Die Handelinge Van Die Apostels

14/59

Hoofstuk 13—Dae van Voorbereiding*

Nadat hy gedoop is, het Paulus sy vas gestaak en hy “...was ‘n paar dae saam met die dissipels in Damaskus. DHDA 99.1

En hy het dadelik begin om Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is.” Hy het openlik verklaar dat Jesus van Nasaret die lank-verwagte Messias was wat “...vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte ... begrawe is en ... die derde dag opgewek is...” waarna Hy deur die twaalf en deur ander gesien is. “En laaste van almal...” het Paulus bygevoeg, “...het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.” (1 Korinthiërs 15:3,4,8). Sy argumente uit die profesieë was so oortuigend en sy pogings het so duidelik met die krag van God gepaard gegaan dat die Jode in verwarring gebring is en nie by magte was om hom te antwoord nie. DHDA 99.2

Die tyding van Paulus se bekering het as ‘n groot verassing vir die Jode gekom. Hy, wat na Damaskus “...met volmag en opdrag van die owerpriesters... ” (Handelinge 26:12) gereis het om die gelowiges gevange te neem en te vervolg, het nou die evangelie van ‘n gekruisigde en opgestane Verlosser verkondig en het die hande van diegene wat reeds dissipels was versterk en voortdurend nuwe gelowiges vir die geloof wat hy voorheen so bitterlik teëgestaan het gewerf. DHDA 99.3

Paulus was voorheen bekend as ‘n ywerige voorstander van die Joodse geloof en ‘n onvermoeide vervolger van die volgelinge van Jesus. Hy was moedig, onafhanklik en volhardend en sy talente en opleiding sou hom in staat gestel het om in feitlik enige hoedanigheid te dien. Hy kon besonder duidelik redeneer en sy skroeiende sarkasme sou ‘n teëstander in ‘n ongunstige lig stel. En nou moes die Jode toekyk hoedat hierdie besonder belowende jongman hom met diegene wie hy voorheen vervolg het, verenig en vreesloos in die naam van Jesus preek. DHDA 99.4

’n Generaal wat in die slag sneuwel, is vir sy leër verlore, maar sy dood besorg geen addisionele krag aan die vyand nie. Maar wanneer ‘n vooraanstaande man hom by die teëparty aansluit, is nie net sy dienste verlore nie, maar diegene by wie hy hom aansluit kry ‘n besliste voordeel. Die Here kon Saulus van Tarsus maklik onderweg na Damaskus gedood het en baie krag sou van die vervolgingsmagte onttrek gewees het. Maar in Sy voorsienigheid het God nie net Saulus se lewe gespaar nie, maar Hy het hom tot inkeer gebring sodat daardie kampvegter van die vyand nou aan die kant van Christus geveg het. Paulus was ‘n welsprekende redenaar en ‘n kwaai beoordelaar. Met sy streng doelgerigtheid en onwrikbare moed het hy juis die hoedanighede wat die vroeë kerk nodig gehad het besit. DHDA 100.1

Paulus se verkondiging van Christus in Damaskus het almal verstom en hulle het gesê: “Is hy nie die man wat in Jerusalem uitgeroei het die wat hierdie Naam aanroep en hier gekom het met die doel om hulle geboeid na die owerpriesters te bring nie?” Paulus het verklaar dat sy verandering van geloof nie deur ‘n impuls of fanatisme veroorsaak is nie, maar deur oorweldigende bewyse teweeggebring is. In sy aanbieding van die evangelie het hy hom daarop toegelê om die profesieë aangaande Christus se eerste koms duidelik te stel. Hy het oortuigend bewys dat daardie profesieë letterlik in Jesus van Nasaret vervul was. Die grondslag van sy geloof was die vaste profetiese woord. DHDA 100.2

Namate Paulus voortgegaan het om sy verbaasde toehoorders te maan om “...hulle tot God [te] bekeer deur werke te doen wat by die bekering pas... ” (Handelinge 26:20), het hy “...al meer krag ontvang en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Hy, Jesus, die Christus is.” Maar talle het hulle harte verhard en geweier om op sy boodskap te reageer; en hulle verbasing het spoedig na intense haat, soos wat hulle teenoor Jesus betoon het, oorgeslaan. DHDA 100.3

Die teëstand het so fel geword dat Paulus nie toegelaat was om sy werk in Damaskus voort te sit nie. ‘n Boodskapper van die hemel het hom beveel om tydelik weg te gaan en hy is “...na Arabië...” (Galasiërs 1:17), waar hy ‘n veilige skuilplek gevind het. DHDA 101.1

Daar, in die eensaamheid van die woestyn, het Paulus volop tyd vir rustige studie en oordenking gehad. Hy het kalm oor sy verlede nagedink en seker van sy bekering gemaak. Hy het God met sy hele hart gesoek en nie gerus voordat hy met sekerheid geweet het dat sy berou aanvaar en sy sonde vergewe was nie. Hy het na die versekering dat Jesus in sy komende bediening met hom sou wees, verlang. Hy het sy siel van die vooroordele en oorleweringe wat sy lewe tot op hede gevorm het ontledig en van die Bron van waarheid onderrig ontvang. Jesus het met hom gemeenskap gehou en hom in die geloof bevestig en ‘n ryk mate van wysheid en genade aan hom geskenk. DHDA 101.2

Wanneer die denke van die mens in gemeenskap met die denke van God gebring word, die verganklike met die Onverganklike, is die uitwerking op liggaam, gees en siel onberekenbaar. In sulke gemeenskap vind mens die hoogste opvoeding. Dit is God se eie metode van ontwikkeling. Sy boodskap aan die mensdom is: “Sluit tog vriendskap met Hom.” (Job 22:21). DHDA 101.3

Die plegtige opdrag wat aan Paulus tydens sy onderhoud met Ananias gegee is, het al swaarder op sy gemoed gerus. Toe Paulus op die bevel: “Saul, broeder, word siende!” vir die eerste keer die aangesig van daardie vrome man aanskou het, het Ananias onder ingewing van die Heilige Gees aan hom gesê: “Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor; want jy sal vir Hom by al die mense ‘n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.” (Handelinge 22:13-16). DHDA 101.4

Hierdie woorde was in ooreenstemming met Jesus se eie woorde toe Hy Saulus op die weg na Damaskus voorgekeer en gesê het: “Hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot ‘n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn, terwyl Ek jou verlos uit die volk en die Heidene na wie Ek jou nou stuur, om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang.” (Handelinge 26:16-18). DHDA 102.1

Terwyl hy hierdie dinge in sy hart oorweeg het, het Paulus die betekenis van sy roeping om “...deur die wil van God ... ‘n geroepe apostel van Jesus Christus...” te wees, (1 Korinthiërs 1:1) duideliker verstaan. Sy oproep was “...nie vanweë mense of deur ‘n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader.” (Galasiërs 1:1). Die grootheid van die werk wat op hom gewag het, het hom tot ‘n grondige ondersoek van die heilige Skrifte gelei, sodat hy die evangelie kon verkondig, “...nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie ... maar in die betoning van gees en krag...” sodat die geloof van almal wat sou hoor, “...nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.” (1 Korinthiërs 1:17;2:4,5). DHDA 102.2

Namate hy die Skrifte ondersoek het, het Paulus ontdek dat daar deur die eeue heen “...nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles...” geroep is nie, “...maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedele is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.” (1 Korinthiërs 1:26-29). En, deur die wysheid van die wêreld in die lig van die kruis te aanskou, het Paulus hom voorgeneem “...om niks anders ... te weet nie as Jesus Christus en Hom as gekruisigde.” (1 Korinthiërs 2:2). DHDA 102.3

Regdeur sy latere bediening, het Paulus die Bron van sy wysheid en krag nooit uit die oog verloor nie. Luister hoe hy jare daarna steeds verklaar: “Vir my is die lewe Christus.” (Filippense 1:21). En dan weer: “Ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het ... om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word.” (Filippense 3:8¬10). DHDA 103.1

Paulus het uit Arabië “...weer teruggekom na Damaskus...” (Galasiërs 1:17) en “...vrymoediglik in die Naam van Jesus gespreek.” Omdat die Jode nie in staat was om die wysheid van sy redevoering te weerspreek nie, het hulle “...beraadslaag om hom om te bring.” Die poorte van die stad is dag en nag sorgvuldig bewaak om dit onmoontlik vir hom te maak om te ontvlug. As gevolg van hierdie krisis het die dissipels ernstig tot God gebid en eindelik het hulle “...hom geneem en in die nag deur die muur neergelaat deur hom in ‘n mandjie te laat afsak.” (Handelinge 9:25). DHDA 103.2

Nadat hy uit Damaskus gevlug het, het Paulus na Jerusalem gegaan. Daar het reeds drie jaar sedert sy bekering verloop. Die vernaamste rede waarom hy hierdie besoek afgelê het was, soos hy self gesê het, “...om met Petrus kennis te maak.” (Galasiërs 1:18). Toe hy in die stad aankom waar hy voorheen goed bekend as “...Saulus die vervolger...” was, “...het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy ‘n dissipel was nie.” Dit was vir hulle moeilik om te glo dat ‘n Fariseër wat so bevooroordeeld was en iemand wat soveel gedoen het om die kerk te vernietig, ‘n opregte volgeling van Jesus kon word. “Maar Barnabas het hom geneem en na die apostels gebring en hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het en dat Hy met hom gespreek het en hoe hy in Damaskus vrymoediglik in die Naam van Jesus gespreek het.” DHDA 103.3

Toe hulle dit hoor, het die dissipels hom as een van hulle aangeneem. Hulle het spoedig oorvloedige bewyse van die egtheid van sy Christelike ervaring gehad. Die toekomstige apostel vir die Heidene was nou in die stad waar talle van sy voormalige medewerkers gewoon het en hy het verlang om die profesieë aangaande die Messias wat deur die koms van die Verlosser vervul is, aan hierdie Joodse leiers te verduidelik. Paulus was seker dat hierdie leraars in Israel met wie hy voorheen so goed bekend was, net so opreg en eerlik was soos hy. Maar hy het hom met die gees van sy Joodse broeders misreken en in die hoop vir hul spoedige bekering was hy gedoem tot bittere teleurstelling. Alhoewel hy “...vrymoediglik gespreek...” het “...in die Naam van die Here Jesus en ook met die Griekssprekende Jode gepraat en geredetwis...” het, het diegene wat aan die hoof van die Joodse kerk gestaan het, geweier om te glo, maar “...probeer om hom dood te maak.” Sy hart was vol droefheid. Hy sou sy lewe gewilliglik opgeoffer het indien dit sou help om aan sommige ‘n kennis van die waarheid te bring. Met skaamte het hy aan sy aktiewe rol wat hy in die martelaarskap van Stefanus gespeel het gedink en in sy angstigheid om die skandvlek van iemand wat so valslik beskuldig is uit te wis, het hy gepoog om die waarheid waarvoor Stefanus sy lewe gegee het te regverdig. DHDA 104.1

Paulus het met ‘n groot las op sy hart vir diegene wat geweier het om te glo in die tempel gebid toe hy, soos hy self later getuig het, in ‘n beswyming geraak het. ‘n Hemelse boodskapper het aan hom verskyn en gesê: “Maak gou en gaan haastig uit Jerusalem uit, want hulle sal jou getuienis aangaande My nie aanneem nie.” (Handelinge 22:18). DHDA 104.2

Paulus was geneig om in Jerusalem te bly waar hy die opposisie kon trotseer. Dit het vir hom lafhartige voorgekom om te vlug as hy, deur in die stad aan te bly, sommige van die hardnekkige Jode van die waarheid van die evangelieboodskap kon oortuig, selfs al sou dit hom sy lewe kos om daar te bly. Daarom het hy geantwoord: “Here, hulle weet self dat ek besig was om die wat in U glo, in die gevangenis te werp en in die sinagoges te slaan; en toe die bloed van Stefanus, U getuie, vergiet is, het ek ook self daarby gestaan en sy vermoording goedgekeur en die klere opgepas van die wat hom doodgemaak het.” Maar dit het nie by die plan van God ingepas dat Sy dienskneg sy lewe onnodig moes waag nie en die hemelse boodskapper het geantwoord: “Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die Heidene.” (Handelinge 22:19-21). DHDA 105.1

Toe die broeders van hierdie gesig verneem, het hulle Paulus se geheime ontsnapping uit Jerusalem verhaas, want hulle het ‘n sluipmoord op hom gevrees. Hulle het “...hom na Cesárea afgebring en hom na Tarsus weggestuur.” Die vertrek van Paulus het die gewelddadige teëstand van die Jode tydelik beëindig en die kerk het ‘n ruk lank vrede gehad en in daardie tyd is baie tot die getal gelowiges toegevoeg. DHDA 105.2