Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 17—Verkondigers van die Evangelie*
“Deur die Heilige Gees uitgestuur... ” het Paulus en Barnabas ná hulle ordening deur die broeders in Antiochië, “...afgegaan na Seleucië en daarvandaan weggevaar na Ciprus.” So het die apostels hul eerste sendingreis begin. DHDA 137.1
Ciprus was een van die plekke waarheen die gelowiges uit Jerusalem, as gevolg van die vervolging na die dood van Stefanus, gevlug het. Van Ciprus af het sekere manne na Antiochië gereis en “...die evangelie van die Here Jesus verkondig...” (Handelinge 11:20). Barnabas self was “...van geboorte uit Ciprus...” (Handelinge 4:36); en nou het hy en Paulus, vergesel van Johannes Markus, ‘n bloedverwant van Barnabas, hierdie eiland besoek. DHDA 137.2
Markus se moeder was ‘n bekeerling tot die Christelike geloof en haar huis in Jerusalem was ‘n toevlugsoord vir die dissipels. Daar was hulle altyd van ‘n vriendelike ontvangs en ‘n tyd van rus verseker. Dit was tydens een van hierdie besoeke van die apostels aan sy moeder se huis, dat Markus aan Paulus en Barnabas voorgestel het dat hy hulle op hulle sendingreis moes vergesel. Hy het die guns van God in sy hart ervaar en daarna verlang om homself geheel en al aan die werk van die bediening van die evangelie toe te wy. DHDA 137.3
Toe hulle in Salamis aankom, het die apostels “...die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig ... En hulle het die eiland deurgegaan tot by Pafos en ‘n towenaar gevind, ‘n valse profeet, ‘n Jood met die naam van Bar-Jesus. Hy was by die goewerneur Sergius Paulus, ‘n verstandige man. Die het Barnabas en Saulus laat roep en het versoek om die woord van God te hoor. Maar Elimas die towenaar-want so word sy naam vertaal-het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof.” DHDA 137.4
Die Satan laat die koninkryk van God nie toe om sonder stryd op aarde opgebou te word nie. Die magte van die bose is voortdurend in ‘n stryd teen die werktuie wat aangestel is om die evangelie te versprei gewikkel en hierdie magte van die duisternis is veral aktief wanneer die waarheid aan mense van aansien en eerlike integriteit verkondig word. So was dit toe ook toe Sergius Paulus, die goewerneur van Ciprus, na die evangelieboodskap geluister het. Die adjunk het na die apostels gestuur om hom aangaande die boodskap wat hulle kom verkondig het te onderrig en nou het die magte van die bose, wat deur die towenaar Elimas gewerk het, met hul verderflike invloede, gepoog om hom van die geloof te weerhou en so die doel van God te verydel. DHDA 138.1
So werk die gevalle vyand altyd om invloedryke manne in sy geledere te behou wat, indien hulle tot bekering kom, effektiewe diens in die saak van God kan lewer. Maar die getroue evangelie-werker hoef nie ‘n nederlaag aan die hand van die vyand te vrees nie; want dit is sy voorreg om met krag van bo bedeel te word om elke sataniese invloed te weerstaan. DHDA 138.2
Alhoewel Paulus heftig deur die Satan aangeval is, het hy die moed gehad om die een te bestraf deur wie die vyand gewerk het. “...vervul met die Heilige Gees het hy die oë op hom gehou en gesê: Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie? En nou, kyk, die hand van die Here is op jou en jy sal blind wees en die son ‘n tyd lank nie sien nie. En onmiddellik het daar donkerheid en duisternis op hom geval en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei. Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo.” DHDA 138.3
Die towenaar het sy oë vir die bewyse van waarheid van die evangelie gesluit en in geregverdigde toorn het die Here sy natuurlike oë vir die daglig gesluit. Hierdie blindheid was nie permanent nie, maar slegs tydelik, sodat hy gewaarsku kon word om berou te hê en die God wat hy so erg gegrief het te versoek om hom te vergewe. Die verwarring wat daardeur oor hom gekom het, het sy subtiele listigheid teen die leer van Christus nutteloos gemaak. Die feit dat hy gedwing was om in blindheid rond te tas, het aan almal bewys dat die wonderwerke wat die apostels verrig het en wat Elimas as oëverblindery bestempel het, deur die krag van God bewerk is. Die adjunk, oortuig van die waarheid van die leer wat die dissipels verkondig het, het die evangelie aangeneem. DHDA 139.1
Elimas was nie ‘n geleerde man nie, maar tog was hy besonder geskik om die werk van Satan te doen. Diegene wat die waarheid van God verkondig, sal die sluwe vyand in baie verskillende gedaantes aantref. Soms sal dit in die persoon van ‘n geleerde voorkom, maar meer dikwels in dit ongeletterde mense, wat deur Satan opgelei is om suksesvolle instrumente in die misleiding van siele te wees. Dit is die plig van die dienaar van Christus om in die vrees van God en in die krag van Sy mag, getrou op sy pos te staan. So kan hy die leërskare van Satan verwar en in die Naam van die Here seëvier. DHDA 139.2
Paulus en sy geselskap het hulle reis na Perge in Pamfilië voortgesit. Die pad was moeilik; hulle het teëspoed en ontberinge teëgekom en is van alle kante deur gevare omring. In die dorpe en stede waardeur hulle gereis het en langs die eensame hoofweë, is hulle deur sigbare en onsigbare gevare omring. Maar Paulus en Barnabas het geleer om op die verlossingskrag van God te vertrou. Hulle harte was met ‘n brandende liefde vir sterwende siele gevul. As getroue herders op soek na verlore skape, het hulle geen gedagte aan hul eie gemak en gerief geskenk nie. Sonder inagneming van hulself, het hulle nie gewankel wanneer hulle moeg, honger en koud was nie. Hulle het slegs een oogmerk gehad-die redding van diegene wat ver van die kraal weggedwaal het. DHDA 139.3
Dit was hier waar Markus, oorweldig deur vrees en moedeloosheid, ‘n tyd lank in sy doel om hom heelhartig aan die werk van die Here te wy, gewankel het. Hy was nie aan ontberings gewoond nie en is deur die gevare en ongeriewe van die pad ontmoedig. Onder gunstige omstandighede het hy met welslae gewerk, maar nou, te midde van die teëstand en gevare wat die baanbrekerswerk so dikwels omring, het hy nie daarin geslaag om die swaarkry van ‘n goeie soldaat van die kruis te verduur nie. Hy moes nog leer om gevaar en vervolging en teëspoed met ‘n dapper hart tegemoet te gaan. Soos die apostels verder gegaan en met al groter probleme gekonfronteer is, was Markus geïntimideer en het hy moed verloor. Hy het geweier om verder te gaan en na Jerusalem teruggekeer. DHDA 140.1
Hierdie verlating het veroorsaak dat Paulus Markus vir ‘n tyd lank ongunstig, selfs streng veroordeel het. Barnabas, daarenteen, was geneig om hom weens sy gebrek aan ervaring te verontskuldig. Hy was bekommerd dat Markus nie die bediening moes laat vaar nie, want hy het vermoëns in hom opgemerk wat hom as ‘n nuttige werker vir Christus kon bekwaam. Sy besorgdheid oor Markus is in later jare ryklik beloon, want die jongman het hom onvoorwaardelik aan die Here oorgegee en die evangelie op moeilike terreine verkondig. Met die seën van God en die wyse opleiding van Barnabas, het hy in ‘n waardevolle werker ontwikkel. DHDA 140.2
Paulus is agterna met Markus versoen en het hom as ‘n medewerker ontvang. Hy het hom ook by die Kolossense aanbeveel as ‘n medewerker “...vir die koninkryk van God...” en “...’n troos vir my.” (Kolossense 4:11). Nie lank voor sy eie dood nie, het hy weer van Markus melding gemaak dat hy vir hom “...baie tot diens...” kon wees. (2 Timotheus 4:11). DHDA 140.3
Na die vertrek van Markus, het Paulus en Barnabas Antiochië in Pisidië besoek en op die Sabbatdag in die Joodse sinagoge gaan sit. “Na die lesing van die wet en die profete het die hoofde van die sinagoge na hulle gestuur en gesê: Broeders, as julle ‘n woord van opwekking vir die volk het, spreek dan!” Na hierdie uitnodiging om te spreek, “...staan Paulus op, wink met die hand en sê: Israeliete en julle wat God vrees, luister!” Daarna het ‘n wonderlike toespraak gevolg. Hy het die geskiedenis van die wyse waarop die Here die Jode, sedert die tyd van hulle verlossing uit Egiptiese slawerny, weergegee en hoe ‘n Verlosser uit die nageslag van Dawid beloof is en met vrymoedigheid verklaar dat: “Uit die nageslag van hierdie man het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek, nadat Johannes voor sy koms eers die doop van bekering aan die hele volk van Israel verkondig het. En toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: Wie dink julle is ek? Ek is dit nie; maar kyk, Hy kom ná my, wie se skoen ek nie waardig is om van sy voete los te maak nie.” So het hy kragtig Jesus as die Verlosser van die mensdom, die Messias van die profesieë, verkondig. DHDA 141.1
Nadat hy hierdie verklaring gedoen het, het Paulus gesê: “Broeders, kinders van die geslag van Abraham, en die onder julle wat God vrees, vir julle is hierdie woord van verlossing gestuur. Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes het Hom nie geken nie, en deur Hom te veroordeel, het hulle die woorde van die profete vervul wat elke Sabbat gelees word.” DHDA 141.2
Paulus het nie geaarsel om die eenvoudige waarheid aangaande die verwerping van die Verlosser deur die Joodse leiers te verkondig nie. “Al het hulle niks gevind wat die dood verdien nie...” het die apostel verklaar, “...tog het hulle van Pilatus gevra dat Hy omgebring moes word. En toe hulle alles volbring het wat oor Hom geskrywe is, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in ‘n graf neergelê. Maar God het Hom uit die dode opgewek. En gedurende baie dae het Hy verskyn aan die wat saam met Hom opgegaan het van Galilea na Jerusalem, en hulle is sy getuies by die volk.” DHDA 141.3
“Ons bring julle die goeie tyding,” het die apostel vervolg, “...van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek, soos daar ook in die tweede Psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. En dat Hy Hom opgewek het uit die dode, sodat Hy nie meer tot verderwing sou terugkeer nie, het Hy só gespreek: Ek sal aan julle gee die heilige weldade van Dawid wat betroubaar is. Daarom sê Hy ook op ‘n ander plek: U sal U Heilige nie oorgee om verderwing te sien nie. Want Dawid het ontslaap, nadat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het en is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien, maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie.” DHDA 142.1
En, nadat hy duidelik oor die vervulling van die bekende profesieë aangaande die Messias gepraat het, het Paulus bekering en die vergifnis van sonde deur die verdienste van Jesus, hul Verlosser, aan hulle verkondig. Hy het gesê: “Laat dit aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.” DHDA 142.2
Die Gees van God het die woorde wat gespreek is vergesel en harte is aangeraak. Die apostel se beroep op die profesieë van die Ou Testament en sy verklaring dat hulle in die bediening van Jesus van Nasaret vervul is, het baie siele wat na die koms van die beloofde Messias verlang het, oortuig. En die spreker se bemoedigende woorde dat die “...goeie tyding...” van verlossing vir beide Heiden en Jood was, het hoop en blydskap vir diegene wat nie as kinders van Abraham volgens die vlees gereken was nie, gebring. DHDA 142.3
“En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die Heidene versoek dat daardie woorde op die volgende Sabbat tot hulle gespreek sou word.” Nadat die gemeente uiteindelik uiteengegaan het, “...het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote...” wat die blye tyding wat hulle daardie dag gehoor het aangeneem het, “...Paulus en Barnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly.” DHDA 143.1
Die belangstelling wat Paulus se rede in Pisidiese Antiochië verwek het, het “...byna die hele stad...” op die volgende Sabbatdag byeengebring “...om die woord van God te hoor. Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is.” DHDA 143.2
“Maar Paulus en Barnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie-kyk, ons wend ons tot die Heidene. Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het u ‘n lig van die nasies gemaak, sodat u tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” DHDA 143.3
“Toe die Heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” Hulle was uitermate verheug dat Christus hulle as die kinders van God erken het en het met dankbare harte geluister na die woord wat verkondig is. Diegene wat geglo het, het die evangelieboodskap met ywer aan ander verkondig, en “...die woord van die Here...” is op hierdie wyse “...deur die hele land verbrei.” DHDA 143.4
Eeue vantevore het die pen van die Inspirasie hierdie insameling van die Heidene beskryf; maar hierdie profetiese uitsprake is vaag begryp. Hosea het gesê: “Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie-sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God.” En weer: “Ek sal haar vir My saai in die land en My oor Lo-Rugáma ontferm, en aan Lo- Ammi sê: Jy is my volk; en hy sal sê: My God. “(Hosea 1:10;2:22). DHDA 143.5
Die Verlosser het self gedurende Sy aardse bediening die verspreiding van die evangelie onder die Heidene voorspel. In die gelykenis van die wingerd het Hy aan die onboetvaardige Jode gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.” (Mattheus 21:43). En na Sy opstanding het Hy Sy dissipels beveel om “...die hele wêreld in...” te gaan en dissipels van al die nasies te maak. Hulle moes niemand ongewaarsku laat bly nie, maar moes “...die evangelie aan die ganse mensdom... ” verkondig. (Mattheus 28:19; Markus 16:15). DHDA 144.1
Paulus en Barnabas het hulle na die Heidene in Pisidiese Antiochië gewend en hulle het nie opgehou om elders, oral waar daar ‘n gunstige geleentheid was om verhoor te word, vir die Jode te werk nie. Later, in Thessalonika, Korinthe, Éfese en in ander belangrike sentra, het Paulus en sy medewerkers die evangelie aan beide Jode en Heidene verkondig. Maar hulle vernaamste kragte was voortaan toegespits op die opbou van die koninkryk van God in die heidense gebiede onder die volke wat min kennis van die ware God en van Sy Seun gehad het. DHDA 144.2
Die harte van Paulus en sy medewerkers het uitgegaan na diegene wat “...sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.” Deur die onvermoeide bediening van die apostels onder die Heidene het die wat “...vreemdelinge en bywoners...” was, wat “...vroeër ver was...” uitgevind dat hulle “...naby gekom...” het “...deur die bloed van Christus...” en dat hulle deur geloof in Sy soenoffer nou “...medeburgers van die heiliges en huisgenote van God...” kon word (Efesiërs 2:12,13,19). DHDA 144.3
Paulus het in geloof voortgegaan en hom onophoudelik beywer vir die opbou van God se koninkryk onder diegene wat deur die leraars in Israel verwaarloos is. Hy het Christus voortdurend verhef as die as die “...Koning van die konings en Here van die here...” (1 Timotheus 6:15) en die gelowiges gemaan om in Hom “...gewortel en opgebou... ” en in die geloof bevestig te wees. (Kolossense 2:7). DHDA 145.1
Vir diegene wat glo, is Christus ‘n vaste fondasie. Op hierdie lewende Steen kan beide Jode en Heidene bou. Dis breed genoeg vir almal en sterk genoeg om die las van die hele wêreld te dra. Dit is ‘n feit wat duidelik deur Paulus self erken word. Die apostel het, in die laaste dae van sy bediening, ‘n groep gelowiges uit die Heidene, wat standvastig in hul liefde vir die waarheid van die evangelie gebly het, geskryf: “So is julle ... gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Christus Jesus self die hoeksteen is.” (Efesiërs 2:19,20). DHDA 145.2
Namate die evangelieboodskap in Pisidië versprei het, het die ongelowige Jode in Antiochië in hulle blinde vooroordeel “...die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits teen Paulus en Barnabas en ‘n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf.” DHDA 145.3
Die apostels is nie deur hierdie optrede ontmoedig nie; hulle het die woorde van hulle Meester onthou: “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.” (Mattheus 5:11,12). DHDA 145.4
Die evangelieboodskap het opgang gemaak en die apostels het alle rede gehad om bemoedig te wees. Hulle arbeid onder die Pisidiërs in Antiochië was ryklik geseën en die gelowiges wat hulle agtergelaat het om die werk ‘n tyd lank alleen voort te sit, “...is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.” DHDA 146.1