Die Handelinge Van Die Apostels

22/59

Hoofstuk 21—In die Streke Daarbuite*

Die tyd het aangebreek dat die evangelie buite die grense van Klein-Asië verkondig moes word. Die weg vir Paulus en sy medewerkers om na Europa oor te steek is voorberei. By Troas, aan die oewer van die Middellandse See, het Paulus “...’n gesig in die nag gesien-daar staan ‘n Macedoniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedonië en help ons!” DHDA 178.1

Die oproep was gebiedend en het geen uitstel toegelaat nie. Lukas, wat Paulus, Silas en Timotheus op die reis na Europa vergesel het, het gesê: “En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig. Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis, en daarvandaan na Filippi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedonië, ‘n kolonie.” DHDA 178.2

Lukas het vervolg: “Op die Sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ‘n rivier waar die gebruiklike bidplek was en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het. En ‘n vrou met die naam van Lidia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatire, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.” Lidia het die waarheid met blydskap ontvang. Sy en haar huisgesin is bekeer en gedoop en sy het by die apostels aangedring om in haar huis tuis te gaan. DHDA 178.3

Terwyl die boodskappers van die kruis besig was om onderrig te gee, het ‘n sekere vrou wat ‘n gees van waarsêery gehad het, hulle gevolg en uitgeroep: “Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste en hulle verkondig aan ons die weg van verlossing. En dit het sy baie dae lank gedoen.” DHDA 178.4

Hierdie vrou was ‘n spesiale agent van die Satan en het met haar waarsêery baie geld vir haar meesters verdien. Haar invloed het gehelp om die afgodediens te versterk. Satan het geweet dat sy koninkryk binnegedring word en hy het van hierdie optrede gebruik gemaak om die werk van God teë te gaan, in die hoop om sy drogredenasies met die waarhede wat deur die verkondigers van die evangelieboodskap geleer word, te vermeng. Die woorde van aanbeveling wat die vrou gespreek het, het skade aan die saak van waarheid veroorsaak, want dit het die mense se aandag van die leringe van die apostels afgetrek en die evangelie verdag gemaak. As gevolg daarvan het baie mense wat dit gehoor het, geglo dat die manne wat met die Gees en krag van God gespreek het, deur dieselfde gees as hierdie gesant van Satan besiel is. DHDA 179.1

Die apostels het hierdie teëstand ‘n geruime tyd verduur; toe het Paulus die bose gees, onder ingewing van die Heilige Gees, beveel om die vrou te verlaat. Haar onmiddellike stilswye het getuig dat die apostels die diensknegte van God was, dat die demoon dit erken het en hulle bevel gehoorsaam het. DHDA 179.2

Die vrou is van die bose gees bevry en nadat sy tot haar volle verstand gekom het, het sy gekies om ‘n volgeling van Christus geword. Dit het haar meesters bekommerd oor hul ambag gemaak. Hulle het besef dat alle hoop om geld uit haar waarsêery en voorspellings te ontvang beëindig is en dat hul bron van inkomste binnekort geheel en al afgesny sou word indien die apostels toegelaat word om die werk van die evangelie voort te sit. DHDA 179.3

Baie ander mense in die stad was ook betrokke in die verkryging van geld uit sataniese dwalings en uit vrees vir die invloed van ‘n Mag wat hul werk so effektief kon beëindig, is ‘n geweldige bohaai teen die dienaars van God ontketen. Hulle het die apostels voor die landdroste van die stad gebring met die beskuldiging: “Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is.” DHDA 179.4

Opgewerk deur ‘n waansinnige opgewondenheid, het die menigte teen die dissipels opgetrek. ‘n Gees van oproerigheid het geheers en is deur die landdroste goedgekeur, deur die apostels se boklere van hulle af te skeur en te beveel dat hulle gegesel moes word. “En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak. Hy het toe, omdat hy so ‘n bevel ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak.” DHDA 180.1

Die apostels het hewige foltering gely weens die pynlike toestand waarin hulle gelaat is, maar hulle het nie gemurmureer nie. In plaas daarvan, het hulle mekaar in die donkerte en verlatenheid van die kerker met gebede bemoedig en lofliedere tot eer van God gesing omdat hulle waardig bevind was om ter wille van Hom smaad te ly. Hulle harte is deur ‘n diep en innige liefde vir die saak van hulle Verlosser verbly. Paulus het aan die vervolging wat deur sy toedoen op die dissipels van Christus gebring is gedink en hy het hom verbly omdat sy oë geopen is om die krag van die heerlike waarhede wat hy voorheen verag het, te sien en te ervaar. DHDA 180.2

Met verbasing het die ander gevangenes die geluid van gebed en sang uit die binneste kerker van die gevangenis gehoor. Hulle was daaraan gewoond dat die stilte van die nag deur gille en gekreun, lastering en gevloek onderbreek word; maar nooit vantevore het hulle woorde van gebed en lofbetuiging uit daardie somber sel hoor opstyg nie. Wagte en gevangenes was verstom en het hulself afgevra wie hierdie manne kon wees wat, ondanks die koue, die honger en die marteling, hulle nog kon verheug. DHDA 180.3

Intussen het die landdroste na hul huise teruggekeer en hulself geluk gewens dat hulle met vinnige en beslissende optrede daarin geslaag het om die oproer te onderdruk. Maar onderweg het hulle meer te hore gekom aangaande die karakter en werk van die manne wat hulle tot geseling en gevangenisstraf gevonnis het. Hulle het die vrou wat van die sataniese mag bevry was gesien en is deur die verandering in haar voorkoms en houding getref. In die verlede het sy baie probleme in die stad veroorsaak; nou was sy stil en vredeliewend. Toe hulle besef dat hulle in alle waarskynlikheid twee onskuldige manne die streng straf van die Romeinse wet opgelê het, was hulle verontwaardig met hulself en het besluit dat hulle in die oggend sou beveel dat die apostels heimlik vrygelaat en buite die stad, buite die gevaar van die gewelddadigheid van die gepeupel, begelei moes word. DHDA 181.1

Maar hoewel mense wreed en wraakgierig was, of kriminele nalatigheid ten opsigte van die ernstige verantwoordelikhede wat op hulle gerus het, aan die dag gelê het, het God nie vergeet om Sy knegte genadig te wees nie. Die ganse hemel het belanggestel in die manne wat ter wille van Christus gely het en engele is gestuur om hulle in die gevangenis te besoek. Waar hulle getrap het, het die aarde gebewe. Die stewig gegrendelde gevangenisdeure het oopgeswaai; die kettings en boeie het van die gevangenes se hande en voete afgeval; en ‘n helder lig het die gevangenis deurvloei. DHDA 181.2

Die tronkbewaarder het met verbasing die gebede en lofliedere van die gevange apostels aangehoor. Toe hulle ingebring was, het hy hul opgehewe, bloeiende wonde gesien en hy het self beveel dat hulle voete in die blok vasgemaak moes word. Hy het verwag om smartlike kreune en verwensinge te hoor, maar in plaas daarvan het hy vreugdevolle lofliedere gehoor. Met hierdie klanke in sy ore het die tronkbewaarder aan die slaap geraak, waaruit hy deur die aardbewing en die geskud van die gevangenismure wakker geword het. DHDA 181.3

Hy het en met ontsetting opgeskrik en gesien dat die gevangenisdeure oop staan en ‘n vrees dat die gevangenes ontsnap het, het hom oorval. Hy het onthou met watter nadruklike opdrag Paulus en Silas die vorige nag aan sy sorg toevertrou was en hy was seker dat hy die doodstraf vir sy skynbare ontrouheid sou ontvang. Met ‘n bitterheid van gees het hy gevoel dat dit beter sou wees om die hand aan sy eie lewe te slaan as om hom aan ‘n skandelike teregstelling te onderwerp. Hy het sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, toe hy Paulus se woorde van bemoediging hoor: “Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier. ” Elke man was op sy plek, ingeperk deur die krag van God wat deur een medegevangene uitgeoefen is. DHDA 182.1

Die felheid waarmee die tronkbewaarder die apostels behandel het, het nie hul weersin gewek nie. Paulus en Silas het die gees van Christus gehad, nie ‘n gees van wraak nie. Hulle harte, gevul met die liefde van die Verlosser, het geen ruimte vir kwaadwilligheid teenoor hulle vervolgers gelaat nie. DHDA 182.2

Die tronkbewaarder het sy swaard neergegooi, geroep vir lig en hom na die binneste kerker gehaas. Hy wou sien watter soort manne dit was wat die wreedheid waarmee hulle behandel was, met vriendelikheid vergeld. Toe hy die plek waar die dissipels was bereik, het hy hom voor hulle neergewerp en om vergifnis gevra. Daarna het hy hulle na die buitehof gebring en verneem: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” DHDA 182.3

Die tronkbewaarder het gebewe toe hy die toorn van God wat in die aardbewing gemanifesteer was aanskou het; toe hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het, was hy gereed om deur sy eie hand te sterf; maar nou het al hierdie dinge van minder belang geblyk in vergelyking met die nuwe, vreemde vrees wat sy gemoed geprikkel het en hy het begeer om die rustigheid en blymoedigheid wat die apostels onder lyding en mishandeling aan die dag gelê het, te besit. Hy het die lig van die hemel op hulle gelaat gewaar; en hy het geweet dat God op ‘n wonderbaarlike wyse ingegryp het om hul lewens te red en die woorde van die gees-besette vrou het hom met besondere krag getref: “Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.” DHDA 182.4

In diepe ootmoed het hy die apostels gevra om hom die weg van die lewe te wys. Hulle het geantwoord: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.” Daarna het die tronkbewaarder die apostels se wonde gewas en hulle bedien waarna hy en sy hele huisgesin deur hulle gedoop is. ‘n Heiligmakende invloed het onder die gevangenes versprei en almal se gemoedere was oop om na die waarhede wat die apostels verkondig het te luister. Hulle was oortuig dat die God wat hierdie manne gedien het, hulle op wonderbaarlike wyse uit hul gevangenskap verlos het. DHDA 183.1

Die burgers van Filippi was baie verskrik oor die aardbewing en toe die beamptes van die gevangenis die landdroste vertel wat in die nag plaasgevind het, was hulle verskrik en het hulle die geregsdienaars gestuur om die apostels vry te laat. Maar Paulus het verklaar: “Hulle het ons in die openbaar onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is en ons in die gevangenis gewerp en wil hulle ons nou in die geheim uitwerp? Volstrek nie! Laat hulle self kom en ons uitlei.” DHDA 183.2

Die apostels was Romeinse burgers en dit was onwettig om ‘n Romein te gésel, behalwe vir die mees skreiendste misdade, of om hom sonder ‘n regverdige verhoor van sy vryheid te ontneem. Paulus en Silas was in die openbaar gevange geneem en hulle het nou geweier om privaat vrygelaat te word sonder ‘n behoorlike verduideliking van die owerhede. DHDA 183.3

Toe hierdie woord die owerhede bereik, was hulle bevrees dat die apostels hulle by die keiser sou aankla en het dadelik na die gevangenis gegaan, Paulus en Silas om verskoning gevra vir die onreg en wreedheid wat hulle aangedoen is en hulle persoonlik uit die gevangenis gelei en hulle gesmeek om die stad te verlaat. Die landdroste het die apostels se invloed op die mense gevrees en hulle het ook die Mag wat ten gunste van die onskuldige manne ingegryp het, gevrees. DHDA 184.1

Ooreenkomstig die opdrag wat deur Christus gegee is, het die apostels nie hulle teenwoordigheid op mense wat dit nie verlang het, afgedwing nie. “Nadat hulle die gevangenis verlaat het, het hulle na die huis van Lidia gegaan; en hulle het die broeders gesien, hulle bemoedig en weggegaan.” DHDA 184.2

Die apostels het nie hulle werk in Filippi as tevergeefs beskou nie. Hulle het baie teëstand en vervolging teëgekom; maar die ingryping van die Voorsienigheid ten behoewe van hulle en die bekering van die tronkbewaarder en sy huisgesin, was meer as genoeg vergoeding vir die skande en lyding wat hulle verduur het. Die nuus aangaande hul onregverdige gevangenisstraf en die wonderbaarlike verlossing het in die hele streek bekend geword en dit het die werk van die apostels onder die aandag van ‘n groot aantal mense wat anders nie bereik sou word nie, gebring. DHDA 184.3

Paulus se arbeid in Filippi het tot die stigting van ‘n gemeente gelei waarvan die ledetal geleidelik toegeneem het. Sy ywer en toewyding en veral sy bereidwilligheid om ter wille van Christus te ly, het ‘n diep en blywende invloed op die bekeerlinge uitgeoefen. Hulle het die kosbare waarhede waarvoor die apostels soveel opgeoffer het waardeer en hulself met heelhartige toewyding aan die saak van hul Verlosser oorgegee. DHDA 184.4

Dat hierdie kerk nie vervolging vrygespring het nie, blyk uit ‘n uitdrukking in Paulus se brief aan hulle. Hy sê: “Omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, terwyl julle dieselfde stryd het as wat julle in my gesien het.” Tog was hulle só standvastig in die geloof dat hy verklaar het: “Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink-en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap-oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe.” (Filippense 1:29,30,3-5). DHDA 185.1

Hewig is die stryd tussen die magte van goed en kwaad in belangrike sentra waarheen die boodskappers van die waarheid opgeroep word om te werk. Paulus sê: “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu.” (Efesiërs 6:12). Tot aan die einde van die tyd sal daar konflik tussen die kerk van God en diegene wat onder die invloed van bose engele is heers. DHDA 185.2

Die vroeë Christene is dikwels geroep om die magte van die duisternis van aangesig tot aangesig te ontmoet. Deur drogredenasies en vervolging het die vyand gepoog om hulle van die ware geloof te keer. In hierdie teenswoordige tyd, wanneer die einde van alle aardse dinge spoedig nader kom, wend die Satan wanhopige pogings aan om die wêreld te verstrik. Hy belê baie planne om mense se aandag van die waarhede wat noodsaaklik vir redding is af te trek. In elke stad is sy agente besig om diegene wat teen die wet van God gekant is, in groepe te verenig. Die aartsverleier is aan die werk om elemente van verwarring en opstand in te voer en die mensdom word deur ‘n ywer wat nie met kennis gepaard gaan nie, aangevuur. DHDA 185.3

Goddeloosheid bereik ‘n hoogtepunt wat nooit voorheen geken is nie en tog roep baie bedienaars van die evangelie uit: “Vrede en veiligheid.” Maar die getroue boodskappers van God moet standvastig met hulle werk voortgaan. Geklee met die wapenrusting van die hemel, moet hulle vreesloos en oorwinnend voortgaan en nooit die stryd gewonne gee voordat elke siel binne hulle bereik die boodskap van die waarheid vir hierdie tyd ontvang het nie. DHDA 185.4