Die Handelinge Van Die Apostels

16/59

Hoofstuk 15—Uit die Gevangenis Verlos*

“En omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen.” Herodes Agrippa, onderdaan van Claudius, die Romeinse keiser, was destyds goewerneur in Judea. Herodes het ook die pos van viervors van Galilea beklee. Hy was na bewering ‘n proseliet van die Joodse geloof en oënskynlik baie ywerig in die uitvoering van die seremonies van die Joodse wet. Begerig om die guns van die Jode te bekom, in die hoop om sy poste en eer te beveilig, het hy voortgegaan om hul begeertes te bevredig deur die kerk van Christus te vervolg, die huise en besittings van die gelowiges te verwoes en die leiers van die kerk in die gevangenis te werp. Hy het Jakobus, Johannes se broer, in die gevangenis gewerp en ‘n laksman gestuur om hom met die swaard op dieselfde wyse as wat ‘n ander Herodes die profeet Johannes laat onthoof het te dood. Toe hy sien dat die Jode in hulle skik was met sy pogings, het hy Petrus ook gevange geneem. DHDA 116.1

Dit was tydens die Paasfees dat hierdie wreedhede is gepleeg is. Terwyl die Jode hulle verlossing uit Egipte gevier en groot ywer vir die wet van God geveins het, het hulle terselfdertyd elke beginsel van daardie wet oortree deur die gelowiges in Christus te vervolg en te vermoor. DHDA 116.2

Die dood van Jakobus het groot droefheid en ontsteltenis onder die gelowiges veroorsaak. Toe Petrus ook gevange geneem is, het die hele kerk gebid en gevas. DHDA 116.3

Herodes se daad om Jakobus te dood is deur die Jode aangeprys, hoewel sommige gekla het oor die private wyse waarop dit uitgevoer is, omdat hulle van mening was dat ‘n openbare teregstelling die gelowiges en diegene wat met hulle gesimpatiseer het, meer deeglik sou geïntimideer het. Daarom het Herodes Petrus in die gevangenis bewaar met die doel om die Jode nog meer tevrede te stel deur ‘n openbare skouspel van sy teregstelling te maak. Maar daar is voorgestel dat dit nie veilig sou wees om die ervare apostel voor al die mense wat in Jerusalem byeen was, vir sy teregstelling uit te bring nie. Daar is gevrees dat die medelye van die skare opgewek sou word wanneer hulle hom aanskou terwyl hy uitgelei word om tereggestel te word. DHDA 116.4

Die priesters en oudstes het ook gevrees dat Petrus dalk een van daardie kragtige beroepe op die volk kon doen wat hulle so dikwels reeds aangespoor het om die lewe en karakter van Jesus te ondersoek, beroepe wat hulle onmagtig was om met hul argumente te weerlê. Petrus se ywer om die saak van Christus te bevorder het daartoe aanleiding gegee dat talle standpunt vir die evangelie ingeneem het en die owerstes het gevrees dat indien hy die geleentheid sou kry om sy geloof in die teenwoordigheid van die skares wat vir aanbidding in die stad was, te verdedig, hulle sy vrylating uit die hande van die koning sou vereis. DHDA 117.1

Terwyl die teregstelling van Petrus onder verskeie voorwendsels tot ná die Paasfees vertraag is, het die gemeentelede tyd gekry vir diepliggende hartsondersoek en ernstige gebed. Hulle het sonder ophou vir Petrus gebid, want hulle het gevoel dat hy onmisbaar vir die saak was. Hulle het besef dat hulle ‘n plek bereik het waar die kerk van Christus sonder die besondere hulp van God, vernietig sou word. DHDA 117.2

Intussen het aanbidders uit elke nasie, die tempel wat vir die aanbidding van God gewy was, besoek. Met al sy glinsterende goud en edelgesteentes was dit ‘n toonbeeld van prag en grootsheid. Maar Jehova was nie langer in daardie lieflike paleis te vinde nie. Israel as volk het hulself van God geskei. Toe Christus teen die einde van Sy aardse bediening vir die laaste keer na die binnekant van die tempel gekyk het, het Hy gesê: “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Mattheus 23:38). Tot dusver het Hy die tempel Sy Vader se huis genoem; maar toe die Seun van God daardie mure verlaat het, is die teenwoordigheid van God vir ewig uit die tempel, wat tot Sy heerlikheid opgerig is, onttrek. DHDA 117.3

Uiteindelik is die dag van Petrus se teregstelling vasgestel, maar die gebede van die gelowiges het steeds na die hemel opgestyg en terwyl al hulle kragte en meegevoel ingespan is in vurige oproepe om hulp, het engele van God oor die gevange apostel gewaak. DHDA 118.1

Herodes het onthou dat die apostels reeds voorheen uit die gevangenis ontsnap het en hierdie keer het hy dubbele voorsorgmaatreëls getref. Om elke moontlikheid vir bevryding uit te sluit, is Petrus aan die sorg van sestien soldate toevertrou, wat hom dag en nag in verskillende skofte bewaak het. Binne-in sy sel is hy tussen twee soldate geplaas en met twee kettings geboei. Elke ketting is ook aan die gewrig van ‘n soldaat geheg. Hy kon hom nie sonder hulle medewete beweeg nie. Met die deure van die gevangenis stewig gegrendel en ‘n sterk wag voor elk is elke moontlikheid van redding of ontsnapping deur menslike toedoen uitgeskakel. Maar die mens se uiterste is God se geleentheid. DHDA 118.2

Petrus is in ‘n sel wat uit ‘n rots gekap is opgesluit en die deure is sterk gegrendel en gesluit; en die soldate wat dit bewaak het, is persoonlik verantwoordelik vir die veilige bewaring van die gevangene gehou. Maar die grendels en die dwarsbalke en die Romeinse wag wat alle moontlikheid van menslike hulp doeltreffend gekortwiek het, sou die algehele oorwinning van God in die verlossing van Petrus net soveel vollediger maak. Herodes het sy hand teen die Almagtige opgehef en hy sou geheel en al verslaan word. God was gereed om, deur die vertoning van Sy mag, die kosbare lewe wat die Jode saamgesweer het om te vernietig, te red. DHDA 118.3

Dit was die laaste nag voor die beplande teregstelling. ‘n Magtige engel is uit die hemel gestuur om Petrus te red. Die sterk deur wat die heilige van God ingesluit het, het sonder die toedoen van mensehande oopgegaan. Die engel van die Allerhoogste het deurgegaan en die hekke geluidloos agter hom gesluit. Hy het in die sel ingegaan en daar het Petrus in die rustige slaap van volle vertroue gelê. DHDA 119.1

Die lig wat die engel omring het, het die sel gevul, maar dit het die apostel nie wakker gemaak nie. Eers toe hy die aanraking van die engel se hand voel en ‘n stem hoor sê: “Staan gou op!” het hy wakker genoeg geword om te sien dat sy sel deur hemelse lig verlig word en dat ‘n engel met groot heerlikheid langs hom staan. Werktuiglik het hy die bevele wat aan hom gegee is gehoorsaam en toe hy opstaan en sy hand lig, was hy net dofweg daarvan bewus dat die kettings van sy gewrigte afgeval het. DHDA 119.2

Weer het die stem van die hemelse boodskapper tot hom gekom: “Omgord jou en trek jou skoene aan..” en Petrus het weer werktuiglik gehoorsaam met sy oë stip op sy besoeker gevestig, nog altyd onder die indruk dat hy droom of ‘n gesig sien. Weer het die engel beveel: “Gooi jou bokleed om en volg my!” Hy het na die deur beweeg, gevolg deur die gewoonlik spraaksame Petrus wat nou stom van verbasing was. Hulle het bo-oor die wag getree en by die deur wat so sterk gegrendel was gekom, maar dit het vanself oopgeswaai en onmiddellik weer toegegaan nadat hulle deur is, terwyl die wagte aan die binnekant en dié aan die buitekant roerloos op hulle pos was. DHDA 119.3

Hulle het die tweede deur bereik wat ook van binne en van buite bewaak was. Soos die eerste het dit sonder ‘n gekraak van skarniere of kletterende grendels oopgegaan. Hulle het deurgestap en dit het weer net so geluidloos toegegaan. Op dieselfde wyse het hulle deur die derde poort gegaan en hulle in die oop straat bevind. Geen woord is gespreek nie; daar was geen geluid van voetstappe nie. Omhul deur ‘n verblindende ligglans het die engel vooruit gesweef en die verwarde Petrus, wat nog geglo het dat hy droom, het sy verlosser gevolg. So het hulle een straat verder gegaan en toe, met sy taak afgehandel, het die engel skielik verdwyn. DHDA 119.4

Die hemelse lig het verdwyn en Petrus het gevoel asof hy in digte duisternis verkeer, maar namate sy oë aan die donker gewoond geraak het, het dit geleidelik afgeneem en hy het hom alleen in die stil straat bevind, met die koel naglug wat teen sy voorhoof waai. Hy het besef dat hy vry in ‘n bekende deel van die stad was; hy het die plek herken as een waar hy dikwels gekom het en waarlangs hy verwag het om die volgende dag vir die laaste keer te gaan. DHDA 120.1

Hy het probeer om die gebeure van die afgelope paar oomblikke in herinnering te roep. Hy het onthou dat hy tussen twee soldate aan die slaap geraak het met sy sandale en bokleed verwyder. Hy het sy persoon begin ondersoek en gevind dat hy ten volle gekleed en omgord was. Sy gewrigte, nog geswel en seer van die wrede boeie, was vry van die kettings. Hy het besef dat sy vryheid geen sinsbedrog, droom, of visioen was nie, maar ‘n salige werklikheid. Die volgende dag sou hy uitgelei gewees het om te sterf, maar, ‘n engel het hom uit die gevangenis en van die dood gered. “Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here Sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk.” DHDA 120.2

Die apostel het dadelik sy weg na die huis, waar sy broeders op daardie oomblik in ernstige gebed vir hom verkeer het, gevind. “En toe Petrus aan die deur van die poort klop, het ‘n diensmeisie met die naam van Rhodé gegaan om te hoor wie daar was. En sy het die stem van Petrus herken en van blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan. Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy engel.” DHDA 120.3

“En Petrus het aangehou met klop; en toe hulle oopmaak, sien hulle hom en was verbaas. Maar hy het vir hulle met die hand gewink om stil te bly en aan hulle vertel hoe die Here hom uit die gevangenis uitgelei het.” En Petrus het “...uitgegaan en na ‘n ander plek vertrek.” Vreugde en lof het die harte van die gelowiges gevul omdat God hulle gebede verhoor en Petrus uit die hande van Herodes verlos het. DHDA 121.1

Die volgende oggend het ‘n groot skare mense byeengekom om die teregstelling van die apostel te aanskou. Herodes het soldate gestuur om Petrus met ‘n groot vertoon van wapens en wagte uit te bring, nie slegs net om seker te maak dat hy nie ontsnap nie, maar om ook alle ondersteuners te intimideer en die mag van die koning te vertoon. DHDA 121.2

Toe die wagte voor die deur ontdek dat Petrus ontsnap het, was hulle vreesbevange. Dit was duidelik aan hulle gestel dat hulle lewens in die plek van die lewe van hulle gevangene geëis sou word en om hierdie rede was hulle besonder waaksaam. Toe die soldate kom om Petrus te haal, was die wagte steeds by die deur van die gevangenis, die grendels en dwarsbalke was nog op hulle plek, die boeie was vas aan die twee soldate se gewrigte; maar die gevangene was weg. DHDA 121.3

Toe die verslag van Petrus se ontsnapping na Herodes gebring is, was hy woedend. Hy het die wagte by die gevangenis van onbetroubaarheid beskuldig en beveel dat hulle gedood moes word. Herodes het geweet dat geen menslike mag Petrus verlos het nie, maar hy was vasberade om nie te erken dat ‘n Goddelike mag sy plan verydel het nie en hy het homself in blatante verset teen God gestel. DHDA 121.4

Kort na Petrus se verlossing uit die gevangenis, het Herodes na Cesárea gegaan. Terwyl hy daar was, het hy ’n groot fees gereël om die bewondering en toejuiging van die mense af te dwing. Hierdie fees is deur plesierliefhebbers uit alle oorde bygewoon en daar is baie gesmul en wyn gedrink. Met groot praal en seremonie het Herodes voor die volk verskyn en hulle hoogdrawend toegespreek. Geklee met ‘n kleed van silwer en goud wat die strale van die son in sy glinsterende voue opgevang en die oë van die toeskouers verblind het, was hy ‘n skitterende figuur. Die majesteit van sy voorkoms en die krag van sy goedgekose woorde het die vergadering met groot mag geroer. Hulle sinne was reeds deur die feesmaal en die wyn wat hulle gedrink het benewel en Herodes se versierings hulle verblind en sy houding en redenaarsvermoë het hulle betower; met wilde geesdrif het hulle hom gevlei en verklaar dat geen sterfling so ‘n voorkoms kon vertoon of so welsprekend kon wees nie. Hulle het verder verklaar dat hoewel hulle hom altyd as heerser eerbiedig het, hulle hom voortaan as ‘n god sou aanbid. DHDA 121.5

Sommige van die stemme wat daardie lae sondaar nou verheerlik het, het slegs enkele jare tevore die waansinnige uitroep geopper: “Weg met Jesus! Kruisig, kruisig Hom!” Die Jode het geweier om Jesus aan te neem, wie se klere grof en dikwels reisbevlek, ‘n hart van Goddelike liefde bedek het. Onder die nederige uiterlike kon hulle oë nie die Here van die lewe en van heerlikheid onderskei nie, alhoewel Christus se mag aan hulle geopenbaar is in werke wat geen sterflike mens kon verrig nie. Maar hulle was bereid om die hovaardige koning as god te aanbid, waaronder die skitterende klere van silwer en goud ‘n korrupte en wrede hart verberg het. DHDA 122.1

Herodes het goed geweet dat hy niks van die lof en eerbetoon verdien het nie, maar tog het hy die verafgoding van die volk aanvaar asof dit hom toegekom het. Sy hart het geswel in triomf en ‘n gloed van bevredigende trots was op sy aangesig toe hy hulle hoor uitroep: ” ‘n Stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie!” DHDA 122.2

Maar skielik het daar ‘n verskriklike verandering oor hom gekom. Sy gesig het bleek soos die dood geword en is deur pyn verwring. Groot sweetdruppels het uit sy porieë te voorskyn gekom. ‘n Oomblik lank het hy gestaan asof deur pyn en vrees versteen; en toe wend hy sy vaalbleek gesig tot sy met afgryse gevulde vriende en roep met ‘n hol, wanhopige stem uit: Hy wat julle as ‘n god verhef het, word met die dood getref. DHDA 123.1

Onder die mees pynigende foltering is hy van die toneel van swelgery en vertoon weggedra. ‘n Oomblik tevore was hy die trotse ontvanger van die lof en aanbidding van die groot menigte; nou het hy besef dat hy in die hande van ‘n Heerser, wat magtiger is as hy self, was. Berou het hom aangegryp; hy het sy meedoënlose vervolging van die volgelinge van Christus onthou; hy het sy wrede bevel om die onskuldige Jakobus om die lewe te bring en sy plan om Petrus tereg te stel onthou; hy het onthou hoe hy in sy ergernis en teleurgestelde woede onredelike wraak op die wagte van die gevangenis geneem het. Hy het gevoel dat God nou met hom, die meedoënlose vervolger, afreken. Daar was vir hom geen verligting van liggaamlike pyn of sielsangs nie en hy het niks verwag nie. DHDA 123.2

Herodes was bekend met die wet van God wat lui: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Exodus 20:3); en hy het geweet dat hy die maat van sy ongeregtigheid vol gemaak het toe hy die aanbidding van die volk aanvaar het en dat hy hom die regmatige grimmigheid van Jehova op die hals gehaal het. DHDA 123.3

Dieselfde engel wat uit die koninklike howe gekom het om Petrus te red, was vir Herodes die boodskapper van toorn en oordeel. Die engel het Petrus aangeraak om hom uit sy slaap te wek; maar dit was met ‘n ander slag wat hy die goddelose koning geslaan het, sy trots vernietig het en die straf van die Almagtige oor hom gebring het. Herodes het met swaar geestelike en liggaamlike foltering onder die vergeldende oordeel van God gesterf. DHDA 123.4

Hierdie bewys van Goddelike geregtigheid het ‘n groot invloed op die volk gehad. Die tyding dat die apostel van Christus deur ‘n wonderwerk uit die gevangenis en van die dood gered is terwyl sy vervolger deur die vloek van God neergevel is, is na alle lande geneem en was die middel om baie mense tot geloof in Christus te lei. DHDA 124.1

Die ervaring van Filippus wat deur ‘n engel van die hemel beveel is om na ‘n plek te gaan waar hy ‘n soeker na die waarheid ontmoet het, van Cornelius wat deur ‘n engel met ‘n boodskap van God besoek is, van Petrus, in die gevangenis en tot die dood veroordeel, wat deur ‘n engel na veiligheid gelei is, alles dui op die noue konneksie tussen hemel en aarde. DHDA 124.2

Vir die werker van God behoort die verhaal van hierdie besoeke deur engele krag en moed te bring. Net so gewis as in die dae van die apostels is daar in ons dag hemelse boodskappers wat die lengte en breedte van die aarde deurkruis om bedroefdes te troos, om die onboetvaardige te beskerm en die harte van mense vir Christus te wen. Ons kan hulle nie persoonlik sien nie; nietemin is hulle by ons om te lei, te rig en te beskerm. DHDA 124.3

Die hemel word naby aan die aarde deur daardie geheimsinnige leer gebring, die basis waarvan ferm op die aarde geplant is, terwyl die boonste sport die troon van die Oneindige bereik. Engele beweeg voortdurend op en af op hierdie skitterende leer om die gebede van behoeftiges en noodlydendes na die Vader omhoog te neem en om seëninge en hoop, moed en hulp aan die mensekinders te bring. Hierdie engele van die lig skep ‘n hemelse atmosfeer rondom die siel en verhef ons opwaarts na die onsienlike en die ewige. Ons kan hulle gedaante nie met ons natuurlike oë gewaar nie; slegs deur geestelike insig kan ons hemelse dinge onderskei. Slegs die geestelike oor kan die harmonie van hemelse stemme hoor. DHDA 124.4

“Die engel van die Here trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees en red hulle uit.” (Psalm 34:8). God gee aan Sy engele die opdrag om Sy uitverkorenes teen rampe te bewaar en om hulle te beskerm teen “...die pes wat in die donker wandel...” en “...die siekte wat op die middag verwoes. (Psalm 91:6). Keer op keer het engele met mense soos ‘n mens met sy vriend gepraat en hulle na ‘n veilige plekke gelei. Keer op keer het die bemoedigende woorde van engele die kwynende gees van die getroue gelowiges versterk en deur hulle gedagtes bo die aardse dinge te op te hef, hulle genoodsaak om deur geloof die wit klere, die krone en die palmtakke van oorwinning, wat die oorwinnaars sal ontvang wanneer hulle rondom die groot wit troon staan, te aanskou. DHDA 125.1

Dit is die werk van die engele om na aan die beproefde, lydende en versoekte gelowiges te kom. Hulle werk onvermoeid ten behoewe van diegene vir wie Christus gesterf het. Wanneer sondaars gelei word om hulle aan die Verlosser oor te gee, neem engele die tyding na die hemel en dan is daar groot blydskap onder die hemelse skare. Daar sal blydskap “...wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.” (Lukas 15:7). ‘n Verslag van elke suksesvolle poging van ons kant om die duisternis te verdryf en die kennis van Christus wyd te versprei, word na die hemel geneem. Wanneer die daad voor die Vader oorvertel word, word die hemelse leërskare met opgewonde vreugde vervul. DHDA 125.2

Die owerhede en magte van die hemel hou die stryd wat onder skynbaar ontmoedigende omstandighede deur die diensknegte van God gevoer moet word dop. Nuwe verowerings word behaal, nuwe eerbewyse word gewen, terwyl die Christene onder die vaandel van hul Verlosser saamtrek om die goeie stryd van geloof te stry. Al die hemelse engele staan in diens van die nederige, gelowige volk van God; en terwyl die Here se leërmag van werkers hier benede hulle lofliedere sing, sluit die hemelkoor by hulle aan om lof aan God en Sy Seun te bring. DHDA 125.3

Ons moet die sending van die engele beter as tans verstaan. Dit sal goed wees om te onthou dat elke ware kind van God die samewerking van hemelse wesens het. Onsigbare leërs van lig en krag staan by die sagmoediges en nederiges wat die beloftes van God glo en daarop aanspraak maak. Gerubs, serafs en engele, met uitmuntende krag, staan aan God se regterhand, “...almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe.” (Hebreërs 1:14). DHDA 126.1