Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 16—Die Evangelieboodskap in Antiochië*
Nadat die dissipels deur vervolging uit Jerusalem verdryf is, het die evangelieboodskap spoedig deur die gebiede wat buite die perke van Palestina gelê het versprei en baie groepe gelowiges is in belangrike sentrums gevestig. Sommige van die dissipels het “...tot by Fenisië en Ciprus en Antiochië...” gereis en die woord verkondig. Hulle werk is gewoonlik tot die Hebreeuse en Griekse Jode beperk, waarvan groot kolonies in hierdie tyd in byna al die wêreldstede te vinde was. DHDA 127.1
Van die plekke waar die evangelie met blydskap ontvang is, was Antiochië, destyds die metropool in Sirië. Die uitgebreide handel wat vanuit hierdie digbevolkte sentrum plaasgevind het, het talle mense van verskillende nasionaliteite na die stad gebring. Boonop was Antiochië gunstig bekend as ‘n oord vir liefhebbers van gemak en plesier vanweë sy gesonde ligging, sy pragtige omgewing en die rykdom, kultuur en verfyndheid wat daar te vinde was. In die dae van die apostels het dit ‘n stad van weelde en ondeug geword. DHDA 127.2
Die evangelie is in die openbaar in Antiochië verkondig deur sekere dissipels van Ciprus en Sirene “wat ... die Here Jesus verkondig het ... Die hand van die Here was met hulle...” en hulle ernstige arbeid het vrugte voortgebring. “‘n Groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer.” DHDA 127.3
“Die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Barnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochië.” Met sy aankoms in sy nuwe arbeidsveld, het Barnabas die werk wat reeds deur Goddelike genade verrig is gesien en hy was bly “...en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly.” DHDA 127.4
Die arbeid van Barnabas in Antiochië is ryklik geseën en daar is baie is by die aantal gelowiges gevoeg. Namate die werk ontwikkel het, het Barnabas behoefte gehad aan geskikte hulp om in die openinge wat deur die voorsienigheid van God geskep is, te vul en hy is na Tarsus om na Paulus te soek, wat na sy vertrek uit Jerusalem vir ‘n geruime tyd in “...die streke van Sirië en Sicilië ... die geloof wat hy vroeër besig was om uit te roei...” te verkondig. (Galasiërs 1:21,23). Barnabas het daarin geslaag om Paulus te vind en hom te oorreed om as ‘n metgesel in die bediening, saam met hom terug te keer. DHDA 128.1
In die digbevolkte stad van Antiochië het Paulus ‘n uitstekende arbeidsveld gevind. Sy geleerdheid, wysheid en ywer het ‘n kragtige invloed op die inwoners en besoekers van daardie stad van kultuur uitgeoefen; en hy was net die regte hulp wat Barnabas nodig gehad het. Die twee dissipels het vir ‘n jaar getrou in die bediening saamgewerk en baie tot die reddende kennis van Jesus van Nasaret, die Verlosser van die wêreld, gebring. DHDA 128.2
Dit was in Antiochië dat die dissipels vir die eerste keer Christene genoem is. Die naam is aan hulle gegee omdat Christus die hooftema van hul prediking, hul onderrig en hul gesprekke was. Hulle het voortdurend van die gebeurtenisse wat gedurende die dae van Sy aardse bediening plaasgevind het, toe Sy dissipels nog met Sy persoonlike teenwoordigheid geseën was, vertel. Hulle het onvermoeid oor Sy leringe en Sy wonderwerke van genesing uitgewei. Met bewende lippe en trane in hulle oë het hulle van Sy lyding in die tuin gepraat, die verraad teen Hom, Sy verhoor en teregstelling, die verdraagsaamheid en nederigheid waarmee Hy die wrede marteling wat deur Sy vyande aan Hom toegedien is verduur het en die Goddelike medelye waarmee Hy vir diegene wat Hom vervolg het gebid het. Sy opstanding en Hemelvaart en Sy werk in die hemel as Middelaar vir die gevalle mensdom, was onderwerpe waaroor hulle graag uitgewei het. Die Heidene kon hulle wel Christene noem, omdat hulle Christus verkondig het en hul gebede deur Hom tot God gerig het. DHDA 128.3
Dit is God wat die naam Christen aan hulle gegee het. Dit is ‘n koninklike naam wat aan almal wat hulle by Christus aansluit gegee word. Dit is aangaande hierdie naam dat Jakobus later geskryf het: “Is dit nie juis die rykes wat julle oorweldig en julle voor die regbanke sleep nie? Is dit nie hulle wat die edele Naam belaster wat oor julle aangeroep is nie?” (Jakobus 2:6,7). En Petrus het verklaar: “Wanneer iemand as ‘n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig ... As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus.” (1 Petrus 4:16,14). DHDA 129.1
Die gelowiges in Antiochië het besef dat God bereid was om in hul lewens te werk “...om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Filippense 2:13). Omdat hulle tussen mense gewoon het wat skynbaar min vir die dinge van ewige waarde omgegee het, het hulle gepoog om die aandag van die opregtes van hart te trek en om positief van Hom, wie hulle liefgehad en gedien het, te getuig. In hul nederige bediening, het hulle geleer om op die krag van die Heilige Gees te vertrou om die woord van die lewe effektief te maak. En so het hulle op die verskillende terreine van die lewe, daagliks van hulle geloof in Christus getuig. DHDA 129.2
Die voorbeeld van die volgelinge van Christus in Antiochië behoort vir elke gelowige wat vandag in die groot stede van die wêreld woon, ‘n inspirasie te wees. Alhoewel God dit so beskik het dat gekose, toegewyde, talentvolle werkers in die belangrike sentrums van die bevolking gestasioneer moet word om in openbare pogings uit te lei, is dit ook Sy doel dat die gemeentelede wat in hierdie stede woon hulle Godgegewe talente sal gebruik om vir siele te werk. Daar wag ryke seën op diegene wat hulle ten volle aan die roeping van God oorgee. Wanneer sulke werkers probeer om siele vir Jesus te wen, sal hulle vind dat baie mense wat nooit andersins bereik sou kon word nie, bereid is om op intelligente persoonlike pogings te reageer. DHDA 129.3
Die saak van God op aarde vandag, het behoefte aan lewende verteenwoordigers van Bybelse waarhede. Die geordende predikante alleen, is nie opgewasse vir die taak om die groot stede te waarsku nie. God doen ‘n beroep op nie slegs predikante nie, maar ook op geneeshere, verpleërs, kolporteurs, Bybelwerkers en ander gewyde leke met verskillende talente wat ‘n kennis van die Woord van God het en die krag van Sy genade ervaar het, om oorweging aan die behoeftes van die stede wat nog nie gewaarsku is nie, te skenk. Die tyd snel vinnig verby en daar is baie om te doen. Elke hulpmiddel moet in werking gestel word sodat die huidige geleenthede met wysheid bevorder kan word. DHDA 130.1
Paulus se werk in Antiochië in samewerking met Barnabas, het hom in sy oortuiging dat die Here hom geroep het om ‘n besondere werk vir die Heidense wêreld te doen gesterk. Ten tye van Paulus se bekering, het die Here verklaar dat Hy ‘n bedienaar vir die Heidene sou word “...om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang.” (Handelinge 26:18). Die engel wat aan Ananias verskyn het, het van Paulus gesê: “Hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.” (Handelinge 9:15). En later in sy Christelike ervaring, terwyl Paulus in die tempel in Jerusalem gebid het, is hy deur ‘n engel uit die hemel besoek wat hom beveel het: “Gaan heen, want ek sal jou ver wegstuur na die Heidene.” (Handelinge 22:21). DHDA 130.2
So het die Here aan Paulus sy opdrag gegee om die breë sendingveld van die Heidense wêreld te betree. Om hom vir hierdie uitgebreide en moeilike werk voor te berei, het God hom in noue verbintenis met Homself gebring en voor sy verrukte oë, ‘n uitsig op die skoonheid en heerlikheid van die hemel geopen. Aan hom is die bediening opgedra om die “...verborgenheid...” bekend te maak “...wat eeue lank verswyg is.” (Romeine 16:25)-“...die verborgenheid van Sy wil...” (Efesiërs 1:9) “...wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die Heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie waarvan...” sê Paulus, “...ek ‘n dienaar geword het ... Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die Heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig, en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus, sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word, volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here.” (Efesiërs 3:5¬11). DHDA 131.1
God het die werk van Paulus en Barnabas oorvloediglik geseën gedurende die jaar wat hulle by die gelowiges in Antiochië gebly het. Maar geeneen van hulle was nog formeel tot die evangeliebediening georden nie. Hulle het nou ‘n stadium in hul Christelike ervaring bereik waar God op die punt gestaan het om aan hulle die uitvoering van ‘n moeilike sendingonderneming op te dra en hulle sou in die aanvaarding daarvan, elke voordeel wat hulle deur middel van die kerk kon ontvang, benodig. DHDA 131.2
“Daar was in die plaaslike gemeente in Antiochië sekere profete en leraars, naamlik Barnabas en Simeon wat Niger genoem word, en Lucius, die Cireneër en Manaen, ... en Saulus. En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.” Voordat hulle as sendelinge na die Heidense wêreld gestuur is, is hierdie apostels plegtig deur vas en gebed en hande-oplegging aan God gewy. DHDA 131.3
So het die kerk hulle gemagtig, om nie net die waarheid te leer nie, maar om ook die ritueel van die doop uit te voer en gemeentes te stig, aangesien hulle met volle kerklike bevoegdheid toegerus was. Die Christelike kerk het op daardie stadium ‘n belangrike tydperk betree. Die verkondiging van die evangelie onder die Heidene moes nou met krag voortgesit word; en as gevolg hiervan, sou die kerk met ‘n groot insameling van siele versterk word. Die apostels wat aangestel was om in hierdie werk uit te lei, sou aan agterdog, vooroordeel en jaloesie blootgestel word. Hulle leringe dat die “...middelmuur van skeiding...” (Efesiërs 2:14), wat vir so lank die Jode van die Heidense wêreld geskei het, afgebreek was, sou hulle natuurlik aan die beskuldiging van kettery onderwerp en hulle gesag as dienaars van die evangelie sou deur talle ywerige, gelowige Jode bevraagteken word. God het die probleme waarmee Sy diensknegte te kampe sou kry voorsien en, sodat hulle werk bo alle verdenking sou staan, het Hy die gemeente deur ‘n openbaring opdrag gegee om hulle in die openbaar vir die werk van die bediening te onderskei. Hulle ordening was ‘n openbare erkenning van hul Goddelike aanstelling om die blye boodskap van die evangelie na die Heidene te neem. DHDA 132.1
Beide Paulus en Barnabas het reeds hul opdrag van God self ontvang en die seremonie van handeoplegging het geen nuwe genade of werklike bekwaamheid bygevoeg nie. Dit was ‘n erkende vorm van aanbeveling vir ‘n aangewese amp en ‘n erkenning van die gesag van daardie amp. Daardeur is die seël van die kerk op die werk van God afgedruk. DHDA 132.2
Vir die Jood was hierdie gebruik belangrik. Wanneer ‘n Joodse vader sy kinders geseën het, het hy sy hande eerbiedig op hulle hoof gelê. Wanneer ‘n dier as offer gewy is, is die hand van die persoon wat met priesterlike gesag beklee is, op die hoof van die slagoffer gelê. En toe die bedienaars van die kerk in Antiochië hulle hande op Paulus en Barnabas gelê het, het hulle God gevra om die gekose apostels te seën in hul toewyding aan die spesifieke werk waartoe hulle aangestel is. DHDA 133.1
Later van tyd is die ordeningsritueel deur die oplegging van hande grootliks misbruik; daar is ‘n ongeregverdigde belangrikheid aan die daad geheg asof mag dadelik op diegene wat sodanig georden is neergedaal het, wat hulle onmiddellik vir enige en alle ministeriële arbeid bekwaam het. Maar met die afsondering van hierdie twee apostels is daar geen verslag dat hulle met enige deug deur die blote oplegging van hande bedeel is nie. Daar is slegs die eenvoudige verslag van hulle ordening en die invloed wat dit op hul toekomstige werk gehad het. DHDA 133.2
Die omstandighede verbonde aan die afsondering van Paulus en Barnabas deur die Heilige Gees vir ‘n spesifieke lyn van diens, toon duidelik dat die Here deur aangewese werktuie in Sy georganiseerde kerk werk. Jare tevore, toe die Goddelike plan met betrekking tot Paulus vir die eerste keer deur die Verlosser self aan hom geopenbaar is, is hy onmiddellik daarna met lede van die nuut-georganiseerde kerk in Damaskus in aanraking gebring. Verder is die kerk daar nie lank in die duisternis oor die persoonlike ervaring van die bekeerde Fariseër gelaat nie. En nou, wanneer die Goddelike opdrag wat destyds gegee is meer volledig uitgevoer moes word, het die Heilige Gees weer aangaande Paulus as ‘n uitverkore werktuig om die evangelie na die Heidene te neem getuig en aan die gemeente die werk opgedra om hom as sy medewerker te orden. Terwyl die lede van die kerk in Antiochië “...besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.” DHDA 133.3
God het Sy kerk op aarde ‘n kanaal van lig gemaak en daardeur kommunikeer Hy Sy voornemens en Sy wil. Hy gee nie aan een van Sy diensknegte ‘n ervaring wat onafhanklik van en in stryd is met die ervaring van die kerk self nie. Hy gee ook nie aan een mens ‘n kennis van Sy wil vir die hele kerk terwyl die kerk-die liggaam van Christus-in die duisternis gelaat word nie. In Sy voorsienigheid bring Hy Sy diensknegte in noue verbintenis met Sy kerk sodat hulle minder vertroue in hulself kan hê en meer vertroue in ander wat Hy uitlei om Sy werk te bevorder. DHDA 134.1
Daar is altyd mense in die kerk wat voortdurend geneig is tot individuele onafhanklikheid. Dit lyk asof hulle nie in staat is om te besef dat onafhanklikheid van die gees daartoe kan lei dat die menslike agent te veel vertroue in homself stel en sy eie oordeel vertrou, eerder as om die raad van sy broeders te respekteer en hoë agting vir hul raad te hê nie, veral diegene wat God in die ampte van leierskap vir Sy volk aangestel het. God het Sy kerk met spesiale gesag en mag beklee en niemand is geregverdig om dit minag en te verag nie, want wie dit doen, verag die stem van God. DHDA 134.2
Diegene wat geneig is om hul individuele oordeel as deurslaggewend te beskou, verkeer in ernstige gevaar. Dit is die Satan se weloorwoë poging om sulke mense van diegene wat kanale van lig is, deur wie God gewerk het om Sy werk op aarde op te bou en uit te brei, te skei. Om diegene wat deur God aangestel is om die verantwoordelikheid van leierskap ten opsigte van die bevordering van die waarheid te aanvaar, te verwaarloos of te verag, is om die middele wat Hy vir die hulp, aanmoediging en krag vir Sy volk bepaal het, te verwerp. Vir enige werker in die saak van die Here wat hierdie mense verontagsaam en dink dat sy lig deur geen ander kanaal as regstreeks van God af kom nie, stel homself in ‘n posisie waar hy deur die vyand mislei en omvergewerp kan word. Die Here het in Sy wysheid gereël dat deur die intieme verhouding wat alle gelowiges moet handhaaf, Christen met Christen en gemeente met gemeente verenig sal wees. Sodoende sal die menslike werktuig in staat gestel word om met die Goddelike saam te werk. Elke werktuig sal aan die Heilige Gees onderworpe wees en al die gelowiges sal in ‘n georganiseerde en goed gerigte poging verenig wees, om die blye boodskap van die genade van God aan die wêreld te verkondig. DHDA 134.3
Paulus het die geleentheid van sy formele ordening as die begin van ‘n nuwe en belangrike tydvak in sy lewenstaak beskou. Hy het dit as die beginpunt van sy apostelskap in die Christelike kerk beskou. DHDA 135.1
Terwyl die lig van die evangelie in Antiochië helder geskyn het, het die apostels wat in Jerusalem agtergebly het, ‘n belangrike werk voortgesit. Daar het jaarliks ten tye van die feeste, groot getalle Jode uit alle lande na Jerusalem gekom om in die tempel te aanbid. Sommige van hierdie pelgrims was manne met innige vroomheid en ernstige studente van die profesieë. Hulle het na die koms van die beloofde Messias, die hoop van Israel, uitgesien en daarna verlang. Terwyl Jerusalem gevul was met hierdie vreemdelinge, het die apostels Christus met onwrikbare moed verkondig, hoewel hulle geweet het dat hulle sodoende hul lewens voortdurend in gevaar stel. Die Gees van God het Sy seël op hulle werk geplaas; baie bekeerlinge is tot die geloof bekeer en nadat hulle na hul huise in verskillende dele van die wêreld teruggekeer het, het hulle die saad van waarheid deur al die nasies en onder alle klasse van die samelewing gesaai. DHDA 135.2
Prominent onder die apostels wat in hierdie wek gedeel het, was Petrus, Jakobus en Johannes, wat vol vertroue was dat God hulle aangestel het om Christus onder hul landgenote tuis te verkondig. Hulle het getrou en met wysheid gewerk en van die dinge wat hulle gesien en gehoor het getuig. Hulle het hulle beroep op “...’n profetiese woord wat baie vas is...” (2 Petrus 1:19) in hulle poging om “...die hele huis van Israel...” te oortuig “...dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat...” die Jode “...gekruisig het.” (Handelinge 2:36). DHDA 135.3