Die Handelinge Van Die Apostels

5/59

Hoofstuk 4—Pinkster*

Soos die dissipels van die Olyfberg na Jerusalem teruggekeer het, het die volk verwag om uitdrukkings van verdriet, verwarring en verslaentheid op hulle gesigte te sien; maar het hulle net vreugde en oorwinning bespeur. Die dissipels het nie meer oor hulle verydelde verwagtinge getreur nie. Hulle het die opgestane Heiland gesien en Sy afskeid-beloftes het nog steeds in hulle ore weerklink. DHDA 22.1

Gehoorsaam aan Christus se bevel het hulle in Jerusalem op die belofte van die Vader gewag, naamlik die uitstorting van die Heilige Gees. Hulle het nie in ledigheid gewag nie. Die verslag sê: “...hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank.” (Lukas 24:53). Hulle het ook saamgekom om hulle smeekbedes in die Naam van Jesus voor die Vader te bring. Hulle het geweet hulle het ‘n Verteenwoordiger in die hemel, ‘n Voorspraak voor die troon van God. Met eerbiedige ontsag het hulle hul neergebuig om te bid en die versekering herhaal: “Alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 16:23,24). Hoër, steeds hoër het hulle die hand van geloof uitgestrek, met die uiters belangrike argument: “Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” (Romeine 8:34). DHDA 22.2

Terwyl die dissipels op die vervulling van die belofte 36 gewag het, het hulle hul harte met opregte berou verootmoedig en hulle ongeloof bely. Toe hulle die woorde wat Jesus voor Sy dood gespreek het, in herinnering roep, het hulle die betekenis daarvan beter verstaan. Waarhede waarvan hulle reeds vergeet het, is weer in gedagte gebring en hulle het dit aan mekaar herhaal. Hulle het hulself verwyt omdat hulle die Heiland misverstaan het. Die een toneel na die ander van Sy wonderlike lewe het soos ‘n optog voor hulle geestesoog verbygegaan. Terwyl hulle oor Sy rein, heilige lewe gepeins het, het hulle gevoel dat geen inspanning te swaar en geen opoffering te groot sou wees nie, as hulle net in hul lewens van die lieflikheid van Christus se karakter kon getuig. Ag, as hulle die afgelope drie jaar net kon herleef, so het hulle gedink, hoe anders sou hulle optree! As hulle die Here net weer kon sien, hoe anders sou hulle daarna streef om aan Hom te toon hoe lief hulle Hom het en hoe opreg bedroef hulle was omdat hulle Hom ooit deur woord of deur ongelowige daad leed aangedoen het! Maar die gedagte dat Hy hulle dit vergewe het, het hulle getroos. En hulle het hul voorgeneem om, vir sover dit vir hulle moontlik was, vir hulle ongeloof te vergoed deur Hom met dapperheid voor die wêreld te bely. DHDA 22.3

Die dissipels het met intense erns gebid vir ‘n bevoegdheid om mense in hul daaglikse omgang te ontmoet en woorde te spreek wat sondaars na Christus sou lei. Hulle het alle geskille en elke verlange na voorrang uit die weg geruim en in Christelike gemeenskap nader aan mekaar gekom. Hulle het al nader aan God gekom en sodoende besef hoe bevoorreg hulle was om toegelaat te word om so intiem met Christus om te gaan. Hulle harte was bedroef toe hulle dink aan die hoeveelheid kere wat hulle Hom bedroef het deur hul traagheid en gebrek aan begrip vir die lesse wat Hy vir hulle beswil aan hulle probeer leer het. DHDA 23.1

Hierdie dae van voorbereiding was dae van diepliggende ondersoek van die hart. Die dissipels het hul geestelike nood besef en die Here aangeroep vir die heilige salwing wat hulle geskik vir die werk vir die redding van siele sou maak. Hulle het nie net vir hulleself ‘n seën afgesmeek nie. Die las om siele te red het swaar op hulle gerus. Hulle het besef dat die evangelie aan die wêreld verkondig moes word en hulle het die krag wat Christus beloof het opgeëis. DHDA 23.2

Gedurende die patriargale tydperk is die invloed van die Heilige Gees dikwels op ‘n besondere wyse geopenbaar, maar nooit in Sy volheid nie. In gehoorsaamheid aan hulle Heiland, het die dissipels nou om hierdie gawe gebid en in die hemel het Christus Sy voorbidding daaraan toegevoeg. Hy het die gawe van die Gees geëis sodat Hy dit op Sy volk kon uitstort. DHDA 24.1

“En toe die dag van die Pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.” DHDA 24.2

Die Gees het op die wagtende, biddende dissipels neergedaal met ‘n volheid wat elke hart bereik het. Die Oneindige het Hom met krag aan Sy kerk geopenbaar. Dit was asof Sy invloed eeue lank teruggehou was en dat dit die Hemel nou behaag het om die rykdomme van die genade van die Gees op die kerk uit te stort. En onder die invloed van die Gees is woorde van berou en belydenis vermeng met lofsange oor sondes wat vergewe is. Daar is woorde van danksegging en profesie gehoor. Die ganse hemel het hom diep neergebuig om die wysheid van weergalose, onbegryplike liefde te aanskou en te vereer. In verwondering het die dissipels uitgeroep: “Hierin is die liefde.” Hulle het die gawe wat aan hulle geskenk is aangegryp. En wat het gevolg? Die swaard van die Gees wat opnuut met krag geslyp en met die weerligte van die hemel geflits het, het ‘n weg deur die ongeloof gekloof. Duisende is op een dag bekeer. DHDA 24.3

Christus het aan Sy dissipels gesê: “Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die T rooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur ... Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.” (Johannes 16:7,13). DHDA 24.4

Christus se Hemelvaart was die teken dat Sy volgelinge die beloofde seën sou ontvang. Hulle moes daarvoor wag voordat hulle met hul werk kon begin. Toe Christus die hemelpoorte binnegaan, is Hy te midde van die aanbiddende engele tot die troon verhef. Nadat hierdie plegtigheid afgehandel was, het die Heilige Gees in ryke strome op die dissipels neergedaal en is Christus waarlik verheerlik met die heerlikheid wat Hy van alle ewigheid af by die Vader gehad het. Die uitstorting tydens die Pinksterfees was die Hemel se boodskap dat die inhuldiging van die Verlosser voleindig was. Ooreenkomstig Sy belofte het Hy die Heilige Gees van die hemel af na Sy volgelinge gestuur as teken dat Hy as priester en koning alle gesag in die hemel en op die aarde ontvang het en die Gesalfde oor Sy volk was. DHDA 25.1

“Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” Die Heilige Gees het in die gedaante van vurige tonge op die aanwesiges gerus. Dit was ‘n teken van die gawe wat aan die dissipels gegee is wat hulle in staat gestel het om vlot in tale waarmee hulle nooit voorheen vertroud was nie, te praat. Die verskyning van vuur het die vurige ywer waarmee die apostels hulle taak sou verrig en die krag wat met hulle werk gepaard sou gaan aangedui. DHDA 25.2

“Daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is.” Gedurende die verspreiding is die Jode na byna elke bewoonde deel van die wêreld verstrooi en in hulle ballingskap het hulle verskeie tale aangeleer. Baie van hulle was met hierdie geleentheid in Jerusalem om die godsdienstige feestelikhede wat destyds aan die gang was, by te woon. Alle bekende tale is deur die aanwesiges verteenwoordig. Hierdie verskeidenheid van tale sou die verkondiging van die evangelie verhinder het; daarom het God, deur ‘n wonderwerk, in hierdie tekortkoming van die apostels voorsien. Die Heilige Gees het vir hulle gedoen wat hulle nie in hulle hele lewe self sou kon regkry nie. Nou kon hulle die waarhede van die evangelie wyd en syd verkondig en die tale van diegene vir wie hulle gewerk het, akkuraat praat. Hierdie wonderbare gawe was ‘n sterk bewys aan die wêreld dat hulle opdrag die seël van die Hemel gedra het. Voortaan was die dissipels se taal suiwer, eenvoudig en noukeurig, ongeag of hulle in hul eie taal of in ‘n vreemde taal gespreek het. DHDA 25.3

“En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?” DHDA 26.1

Die priesters en owerstes was hewig ontsteld oor hierdie wonderbare verskynsel, maar hulle het nie durf uiting aan hul woede gee nie, uit vrees dat hulle hulself aan die gewelddadigheid van die gepeupel kon blootstel. Hulle het die Nasarener doodgemaak, maar hier het Sy diensknegte, ongeletterde manne van Galilea, in al die tale van die tyd, die verhaal van Sy lewe en werk vertel. Die priesters het hulle voorgeneem om ‘n natuurlike uitleg te vind vir die wonderwerkende krag van die dissipels en het verklaar dat hulle dronk was omdat hulle te veel van die nuwe wyn wat vir die fees berei was, gedrink het. Sommige van die onkundigste mense teenwoordig het hierdie voorstel as die waarheid aanvaar, maar die intelligente mense het geweet dat dit vals was; en diegene wat die verskillende tale verstaan het, het getuig van die akkuraatheid waarop die dissipels hierdie tale gebruik het. DHDA 26.2

In antwoord op die beskuldiging van die priesters het Petrus hulle daarop gewys dat wat hulle daar aanskou het, ‘n regstreekse vervulling was van die profesie van Joël, waarin hy voorspel het dat hierdie krag op mense sou kom om hulle vir ‘n spesiale werk toe te rus. Hy het gesê: “Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet en luister na my woorde. Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die more. Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees en julle seuns en julle dogters sal profeteer en julle jongelinge sal gesigte sien en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in die dae van my Gees uitstort en hulle sal profeteer.” DHDA 26.3

Petrus het duidelik en met krag van die dood en opstanding van Christus getuig: “Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasarener, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet-Hom ... het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.” DHDA 27.1

Petrus het hom nie op die leringe van Christus beroep om sy stelling te bewys nie, want hy het geweet die vooroordeel van sy toehoorders was so groot dat sy woorde oor daardie onderwerp geen uitwerking sou hê nie. In plaas daarvan het hy oor Dawid gepraat, een wat deur die Jode as ‘n aartsvader van die volk beskou is. “Dawid sê van Hom:... ” het hy gesê, “...Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop. Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie... ” DHDA 27.2

“Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is en sy graf is by ons tot vandag toe.” “Hy ... [het] gespreek van die opstanding van Christus, dat Sy siel nie in die doderyk verlaat is en Sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is.” DHDA 27.3

Die toneel was die ene belangstelling. Aanskou hoe die mense uit alle rigtings kom om te luister hoe die dissipels van die waarheid getuig soos dit in Jesus is. Hulle dring die tempel oorvol na binne. Priesters en owerstes is daar met die donker frons van boosaardigheid steeds op hulle aangesigte, hulle harte gevul met blywende haat jeens Christus, hulle hande onrein met die bloed wat gestort is toe hulle die Verlosser van die wêreld gekruisig het. Hulle het verwag dat die apostels onder die streng hand van onderdrukking en moord oorbluf sou wees, maar hulle vind hulle bo alle vrees verhef en vol van die Gees, besig om die Godheid van Jesus van Nasaret met krag te verkondig. Hulle hoor hoe hulle met vrymoedigheid verklaar dat die Een wat hulle so kort gelede verneder, bespot, met wrede hande geslaan en gekruisig het, die Lewensvors is en nou tot die regterhand van God verhoog is. DHDA 28.1

Sommige van diegene wat die apostels aangehoor het, het ‘n daadwerklike aandeel aan die veroordeling en kruisiging van Christus gehad. Hulle stemme het saam met dié van die gepeupel Sy kruisiging geëis. Toe Jesus en Barábbas in die hofsaal voor hulle gestaan en Pilatus gevra het: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat?” het hulle geskreeu: “Nie vir Hom nie, maar Barábbas!” (Mattheus 27:17; Johannes 18:40). Toe Pilatus Christus aan hulle uitgelewer en gesê het: “Neem julle Hom en kruisig Hom, want Ek vind geen skuld in Hom nie ... ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man...”, het hulle uitgeroep: “Laat Sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Johannes 19:6; Mattheus 27:24,25). DHDA 28.2

Nou hoor hulle die dissipels verklaar dat dit die Seun van God is wat gekruisig is. Priesters en owerstes het gesidder. Oortuiging en angs het die volk beetgepak. Hulle is “...diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?” Onder diegene wat na die dissipels geluister het, was vrome Jode wat opreg geglo het. Die krag wat met die spreker se woorde gepaard gegaan het, het hulle oortuig dat Jesus inderdaad die Messias was. DHDA 28.3

“En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” DHDA 29.1

Petrus het by die mense wat oortuig was, die feit tuis gebring dat hulle Christus verwerp het omdat hulle deur priesters en owerstes mislei is; en dat indien hulle voortgaan om na hierdie manne op te sien vir raad en te wag totdat hulle Christus erken voordat hulle dit self waag, hulle Hom nooit sou aanneem nie. Ofskoon hierdie invloedryke manne voorgegee het om godvrugtig te wees, het hulle eintlik aardse rykdom en heerlikheid begeer. Hulle was nie gewillig om na Christus te kom om lig te ontvang nie. DHDA 29.2

Onder die invloed van hemelse lig, het die skrifgedeeltes wat Christus aan die dissipels verduidelik het, met die glans van volkome waarheid uitgestaan. Die sluier wat verhoed het dat hulle die einddoel van die dinge wat afgeskaf was gesien het, was nou verwyder en die doelwit van Christus se sending en die aard van Sy koninkryk was vir hulle volkome duidelik. Hulle kon met krag van die Heiland praat; en namate hulle aan hulle toehoorders die verlossingsplan ontvou het, is baie van hulle in hul harte skuldig bevind en oortuig. Die tradisies en bygelowe wat deur die priesters in hulle ingeprent was, is nou uit hulle gees weggevee en hulle het die leringe van die Heiland aangeneem. DHDA 29.3

“Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring.” DHDA 29.4

Die Joodse leiers het gedink dat Christus se werk met Sy dood sou eindig, maar in plaas daarvan het hulle die wonderlike tonele van die Pinksterdag aanskou. Hulle het gehoor hoe die dissipels, wat met ‘n tot nog toe ongekende krag en energie bedeel was, Christus verkondig het en gesien dat hulle woorde met tekens en wonderwerke bevestig word. In Jerusalem, die vesting van die Jodedom, het duisende hulle geloof in Jesus van Nasaret as die Messias openlik bely. DHDA 30.1

Die dissipels was verbaas en verruk oor die groot oes van siele. Hulle het nie hierdie wonderbaarlike insameling beskou as die gevolge van hul eie pogings nie, maar het besef dat hulle ander mense se arbeidsveld betree het. Sedert die sondeval van Adam het Christus voortdurend aan uitverkore diensknegte die saad van Sy woord toevertrou om dit in menseharte te saai. Gedurende Sy lewe op aarde het Hy die saad van waarheid gesaai en met Sy bloed benat. Die bekerings wat op die Pinksterdag plaasgevind het, was die gevolg van daardie saaiwerk; dit was die oes van Christus se werk en het die krag van Sy lering geopenbaar. DHDA 30.2

Alhoewel die apostels se redenasies duidelik en oortuigend was, sou dit op sigself nie die vooroordeel wat soveel getuienis weerstaan het, verwyder het nie. Maar die Heilige Gees het die argumente met Goddelike krag aan die harte van die toehoorders tuisgebring. Die apostels se woorde was soos skerp pyle van die Almagtige en het mense oortuig van hul ontsettende skuld in die verwerping en kruisiging van die Here van heerlikheid. DHDA 30.3

Onder die opleiding van Christus, het die dissipels hul behoefte aan die Gees ervaar. Onder die Gees se onderrig, is hulle finaal bekwaam gemaak en het voortgegaan om hul lewenstaak te verrig. Hulle was nie langer onkundig en onontwikkeld nie. Hulle was nie meer ‘n groep onafhanklike eenhede of onenige, botsende elemente nie. Hulle het nie langer wêreldse grootheid nagestreef nie. Hulle was “...eendragtig ... een van hart en siel.” (Handelinge 2:46;4:32). Christus het hulle gedagtes gevul; die bevordering van Sy koninkryk was hulle doel. In gesindheid en karakter het hulle soos hul Meester geword en mense “...het hulle as metgeselle van Jesus herken.” (Handelinge 4:13). DHDA 30.4

Pinkster het hemelse verligting vir hulle gebring. Die 46 waarhede wat hulle nie kon verstaan terwyl Christus met hulle was nie, het nou ontvou. Met geloof en vertroue wat hulle voorheen nie geken het nie, het hulle die leer van die heilige Woord aanvaar. Dat Christus die Seun van God was, was vir hulle nie meer ‘n saak van geloof nie. Hulle het geweet dat Hy, ofskoon Hy met menslikheid beklee was, inderdaad die Messias was en hulle het die wêreld met soveel vrymoedigheid van hulle ervaring vertel, dat dit oortuig het dat God met hulle was. DHDA 31.1

Hulle kon die Naam van Jesus met sekerheid uitspreek; was Hy dan nie hulle Vriend en ouer Broer nie? In noue gemeenskap met Christus gebring, het hulle saam met Hom in hemelse plekke verkeer. Met wat se vurige taal het hulle hul idees beklee terwyl hulle van Hom getuig het! Hul harte het oorgeloop van welwillendheid wat so vol, so diep, so verreikend was, dat dit hulle gedring het om na die uiteindes van die aarde te gaan om van die krag van Christus te getuig. Hulle was vervul met ‘n intense verlange om die werk wat Hy begin het, voort te sit. Hulle was bewus van hul groot skuld teenoor die hemel en die verantwoordelikheid van hulle werk. Deur die gawe van die Heilige Gees gesterk, het hulle vol ywer uitgegaan om die oorwinning van die kruis te verkondig. Die Gees het hulle besiel en deur hulle gespreek. Die vrede van Christus het uit hul gesigte gestraal. Hulle het hulle lewens vir diens aan Hom gewy en hulle hele wese het van hulle oorgawe getuig. DHDA 31.2