Die Handelinge Van Die Apostels

19/59

Hoofstuk 18—Prediking van die Evangelie Onder die Heidene*

Van Antiochië in Pisidië is Paulus en Barnabas na Ikonium. Soos in Antiochië het hulle ook hier in die sinagoges van hulle eie mense begin werk. Hulle het opvallende sukses behaal sodat “...’n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het.” Maar in Ikonium soos op ander plekke waar die apostels gewerk het, het “...die ongehoorsame Jode ... die gemoedere van die Heidene teen die broeders opgehits en verbitter.” DHDA 147.1

Die apostels het egter nie van hulle sending afgesien nie, want baie het die evangelie van Christus aangeneem. Ondanks teëstand, afguns en vooroordeel het hulle met hul werk voortgegaan en “...vrymoediglik gespreek in die Here...” en God het “...aan die woord van Sy genade getuienis gegee ... deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind.” Hierdie bewyse van Goddelike goedkeuring het ‘n kragtige invloed op diegene wie se gemoedere oop was vir oortuiging gehad en die bekeerlinge tot die evangelie het toegeneem. DHDA 147.2

Die toenemende gewildheid van die boodskap wat die apostels verkondig het, het die ongelowige Jode met afguns en haat vervul en hulle het hulle voorgeneem om die werk van Paulus en Barnabas onmiddellik te beëindig. Deur middel van valse en oordrewe berigte het hulle die owerhede laat vrees dat die hele stad tot opstand opgestook sou word. Hulle het verklaar dat groot getalle mense hulle by die apostels aangesluit het en het gesuggereer dat dit met geheime en gevaarlike motiewe was. DHDA 147.3

As gevolg van hierdie beskuldigings is die apostels herhaaldelik voor die owerhede gebring; maar hulle verdediging was so duidelik en sinvol en hul verklaring van wat hulle geleer het so kalm en omvattend dat ‘n sterk invloed in hulle guns uitgeoefen is. Alhoewel die regters as gevolg van die valse verklarings wat hulle gehoor het, teen hulle bevooroordeel was, kon hulle dit nie waag om hulle te veroordeel nie. Hulle kon slegs erken dat die leer van Paulus en Barnabas geneig was om van mense deugsame, wetsgehoorsame burgers te maak en dat die sedes en orde van die stad sou verbeter indien die waarhede wat deur die apostels geleer word, aanvaar word. DHDA 148.1

As gevolg van die teëstand wat die dissipels ervaar het, het die boodskap van die waarheid groter bekendheid verwerf; die Jode het besef dat hulle pogings om die werk van die nuwe leraars te stuit, slegs daartoe gelei het dat groter getalle tot die nuwe geloof toegevoeg is. “Die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan.” DHDA 148.2

Die leiers onder die Jode was so woedend oor hierdie wending van sake, dat hulle besluit het om hul doel deur geweld te bereik. Hulle het die ergste emosies van die onkundige, luidrugtige skare opgewek en daarin geslaag om ‘n oproer aan te hits wat hulle aan die leer van die dissipels toegeskryf het. Hulle het gehoop om deur hierdie valse beskuldiging die hulp van die owerhede vir die uitvoer van hulle plan te verkry. Hulle was vasbeslote dat die apostels geen geleentheid moes kry om hulself te verdedig nie en dat die gepeupel moes ingryp deur Paulus en Barnabas te stenig en so ‘n einde aan hulle werk te maak. DHDA 148.3

Vriende van die apostels, hoewel ongelowiges, het hulle teen die kwaadwillige planne van die Jode gewaarsku en by hulle aangedring om hulself nie onnodig aan die woede van die gepeupel bloot te stel nie, maar vir hul lewens te vlug. Gevolglik het Paulus en Barnabas Ikonium heimlik verlaat en dit aan die gelowiges oorgelaat om die werk vir ‘n tyd lank alleen voort te sit. Maar hulle het geensins finaal afskeid geneem nie; hulle was van voorneme om, nadat die opgewondenheid afgeneem het terug te keer, sodat hulle die werk wat hulle begin het, kon voltooi. DHDA 148.4

In elke eeu en in elke land is God se boodskappers opgeroep om bittere teëstand van diegene wat doelbewus gekies het om die lig van die hemel te verwerp, te verduur. Dikwels het die vyande van die evangelie deur wanvoorstelling en valsheid skynbaar geseëvier en die deure waardeur die boodskappers van God toegang tot die volk kan verkry gesluit. Maar hierdie deure kan nie vir altyd gesluit bly nie en dikwels wanneer die dienaars van God na ‘n tyd teruggekeer het om hulle werk te hervat, het die Here kragtig ten behoewe vir hulle gewerk en hulle in staat gestel om gedenktekens tot eer van Sy naam te op te rig. DHDA 149.1

Deur vervolging uit Ikonium verdryf, het die apostels na Listre en Derbe in Likaónië gegaan. Hierdie dorpe is grotendeels deur ‘n heidense, bygelowige volk bewoon, maar onder hulle was sommige wat oop was om die evangelieboodskap te hoor en dit aan te neem. Die apostels het besluit om op hierdie plekke en in die omliggende streke te werk, in die hoop om die Joodse vooroordeel en vervolging vry te spring. DHDA 149.2

In Listre was daar geen Joodse sinagoge nie, hoewel daar ‘n paar Jode in die stad gewoon het. Baie van die inwoners van Listre het in die tempel wat aan Jupiter gewy was, aanbid. Toe Paulus en Barnabas in die stad verskyn en die inwoners om hulle vergader om die eenvoudige waarhede van die evangelie aan hulle te verduidelik, het baie probeer om hierdie leerstellings met hul eie bygelowige aanbidding van Jupiter te verbind. DHDA 149.3

Die apostels het probeer om aan hierdie afgodedienaars ‘n kennis van God die Skepper en van Sy Seun, die Verlosser van die mensdom, oor te dra. Hulle het eers die aandag op die wonderbare werke van God gevestig-die son, die maan, die sterre, die pragtige orde van die herhalende seisoene, die magtige sneeubedekte berge, die hoë bome en ander verskillende wonders van die natuur wat van ‘n vaardigheid buite die menslike begrip spreek. Deur hierdie werke van die Almagtige het die apostels die Heidene se gedagtes tot nadenke oor die groot Heerser van die heelal gelei. DHDA 149.4

Nadat hierdie fundamentele waarhede aangaande die Skepper duidelik geword het, het die apostels die mense van Listre van die Seun van God, wat van die hemel na ons wêreld gekom het vertel, omdat Hy die mensekinders liefgehad het. Hulle het oor Sy lewe en bediening, Sy verwerping deur diegene wat Hy kom red het, Sy verhoor en kruisiging gepraat, van Sy opstanding en Hemelvaart om daar as Voorspraak vir die mensdom in te tree. So het Paulus en Barnabas, in die Gees en krag van God, die evangelie in Listre verkondig. DHDA 150.1

Op ‘n tydstip, terwyl Paulus die mense van die werk van Christus as Geneser van die siekes en ellendiges vertel het, het hy onder sy toehoorders ‘n kreupele gesien wie se oë op hom gevestig was en wat sy woorde gehoor en geglo het. Paulus se hart het na die ongelukkige man uitgegaan en hy kon sien dat “...hy geloof het om gesond te word.” In die teenwoordigheid van die afgodiese byeenkoms, het Paulus die kreupele beveel om regop op sy voete te staan. Voorheen kon die kreupele slegs ‘n sittende posisie inneem, maar nou het hy onmiddellik Paulus se opdrag gehoorsaam en vir die eerste keer in sy lewe op sy voete gestaan. Saam met hierdie poging van geloof, het daar krag gekom en hy wat kreupel was, “...het opgespring en begin rondloop.” DHDA 150.2

“Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies: Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe.” Hierdie stelling was in ooreenstemming met een van hulle tradisies dat die gode soms die aarde besoek het. Hulle het Barnabas, vanweë sy eerbiedwaardige voorkoms, sy waardige houding en die sagmoedigheid en welwillendheid wat in sy voorkoms tot uiting gekom het, Jupiter, die vader van die gode, genoem. Hulle het geglo Paulus was Mercurius, “...omdat hy die woordvoerder...” ernstig, aktief en welsprekend was, met woorde van waarskuwing en vermaning. DHDA 150.3

Gretig om hulle dankbaarheid te bewys, het die inwoners van Listre, die priester van Jupiter oorreed om die apostels te vereer en hy het “...stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer.” Paulus en Barnabas wat na afsondering en rus gaan soek het, was onbewus van hierdie voorbereidings. Hulle aandag was egter spoedig deur die klank van musiek en die geesdriftige uitroepe van ‘n groot skare wat by die huis waar hulle tuis was saamgekom het, getrek. DHDA 151.1

Toe die apostels die oorsaak van hierdie besoek en die gepaardgaande opgewondenheid daarvan vasgestel het, “...het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring...” in die hoop om verdere verrigtinge te voorkom. Met ‘n luide, deurdringende stem wat bo die uitroepe van die mense opgestyg het, het Paulus hulle aandag geëis; en toe die rumoer plotseling ophou, sê hy: “Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.” DHDA 151.2

Ondanks die uitdruklike ontkenning van die apostels dat hulle gode was en nieteenstaande Paulus se pogings om die mense se aandag op die ware God, as die enigste voorwerp wat aanbiddenswaardig is te vestig, was dit bykans onmoontlik om die heidene van hulle voorneme om ‘n offer te bring te laat afsien. Hulle was so vas van oortuiging dat hierdie manne inderdaad gode was en hulle entoesiasme was so groot, dat hulle onwillig was om hul dwaling te erken. Die verslag vertel dat hulle “...met moeite die skare verhinder...” het. DHDA 151.3

Die inwoners van Listre het aangevoer dat hulle die wonderbaarlike mag van die apostels met hulle eie oë aanskou het. Hulle het gesien hoe ‘n kreupel man wat nooit voorheen kon loop nie, homself nou in blakende gesondheid en krag verheug. Eers na baie oortuiging van Paulus en ‘n deeglike uiteensetting van sy en Barnabas se sending as verteenwoordigers van die God van die hemel en van Sy Seun, die groot Geneesheer, is die mense oorreed om hulle plan te laat vaar. DHDA 152.1

Die werk van Paulus en Barnabas in Listre is plotseling gestuit deur die kwaadwilligheid van sekere “...Jode van Antiochië en Ikonium..” wat, toe hulle te wete kom van die welslae van die apostels se werk in Likaónië, besluit het om hulle daar te gaan vervolg. Toe hulle in Listre aankom, het hierdie Jode daarin geslaag om die mense met dieselfde bitterheid van gees te inspireer as wat in hul eie gemoed geheers het. Deur woorde van wanvoorstelling en laster het hulle daarin geslaag om diegene wat Paulus en Barnabas onlangs as goddelike wesens beskou het, te oortuig dat die apostels in werklikheid erger as moordenaars was en dat hulle die dood verdien het. DHDA 152.2

Die teleurstelling wat die inwoners van Listre ondergaan het omdat hulle die voorreg om aan die apostels te offer geweier is, het hulle genoop om teen Paulus en Barnabas met byna dieselfde geesdrif wat hulle aan die dag gelê het toe hulle hul as gode begroet het te draai. Aangespoor deur die Jode, het hulle beplan om die apostels met geweld aan te val. Die Jode het hulle beveel om nie aan Paulus die geleentheid te gee om te praat nie en beweer dat, indien hy die geleentheid sou kry, hy die mense sou betower. DHDA 152.3

Die moorddadige planne van die vyande van die evangelie is spoedig uitgevoer. Die inwoners van Listre het aan die invloed van die kwaad toegegee en is deur sataniese woede oormeester. Hulle het Paulus gegryp en hom genadeloos gestenig. Die apostel het gedink dat sy einde aangebreek het. Die martelaarskap van Stefanus en sy eie wrede rol daarin, het dadelik helder voor sy gees opgekom. Bedek met kneusplekke en swak van die pyn, het hy op die grond neergeval en die wrede gepeupel het “...hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was.” DHDA 153.1

In hierdie donker uur van beproewing het die groepie gelowiges in Listre, wat deur die bediening van Paulus en Barnabas tot geloof in Jesus bekeer is, lojaal en getrou gebly. Die onredelike teëstand en wrede vervolging deur hulle vyande, het slegs gedien om die geloof van hierdie toegewyde broeders te bevestig; en nou, te midde van gevaar en bespotting, het hulle hul lojaliteit getoon deur met hartseer rondom sy liggaam te skaar in die waan dat hy dood was. DHDA 153.2

Wat was hul verbasing groot toe die apostel skielik, te midde van hulle geweeklaag, sy kop oplig en met lof tot God op sy lippe, opstaan. Die gelowiges het hierdie onverwagte herstel van God se dienaar, as ‘n wonder van Goddelike mag beskou en hulle het dit as die Hemel se goedkeuring op hul geloofsverandering beskou. Hulle het hulle met onuitspreeklike blydskap verheug en God met hernieude geloof geprys. DHDA 153.3

Onder diegene wat in Listre tot bekering gekom het en ooggetuies van die lyding van Paulus was, was iemand wat agterna ‘n prominente werker vir Christus sou word en wat die beproewings en die vreugde van pioniersdiens in moeilike velde sou deel. Dit was ‘n jongman met die naam van Timotheus. Toe Paulus uit die stad gesleep is, was hierdie jeugdige dissipel onder die getal wat by sy skynbaar lewelose liggaam gestaan het en hom gekneus en bebloed met lof op sy lippe sien opstaan het omdat hy die voorreg gehad het om ter wille van Christus te ly. DHDA 153.4

Die dag na die steniging van Paulus, het die apostels na Derbe vertrek waar hulle werk geseën en baie siele gelei is om Christus as hulle verlosser aan te neem. Maar “...nadat hulle aan daardie stad die evangelie verkondig en ‘n aantal dissipels gemaak het...” was nie Paulus of Barnabas tevrede om elders te gaan werk sonder om die geloof van die bekeerlinge, wat hulle genoodsaak was om ‘n tyd lank alleen op plekke waar hulle kort tevore gewerk het te laat, te bevestig nie. En so, sonder om vir die gevaar terug te deins, “...het hulle teruggegaan na Listre en Ikonium en Antiochië en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly.” Baie het die blye boodskap van die evangelie aanvaar en hulle so aan verwyt en teëstand blootgestel. Die apostels het gepoog om hulle in die geloof te versterk sodat die werk wat gedoen is blywend kon wees. DHDA 154.1

As ‘n belangrike faktor in die geestelike groei van die nuwe bekeerlinge, was die apostels versigtig om hulle met die beskerming van die evangeliebedeling te omring. Gevolglik het hulle kerke op alle plekke waar daar gelowiges was, in Likaónië en Pisidië, georganiseer. Ampsdraers is in elke kerk aangestel en gepaste orde en stelsels vir die voortsetting van die bestuur van alle sake wat op die geestelike welsyn van die gelowiges betrekking gehad het, is ingestel. DHDA 154.2

Dit was in ooreenstemming met die plan van die evangelie om alle gelowiges in Christus in een liggaam te verenig en Paulus was versigtig om gedurende sy bediening, hierdie plan noukeurig te volg. Almal wat, op enige plek, as gevolg van sy arbeid, Christus as hul persoonlike Saligmaker aangeneem het, is op die regte tyd in ‘n gemeente georganiseer. Selfs waar gelowiges gering in getal was, is dit gedoen. Op hierdie wyse is die Christene geleer om mekaar te help en die belofte in gedagte te hou: “Waar twee of drie in my Naam vergader, daar sal Ek in hul midde wees.” (Mattheus 18:20). DHDA 154.3

En Paulus het nie van die gemeentes wat op hierdie wyse tot stand gebring is, vergeet nie. Die versorging van hierdie gemeentes het ‘n toenemende las op sy gemoed geword. Hoe klein die gemeente ook al was, was dit nietemin die voorwerp van sy konstante sorg. Met teerheid het hy oor die kleiner gemeentes gewaak en besef dat hulle spesiale sorg nodig gehad het om die lidmate deeglik in die waarheid te vestig en hulle geleer om ernstige, onselfsugtige pogings aan te wend vir diegene rondom hulle. DHDA 155.1

Paulus en Barnabas het, in al hulle sendingwerk gepoog om Christus se voorbeeld van gewillige opoffering en getroue, ernstige arbeid vir siele na te volg. Wawyd wakker, ywerig en onvermoeid het hulle nie hul persoonlike geneigdheid of gerief in ag geneem nie, maar met biddende besorgdheid en onophoudelike aktiwiteite, die saad van waarheid gesaai. En met die saai van die saad, was die apostels versigtig om aan almal wat standpunt vir die evangelie ingeneem het, praktiese onderrig van onskatbare waarde, te gee. Hierdie gees van erns en godvrugtige vrees het ‘n blywende indruk op die nuwe dissipels, aangaande die belangrikheid van die evangelieboodskap, gemaak. DHDA 155.2

Wanneer belowende en bekwame manne tot bekering gekom het, soos in die geval van Timotheus, het Paulus en Barnabas ernstig gepoog om aan hulle die noodsaaklikheid om in die wingerd te werk, te toon. En wanneer die apostels na ‘n ander plek vertrek het, het die geloof van hierdie manne nie gewankel nie maar eerder toegeneem. Hulle is getrou in die weg van die Here onderrig en is geleer hoe om onselfsugtig, ernstig en volhardend vir die redding van hul medemense te werk. Hierdie noukeurige opleiding van die nuwe bekeerlinge was ‘n belangrike faktor in die merkwaardige sukses waarmee Paulus en Barnabas se verkondiging van die evangelie in heidense lande bekroon is. DHDA 155.3

Die eerste sendingreis het vinnig ten einde geloop. Die apostels het die nuut georganiseerde gemeentes aan die Here opgedra en na Pamfilië gegaan, “...en nadat hulle die woord in Perge verkondig het, het hulle afgegaan na Attálië. En daarvandaan het hulle weggevaar na Antiochië.” DHDA 156.1