Die Handelinge Van Die Apostels

24/59

Hoofstuk 23—Berea en Athene*

In Berea het Paulus Jode gevind wat gewillig was om die waarhede wat hy geleer het, te ondersoek. Lukas se verslag aangaande hulle verklaar dat: “Hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dan ook gelowig geword en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.” DHDA 196.1

Die denke van die mense in Berea was nie deur vooroordeel vereng nie. Hulle was bereid om die waarheid van die leer wat deur die apostels verkondig is, te ondersoek. Hulle het nie die Bybel uit nuuskierigheid ondersoek nie, maar om te leer wat aangaande die beloofde Messias geskryf is. Hulle het die geïnspireerde verslae daagliks ondersoek en terwyl hulle Skrif met Skrif vergelyk het, was daar hemelse engele wat hulle verstand verlig en hulle harte beïndruk het. DHDA 196.2

Waar die waarhede van die evangelie ook al verkondig word, word diegene wat opreg begeer om te doen wat reg is, gelei tot ‘n ywerige ondersoek van die Skrif. As diegene aan wie beproewende waarhede in die slottonele van hierdie wêreld se geskiedenis verkondig word, die voorbeeld van die Bereane volg, deur die Skrifte daagliks te ondersoek en die boodskap wat aan hulle verkondig word met die Woord van God vergelyk, sou daar tans ‘n groot aantal mense wees wat getrou aan die voorskrifte van God se wet is, waar daar nou relatief min is. Maar wanneer ongewilde Bybelwaarhede voorgehou word, weier baie om hierdie ondersoek te doen. Howel hulle nie in staat is om die duidelike leerstellings van die Skrif te weerlê nie, openbaar hulle steeds die grootste onwilligheid om die bewyse wat aangebied word te ondersoek. Sommige meen dat, al is hierdie leerstellings inderdaad waar, dit nie veel saak maak of hulle hierdie nuwe lig aanneem of verwerp nie en hulle hou vas aan die aangename verdigsels wat die vyand gebruik om siele te mislei. So word hulle verstand deur dwaling verblind en word hulle van die hemel geskei. DHDA 196.3

Almal sal volgens die lig wat aan hulle gegee is geoordeel word. Die Here stuur Sy gesante uit met ‘n boodskap van verlossing en diegene wat dit hoor, sal verantwoordelik gehou word vir die wyse waarop hulle die woorde van Sy diensknegte hanteer. Diegene wat opreg na waarheid soek, sal die leerstellings wat aan hulle voorgehou word, noukeurig in die lig van God se Woord ondersoek. DHDA 197.1

Die ongelowige Jode van Thessalonika, wat met jaloesie en haat teenoor die apostels gevul was en nie tevrede was om hulle slegs uit hul eie stad te verdryf nie, het hulle na Berea gevolg en daar die hartstogte van die laer klas teen hulle opgesweep. Uit vrees dat hulle Paulus geweld sou aandoen indien hy daar sou bly, het die broeders hom, vergesel van sommige van die Bereane wat die geloof onlangs aangeneem het, na Athene gestuur. DHDA 197.2

So is die leraars van die waarheid van stad tot stad agtervolg. Die vyande van Christus kon die vooruitgang van die evangelie nie verhoed nie, maar hulle het daarin geslaag om die werk van die apostels uiters te bemoeilik. Maar, te midde van teëstand en konflik, het Paulus onverpoos voortgegaan, vasbeslote om die voorneme van God, soos in die gesig in Jerusalem aan hom geopenbaar is, uit te voer: “Ek sal jou ver wegstuur na die heidene.” (Handelinge 22:21). DHDA 197.3

Paulus se haastige vertrek uit Berea, het hom van die geleentheid wat hy oorweeg het om die broers in Thessalonika te besoek, ontneem. DHDA 197.4

Toe hy in Athene aankom, het Paulus die broers van Berea teruggestuur met ‘n boodskap aan Silas en Timotheus om dadelik by hom aan te sluit. Timotheus het voor Paulus se vertrek in Berea aangekom en hy en Silas het daar aangebly om die werk wat so goed begin is, voort te sit en die nuwe bekeerlinge in die beginsels van die geloof te onderrig. DHDA 198.1

Die stad Athene was die hoofstad van die heidendom. Daar het Paulus nie soos in Listre met onkundige, liggelowige mense te doen gekry nie, maar met mense wat beroemd vir hulle intelligensie en kultuur was. Oral het standbeelde van hul gode en die vergoddelikte helde van hul geskiedenis en digkuns die oog gevang, terwyl manjifieke argitektuur en skilderye die nasionale glorie en die gewilde aanbidding van heidense gode verteenwoordig het. Die volk se sinne is deur die skoonheid en die prag van kuns betower. Aan alle kante het heiligdomme en tempels van onberekenbare waarde, se massiewe vorms uitgetroon. Oorwinnings en dade van gevierde manne is deur die beeldhouwerk, tempels en gedenkplate herdenk. Al hierdie dinge het Athene in ‘n groot kunsmuseum omskep. DHDA 198.2

Toe Paulus die skoonheid en grootsheid rondom hom aanskou en die stad sien wat geheel en al aan afgodediens oorgegee was, is sy gees met jaloesie vir God, wat aan alle kante onteer is, opgewek; en sy hart het in ontferming na die inwoners van Athene uitgegaan wat, ondanks hulle intellektuele kultuur, onkundig aangaande die ware God was. DHDA 198.3

Die apostel is nie deur dit wat hy in hierdie sentrum van geleerdheid gesien het mislei nie. Sy geestelike aard was so gevoelig vir die aantrekkingskrag van hemelse dinge, dat die vreugde en heerlikheid van die rykdom wat nooit sal vergaan nie, al die prag en praal waarmee hy omring was, in sy oë waardeloos gemaak het. Toe hy die prag van Athene aanskou, het hy ook besef watter verleidelike mag dit oor die liefhebbers van kuns en wetenskap het en sy gedagtes was diep onder die indruk van die belangrikheid van die werk voor hom. DHDA 198.4

In hierdie groot stad, waar God nie aanbid is nie, is Paulus deur ‘n gevoel van eensaamheid onderdruk en hy het na die medelye en hulp van sy medewerkers verlang. Wat menslike vriendskap betref, het hy gevoel dat hy heeltemal alleen was. In sy sendbrief aan die Thessalonicense spreek hy sy gevoelens uit in die woorde: “...in Athene alleen...” (1 Thessalonicense 3:1). Struikelblokke wat skynbaar onoorkomelik was, het voor hom gelê, wat vir hom amper hopeloos voorgekom het om die harte van die mense te probeer bereik. DHDA 199.1

Terwyl hy vir Silas en Timotheus gewag het, was Paulus nie ledig nie. Hy het “...in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense en elke dag op die mark met die wat hom teëkom.” Maar sy belangrikste werk in Athene, was om die boodskap van verlossing aan diegene te bring wat geen intelligente begrip van God en van Sy voornemens ten behoewe van die gevalle ras gehad het nie. Die apostel sou binnekort met die heidendom in sy mees subtiele, aanloklikste vorm kennis maak. DHDA 199.2

Dit het nie lank geduur vir die geleerde manne van Athene om van die teenwoordigheid in hulle stad van ‘n sonderlinge leraar, wat nuwe en vreemde leerstellings aan die mense verkondig, te verneem nie. Sommige van hierdie manne het Paulus opgesoek en in gesprek met hom getree. Spoedig het ‘n skare luisteraars om hulle saamgedrom. Sommige was gereed om die apostel as iemand wat sosiaal, sowel as intellektueel ver benede hulle was te bespot en hulle het smalend onder mekaar gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” Ander weer, “...omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het...” het gesê: “Dit lyk of hy ‘n verkondiger is van vreemde gode.” DHDA 199.3

Onder diegene wat Paulus op die markplein teëgekom het, was “...sommige van die Epikureïese en Stoïsynse wysgere...” maar hulle, sowel as al die ander wat met hom in aanraking gekom het, het gou besef dat hy oor ‘n groter kennis as hul eie beskik het. Sy intellektuele mag het die agting van die geleerdes afgedwing; terwyl sy ernstige, logiese redenasies en die krag van sy welsprekendheid, die aandag van almal in die gehoor geboei het. Sy toehoorders het erken dat hy geen beginner was nie, maar wel in staat was om alle klasse van die gemeenskap met oortuigende argumente ter stawing van die leerstellings wat hy verkondig het, tevrede te stel. So het die apostel onverskrokke gestaan en sy teenstanders op hulle eie terrein ontmoet deur logika met logika, filosofie met filosofie en welsprekendheid met welsprekendheid te vergelyk. DHDA 200.1

Sy heidense teenstanders het sy aandag op die lot van Sokrates gevestig wat, omdat hy ‘n voorstander van ‘n vreemde god was, ter dood veroordeel is en hulle het Paulus aangeraai om sy lewe nie op dieselfde wyse in gevaar te stel nie. Maar die apostel se toespraak het die mense se aandag geboei en sy ongekunstelde wysheid het hulle agting en bewondering afgedwing. Hy is nie deur die wetenskap of die ironie van die filosowe die swye opgelê nie en nadat hulle hulself tevrede gestel het dat hy vasberade was om sy opdrag onder hulle te uit te voer en teen alle gevare in sy verhaal te vertel, het hulle besluit om hom regverdig aan te hoor. DHDA 200.2

Hulle het hom gevolglik op die ‘Marsheuwel’ (Areópagus) gebring. Dit was een van die heiligste plekke in die hele Athene, waarvan die herinneringe en assosiasies daaraan verbonde van so aard was, dat dit met bygelowige eerbied bejeën is, wat in die gemoed van sommige op vrees neergekom het. Op hierdie plek is sake wat met godsdienstige sake verband hou, noukeurig deur manne wat as finale beoordelaars oor alle belangriker en morele burgerlike vrae opgetree het, noukeurig oorweeg. DHDA 200.3

Hier, weg van die lawaai en druk deurpaaie en die rumoer van losbandige bespreking, kon die apostel ongehinderd aangehoor word. Rondom hom het digters, kunstenaars, en filosowe versamel-die geleerdes en wysgere van Athene-wat hom soos volg aangespreek het: “Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word? Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore. Ons wil dan weet wat dit tog kan wees.” DHDA 201.1

In daardie uur van plegtige verantwoordelikheid, was die apostel kalm en selfbeheersd. Sy hart was met ‘n belangrike boodskap belas en die woorde wat oor sy lippe gekom het, het sy toehoorders oortuig dat hy geen ydele brabbelaar was nie. Hy het gesê: “Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is. Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ‘n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.” Met al hulle intelligensie en algemene kennis, was hulle onkundig aangaande die God wat die heelal geskape het. Tog was daar sommige wat na groter lig verlang het. Hulle het na die Oneindige uitgereik. DHDA 201.2

Met sy hand in die rigting van die tempel vol afgode uitgestrek, het Paulus die las van sy siel uitgestort en die dwalinge van die Atheners se godsdiens ontbloot. Die wysste onder sy toehoorders was verstom terwyl hulle na sy redenasie geluister het. Hy het homself as vertroud met hul kunswerk, hul literatuur en hul godsdiens getoon. Hy het na hulle standbeelde en afgode gewys en verklaar dat God nie met mensgemaakte voorwerpe vergelyk kan word nie. Hierdie gesnede beelde kon nie in die geringste mate die heerlikheid van Jehova voorstel nie. Hy het hulle daaraan herinner dat hierdie beelde geen lewe in hulle gehad het nie, maar deur menslike krag beheer word en net kon beweeg wanneer dit deur die hande van mense beweeg word; en daarom was diegene wat hulle aanbid het in alle opsigte hoër as die voorwerpe wat hulle aanbid het. DHDA 201.3

Paulus het die gedagtes van sy afgodiese toehoorders buite die perke van hul valse godsdiens gevestig op ‘n ware begrip van die Godheid wat hulle die “Onbekende God” genoem het. Hierdie Wese wat hy nou aan hulle verklaar het, was onafhanklik van die mens en het niks uit mensehande nodig gehad om tot Sy krag en heerlikheid by te dra nie. DHDA 202.1

Die mense is met bewondering vir Paulus se ernstige en logiese vertelling van die hoedanighede van die ware God meegevoer-van Sy skeppingsmag en die bestaan van Sy oorheersende voorsienigheid. Met ernstige, vurige oortuiging het die apostel verklaar: “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van die hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.” Die hemel was nie groot genoeg om God te bevat nie, hoeveel minder die tempels wat deur mensehande gemaak is! DHDA 202.2

In daardie era van stand, toe die regte van mense dikwels misken is, het Paulus die groot waarheid van menslike broederskap uiteengesit en verklaar dat God “...uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak [het] om oor die hele aarde te woon.” In die oë van God is almal gelykwaardig en elke mens is die hoogste trou aan die Skepper verskuldig. Toe wys die apostel daarop hoedat, deur al die handelinge van God met die mens, Sy doel van genade en barmhartigheid soos ‘n goue draad loop. Hy het “...vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel ... sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie.” DHDA 202.3

Terwyl Paulus na die edele voorbeelde van manlikheid rondom hom gewys het, het hy met woorde aan een van hulle eie digters ontleen, die oneindige God as ‘n Vader, wie se kinders hulle was, voorgestel. “In Hom lewe ons, beweeg ons en is ons...” het hy verklaar, “...soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.” DHDA 202.4

“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.” In die eeue van duisternis wat die koms van Christus voorafgegaan het, het die Goddelike Heerser ligtelik oor die afgodsdiens van die heidene gegaan; maar nou, deur Sy Seun, het Hy die lig van die waarheid aan die mensdom gestuur; en van almal het Hy berou tot saligheid verwag, nie net van die armes en nederiges nie, maar ook van die trotse filosoof en die vorste van die aarde. “Omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” Toe Paulus van die opstanding van die dode praat, “...het sommige begin spot en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.” DHDA 203.1

So is die werk van die apostel in Athene, die middelpunt van die heidense geleerdheid, afgesluit, want die Atheners wat steeds aan hulle afgodery vasgehou het, het van die lig van die ware godsdiens weggedraai. Wanneer ‘n volk volkome tevrede met sy eie prestasies is, kan nie veel meer van hulle verwag word nie. Alhoewel hulle met hul geleerdheid en verfyndheid gespog het, het die Atheners al hoe meer korrup en meer tevrede met die vae geheimsinnighede van hul afgodery geword. DHDA 203.2

Onder diegene wat na die woorde van Paulus geluister het, was sommige wat deur die waarhede wat Paulus verkondig het oortuig is, maar hulle wou hulle nie verootmoedig om God te erken en die plan van verlossing te aanvaar nie. Geen welsprekende woorde, geen kragtige argument, kan die sondaar bekeer nie. Slegs die krag van God kan die waarheid op die hart toepas. Hy wat hierdie mag voortdurend verwerp, kan nie bereik word nie. Die Grieke het wysheid gesoek, maar die boodskap van die kruis was vir hulle dwaasheid, omdat hulle hul eie wysheid van meer waarde as die wysheid wat van Bo kom geag het. DHDA 203.3

Die rede waarom die evangelieboodskap relatief min sukses onder die Atheners behaal het, kan in hul intellektuele hoogmoed en menslike wysheid gevind word. Die wêreldwyse mense wat as arme, verlore sondaars na Christus kom, sal wys tot redding word; maar diegene wat as vooraanstaande mense kom en op hul eie wysheid roem, sal nie die lig en kennis wat Hy alleen kan gee ontvang nie. DHDA 204.1

Op hierdie wyse het Paulus die heidendom van sy tyd tegemoetgekom. Sy arbeid in Athene was nie heeltemal tevergeefs nie. Dionisius, een van die vooraanstaande burgers en sommige ander, het die evangelieboodskap aanvaar en hulle volkome met die gelowiges verenig. DHDA 204.2

Inspirasie het ons hierdie blik op die lewens van die Atheners gegee wat, ten spyte van al hulle kennis, verfyndheid en kuns in die sonde versink was, sodat gesien kan word hoe God afgodery en die sondes van trotse, selfvoldane mense deur Sy dienaar bestraf het. Die woorde van die apostel en die beskrywing van sy houding en omgewing, soos deur die pen van Inspirasie beskryf, sou aan alle komende geslagte oorgedra word, met getuienis van sy ongeskonde vertroue, moed in eensaamheid, teëspoed en die oorwinning wat hy vir die Christendom in die hart van die heidendom behaal het. DHDA 204.3

Paulus se woorde bevat ‘n skat van kennis vir die kerk. Hy was in ‘n posisie waar hy maklik iets sou kon sê wat sy trotse luisteraars sou irriteer en homself in die moeilikheid sou bring. Indien sy toespraak ‘n regstreekse aanval op hulle gode en die groot manne van die stad was, sou hy gevaar geloop het om dieselfde lot as Sokrates te konfronteer. Maar met takt wat uit Goddelike liefde gebore is, het hy hulle gedagtes versigtig van hul heidense gode weggelei, deur die ware God, wat vir hulle onbekend was, aan hulle te openbaar. DHDA 204.4

Die waarhede van die Skrifte moet vandag ook voor die belangrike mense van die wêreld gebring word, sodat hulle tussen gehoorsaamheid aan God se wet en trou aan die vors van die bose kan kies. God stel die ewige waarheid voor hulle-waarheid wat hulle wys tot redding sal maak, maar Hy dwing hulle nie om dit te aanvaar nie. Indien hulle daarvan wegdraai, laat Hy hulle aan hulself oor om met die vrug van hul eie werke gevul te word. DHDA 205.1

“Die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak ... Wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak.” (1 Korinthiërs 1:18,19,27,28). Baie van die grootste geleerdes en staatsmanne, die wêreld se bekendste mense, sal die lig in hierdie laaste dae verwerp omdat die wêreld in sy wysheid, God nie ken nie. Tog moet die dienaars van God van elke geleentheid gebruik maak om die waarheid aan hierdie mense oor te dra. Sommige sal hul onkunde aangaande die dinge van God erken en sal hul plek as nederige leerlinge aan die voete van Jesus, die Meester-Onderwyser, inneem. DHDA 205.2

Met elke poging om die hoër stande te bereik, het die werker vir God, sterk geloof nodig. Omstandighede mag somber voorkom, maar in die donkerste uur is daar lig van Bo. Die krag van diegene wat God liefhet, sal dag vir dag vernuwe word. Die begrip van die Oneindige word tot hulle beskikking gestel, sodat hulle in die uitvoering van Sy doelwitte nie hoef te dwaal nie. Laat hierdie werkers die aanvang van hul vertroue ferm tot aan die einde volhou en onthou dat die lig van God se waarheid te midde van die duisternis wat ons wêreld omhul, moet skyn. Daar mag geen moedeloosheid in verband met die diens van God wees nie. Die geloof van die toegewyde werker moet elke beproewing waaraan hy blootgestel word, deurstaan. God is in staat en bereid om Sy diensknegte met al die nodige krag toe te rus en aan hulle die wysheid wat hulle onder verskillende omstandighede benodig, te gee. Hy sal meer as die hoogste verwagtinge van diegene wat op Hom vertrou, vervul. DHDA 205.3