Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 14—’n Soeker na Waarheid*
In die loop van sy bediening het die apostel Petrus die gelowiges te Lidda besoek. Daar het hy Eneas, wat agt jaar lank weens verlamming bedlêend was, genees. Die apostel het gesê: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op ... Hy het dadelik opgestaan. En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.” DHDA 106.1
In Joppe, naby Lidda, het ‘n vrou met die naam van Dorkas, wie se goeie dade haar grootliks bemind gemaak het, gewoon. Sy was ‘n waardige dissipel van Jesus en haar lewe was gevul met van dade van welwillendheid. Sy het geweet wie gemaklike klere benodig het en wie ‘n behoefte aan medelye gehad het en sy het die armes en die bedroefdes vrywilliglik bedien. Haar bekwame vingers was meer aktief as haar tong. DHDA 106.2
“En in dié dae het sy siek geword en gesterwe.” Die gelowiges te Joppe het hulle groot verlies besef en toe hulle hoor dat Petrus in Lidda was, het hulle boodskappers na hom gestuur “...wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom. En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder- en boklere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was.” Met die oog op die lewe van diens wat Dorkas gelei het, was dit geen wonder dat hulle gerou het en dat warm trane op die lewelose liggaam geval het nie. DHDA 106.3
Die apostel se hart is met medelye gevul toe hy hulle droefheid aanskou. Toe het hy beveel dat die wenende vriende uit die vertrek gestuur moes word en neergekniel vuriglik tot God gebid om Dorkas se lewe en gesondheid te herstel. Hy het hom daarna tot die liggaam gewend en gesê: “Tabita, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit.” Dorkas was van groot diens vir die kerk en God het dit goed geag om haar uit die land van die vyand terug te bring sodat haar vernuf en werkkrag steeds tot seën vir ander kon wees en ook dat die saak van Christus deur hierdie openbaring van Sy mag versterk mag word. DHDA 106.4
Dit was terwyl Petrus nog in Joppe was, dat God hom geroep het om die evangelie na Cornelius in Cesárea te neem. DHDA 107.1
Cornelius was ‘n Romeinse hoofman oor honderd. Hy was ‘n ryk edelman en het ‘n geëerde vertrouensposisie beklee. Van geboorte, opleiding en opvoeding was hy ‘n heiden, maar deur sy omgang met die Jode het hy ‘n kennis van God opgedoen en Hom met opregtheid van hart aanbid. Hy het die opregtheid van sy geloof in liefdadigheid teenoor die armes bewys. Hy was wyd en syd bekend vir sy liefdadigheid en sy regverdige lewenswyse het vir hom onder die Jode sowel as die Heidene ‘n goeie naam besorg. Sy invloed was ‘n seën vir almal met wie hy in aanraking gekom het. Die ingegewe verhaal sê: “Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God.” DHDA 107.2
Omdat hy in God as die Skepper van hemel en aarde geglo het, het Cornelius Hom vereer, Sy gesag erken en in alle lewensaangeleenthede om Sy raad gevra. In sy huislike lewe en in sy amptelike pligte was hy getrou aan Jehova. Hy het die altaar van God in sy huis opgerig, want hy wou dit nie waag om sy planne uit te voer, of sy verantwoordelikhede sonder die hulp van God op te neem nie. DHDA 107.3
Alhoewel Cornelius die profesieë geglo en na die koms van die Messias uitgesien het, het hy geen kennis van die evangelie, soos in die lewe en dood van Christus gehad nie. Hy was nie ‘n lid van die Joodse kerk nie en die rabbi’s sou hom as ‘n heiden en onrein beskou het. Maar dieselfde Heilige Wag wat van Abraham gesê het: “Ek het hom verkies...” het Cornelius ook verkies en het ‘n boodskap regstreeks uit die hemel aan hom gestuur. DHDA 107.4
Die engel het aan Cornelius verskyn terwyl hy besig was om te bid. Toe die hoofman hoor dat hy op sy naam geroep word, was hy bevrees, maar hy het geweet dat die boodskapper van God afkomstig is en geantwoord: “Wat is dit, my heer?” Die engel het geantwoord: “Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom. Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier, wie se huis by die see is.” DHDA 108.1
Die duidelikheid van hierdie aanwysings, wat selfs die naam en die beroep van die man by wie Petrus gebly het genoem het, het aangedui dat die Hemel met die geskiedenis en sake van mense van alle stande bekend is. God is bekend met die ervaring en werk van die nederige arbeider, sowel as met dié van die koning op sy troon. DHDA 108.2
“Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal.” So het God bewys van Sy agting vir die evangeliebediening en vir Sy georganiseerde kerk gelewer. Die engel is nie beveel om aan Cornelius die verhaal van die kruis te vertel nie. ‘n Man wat net soos die hoofman homself, aan menslike swakhede onderhewig was, moes hom van die gekruisigde en verrese Heiland vertel. DHDA 108.3
God kies nie ongevalle engele as Sy verteenwoordigers onder die mense nie, maar mense met soortgelyke passies soos diegene wat hulle wil red. Christus het as mens gekom sodat Hy die mensdom kon bereik. ‘n Goddelik-menslike Verlosser was nodig om aan die wêreld verlossing te bring. En aan manne en vroue is die heilige pand toevertrou om “...die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig.” (Efesiërs 3:8). DHDA 108.4
In Sy wysheid bring die Here diegene wat na waarheid soek in aanraking met medemense wat die waarheid ken. Dit is die plan van die Hemel dat diegene wat die lig ontvang het, dit met diegene moet deel wat in duisternis verkeer. Die mens wat sy krag uit die groot Bron van wysheid put, is die werktuig deur wie die evangelie sy veranderende invloed op verstand en hart uitoefen. DHDA 109.1
Cornelius het die hemelse boodskap met blydskap gehoorsaam. Nadat die engel weg was, het die hoofman “...twee van sy huisbediendes en ‘n vroom soldaat van die wat altyd by hom was [geroep] en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe.” DHDA 109.2
Na sy onderhoud met Cornelius het die engel na Petrus in Joppe gegaan. Op daardie tydstip was Petrus in gebed op die dak van die huis waar hy tuis was en ons lees: “Hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar ‘n verrukking van sinne oor hom gekom.” Petrus het nie net na liggaamlike voedsel gehonger nie. Toe hy van die dak af na die stad Joppe en die omliggende omgewing kyk, het hy gehonger na die redding van sy landgenote. Hy het ‘n sterk verlange gehad om aan hulle uit die Skrifte, die profesieë wat betrekking het op die lyding en dood van Christus, te wys. DHDA 109.3
In die gesig het Petrus “...die hemel geopend [gesien] en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. En dit het drie maal gebeur en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.” DHDA 109.4
Hierdie gesig het vir Petrus as ‘n bestraffing sowel as onderrig gedien. Dit het die plan van God, dat die Heidene sowel as die Jode, die seëninge van die verlossing deur die dood van Christus sou erf, openbaar. Tot dusver het geeneen van die dissipels die evangelie aan die Heidene verkondig nie. Die skeidsmuur wat deur die dood van Christus afgebreek is het volgens hulle mening steeds bestaan en hulle het slegs onder die Jode gewerk, omdat hulle die Heidene as uitgesluit van die seëninge van die evangelie beskou het. Die Here wou nou aan Petrus die wêreldwye omvang van die Goddelike plan leer. DHDA 110.1
Talle van die Heidene het met belangstelling na die prediking van Petrus en die ander apostels geluister en talle van die Griekssprekende Jode het in Christus geglo, maar die bekering van Cornelius sou die eerste van belang vir die Heidene wees. DHDA 110.2
Die tyd het aangebreek vir ‘n totaal ander fase van werk wat deur die kerk van Christus betree moes word. Die deur wat talle van die Joodse bekeerlinge teen die Heidene gesluit het, sou nou wyd oopgestel word. En die Heidene wat die evangelie aangeneem het, moes op gelyke voet met die Joodse dissipels behandel word, sonder om hulle aan die ritueel van besnyding te onderwerp. DHDA 110.3
Hoe versigtig het die Here gewerk om die vooroordeel teen die Heidene wat so diep in Petrus se gemoed, weens sy Joodse opleiding ingewortel was, te oorwin! Deur die gesig van die laken en die inhoud daarvan, het Hy getrag om die vooroordeel uit die dissipel se gemoed te verwyder en hom die belangrike les, dat daar in die hemel geen aansien van die persoon is nie, te leer; dat Jood en Heiden in die oë van God gelyk is; dat die Heidene deur Christus die seëninge en voorregte van die evangelie deelagtig mag wees. DHDA 110.4
Terwyl Petrus oor die betekenis van die visioen nagedink het, het die manne wat Cornelius gestuur het in Joppe aangekom en by die hek van sy losieshuis gestaan. DHDA 111.1
Toe sê die Gees aan hom: “Daar is drie manne wat jou soek. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur.” DHDA 111.2
Dit was ‘n moeilike opdrag vir Petrus en hy het die plig wat aan hom opgedra is, teensinnig onderneem; maar hy het nie durf weier nie. Hy “...het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is?” Hulle het hom van hulle seldsame opdrag vertel en gesê: “Cornelius, ‘n hoofman oor honderd, ‘n regverdige en godvresende man, wat ‘n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het ‘n goddelike openbaring ontvang deur ‘n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê.” DHDA 111.3
Gehoorsaam aan die bevele wat hy so pas van God ontvang het, het die apostel beloof om saam met hulle te gaan. Die volgende oggend het hy, vergesel van ses van sy broeders, na Cesárea vertrek. Hulle moes getuies wees van alles wat hy sou doen of sê terwyl hy die Heidene besoek het, want Petrus het geweet dat hy verantwoording sou moes doen vir hierdie regstreekse oortreding van die Joodse leringe. DHDA 111.4
Toe Petrus die Heiden se huis binnegaan, het Cornelius hom nie soos ‘n gewone besoeker gegroet nie, maar soos een wat deur die Hemel vereer en deur God gestuur is. Dit was ‘n oosterse gewoonte om voor ‘n prins of ‘n ander hoogwaardigheidsbekleër te buig en ook vir kinders om voor hulle ouers te buig; maar Cornelius was so oorweldig met eerbied vir die een wat deur God gestuur is om hom te leer, dat hy voor die apostel se voete neergeval en aan hom hulde bewys het. Petrus was erg ontsteld en het die hoofman opgerig en gesê: “Staan op, ek is self ook maar ‘n mens.” DHDA 111.5
Terwyl Cornelius se boodskappers weg was, het die hoofman “...alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep...” sodat sowel hulle as hy, die verkondiging van die evangelie kon aanhoor. Toe Petrus daar aankom, was daar ‘n groot groep wat gretig gewag het om na sy woorde te luister. DHDA 112.1
Petrus het die vergadering eers oor die Joodse gebruik toegespreek en gesê dat dit as teen die wet beskou was vir ‘n Jood om met Heidene om te gaan en dat dit die persoon seremonieel kon besoedel. Hy het gesê: “Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het.” DHDA 112.2
Daarop het Cornelius van sy ervaring vertel en van die woorde van die engel en ten slotte gesê: “Ek het toe op die daad na u gestuur en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is.” DHDA 112.3
Petrus het gesê: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.” DHDA 112.4
Toe het die apostel aan daardie groep aandagtige luisteraars Christus gepreek-Sy wonderwerke, Sy verraad en kruisiging, Sy opstanding en Hemelvaart en Sy werk in die hemel as die Verteenwoordiger en Voorspraak van die mensdom. Terwyl Petrus die aanwesiges op Jesus as die sondaar se enigste hoop gewys het, het hy self ‘n beter begrip van die betekenis van die gesig wat hy gesien het gekry en sy hart het gebrand met die gees van die waarheid wat hy aangebied het. DHDA 112.5
Die toespraak was skielik deur die neerdaling van die Heilige Gees onderbreek. “Toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die Heidene uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak.” DHDA 113.1
“Toe het Petrus begin spreek: Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie? En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here.” DHDA 113.2
So is die evangelie aan diegene wat vreemdelinge en buitelanders was verkondig en het hulle medeburgers van die heiliges en lede van die huishouding van God geword. Die bekering van Cornelius en sy huisgesin was slegs die eerstelinge van die oes wat ingesamel sou word. Vanuit hierdie huis is ‘n wydverspreide werk van genade in daardie stad verrig. DHDA 113.3
God soek vandag na siele onder die vernaamste sowel as die geringes. Daar is baie soos Cornelius, mense wie die Here begeer om met Sy werk in die wêreld te verbind. Hulle is God se volk goedgesind, maar die bande wat hulle aan die wêreld bind, hou hulle stewig vas. Dit vereis sedelike moed vir hulle om hul standpunt ten gunste van Christus in te neem. Daar moet in die besonder vir siele wat as gevolg van hulle verantwoordelikhede en omgang in groot gevaar verkeer, gewerk word. DHDA 113.4
God roep na ernstige, nederige werkers wat die evangelie na die hoër klasse sal neem. Daar moet wonderwerke van ware bekering geskied-wonderwerke wat nie tans onderskei word nie. Die vername mense van die wêreld is nie buite die bereik van ‘n wonderwerkende God nie. Indien diegene wat medewerkers van God is van hulle geleenthede gebruik maak, as hulle hul plig moedig en getrou verrig, sal God mense wat verantwoordelike poste vul, mense van intellek en invloed, tot inkeer bring. Deur die invloed van die Heilige Gees sal baie die Goddelike beginsels aanvaar. Wanneer hulle tot die waarheid bekeer is, sal hulle werktuie in die hand van God word om die lig te versprei. Hulle sal ‘n besondere las vir siele onder hierdie verwaarloosde klas hê. Tyd en geld sal aan die werk van God bestee word en daar sal nuwe doeltreffendheid en krag by die kerk gevoeg word. DHDA 113.5
Omdat Cornelius in gehoorsaamheid aan al die onderrig wat hy ontvang het geleef het, het God sake so gereël dat hy meer waarheid ontvang het. ‘n Boodskapper uit die hemelse howe is na die Romeinse hoofman en na Petrus gestuur, sodat Cornelius in aanraking kon kom met een wat hom na groter lig kon lei. DHDA 114.1
Daar is in ons wêreld baie mense wat nader aan die koninkryk van God is as wat ons dink. In hierdie donker, sondige wêreld het die Here talle kosbare juwele na wie Hy Sy boodskappers sal lei. Oral is daar diegene wat hulle standpunt vir Christus sal inneem. Baie van hulle sal die wysheid van God bo elke aardse gewin stel en hulle sal getroue ligdraers word. Deur die liefde van Christus gedring, sal hulle andere dring om na Hom te kom. DHDA 114.2
Toe die broeders in Judea hoor dat Petrus na die huis van ‘n Heiden gegaan en die vergadering daar toegespreek het, was hulle verbaas en geaffronteer. Hulle was bevrees dat sy optrede, wat vir hulle voorbarig voorgekom het, sy eie lering sou teëwerk. Toe hulle Petrus weer sien, het hulle hom streng bestraf en gesê: “By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet.” DHDA 114.3
Petrus het die hele saak aan hulle voorgelê. Hy het sy ervarings met betrekking tot die gesig aan hulle oorvertel en aangevoer dat hy vermaan is om nie langer die seremoniële onderskeid tussen besnedenes en onbesnedes waar te neem of om die Heidene as onrein te beskou nie. Hy het hulle vertel van die bevel wat hy ontvang het om na die Heidene te gaan, die boodskappers wat hom besoek het, sy reis na Cesárea en van sy ontmoeting met Cornelius. Hy het aan hulle die inhoud van sy onderhoud met Cornelius meegedeel en hoe laasgenoemde vertel het van die gesig waarin hy beveel was om Petrus te laat roep. DHDA 114.4
Hy het gesê: “Toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word. As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het, soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?” DHDA 115.1
Toe die broeders hierdie verhaal hoor, het hulle geswyg. Onder die oortuiging dat Petrus se handelwyse ‘n regstreekse vervulling van God se plan was en dat hulle vooroordele en eksklusiwiteit heeltemal teenstrydig met die gees van die evangelie was, het hulle God verheerlik en gesê: “So het God dan ook aan die Heidene die bekering tot die lewe geskenk.” DHDA 115.2
Aldus is vooroordeel sonder omstredenheid afgebreek, die eksklusiwiteit wat deur die gebruik van eeue vasgestel is laat vaar en die weg om die evangelie aan die Heidene te verkondig, geopen. DHDA 115.3