Die Handelinge Van Die Apostels

20/59

Hoofstuk 19—Jood en Heiden*

Toe hulle Antiochië in Sirië, waarheen hulle op hul sending gestuur is bereik, het Paulus en Barnabas ‘n vroeë geleentheid benut om die gelowiges byeen te roep en aan hulle “...al die dinge wat God met hulle gedoen het, toe Hy ‘n deur van geloof vir die Heidene geopen het...” herhaal. (Handelinge 14:27). Die kerk in Antiochië was ‘n groot en steeds groeiende gemeente. Dit was die middelpunt van sending-bedrywighede en was een van die belangrikste groepe Christen-gelowiges. Die lede het uit verskeie bevolkingsgroepe bestaan en het Jode, sowel as Heidene ingesluit. DHDA 157.1

Terwyl die apostels saam met die predikers en leke in Antiochië gewerk het in ‘n ernstige poging om baie siele vir Christus te wen, het sekere Joodse gelowiges uit Judea “...uit die party van die Fariseërs...” daarin geslaag om ‘n vraag te opper wat spoedig tot wydverspreide konflik in die gemeente aanleiding gegee en ontsteltenis onder die gelowige Heidene geskep het. Met groot beslistheid het hierdie Judaïserende leraars beweer dat, ten einde gered te word, ‘n mens besny moet word en die hele seremoniële wet moet onderhou. DHDA 157.2

Paulus en Barnabas het hierdie valse leerstelling onmiddellik teëgestaan en geweier om hierdie onderwerp by die Heidene aan te roer. Daarteenoor het talle van die gelowige Jode in Antiochië die stelling van die broeders wat pas uit Judea gekom het, gesteun. DHDA 157.3

Die Joodse bekeerlinge was oor die algemeen nie gewillig om so vinnig as wat die voorsienigheid van God die weg geopen het te beweeg nie. Uit die resultate van die apostels se werk onder die Heidene was dit duidelik dat die bekeerlinge onder laasgenoemde, die aantal Joodse bekeerlinge in getalle oortref het. Die Jode het gevrees dat indien die beperkinge en seremonies van die wet nie verpligtend as voorwaarde van godsdienstige gemeenskap vir die Heidene gemaak sou word nie, die nasionale eienskappe van die Jode, wat hulle tot dusver van alle ander mense onderskei het, uiteindelik onder diegene wat die evangelieboodskap ontvang het, sou verdwyn. DHDA 157.4

Die Jode was nog altyd trots op hul Goddelik- aangestelde dienste en baie van diegene wat tot die geloof van Christus bekeer is, het nog steeds gevoel dat aangesien God die Hebreeuse wyse van aanbidding eenmaal duidelik uiteengesit het, dit onwaarskynlik was dat Hy ooit ‘n verandering van enige van die voorskrifte daarvan sou goedkeur. Hulle het daarop aangedring dat die Joodse wette en seremonies in die rituele van die Christelike geloof ingelyf moes word. Hulle was traag om in te sien dat al die offers slegs na die dood van die Seun van God vooruit gewys het, waar die tipe die antitipe ontmoet het en waarná die rituele en seremonies van die Mosaïese bedeling nie meer bindend was nie. DHDA 158.1

Voor sy bekering het Paulus homself as “...onberispelik... ” beskou “...wat die geregtigheid in die wet betref.” (Filippense 3:6). Maar sedert hy van hart verander het, het hy ‘n duidelike begrip van die sending van die Heiland as Verlosser van die ganse mensdom, Heidene, sowel as Jode gekry en het hy die verskil tussen ‘n lewende geloof en dooie formalisme leer ken. In die lig van die evangelie het die gebruike en seremonies wat aan Israel toevertrou was, ‘n nuwe en dieper betekenis gekry. Dit wat hulle voorafgeskadu het, het werklikheid geword en diegene wat onder die bediening van die evangelie geleef het, is van die nakoming daarvan vrygestel. Paulus het egter God se onveranderlike wet van die tien gebooie steeds in die gees en letter gehoorsaam. DHDA 158.2

In die kerk in Antiochië het die vraagstuk van die besnydenis tot baie bespreking en geskille gelei. Uiteindelik het die lidmate van kerk, uit vrees dat voortgesette bespreking tot verdeeldheid onder hulle sou lei, besluit om Paulus en Barnabas, saam met ‘n paar verantwoordelike manne van die gemeente, na Jerusalem te stuur om die saak aan die apostels en ouderlinge voor te lê. Daar sou hulle afgevaardigdes uit verskillende gemeentes, asook diegene wat na Jerusalem sou kom om die naderende feeste by te woon, ontmoet. Intussen moes alle teenstrydighede gestaak word totdat finale uitsluitsel deur die algemene raadsitting gegee word. Hierdie besluit moes dan ook algemeen deur die verskillende gemeentes regdeur die land aanvaar word. DHDA 158.3

Onderweg na Jerusalem het die apostels die gelowiges in die stede waardeur hulle gereis het besoek en hulle bemoedig deur hulle van hulle ervarings in die werk van God en die bekering van die Heidene te vertel. DHDA 159.1

In Jerusalem het die afgevaardigdes uit Antiochië die broeders van verskillende gemeentes wat vir die algemene vergadering byeengekom het, aangetref en hulle het ook aan hulle van die sukses wat hulle bediening onder die Heidene vergesel het, vertel. Daarna het hulle ‘n duidelike uiteensetting gegee van die verwarring wat ontstaan het omdat sekere bekeerde Fariseërs na Antiochië gegaan en gesê het dat die Heidense bekeerlinge besny moes word en die wet van Moses moes onderhou om salig te word. DHDA 159.2

Hierdie vraag is heftig in die vergadering bespreek. Daar was verskeie ander vraagstukke wat ‘n noue verband met die besnydenis gehad het, wat noukeurig ondersoek moes word. Een daarvan was die probleem met betrekking tot die gebruik van vleis wat aan afgode geoffer was. Baie van die Heidense bekeerlinge het tussen onkundige en bygelowige mense gewoon wat gereeld offers aan hul afgode gebring het. Die priesters van hierdie heidense geloof het uitgebreide handel met die offers wat na hulle gebring is bedryf en die Jode het gevrees dat die Heidense bekeerlinge die Christelike geloof in oneer sou bring deur dit wat aan afgode geoffer was te koop en sodoende in ‘n sekere sin afgodiese gebruike sou goedkeur. DHDA 159.3

Dan ook, was die Heidene gewoond daaraan om die vleis van diere wat gewurg is te eet, terwyl die Jode ‘n Goddelike opdrag ontvang het, dat wanneer diere vir voedsel geslag word, daar besonder versigtig te werk gegaan moes word om te verseker dat die bloed uit die liggaam vloei; anders sou die vleis nie as heilsaam beskou word nie. God het hierdie bevel aan die Jode gegee met die doel om hulle gesondheid te bewaar. Die Jode het dit as sonde beskou om bloed te eet. Hulle het aangevoer dat die lewe van die dier in die bloed was en dat bloedvergieting die gevolg van die sonde was. DHDA 160.1

Onder die Heidene daarenteen, was dit ‘n gebruik om die bloed van die offerdier op te vang en dit in die bereiding van hul voedsel te gebruik. Die Jode kon nie glo dat hulle die gewoontes wat hulle onder die spesifieke leiding van God aanvaar het, behoort te verander nie. Daarom, soos sake op daardie stadium gestaan het, indien Jood en Heiden sou poog om aan dieselfde tafel aan te sit, eersgenoemde geskok en verontwaardig deur laasgenoemde sou wees. DHDA 160.2

Die Heidene en veral die Grieke, was uiters losbandig en die gevaar het bestaan dat sommige, wat onbekeerd van hart was, die geloof sou bely sonder om van hul bose gewoontes afstand te doen. Die Joodse Christene kon nie die onsedelikheid wat nie in die oë van die heidene as ongeoorloof beskou is nie, verdra nie. Daarom het die Jode dit as uiters noodsaaklik beskou dat die besnydenis en die onderhouding van die seremoniële wet op die Heidense bekeerlinge afgedwing moes word om hulle opregtheid en toewyding te bewys. Hulle het geglo dat dit sou verhoed dat mense wat die geloof aanneem sonder dat hulle van harte bekeerd is by die kerk gevoeg word en later, deur hulle onsedelikheid en oormatigheid, ‘n verleentheid vir die kerk sou wees. DHDA 160.3

Die verskillende punte wat by die skikking van die hoof vraagstuk onder bespreking betrokke was, het geblyk onoorkomelike probleme vir die vergadering te bied. Maar in werklikheid het die Heilige Gees hierdie saak, die besluit waarvan die voorspoed en die welvaart van die Christelike kerk, indien nie die werklike voortbestaan daarvan afgehang het, reeds besleg. DHDA 161.1

“En toe daar ‘n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word.” Hy het geredeneer dat die Heilige Gees reeds uitsluitsel oor die saak onder geskil gegee het, deur met gelyke krag op die onbesnede Heidene en die besnyde Jode neer te daal. Hy het weer van die gesig waarin God ‘n laken vol allerhande viervoetige diere aan hom voorgelê en hom beveel het om te slag en te eet herhaal. Toe hy weier en bevestig het dat hy nog nooit iets onreins geëet het nie, was die antwoord: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.” (Handelinge 10:15). DHDA 161.2

Petrus het die duidelike vertolking van hierdie woorde, wat byna onmiddellik aan hom gegee is met die bevel om na die hoofman oor honderd te gaan en hom in die geloof van Christus te onderrig, voorgelê. Hierdie boodskap het getoon dat God nie ‘n aannemer van persoon is nie, maar dat Hy almal wat Hom vrees, erken en aanvaar. Petrus het van sy verbasing vertel toe die Heilige Gees, terwyl hy nog woorde van waarheid met die vergadering in Cornelius se huis gepraat het, van al sy toehoorders, Heidene sowel as Jode, besit geneem het. Dieselfde lig en heerlikheid wat op die besnyde Jode weerkaats is, het ook op die gesigte van die onbesnede Heidene geskyn. Dit was ‘n waarskuwing van God dat Petrus nie die een as minderwaardig teenoor die ander moes beskou nie, want die bloed van Christus kon van alle onreinheid reinig. DHDA 161.3

Petrus het eenkeer tevore reeds met sy broers aangaande die bekering van Cornelius en sy vriende en sy gemeenskap met hulle geredeneer. Toe hy tydens daardie geleentheid vertel het hoe die Heilige Gees oor die Heidene vaardig geword het, het hy verklaar: “As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?” (Handelinge 11:17). Nou het hy met dieselfde geesdrif gesê: “God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof. Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?” Hierdie juk was nie die wet van die tien gebooie, soos sommige teëstanders wat die bindende eise van die wet teëstaan, beweer nie; Petrus het hier na die seremoniële wet, wat deur die kruisiging van Christus nietig gemaak is, verwys. DHDA 162.1

Petrus se toespraak het die vergadering op ‘n punt gebring waar hulle geduldig na Paulus en Barnabas kon luister, wat van hul ervarings in die werk vir die Heidene aan hulle vertel het. “Die hele menigte het geswyg en na Barnabas en Paulus geluister, terwyl hulle van al die tekens en wonders vertel wat God deur hulle onder die heidene gedoen het.” DHDA 162.2

Jakobus het ook sy getuienis met beslistheid gelewer en verklaar dat dit God se doel was om dieselfde voorregte en seëninge as wat aan die Jode gebied is, aan die Heidene te skenk. DHDA 162.3

Die Heilige Gees het dit goed geag om nie die seremoniële wette op die Heidense bekeerlinge af te dwing nie en die gesindheid van die apostels aangaande hierdie saak was ook die gesindheid van die Gees van God. Jakobus was voorsitter van die raad en sy finale beslissing was: “Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie.” DHDA 162.4

Dit het die bespreking beëindig. In hierdie geval het ons ‘n weerlegging van die leerstelling van die Rooms- Katolieke Kerk, dat Petrus die hoof van die kerk was. Diegene wat as pouse beweer het dat hulle sy opvolgers was, het geen Skriftuurlike grondslag vir hulle aansprake nie. Niks in die lewe van Petrus staaf die bewering dat hy as plaasvervanger van die Allerhoogste bo sy broers verhef is nie. Indien diegene wat verklaar is dat hulle opvolgers van Petrus is sy voorbeeld gevolg het, sou hulle tevrede gewees het om gelyke voet met hulle broers te wees. DHDA 163.1

In hierdie geval blyk dit dat Jakobus gekies was om die besluit van die raad aan te kondig. Dit was sy beslissing dat die seremoniële wet en veral die verordening van die besnydenis, nie op die Heidene afgedwing of selfs aan hulle aanbeveel moes word nie. Jakobus het dit aan sy broers aan die verstand probeer bring, dat die Heidene, deur na God te draai, ‘n groot verandering in hulle lewens gemaak het en dat daar versigtigheid aan die dag gelê moes word om hulle nie met verwarrende en twyfelagtige vrae van minder belang te belas nie, sodat hulle nie in die navolging van Christus ontmoedig sou word nie. DHDA 163.2

Die Heidense bekeerlinge moes egter van gewoontes wat in stryd met die beginsels van die Christendom was afsien. Daarom het die apostels en die ouderlinge ooreengekom om per brief ‘n opdrag aan die Heidene te gee, dat hulle hulself van vleis wat aan afgode geoffer is, van hoerery, van diere wat verwurg is en van bloed moes onthou. Hulle moes aangespoor word om die gebooie te onderhou en om ‘n heilige lewe te lei. Hulle moes ook verseker word dat die manne wat die besnydenis as bindend verklaar het, nie deur die apostels daartoe gemagtig was nie. DHDA 163.3

Paulus en Barnabas is by hulle aanbeveel as manne wat hul lewens vir die Here gewaag het. Judas en Silas is saam met hierdie apostels gestuur om mondelings die besluit van die raad aan die Heidene oor te dra: “Die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen.” Die vier dienaars van God is met die brief na Antiochië gestuur en die boodskap wat ‘n einde aan alle twis sou maak; want dit was die stem van die hoogste gesag op aarde. DHDA 164.1

Die raad wat oor hierdie saak besluit het, was saamgestel uit apostels en leraars wat prominent was in die stigting van die Joodse en die Heidense Christelike gemeentes, met gekose afgevaardigdes van verskillende plekke. Ouderlinge van Jerusalem en afgevaardigdes uit Antiochië was teenwoordig en die invloedrykste gemeentes is verteenwoordig. Die raad het ooreenkomstig die voorskrifte van verligte oordeel en met die waardigheid van ‘n kerk wat deur die Goddelike wil gestig is, opgetree. As gevolg van hul samespreking, het almal ingesien dat God self die strydvraag beantwoord het deur die Heilige Gees aan die Heidene te skenk; en hulle het besef dat dit hulle plig was om die leiding van die Gees te volg. DHDA 164.2

Daar is nie ‘n beroep op die ganse liggaam van Christene gedoen om oor die saak te stem nie. Die “...apostels en ouderlinge...”, manne van invloed en oordeel, het die besluit opgestel en uitgevaardig, wat oor die algemeen deur die Christelike gemeentes aanvaar is. Nie almal was egter met die besluit tevrede nie; daar was ‘n faksie van ambisieuse selfvoldane broeders wat nie daarmee saamgestem het nie. Hierdie manne het hulle aangematig om die werk op eie verantwoordelikheid aan te neem. Hulle het baie gemurmureer en fout gevind, nuwe planne voorgestel en probeer om die werk van die manne wat deur God aangestel is om die evangelie te verkondig, af te breek. Die kerk het vanaf die heel begin met sulke struikelblokke te kampe gehad en so sal dit tot aan die einde van tyd wees. DHDA 164.3

Jerusalem was die hoofstad van die Jode en dit was daar wat die grootste eksklusiwiteit en bekrompenheid gevind is. Die Joodse Christene wat binne sig van die tempel gewoon het, het van nature hul gedagtes laat terugkeer na die besondere voorregte van die Jode as ‘n nasie. Toe hulle die Christelike kerk sien afwyk van die seremonies en oorleweringe van Judaïsme en besef dat die besondere heiligheid waarmee die Joodse gebruike bedeel was in die lig van die nuwe geloof binnekort uit die oog verloor sou word, het baie van hulle toornig teenoor Paulus geraak omdat hy, tot ‘n groot mate, verantwoordelik vir hierdie verandering was. Selfs die dissipels was nie almal bereid om die besluit van die raad gewilliglik te aanvaar nie. Sommige was ywerig vir die seremoniële wet en hulle het Paulus met onguns bejeën omdat hulle gedink het dat sy beginsels ten opsigte van die verpligtinge van die Joodse wet laks was. DHDA 165.1

Die wye en verreikende besluite van die algemene raad het vertroue in die geledere van die Heidense gelowiges ingeboesem en die saak van God het floreer. In Antiochië, is die kerk deur Judas en Silas, die spesiale boodskappers wat saam met die apostels na Jerusalem teruggekeer het, begunstig. Judas en Silas, “...wat self ook profete was, het die broeders met baie woorde bemoedig en versterk.” Hierdie godvrugtige manne het ‘n tyd lank in Antiochië vertoef. “Paulus en Barnabas het in Antiochië gebly en, saam met nog baie ander, onderrig gegee en die blye boodskap van die woord van die Here verkondig.” DHDA 165.2

Toe Petrus Antiochië op ‘n later stadium besoek het, het, het hy die vertroue van baie as gevolg van sy verstandige optrede teenoor die Heidense bekeerlinge, gewen. Hy het ‘n tyd lank ooreenkomstig die lig wat uit die hemel gegee is, opgetree. Hy het tot dusver sy natuurlike vooroordeel tot so ‘n mate oorwin, dat hy saam met die Heidense bekeerlinge aan tafel gesit het. Maar, toe sekere Jode wat ywerig vir die seremoniële wet was, uit Jerusalem aangekom het, het Petrus sy houding teenoor die bekeerlinge uit die heidendom onoordeelkundig verander, “En saam met hom het die ander Jode geveins, sodat selfs Barnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins.” Hierdie openbaring van swakheid deur diegene wat as leiers eerbiedig en geliefd was, het ‘n pynlike indruk op die gemoedere van die Heidene gelaat. Die kerk is met verdeeldheid bedreig. Maar Paulus, wat die ondermynende invloed van die kwaad wat deur Petrus se dubbel standaarde veroorsaak is, ingesien het, het hom openlik bestraf omdat hy sy ware gevoelens verberg het. In die teenwoordigheid van die gemeente het Paulus Petrus gevra: “As jy wat ‘n Jood is, soos ‘n heiden lewe en nie soos ‘n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?” (Galasiërs 2:13,14). DHDA 165.3

Petrus het sy fout ingesien en dadelik aan die werk gespring om na die beste van sy vermoë die kwaad wat hy aangerig het, te herstel. God, wat die einde van die begin af ken, het Petrus toegelaat om hierdie swakheid van karakter te openbaar, sodat die beproefde apostel kon insien dat daar niks in homself was om oor te roem nie. Selfs die beste mense sal, indien hulle aan hulself oorgelaat word, oordeelsfoute begaan. God het ook geweet dat sommige mettertyd so mislei sou word, dat hulle aan Petrus en sy sogenaamde opvolgers verhewe regte, wat aan God alleen behoort, sou toeëien. En hierdie verslag van die apostel se swakheid, sou as ‘n bewys van sy feilbaarheid en die feit dat hy geensins bo die vlak van die ander apostels was nie, dien. DHDA 166.1

Die geskiedenis van hierdie afwyking van die regte beginsels, staan as ‘n ernstige waarskuwing aan mense in vertrouensposisie in die saak van God, dat hulle nie in integriteit moet faal nie, maar ferm daarby moet bly. Hoe groter die verantwoordelikheid wat aan die menslike werktuig opgelê word en hoe groter sy geleenthede om voor te skryf en te beheer, hoe groter skade sal hy aanrig indien hy nie die weg van die Here noukeurig volg en ooreenkomstig die besluite van die algemene liggaam van gelowiges in die algemene raadsitting, optree nie. DHDA 166.2

Na al Petrus se mislukkings, na sy val en herstel, sy lang bediening, sy intieme verhouding met Christus, sy kennis van die Verlosser se reguit praktyk van korrekte beginsels; na al die onderrig wat hy ontvang het, al die gawes en kennis en invloed wat hy deur die verkondiging en onderrig in die woord verkry het, is dit nie vreemd dat hy, uit vrees vir mense of weens eersug, die beginsels van die evangelie sou veins en ontwyk nie? Is dit nie vreemd dat hy sou wankel in die nakoming om te doen wat reg is nie? Mag God aan elke mens ‘n besef van sy hulpeloosheid en sy onvermoë om self sy skip reguit en veilig in die hawe te bring, gee. DHDA 167.1

In sy bediening was Paulus dikwels verplig om alleen te staan. Hy is spesiaal deur God geleer en het dit nie durf waag om toegewings wat beginsel behels het, te maak nie. Die las was soms swaar, maar Paulus het vasgestaan vir wat reg was. Hy het besef dat die kerk nooit onder die beheer van menslike mag gebring moes word nie. Die tradisies en grondbeginsels van mense mag nie die plek van geopenbaarde waarheid inneem nie. Die bevordering van die evangelieboodskap mag nie deur die vooroordele en voorkeure van mense belemmer word nie, ongeag hul posisie in die kerk. DHDA 167.2

Paulus het homself en al sy kragte aan die diens van God gewy. Hy het die waarhede van die evangelie regstreeks uit die hemel ontvang en regdeur sy bediening het hy ‘n lewensbelangrike verbintenis met die hemelse agentskappe gehandhaaf. God het hom geleer aangaande die binding van onnodige laste op Heidense Christene; toe die Judaïserende gelowiges dus die vraag aangaande die besnydenis in die gemeente in Antiochië aanhangig gemaak het, het Paulus die mening van die Gees van God aangaande hierdie leer geken en ‘n ferme en onversetlike posisie ingeneem, wat die gemeentes van die Joodse rituele en seremonies bevry het. DHDA 167.3

Ondanks die feit dat Paulus persoonlik deur God geleer is, het hy geen oordrewe opvattings aangaande individuele verantwoordelikheid gehad nie. Terwyl hy na God vir regstreekse leiding gesoek het, was hy altyd bereid om die gesag van die kerk, wat in die liggaam van gelowiges in ‘n kerkgenootskap verenig was, te erken. Hy het sy behoefte aan raad, wanneer belangrike aangeleenthede hulle voorgedoen het besef en dan was hy bly om dit aan die gemeente voor te lê en saam met sy broeders te vra dat God die wysheid moes skenk om die regte besluite te neem. Selfs “...die geeste van die profete...” het hy gesê, “...is aan die profete onderworpe; want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.” (1 Korinthiërs 14:32,33). Saam met Petrus het hy geleer dat almal wat in die hoedanigheid van die kerk verenig is, “...in onderdanigheid aan mekaar”... moet wees. (1 Petrus 5:5). DHDA 168.1