Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 3—Die Groot Opdrag
Na die dood van Christus is die dissipels byna deur moedeloosheid oorkom. Hulle Meester was verwerp, veroordeel en gekruisig. Die priesters en owerstes het honend uitgeroep: “Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom en ons sal in Hom glo.” (Mattheus 27:42). Die son van hulle hoop het vir die dissipels ondergegaan en in hulle harte het dit nag geword. Dikwels het hulle die woorde herhaal: “Ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos.” (Lukas 24:21). Eensaam en beswaard van hart het hulle Sy laaste woorde onthou: “As hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!” (Lukas 23:31). DHDA 14.1
Jesus het verskeie kere probeer om die toekoms vir Sy dissipels oop te stel, maar hulle wou nie dink aan wat Hy gesê het nie. As gevolg hiervan was Sy dood vir hulle ‘n verassing; en toe hulle agterna die verlede in oënskou neem en die gevolg van hulle ongeloof aanskou, was hulle diep bedroef. Toe Christus gekruisig is, het hulle nie geglo dat Hy sou opstaan nie. Hy het duidelik te kenne gegee dat Hy op die derde dag sou opstaan, maar hulle was verward aangaande Sy bedoeling. Hierdie gebrek aan begrip het hulle ten tye van Sy dood aan totale hopeloosheid oorgelaat. Hulle was bitter teleurgesteld. Hulle geloof kon nie verder deurdring as die skaduwee wat die Satan oor hulle gesigseinder gewerp het nie. Alles het vir hulle vaag en geheimsinnig voorgekom. Hoeveel smart sou hulle gespaar gewees het as hulle die Heiland se woorde geglo het! DHDA 14.2
Deur moedeloosheid, droefheid en wanhoop verpletter, het die dissipels in die bovertrek saamgekom en die deure gesluit uit vrees dat dieselfde lot wat hulle geliefde Leraar getref het, hulle sou tref. Dit was in hierdie vertrek waar die Heiland ná Sy opstanding aan hulle verskyn het. DHDA 14.3
Christus het veertig dae op die aarde vertoef en die dissipels voorberei vir die werk wat hulle moes doen; ook het Hy aan hulle dinge verduidelik wat hulle vroeër nie sou verstaan nie. Hy het van die profesieë aangaande Sy koms gepraat, van Sy verwerping deur die Jode en van Sy dood. Hy het hulle daarop gewys dat elke besonderheid van hierdie profesieë vervul was. Hy het aan hulle gesê dat hulle die vervulling van die profesieë as ‘n versekering van die krag wat hulle in hul toekomstige werk sou ondersteun, moes beskou. Ons lees: “Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan en bekering en vergewing van sondes in Sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af.” En toe voeg Hy daarby: “En julle is getuies van hierdie dinge.” (Lukas 24:45- 48). DHDA 15.1
Gedurende die dae wat Christus met Sy dissipels deurgebring het, het hulle ‘n nuwe ervaring opgedoen. Soos hulle hul geliefde Meester die skrifte hoor verduidelik het in die lig van alles wat gebeur het, is hulle geloof in Hom ten volle bevestig. Toe kon hulle sê: “Ek weet in wie ek geglo het.” (2 Timotheus 1:12). Hulle het die aard en omvang van hulle werk besef en dat hulle die waarhede wat aan hulle toevertrou is aan die wêreld moes verkondig. Die gebeurtenisse van Christus se lewe, Sy dood en opstanding, die profesieë wat daarna verwys het, die verborgenhede van die verlossingsplan, die mag van Jesus om sondes te vergewe-van al hierdie dinge was hulle getuies en hulle moes dit aan die wêreld bekend maak. Hulle moes die evangelie van vrede en verlossing deur bekering en die krag van die Heiland verkondig. DHDA 15.2
Voordat Hy na die hemel opgevaar het, het Christus aan Sy dissipels hulle opdrag gegee. Hy het aan hulle gesê dat hulle die eksekuteurs van Sy testament, waarin Hy aan die wêreld al die skatte van die ewige lewe bemaak het moes wees. Hy het aan hulle gesê: Julle was getuies van My lewe van opoffering ten behoewe van die wêreld. Julle het My arbeid vir Israel gesien. En alhoewel My volk geweier het om na My toe te kom sodat hulle lewe kan hê, alhoewel die priesters met My gemaak het soos hulle wou, alhoewel hulle My verwerp het, sal hulle nog ‘n geleentheid kry om die Seun van God aan te neem. Julle het gesien dat Ek bereid is om almal wat met belydenis van sonde na My toe kom, te ontvang. Hom wat na My toe kom, sal Ek geensins uitwerp nie. Aan julle, My dissipels, vertrou Ek hierdie genadeboodskap toe. Dit moet aan beide Jood en Heiden gegee word-eers aan Israel en dan aan alle nasies en tale en volke. Almal wat glo, moet in een kerk bymekaargebring word. DHDA 15.3
Die evangelie-opdrag is die groot sending-handves van Christus se koninkryk. Die dissipels moes met toewyding werk om siele te wen, deur aan almal die uitnodiging van genade te bring. Hulle moes nie wag dat mense na hulle toe kom nie; hulle moes met hul boodskap na die mense gaan. DHDA 16.1
Die dissipels moes hulle werk in die Naam van Christus verrig. Elke woord en elke daad moes die aandag daarop vestig dat Sy Naam daardie lewegewende krag het waardeur sondaars gered kan word. Hulle geloof moes in Hom, wat die bron van genade en krag is, gesentreer wees. In Sy Naam moes hulle hul gebede aan die Vader bied en hulle sal verhoor word. Hulle moes in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees doop. Christus se Naam moes hulle wagwoord, hulle onderskeidingsteken, hulle eenheidsband, die gesag vir hulle optrede en die bron van hulle welslae wees. In Sy koninkryk mag niks erken word wat nie Sy Naam en Sy opskrif dra nie. DHDA 16.2
Toe Christus aan die dissipels gesê het: Gaan in My Naam uit om almal wat glo in die kerk byeen te bring, het Hy hulle duidelik laat verstaan dat dit noodsaaklik is om eenvoud te handhaaf. Hoe minder uiterlike vertoon, hoe groter sou hulle invloed ten goede wees. Die dissipels moes met dieselfde eenvoud as Christus spreek. Hulle moes die lesse wat Hy hulle geleer het by hulle hoorders inprent. DHDA 16.3
Christus het nie vir Sy dissipels gesê dat hulle werk maklik sou wees nie. Hy het hulle op die bose magte wat teen hulle saamspan gewys. Hulle sou moes stry teen “...die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Efesiërs 6:12). Maar hulle sou nie alleen in die stryd gelaat word nie. Hy het hulle die versekering gegee dat Hy met hulle sou wees en dat as hulle in geloof sou uitgaan, hulle onder die skild van die Almagtige sou beweeg. Hy het hulle beveel om dapper en sterk te wees, want Een wat magtiger is as engele sou onder hulle geledere wees-die Aanvoerder van die hemelse leërmag. Hy het alles voorsien wat hulle nodig gehad het vir die voortsetting van hulle werk en het self die verantwoordelikheid vir die welslae daarvan op Hom geneem. Solank hulle Sy woord gehoorsaam en met Hom saamgewerk het, kon hulle nie faal nie. Hy het hulle beveel: Gaan na al die nasies. Gaan na die verste uithoeke van die bewoonbare wêreld en wees verseker dat My teenwoordigheid daar met julle sal wees. Werk in geloof en vertroue; want Ek sal julle nooit verlaat nie. Ek sal altyd met julle wees en julle help om julle plig uit te voer; Ek sal julle lei, vertroos, heilig en ondersteun en julle met welslae die woorde laat spreek wat die aandag van andere op die hemel sal rig. DHDA 17.1
Christus se offer ten behoewe van die mensdom was volkome en volledig. Aan die voorwaardes van die versoening is voldoen. Die werk waarvoor Hy na die aarde gekom het, was gedoen. Hy het die koninkryk herower. Hy het dit van die Satan ontworstel en het sodoende die erfgenaam van alle dinge geword. Hy was op weg na die troon van God om deur die hemelse skare vereer te word. Met onbegrensde gesag beklee, het Hy aan Sy dissipels die opdrag gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Mattheus 28:19,20). DHDA 17.2
Kort voordat Christus Sy dissipels verlaat het, het Hy weer eens die aard van Sy koninkryk duidelik gestel. Hy het hulle aan dinge herinner wat Hy hulle voorheen reeds daaraangaande vertel het. Hy het verklaar dat dit nie Sy bedoeling was om op hierdie aarde ‘n tydelike koninkryk op te rig nie. Hy is nie aangestel om as aardse koning op Dawid se troon te regeer nie. Toe die dissipels vra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” het Hy geantwoord: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur Sy eie mag bepaal het nie.” (Handelinge 1:6,7). Dit was nie vir hulle nodig om verder in die toekoms in te kyk as die openbaringe wat Hy reeds vir hulle moontlik gemaak het om te sien nie. Hulle werk was om die evangelieboodskap te verkondig. DHDA 18.1
Christus se sigbare teenwoordigheid sou spoedig van Sy dissipels onttrek word, maar hulle sou opnuut met krag toegerus word. Die Heilige Gees sou in Sy volheid aan hulle geskenk word om hulle vir hulle werk te seël. “Kyk...” het die Heiland gesê, “...Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.” (Lukas 24:49). “Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank na hierdie dae nie ... Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (Handelinge 1:5,8). DHDA 18.2
Die Verlosser het geweet dat geen argument, hoe logies ook al, hardvogtige harte sou smelt of deur die kors van wêreldsheid en selfsug sou breek nie. Hy het geweet dat Sy dissipels die hemelse gawe moes ontvang; dat die evangelie slegs doeltreffend kon wees indien dit deur harte wat verwarm is en lippe wat welsprekend gemaak is deur ‘n lewende kennis van Hom wat die weg, die waarheid en die lewe is, verkondig word. Die werk wat aan die dissipels toevertrou is, sou groot doeltreffendheid vereis; want die gety van sonde het diep en sterk teen hulle gevloei. ‘n Waaksame en vasberade leier was in bevel van die magte van die duisternis en die volgelinge van Christus kon alleen deur die hulp wat God hulle deur Sy Gees sou skenk vir die reg stry. DHDA 18.3
Christus het aan Sy dissipels gesê dat hulle hul werk in Jerusalem moes begin. Daardie stad was die toneel van Sy ontsagwekkende offer vir die mensdom. Daar het Hy, geklee in die kleed van die mensdom, met mense gewandel en gepraat en min van hulle het besef hoe naby die hemel aan die aarde gekom het. Daar is Hy veroordeel en gekruisig. Daar was baie mense in Jerusalem wat heimlik geglo het dat Jesus van Nasaret die Messias was en daar was ook baie wat deur die priesters en owerstes mislei was. Die evangelie moes aan hulle verkondig word. Hulle moes tot inkeer gebring word. Die wonderlike waarheid dat vergifnis van sondes alleenlik deur Christus verkry kon word, moes duidelik gemaak word. En dit was terwyl Jerusalem in beroering was van al die aangrypende gebeurtenisse van die voorafgaande paar weke, dat die prediking van die dissipels die diepste indruk sou maak. DHDA 19.1
Tydens Sy bediening het Christus Sy dissipels gedurig die feit aan hulle voorgehou dat hulle een met Hom in Sy werk om die wêreld uit die slawerny van die sonde te red, moes wees. Toe Hy die twaalf en daarna die sewentig uitgestuur het om die koninkryk van God te verkondig, het Hy hulle geleer dat dit hulle plig was om met ander te deel wat Hy aan hulle bekend gemaak het. In al Sy werk het Hy hulle opgelei vir persoonlike werk wat, namate hulle getalle toegeneem het uitgebrei moes word en uiteindelik die uiteinde van die aarde moes bereik. Die laaste les wat Hy hulle geleer het, was dat die blye verlossingsboodskap vir die wêreld aan hulle toevertrou was. DHDA 19.2
Toe die tyd aangebreek het vir Christus om na Sy Vader op te vaar, het Hy Sy dissipels tot by Betanië uitgelei. Daar het Hy stilgestaan en hulle het Hom omring. Met Sy hande in seën uitgestrek, asof Hy hulle van Sy beskermende sorg wou verseker, het Hy stadig tussen hulle uit opgevaar. “En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem.” (Lukas 24:51). DHDA 20.1
Terwyl die dissipels boontoe gestaar het om die laaste glimp van hulle opvarende Here te kry, is Hy met groot vreugde deur die hemelse engele ontvang. Terwyl daardie engele Hom na die hemelse howe vergesel het, het hulle triomfantlik gesing: “o Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God; psalmsing tot eer van die Here! Van Hom wat ry in die hoogste hemele. ... Gee sterkte aan God! Sy hoogheid is oor Israel en sy sterkte in die wolke.” (Psalm 68:33-35). DHDA 20.2
Die dissipels het nog steeds stip na die hemel opgekyk, toe “...staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” (Handelinge 1:10,11). DHDA 20.3
Die belofte van Christus se wederkoms moes altyd lewendig in die gedagtes van Sy dissipels bly. Dieselfde Jesus wat hulle na die hemel sien opvaar het, sou weer kom om diegene wat hulle hier op aarde aan Sy diens gewy het, na Hom toe te neem. Dieselfde stem wat aan hulle gesê het: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld... ” sou hulle in die hemelse koninkryk in Sy teenwoordigheid verwelkom. DHDA 20.4
Soos die hoëpriester in tipe, sy hoëpriesterlike kleed uitgetrek en in die wit linnekleed van ‘n gewone priester sy diens verrig het; so het Christus Sy koninklike kleed neergelê, Hom met menslikheid beklee en ‘n offer gebring. Hy was self priester sowel as slagoffer. Soos die hoëpriester ná sy diens in die allerheiligste plek met sy hoëpriesterlike kleed geklee voor die wagtende gemeente verskyn het; so sal Christus die tweede keer, in die witste wit kleed geklee kom, “...soos geen bleiker op aarde dit kan maak nie.” (Markus 9:3). Hy sal in Sy eie heerlikheid en in die heerlikheid van Sy Vader kom en die ganse engeleskare sal Hom vergesel. DHDA 20.5
Dit sal die vervulling wees van Christus se belofte aan Sy dissipels: “As Ek gegaan ... het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem” (Johannes 14:3). Hy sal diegene wat Hom liefgehad het en vir Hom gewag het, met heerlikheid en eer en onsterflikheid bekroon. Die regverdige dode sal uit hulle grafte opstaan en die wat leef, sal saam met hulle opgeneem word, die Here tegemoet in die lug. Hulle sal hoor hoe die stem van Jesus, soeter as enige musiek wat die oor van ‘n mens nog ooit gehoor het, aan hulle sê: Julle stryd is voleindig. “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” (Mattheus 25:34). DHDA 21.1
Tereg kon die dissipels hulle in die hoop van die wederkoms van hulle Here verbly. DHDA 21.2