Die Handelinge Van Die Apostels

3/59

Hoofstuk 2—Die Opleiding van die Twaalf

Vir die voortsetting van Sy werk het Christus nie die geleerdheid of welsprekendheid van die Joodse Sanhedrin of die mag van Rome gekies nie. Die Meesterwerker het die eiegeregtige Joodse leraars oor die hoof gesien en nederige, ongeletterde manne gekies om die waarhede wat die wêreld sou roer te verkondig. Hy het besluit om hierdie manne as die leiers van Sy gemeente op te lei en te leer. Op hulle beurt moes hulle ander oplei en met die evangelieboodskap uitstuur. Sodat hulle in hul werk sou slaag, sou die krag van die Heilige Gees aan hulle gegee word. Die evangelie sou nie deur menslike krag of menslike wysheid verkondig word nie, maar deur die krag van God. DHDA 7.1

Drie en ‘n halwe jaar lank het die dissipels onderrig van die grootste Leermeester wat die wêreld nog ooit geken het ontvang. Deur persoonlike kontak en omgang het Christus hulle vir Sy diens opgelei. Dag na dag het hulle met Hom gewandel en gesels, Sy bemoedigende woorde tot die vermoeides en swaarbelastes gehoor en die openbaring van Sy krag ten behoewe van die siekes en geteisterdes aanskou. Soms het Hy hulle geleer terwyl Hy langs die berghelling tussen hulle gesit het; soms het Hy die verborgenhede van die koninkryk van God aan hulle geopenbaar terwyl hulle op die strand of langs die grootpad geloop het. Oral waar harte oop was om die Goddelike boodskap te ontvang, het Hy die waarhede van die pad van verlossing ontvou. Hy het die dissipels nie beveel om die een of ander te doen nie, maar net gesê: “Volg My.” Op Sy reise deur die platteland en stede, het Hy hulle saam met Hom geneem sodat hulle kon sien hoe Hy die volk leer. Hulle het van plek tot plek saam met Hom gereis. Hulle het saam met Hom in Sy skamele etes gedeel en soos Hy, was hulle soms honger en dikwels moeg. In die besige strate, langs die meer, in die eensame woestyn, was hulle by Hom. Hulle het Hom in alle fasette van die lewe aanskou. DHDA 7.2

Dit was met die ordening van die Twaalf dat die eerste stap in die stigting van die kerk, wat na Christus se Hemelvaart Sy werk op aarde moes voortsit, geneem is. Aangaande hierdie ordening lui die verslag: “En Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê en hulle het na Hom gekom. En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek.” (Markus 3:13,14). DHDA 8.1

Aanskou die ontroerende toneel. Aanskou die Majesteit van die hemel omring deur die twaalf wat Hy uitgekies het. Hy staan op die punt om hulle vir hulle werk af te sonder. Deur hierdie swak werktuie, deur Sy Woord en die Gees, is Hy van plan om die verlossing binne die bereik van almal te bring. DHDA 8.2

Met blydskap en vreugdebetoon het die Vader en die ngele die toneel aanskou. Die Vader het geweet dat die lig van die hemel uit hierdie manne sou uitstraal, dat die woorde wat hulle as getuies vir Sy Seun sou spreek, van geslag tot geslag tot aan die einde van die tyd sou weerklink. DHDA 8.3

Die dissipels sou as getuies van Christus uitgaan om aan die wêreld te vertel wat hulle van Hom gesien en gehoor het. Naas die amp van Christus self was hulle amp die belangrikste waartoe mense nog ooit geroep is. Hulle moes medewerkers van God wees tot redding van die mensdom. Soos die twaalf aartsvaders in die Ou Testament verteenwoordigers van Israel was, so is die twaalf apostels verteenwoordigers van die evangeliekerk. DHDA 8.4

Tydens Sy aardse bediening het Christus die skeidsmuur tussen Jood en Heiden begin afbreek en die verlossing aan die ganse mensdom gepreek. Hoewel Hy ‘n Jood was, het Hy openlik met die Samaritane omgegaan en sodoende die Farisese gewoontes van die Jode met betrekking tot hierdie veragte volk verontagsaam. Hy het in hulle huise geslaap, aan hulle tafels geëet en in hulle strate gepreek. DHDA 8.5

Die Verlosser het daarna verlang om aan Sy dissipels die waarheid aangaande die afbreek van die “...middelmuur van skeiding...” tussen Israel en die ander nasies te ontvou-die waarheid dat “...die Heidene mede- erfgename is...” saam met die Jode “...en mededeelgenote aan Sy belofte in Christus deur die evangelie...” (Efesiërs 2:14;3:6). Hierdie waarheid is gedeeltelik geopenbaar toe Hy die geloof van die hoofman oor honderd in Kapernaum beloon het en ook toe Hy die evangelie aan die inwoners van Sigar verkondig het. Dit is nog duideliker tydens Sy besoek aan Fenicië geopenbaar toe Hy die dogter van ‘n Kanaänitiese vrou genees het. Hierdie gebeure het die dissipels help verstaan dat daar onder diegene wat deur baie as onwaardig beskou is om verlos te word, tog siele was wat na die lig van die waarheid gehunker het. DHDA 9.1

So het Christus getrag om aan Sy dissipels die waarheid, dat daar in die koninkryk van God geen landsgrense, geen klasse, geen adel bestaan nie, te leer; dat hulle na alle nasies moes gaan en die boodskap van die liefde van die Heiland na hulle moes neem. Maar hulle het eers later ten volle begryp dat God “...al die nasies van die mensdom ... uit een bloed...” gemaak het “...om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie.” (Handelinge 17:26,27). DHDA 9.2

In hierdie eerste dissipels was merkbare diversiteit verteenwoordig. Hulle moes die leraars van die wêreld word en het wyd uiteenlopende karaktereienskappe verteenwoordig. Om die werk waartoe hulle geroep is met welslae voort te sit, moes hierdie manne, wie se natuurlike aanleg en lewensgewoontes so wyd verskil het, ‘n eenheid van gevoel, denke en optrede bereik. Christus se doel was om hierdie eenheid te bevestig. Vir hierdie doel het Hy DHDA 9.3

gestreef om hulle in eenheid met Homself een te bring. Die las van Sy arbeid vir hulle, word in Sy gebed tot Sy Vader uitgedruk: “Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees ... dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het.” (Johannes 17:21,23). Sy voortdurende gebed vir hulle was dat hulle deur die waarheid geheilig mag word; en Hy het met volle sekerheid gebid in die wete dat die bevel van die Almagtige uitgegaan het nog voordat die wêreld gemaak is. Hy het geweet dat die evangelie van die koninkryk tot ‘n getuienis aan alle nasies verkondig sou word; Hy het geweet dat die waarheid, deur die almag van die Heilige Gees versterk, in die stryd teen die bose sou seëvier en dat die bloedbevlekte banier eendag triomfantlik oor Sy volgelinge sou wapper. DHDA 10.1

Namate Christus se aardse bediening ten einde geloop en Hy besef het dat Hy Sy dissipels binnekort sou verlaat en dat hulle die werk sonder Sy persoonlike toesig sou moes voortsit, het Hy gepoog om hulle te bemoedig en vir die toekoms voor te berei. Hy het hulle nie met valse hoop mislei nie. Hy het vir hulle soos ‘n oop boek gelees wat sou kom. Hy het geweet dat Hy binnekort van hulle geskei sou word en hulle soos skape tussen wolwe sou agterlaat. Hy het geweet dat hulle vervolging sou verduur, dat hulle uit die sinagoges verban en in die gevangenis gewerp sou word. Hy het geweet dat sommige van hulle sou sterf omdat hulle van Hom as die Messias sou getuig. En Hy het iets hiervan aan hulle te kenne gegee. Aangaande hulle toekoms het Hy duidelik en onomwonde gepraat sodat hulle Sy woorde in hul toekomstige beproewinge sou onthou en gesterk sou word om in Hom as die Verlosser te glo. DHDA 10.2

Hy het ook woorde van hoop en bemoediging tot hulle 22 gespreek. Hy het aan hulle gesê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.” (Johannes 14:1-4). Om julle ontwil het Ek in die wêreld ingekom; vir julle het Ek gewerk. Wanneer Ek weggaan, sal Ek nog altyd met alle ywer vir julle werk. Ek het na die aarde gekom om My aan julle te openbaar sodat julle kan glo. Ek gaan na My Vader en julle Vader om namens julle met Hom saam te werk. DHDA 10.3

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo-die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.” (Johannes 14:12). Christus het nie hiermee te kenne gegee dat die dissipels kragtiger pogings as Hyself sou aanwend nie, maar dat hulle werk van groter omvang sou wees. Hy het nie net na die verrigting van wonderwerke verwys nie, maar na alles wat deur die werking van die Heilige Gees sou plaasvind. Hy het gesê: “As die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig. En julle getuig ook, omdat julle van die begin af met My is.” (Johannes 15:26,27). DHDA 11.1

Hierdie woorde is op ‘n wonderbaarlike wyse vervul. Na die uitstorting van die Heilige Gees was die dissipels so vol liefde vir Hom en vir diegene vir wie Hy gesterf het, dat harte ontroer is deur die woorde wat hulle gespreek en die gebede wat hulle gebid het. Hulle het in die krag van die Gees gespreek; en onder die invloed van daardie krag het duisende hulle bekeer. DHDA 11.2

As verteenwoordigers van Christus sou die apostels ‘n beslissende indruk op die wêreld maak. Die feit dat hulle nederige manne was, sou hulle invloed nie verswak nie, meer dit eerder versterk; want hulle toehoorders se gedagtes sou van hulle na die Heiland gerig word, wat, hoewel onsigbaar, nog steeds met hulle saamgewerk het. Die wonderlike lering van die apostels, hulle woorde van bemoediging en vertroue, sou almal oortuig dat hulle nie in hulle eie krag gewerk het nie, maar in die krag van Christus. Hulle sou hulle verootmoedig en verklaar dat Hy, wat deur die Jode gekruisig is, die Vors van die lewe, die Seun van die lewende God was en dat hulle in Sy Naam die werke doen wat Hy gedoen het. DHDA 11.3

In Sy afskeidsgesprek met Sy dissipels die nag voor die kruisiging het die Heiland nie na die lyding verwys wat Hy reeds verduur het en nog sou moes verduur nie. Van die vernedering wat op Hom gewag het, het Hy geen melding gemaak nie, maar getrag om dinge aan hulle tuis te bring wat hulle geloof sou versterk sodat hulle vooruit sou sien na die vreugde wat op die oorwinnaar wag. Hy het Hom verheug in die wete dat Hy vir Sy volgelinge meer sou en kon doen as wat Hy beloof het; dat daar van Hom liefde en medelye sou uitvloei wat die tempel van die siel sou reinig en die mens se karakter in ooreenstemming met Syne sou bring; dat Sy waarheid, met die krag van die Gees bewapen, as oorwinnaar sou uitgaan om te oorwin. DHDA 12.1

Hy het gesê: “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê: maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” (Johannes 16:33). Christus het nie gefaal of moedeloos geword nie; en die dissipels moes dieselfde standvastige geloof aan die dag lê. Hulle moes werk soos Hy gewerk het en op Hom vir krag vertrou. Hoewel hulle weg deur skynbare onmoontlikhede versper sou word, moes hulle nogtans deur Sy genade voortbeweeg, aan niks wanhoop nie en op alles hoop. DHDA 12.2

Christus het die werk wat aan Hom opgedra was, voltooi. Hy het diegene wat Sy werk onder die mense sou voortsit byeengebring. En Hy het gesê: “Ek is in hulle verheerlik. En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons ... Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo-dat almal een mag wees ... Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.” (Johannes 17:10,11,20-23). DHDA 12.3