande die verskyning van die Beloofde Een gegee. Aan Adam is die versekering van die koms van die Verlosser gegee. Die vonnis wat oor die Satan uitgespreek is: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt...” (Genesis3:15) was vir ons stamouers ‘n belofte van die verlossing wat deur Christus bewerkstellig sou word. DHDA 187.3

Aan Abraham is die belofte gegee dat daar uit sy geslag die Redder van die wêreld sou kom: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.” “Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.” (Genesis 22:18; Galasiërs 3:16). DHDA 188.1

Teen die einde van sy werk as leier en leraar van Israel, het Moses duidelik van die komende Messias geprofeteer: “‘n Profeet, uit jou midde uit jou broers, soos ek is... ” het hy aan die vergadering van Israel verklaar, “...sal die Here jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister.” En Moses het die Israeliete verseker dat God dit self op die berg Horeb aan hom geopenbaar het deur te sê: ” ‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is en Ek sal My woorde in sy mond lê en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel.” (Deuteronomium 18:15,18). DHDA 188.2

Die Messias sou uit die koninklike geslag wees, want in die profesie wat deur Jakob geuiter is, het die Here gesê: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.” (Genesis 49:10). DHDA 188.3

Jesaja het geprofeteer: “Daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isaï en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra ... Neig julle oor en kom na My toe, luister en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid. Kyk, Ek het hom tot ‘n getuie van die volke gemaak, tot ‘n vors en gebieder van die nasies. Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep, en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou hardloop, ter wille van die Here jou God en van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het.” (Jesaja 11:1;55:3-5). DHDA 188.4

Jeremia het ook van die komende Verlosser getuig as ‘n Vors van die huis van Dawid: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is die naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID ... En dan weer: Want so sê die Here: Daar sal vir Dawid nie ‘n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie; en daar sal vir die Levitiese priesters nooit voor My aangesig ‘n man ontbreek wat altyddeur brandoffers bring en spysoffers aan die brand steek en slagoffers berei nie.” (Jeremia 23:5,6;33:17,18). DHDA 189.1

Selfs die geboorteplek van die Messias is voorspel: “En jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” (Miga 5:1). DHDA 189.2

Die werk wat die Verlosser op aarde sou verrig, was volledig uiteengesit: “Op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here. En Hy het ‘n welgevalle aan die vrees van die Here.” Die Een wat só gesalf was, is gestuur “...om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges ... om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die Here en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugdeolie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die Here, tot Sy verheerliking.” (Jesaja 11:2,3;61:1-3). DHDA 189.3

“Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, My Uitverkorene in wie My siel ‘n welbehae het. Ek het My Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of Sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring. Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op Sy leer. ” (Jesaja 42:1-4). DHDA 189.4

Met oortuigende krag het Paulus uit die Ou Testamentiese Geskrifte geredeneer “...dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan.” Het Miga nie geprofeteer: “Met ‘n stok slaan hulle die regeerder van Israel op die kakebeen...” nie? (Miga 4:14). En het die Beloofde Een dan nie deur Jesaja aangaande Homself geprofeteer: “Ek het My rug gegee vir die wat slaan en My wange vir die wat die hare uitpluk; My aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie”? (Jesaja 50:6). Deur die psalmdigter het Christus die behandeling wat Hy van die mensdom sou ontvang voorspel: “Ek is ... ‘n smaad van die mense en verag deur die volk. Almal wat My sien, spot met My; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê: Laat dit aan die Here oor! Laat Hy Hom red, laat Hy Hom bevry: Hy het mos behae in Hom! ... Al My beendere kan Ek tel; hulle kyk, hulle sien met welgevalle op My neer! Hulle verdeel My klere onder mekaar en werp die lot oor My gewaad ... Vreemd het ek vir My broers geword en ‘n onbekende vir die seuns van My moeder. Want die ywer vir U huis het My verteer en die smaadheid van die wat U smaad, het op My geval ... Die smaad breek my hart en ek is verswak; ja, ek het gewag op medelyde, maar verniet; en op vertroosters, maar het hulle nie gevind nie.” (Psalm 22:7-9,18,19;60:9,10,21). DHDA 190.1

Hoe onmiskenbaar duidelik was Jesaja se profesieë aangaande die lyding en dood van Christus! “Wie het geglo wat aan ons verkondig is?” vra die profeet “...en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.” DHDA 190.2

“Nogtans het Hy ons krankhede op Hom geneem en ons smarte-die het Hy gedra; maar ons het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” DHDA 191.1

“Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders-ja, Hy het Sy mond nie oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder Sy tydgenote-wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.” (Jesaja 53:1-8). DHDA 191.2

Selfs die wyse waarop Hy sou sterf is voorafgeskadu. Soos die koperslang in die woestyn verhoog is, so moes die komende Verlosser verhoog word, “...sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16). DHDA 191.3

“En as iemand vir Hom sê: Watter wonde is daardie tussen jou hande? Dan sal Hy antwoord: So is ek geslaan in die huis van my vriende.” (Sagaria 13:6). DHDA 191.4

“En hulle het Hom Sy graf by die goddelose gegee; en by die ryke was Hy in Sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in Sy mond gewees het nie. Maar dit het die Here behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak. (Jesaja 53:9,10). DHDA 191.5

Maar Hy wat deur die hande van goddelose mense gedood sou word, sou weer as oorwinnaar oor sonde en die graf opstaan. Onder ingewing van die Almagtige het die geliefde sanger van Israel van die heerlikhede van die opstandingsdag getuig. “Ook sal my vlees...” het hy met blydskap uitgeroep, “...in veiligheid woon; want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.” (Psalm 16:9,10). DHDA 192.1

Paulus het aangedui hoe nou God die offerdiens met die profesieë aangaande die Een wat “...soos ‘n lam ... na die slagplek gelei...” sou word, verbind het. Die Messias sou Sy lewe as “...’n skuldoffer...” aanbied. Die profeet Jesaja het deur die eeue na die versoeningswerk van die Heiland gekyk en getuig dat die Lam van God “...Sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.” (Jesaja 53:7,10,12). DHDA 192.2

Die Verlosser van die profesie sou nie as ‘n tydelike koning kom om die Joodse volk van hul aardse verdrukkers te verlos nie, maar as ‘n mens onder die mensdom, om ‘n lewe van armoede en vernedering te lei en uiteindelik verag, verwerp en gedood te word. Die Heiland wat in die Ou-Testamentiese skrifte voorspel is, sou Homself as offer vir die gevalle mensdom aanbied en sodoende aan elke vereiste van die verbreekte wet voldoen. In Hom sou die tipes van die offerstelsel hulle antitipe ontmoet en Sy dood aan die kruis sou aan die hele Joodse bedeling betekenis verleen. DHDA 192.3

Paulus het aan die Jode in Thessalonika van sy vroeëre ywer vir die seremoniële wet en van sy wonderlike ervaring by die poorte van Damaskus vertel. Voor sy bekering was hy vol vertroue in ‘n oorgeërfde vroomheid, ‘n valse hoop. Sy geloof was nie in Christus geanker nie; hy het eerder op vorms en seremonies vertrou. Sy ywer vir die wet was losgemaak van Christus en was van geen nut nie. Terwyl hy daarop geroem het dat hy in die uitvoering van die dade van die wet onberispelik was, het hy die Een geweier wat die wet van waarde gemaak het. DHDA 192.4

Maar met van sy bekering, is alles verander. Die Jesus van Nasaret wat hy in die persoon van Sy heiliges vervolg het, het as die beloofde Messias aan hom verskyn. Die vervolger het Hom as die Seun van God gesien, die Een wat ter vervulling van die profesieë na die aarde gekom het en wat in Sy lewe aan elke voorskrif van die heilige Skrifte voldoen het. DHDA 193.1

Terwyl Paulus die evangelie met heilige vrymoedigheid in die sinagoge te Thessalonika verkondig het, is ‘n vloed van lig op die ware betekenis van die rituele en seremonies in verband met die diens van die tabernakel gewerp. Hy het die gedagtes van sy toehoorders by die aardse diens en die bediening van Christus in die hemelse heiligdom verder gevoer na die tyd wanneer Christus, nadat Hy Sy middelaarswerk voltooi het, met krag en groot heerlikheid sou terugkeer om Sy koninkryk op die aarde te vestig. Paulus het in die wederkoms van Christus geglo; hy het die waarhede so kragtig aangaande hierdie gebeurtenis aangebied, dat daar op baie mense wat dit gehoor het ‘n indruk gelaat is wat nooit uitgewis sou word nie. DHDA 193.2

Vir drie opeenvolgende Sabbatte het Paulus vir die Thessalonicense gepreek en uit die Skrif met hulle oor die lewe, dood, opstanding, ampswerk en toekomstige heerlikheid van Christus geredeneer, “...die Lam wat geslag is ... van die grondlegging van die wêreld af... ” (Openbaring 13:8). Hy het Christus verhef, Wie se bediening die sleutel is wat die Ou-Testamentiese Geskrifte ontsluit en toegang tot hul ryk skatte verleen. DHDA 193.3

Soos die waarhede van die evangelie aldus met groot krag in Thessalonika verkondig is, was die aandag van die groot gehore geboei. “Sommige van hulle is oortuig en het hulle by Paulus en Silas aangesluit, ook ‘n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ‘n groot aantal van die aansienlikste vroue.” DHDA 193.4

Soos in die plekke wat hulle voorheen besoek het, het die apostels onverbiddelike teenkanting ervaar. “Die ongelowige Jode was afgunstig.” Hierdie Jode was op daardie stadium in onguns by die Romeinse owerheid omdat hulle kort tevore ‘n opstand in Rome opgewek het. Hulle is met agterdog bejeën en hulle vryheid was tot ‘n mate beperk. Nou het hulle ‘n geleentheid gesien om die omstandighede uit te buit om weer in guns te kom en terselfdertyd die apostels en die bekeerlinge tot die Christendom te smaad. DHDA 194.1

Dít het hulle bewerkstellig deur met “...slegte manne en leeglopers...” te verenig en so het hulle daarin geslaag om “...die stad in opskudding...” te bring. In die hoop om die apostels te vind, het hulle “...die huis van Jason aangeval...” maar hulle kon nie vir Paulus of Silas vind nie. “Maar toe hulle hul nie kry nie...” het die gepeupel in hulle dolle teleurstelling, “...Jason en ‘n paar broeders na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom en Jason het hulle ontvang. En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ‘n ander koning is, naamlik Jesus.” DHDA 194.2

Aangesien Paulus en Silas nêrens te vinde was nie, het die owerhede die beskuldigde gelowiges in hegtenis geneem om die vrede te bewaar. Uit vrees vir verdere geweld, het “...die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Berea weggestuur.” DHDA 194.3

Diegene wat vandag ongewilde waarhede verkondig, hoef nie ontmoedig te word indien hulle soms nie gunstiger as Paulus en sy medewerkers ontvang word nie, selfs nie deur diegene wat beweer dat hulle Christene is nie. Die boodskappers van die kruis moet hulself met waaksaamheid en gebed bewapen en met geloof en moed vorentoe beweeg om altyd in die Naam van Jesus te werk. Hulle moet Christus as die Middelaar van die mens in die hemelse heiligdom verhoog, die Een in Wie al die offers van die Ou Testament gesentreer is en deur Wie se soenoffer die oortreders van God se wet, vrede en vergifnis kan vind. DHDA 194.4