Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 20—Roem in die Kruis*
Nadat Paulus ‘n tyd lank in Antiochië in die bediening deurgebring het, het hy aan sy medewerker voorgestel dat hulle weer op ‘n sendingreis moes vertrek. Hy het aan Barnabas gesê: “Laat ons teruggaan en ons broeders besoek in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan.” DHDA 169.1
Beide Paulus en Barnabas het ‘n tere besorgdheid vir diegene wat onlangs die evangelieboodskap onder hulle bediening aanvaar het en hulle het verlang om hulle weer te sien. Paulus het hierdie sorgsaamheid nooit verloor nie. Selfs in verafgeleë sendingvelde, ver van die omgewing van sy vorige arbeid, het hy steeds die las op sy hart gehad om hierdie bekeerlinge aan te moedig om getrou te bly en “...die heiligmaking in die vrees van God...” te volbring (2 Korinthiërs 7:1). Hy het voortdurend getrag om hulle te help om selfstandige, groeiende Christene te word, sterk in die geloof, vurig in ywer en heelhartig in hul toewyding aan God en die werk om Sy koninkryk te bevorder. DHDA 169.2
Barnabas was gereed om saam met Paulus te gaan, maar wou vir Markus, wat weer besluit het om hom aan die bediening te wy, saamneem. Hierteen het Paulus beswaar gemaak. Hy het “...dit nie reg geag...” om iemand “...saam te neem...” wat hulle op hul eerste sendingreis in ‘n tyd van nood in die steek gelaat het nie. Hy was nie geneig om die swakheid van Markus, wat hulle vir die veiligheid en gerief van sy huis verlaat het, te verontskuldig nie. Hy het aangedring dat iemand met so min uithouvermoë ongeskik is vir werk wat geduld, selfverloëning, moed, toewyding, geloof en bereidwilligheid verg om, indien nodig, selfs sy lewe op te offer. So hewig was die getwis dat Paulus en Barnabas uiteen is. Laasgenoemde het sy oortuiging gevolg en Markus saam met hom geneem. “Barnabas het Markus saamgeneem en na Ciprus uitgeseil. Maar Paulus het Silas gekies en afgereis nadat hy deur die broeders aan die genade van God opgedra was.” DHDA 169.3
Paulus en Silas het deur Sirië en Cilicië gereis, waar hulle die gemeentes versterk en uiteindelik Derbe en Listre in die provinsie Likaónië bereik het. Dit was in Listre dat Paulus gestenig was, maar tog tref ons hom weer op die toneel van sy vorige gevaar. Hy was gretig om te sien hoe diegene, wat deur sy vorige arbeid die evangelie aangeneem het, die beproewinge deurstaan het. Hy was nie teleurgestel nie, want hy het gevind dat die gelowiges in Listre, ondanks felle teëstand, getrou gebly het. DHDA 170.1
Paulus het hier weer kennis met Timotheus, wat sy lyding aan die einde van sy eerste besoek aan Listre aanskou het, gemaak en op wie se gemoed die indruk wat toe gemaak is, met verloop van tyd verdiep het, totdat hy oortuig was dat dit sy plig was om hom ten volle aan die werk van die bediening toe te wy. Sy hart was met die hart van Paulus verbind en hy wou graag in die apostel se werk deel, deur te help soos die geleentheid hom voordoen. DHDA 170.2
Silas, Paulus se metgesel, was ‘n beproefde werker en het die gawe van die gees van profesie gehad; maar die werk wat verrig moes word, was so groot dat dit nodig geword het om meer arbeiders vir aktiewe diens op te lei. In Timotheus het Paulus iemand bespeur wat die heiligheid van die werk van ‘n predikant begryp het; wat nie deur die vooruitsig van lyding en vervolging afgeskrik sou word nie en wat bereid was om te leer. Die apostel het dit egter nie gewaag om die verantwoordelikheid op hom te neem om die onbeproefde jeugdige, Timotheus, vir die evangeliebediening op te lei sonder om homself eers tevrede te stel aangaande sy karakter en sy vorige lewenswyse nie. DHDA 170.3
Timotheus se vader was ‘n Griek en sy moeder ‘n Jodin. Hy het die Skrif van kleins af geken. Die vroomheid wat hy in sy ouerhuis ervaar het, was gesond en wys. Sy moeder en grootmoeder se geloof in die heilige orakels was vir hom ‘n voortdurende herinnering aan die seën wat mens ontvang deur God se wil te doen. Die Woord van God was die reël waarvolgens hierdie twee godvrugtige vroue Timotheus gelei het. Die geestelike krag van die lesse wat hy van hulle ontvang het, het hom suiwer van spraak gehou en hy is nie deur die bose invloede waarmee hy omring was besoedel nie. So het sy huislike instrukteurs met God saamgewerk om hom voor te berei om laste te dra. DHDA 171.1
Paulus het opgemerk dat Timotheus getrou, standvastig en opreg was en het hom as medewerker en reisgenoot gekies. Diegene wat Timotheus in sy jeugjare onderrig het, is beloon toe hulle sien dat die seun wat hulle versorg het, in noue gemeenskap met die groot apostel verkeer. Timotheus was nog ‘n blote jeugdige toe hy deur God as leraar gekies is, maar sy beginsels was reeds tot so ‘n mate deur sy vroeëre onderrig vasgestel, dat hy geskik was om sy plek as Paulus se helper in te neem. En hoewel hy jonk was, het hy sy verantwoordelikhede met Christelike beskeidenheid aanvaar. DHDA 171.2
As voorsorgmaatreël, het Paulus Timotheus wyslik aangeraai om besny te word-nie omdat God dit vereis het nie, maar om enige beswaar teen die bediening van Timotheus uit die Jode se gedagtes te verban. In sy werk sou Paulus in baie lande van stad tot stad reis en hy het dikwels die geleentheid gehad om Christus in die Joodse sinagoges, sowel as in ander gemeentes te verkondig. Indien dit bekend sou raak dat een van sy medewerkers onbesnede was, kon sy werk weens die vooroordeel en dweepsug van die Jode ernstig belemmer word. Die apostel het oral vasberade teëstand en ernstige vervolging teëgekom. Hy wou graag aan sy Joodse broers asook aan die Heidene ‘n kennis van die evangelie bring en daarom het hy, in sover dit in ooreenstemming met die geloof was, gepoog om elke voorwendsel vir opposisie uit die weg te ruim. Maar alhoewel hy in hierdie opsig aan die Joodse vooroordeel toegegee het, het hy geglo en geleer dat die besnydenis of die onbesnedenheid onbelangrik was en dat die evangelie van Christus alles was. DHDA 171.3
Paulus het Timotheus soos sy “...ware kind in die geloof...” (1 Timotheus 1:2) liefgehad. Die groot apostel het die jong dissipel dikwels uitgelok en oor die geskiedenis van die Skrif uitgevra en terwyl hulle van plek tot plek gereis het, het hy hom noukeurig onderrig om suksesvolle werk te verrig. In al hulle omgang met Timotheus, het beide Paulus en Silas gepoog om die indrukke wat reeds op hom gemaak is aangaande die ernstige, heilige aard van die werk van ‘n prediker van die evangelie, te verdiep. DHDA 172.1
In sy werk het Timotheus voortdurend Paulus se raad en instruksies ingewin. Hy het nie impulsief opgetree nie, maar het elke stap kalm en bedaard oorweeg en gevra: Is dit die weg van die Here? Die Heilige Gees het iemand in hom gevind wat as ‘n tempel vir die inwoning van die Goddelike Teenwoordigheid gevorm kon word. DHDA 172.2
Namate die lesse van die Bybel in die daaglikse lewe ingebring word, het dit ‘n diep en blywende invloed op die karakter. Hierdie lesse het Timotheus geleer en uitgeoefen. Hy het geen besondere, briljante talente besit nie, maar sy werk was waardevol omdat hy sy Godgegewe vermoëns in die diens van die Meester gebruik het. Sy kennis van eksperimentele vroomheid het hom van ander gelowiges onderskei en sy invloed verryk. DHDA 172.3
Diegene wat vir siele arbei, moet ‘n dieper, vollediger en duideliker kennis van God verkry as wat deur alledaagse inspanning verkry kan word. Hulle moet al hul kragte in die werk van die Meester inspan. Hulle is by ‘n hoë en heilige roeping betrokke en indien hulle siele as loon op hulle arbeid verkry, moet hulle aan God vashou en daagliks genade en krag van die Bron van alle seëninge ontvang. “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as Sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.” (Titus 2:11-14). DHDA 172.4
Voordat hulle na ‘n nuwe gebied beweeg het, het Paulus en sy metgeselle die kerke wat in Pisidië en die omliggende streke opgerig is besoek “En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou. En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.” DHDA 173.1
Die apostel Paulus het ‘n diepe verantwoordelikheid vir diegene wat deur sy werk bekeer is gevoel. Bo alles het hy verlang dat hulle getrou moes wees, “...my tot ‘n roem teen die dag van Christus...” het hy gesê, “...dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie.” (Filippense 2:16). Hy het vir die gevolge van sy bediening gesidder. Hy was van mening dat selfs sy eie saligheid in gevaar sou wees indien hy nie sy plig sou nakom nie en die kerk nie met hom sou saamwerk om siele te red nie. Hy het geweet dat prediking alleen nie voldoende sou wees om die gelowiges op te voed om die woord van die lewe voor te hou nie. Hy het geweet dat hulle reël op reël, gebod op gebod, hier ‘n bietjie en daar ‘n bietjie, geleer moes word om in die werk van Christus vordering te maak. DHDA 173.2
Dit is ‘n algemene beginsel dat wanneer ‘n mens weier om sy Godgegewe vermoëns te gebruik, hierdie vermoëns ontaard en vergaan. Waarheid wat nie uitgeleef word nie, wat nie oorgedra word nie, verloor sy lewegewende krag, sy genesende deug. Vandaar die vrees van die apostel dat hy moontlik nie daarin sou slaag om elke mens volmaak in Christus aan te bied nie. Paulus se hoop op die hemel het verdof elke keer wanneer hy daaraan gedink het dat enige versuim van sy kant af, daartoe sou lei dat die kerk ‘n menslike eerder as ‘n Goddelike voorkoms sou aanneem. Sy kennis, sy welsprekendheid, sy wonderwerke, sy gesig van die ewige tonele toe hy na die derde hemel opgeneem is-alles sou nutteloos wees indien diegene vir wie hy gewerk het, weens ontrouheid in sy werk nie die genade van God sou verkry nie. Daarom het hy mondelings en deur middel van briewe gepleit dat diegene wat Christus aangeneem het, moes volhard op die weg wat hulle in staat sou stel om “...onberispelik en opreg ... kinders van God...” te wees, “...sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag ... soos ligte in die wêreld, deurdat...” hulle “...die woord van die lewe vashou.” (Filippense 2:15,16). DHDA 173.3
Elke opregte predikant sal ‘n ernstige verantwoordelikheid vir die geestelike vooruitgang van die gelowiges wat aan hom toevertrou is ervaar, ‘n verlangende begeerte dat hulle medewerkers met God moet wees. Hy sal besef dat die welstand van die gemeente in ‘n groot mate afhanklik van die getroue Uitvoering van sy Godgegewe werk is. Opreg en onvermoeid sal hy streef om die gelowiges met ‘n begeerte te besiel om siele vir Christus te wen, gedagtig aan die feit dat elke toevoeging tot die gemeente nog ‘n middel vir die uitvoering van die verlossingsplan behoort te wees. DHDA 174.1
Nadat hulle die gemeentes in Pisidië en die omliggende streek besoek het, het Paulus en Silas, vergesel van Timotheus verder gegaan na “...Frigië en Galasië...” waar hulle met groot krag die blye boodskap van verlossing verkondig het. Die Galasiërs was aan die aanbidding van afgode oorgegee; maar namate die apostels vir hulle gepreek het, het hulle hul in die boodskap wat bevryding uit die slawerny van die sonde beloof het verbly. Paulus en sy medewerkers het die leer van regverdigmaking deur die geloof in die soenoffer van Christus verkondig. Hulle het Christus, as die Een wat die hulpelose toestand van die gevalle mensdom gesien het en gekom het om manne en vroue te verlos deur self gehoorsaam aan die wet van God te leef en die straf vir ongehoorsaamheid te dra, verkondig. En in die lig van die kruis het baie wat nog nooit van die ware God geweet het nie, die grootheid van die Vader se liefde begin begryp. DHDA 174.2
Só is die Galasiërs die grondige waarhede aangaande “...God die Vader...” en “...onse Here Jesus Christus, wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader...” geleer. “Uit die prediking van die geloof...” het hulle die Gees van God ontvang en “...deur die geloof in Christus Jesus ... kinders van God...” geword. (Galasiërs 1:3,4;3:2,26). DHDA 175.1
Paulus se lewenswyse gedurende sy omgang met die Galasiërs was sodanig dat hy later aan hulle kon sê: “Ek bid julle, word soos ek. ” (Galasiërs 4:12). Sy lippe was met ‘n lewende kool van die altaar aangeraak en hy was in staat gestel om bo sy liggaamlike swakhede uit te styg en Jesus as die sondaar se enigste hoop voor te hou. Diegene wat hom gehoor het, het geweet dat hy met Jesus was. Hy is met krag van omhoog bedeel en was in staat om geestelike dinge met geestelike dinge te vergelyk en die vestings van Satan af te breek. Harte is gebreek deur Sy voorstelling van die liefde van God soos in die offer van sy eniggebore Seun geopenbaar en baie is daardeur gelei om te vra: Wat moet ek doen om gered te word? DHDA 175.2
Hierdie metode van die verkondiging van die evangelie, was kenmerkend van die apostel se arbeid gedurende sy hele bediening onder die Heidene. Hy het die kruis van Golgota voortdurend aan hulle voorgehou. In die later jare van sy bediening het hy verklaar: “Ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil. Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn-dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” (2 Korinthiërs 4:5,6). DHDA 175.3
Die gewyde boodskappers wat in die vroeë dae van die Christendom die blye boodskap van verlossing na ‘n verganklike wêreld gedra het, het geen gedagte aan selfverheffing toegelaat om hul aanbieding van Christus en Hom gekruisig, te benadeel nie. Hulle het nie gesag of voorrang begeer nie. Geborge in die Verlosser, het hulle die groot plan van verlossing en die lewe van Christus, die Outeur en Voleinder van hierdie plan, verhef. Christus, gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde, was die las van hulle leer. DHDA 176.1
Indien diegene wat die woord van God vandag verkondig, die kruis van Christus hoër en nog hoër sou verhef, sou hul bediening baie meer suksesvol wees. Indien sondaars gelei kan word om ernstig na die kruis op te sien, indien hulle ‘n volle begrip van die gekruisigde Heiland kan verkry, sal hulle die diepte van God se ontferming en die sondigheid van die sonde besef. DHDA 176.2
Christus se dood is ‘n bewys van God se groot liefde vir die mens. Dis die pand van ons verlossing. Om die kruis van die Christen weg te neem, sou wees soos om die son uit die lug te verwyder. Die kruis bring ons naby God en versoen ons met Hom. Met die toegewende ontferming van ‘n vader se liefde, het Jehova die lyding wat Sy Seun moes verduur aanskou, om die mensdom van die ewige dood te red, en dan neem Hy ons in die Geliefde aan. DHDA 176.3
Sonder die kruis sou die mens nie met die Vader verenig kon word nie. Al ons hoop hang daarvan af. Die lig van die Verlosser se liefde skyn daaruit en wanneer die sondaar aan die voet van die kruis opkyk na die Een wat gesterf het om hom te red, kan hy hom in die volheid van blydskap verheug, want sy sondes is vergewe. In geloof by die kruis neergekniel, het hy die hoogste plek wat vir ‘n mens bereikbaar is, bereik. DHDA 176.4
Deur die kruis leer ons dat die hemelse Vader ons met ‘n oneindige liefde liefhet. Kan ons dan wonder dat Paulus uitgeroep het: “Mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus.” (Galasiërs 6:14). Dit is ook ons voorreg om op die kruis te roem, ons voorreg om onsself geheel en al aan Hom, wat Homself vir ons oorgegee het, oor te gee. Dan kan ons, met die lig wat vanaf Golgota stroom en oor ons gelaat skyn, uitgaan om hierdie lig aan diegene in duisternis te openbaar. DHDA 177.1