Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 12—Van Vervolger tot Dissipel *
Een van die vernaamste Joodse leiers wat terdeë opgewerk was oor die sukses wat met die verkondiging van die evangelie gepaardgegaan het, was Saulus van Tarsus. Saulus, ‘n Romeinse burger van geboorte, was nietemin ‘n Jood van afkoms en hy is deur die vooraanstaande rabbi’s in Jerusalem opgelei. Saulus was “...uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.” (Filippense 3:5,6). Hy is deur die rabbi’s as ‘n belowende jongman beskou en daar was hoë verwagtinge aangaande hom as ‘n bekwame en ywerige voorstander van die antieke geloof gekoester. Sy verhoging tot lid van die Sanhedrin het ‘n magsposisie aan hom verleen. DHDA 89.1
Saulus het ‘n belangrike rol in die verhoor en veroordeling van Stefanus gespeel en die treffende blyke van God se teenwoordigheid met die martelaar het daartoe gelei dat Saulus oor die regverdigheid van sy optrede teenoor die volgelinge van Jesus getwyfel het. Sy gedagtes was diep verontrus. In sy verwarring het hy ‘n beroep op diegene in wie se wysheid en oordeel hy volle vertroue gehad het, gedoen. Die argumente van die priesters en die owerstes het hom uiteindelik oortuig dat Stefanus ‘n godslasteraar was, dat die Christus wat deur die gemartelde dissipel verkondig is, ‘n bedrieër was en dat diegene wat in die heilige amp dien reg moet wees. DHDA 89.2
Saulus het egter nie sonder ‘n ernstige stryd tot hierdie gevolgtrekking gekom nie. Maar uiteindelik het sy opvoeding en vooroordele, sy respek vir sy voormalige leermeesters en sy trots op gewildheid hom daartoe genoop om teen die stem van sy gewete en die genade van God te rebelleer. En nadat hy ten volle besluit het dat die priesters en skrifgeleerdes reg moet wees, het Saulus verbitterd in sy teenstand teen die leerstellings wat deur die dissipels van Jesus verkondig is geraak. Sy bedrywighede wat veroorsaak het dat heilige manne en vroue voor die geregshowe gedaag is, waar sommige bloot weens hulle geloof in Jesus tot gevangenisstraf en selfs tot die dood gevonnis is, het vir die pas georganiseerde kerk hartseer en somberheid veroorsaak en veroorsaak dat baie mense na veiligheid gevlug het. DHDA 89.3
Diegene wat weens die vervolging uit Jerusalem verdryf is, “...het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.” (Handelinge 8:4). Onder die stede waarheen hulle gevlug het, was Damaskus, waar die nuwe geloof talle bekeerlinge gewerf het. DHDA 90.1
Die priesters en owerstes het gehoop dat die kettery deur waaksame optrede en streng vervolging onderdruk sou word. Hulle het besluit dat hulle nou in ander plekke ook die streng maatreëls wat hulle in Jerusalem teen die nuwe leer toegepas het, moes toepas. Saulus het sy dienste aangebied vir die besondere werk wat hulle in Damaskus wou verrig. Hy het “...nog dreiging en moord geblaas ... teen die dissipels van die Here...” en “...het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.” Aldus, “...met volmag en opdrag van die owerpriesters...” (Handelinge 26:12) gewapen, het Saulus van Tarsus in die krag en ywer van sy manlikheid en met valse ywer aangevuur, op daardie gedenkwaardige reis vertrek wat, as gevolg van die vreemde dinge wat daarop sou gebeur, sy hele lewensloop sou verander. DHDA 90.2
Op die laaste dag van die reis, “...in die middel van die dag...” terwyl die uitgeputte reisigers Damaskus genader het, het hulle ‘n volle uitsig oor die uitgestrekte vrugbare lande, pragtige tuine en vrugbare boorde wat deur koel strome uit die omliggende berge benat is, gehad. Na die lang reis oor verlate woestenye, was hierdie tonele inderdaad verkwikkend. Terwyl Saulus en sy metgeselle die vrugbare vlaktes en die mooi stad benede met bewondering aanskou het, het hy skielik, soos hy later vertel het, “...’n lig uit die hemel gesien, sterker as die glans van die son, wat my en my reisgenote omstraal het...” (Handelinge 26:13), te glorieryk vir menslike oë om te verduur. Verblind en verward het Saulus op die grond neergeval. DHDA 90.3
Terwyl die lig nog om hulle geskyn het, het Saulus ‘n stem hoor “...spreek ... in die Hebreeuse taal...” (Handelinge 26:14) en “...vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.” DHDA 91.1
Vol vrees en byna verblind as gevolg van die felheid van die lig, het Saulus se metgeselle ‘n stem gehoor, maar geen mens gesien nie. Maar Saulus het die woorde wat tot hom gespreek is, verstaan en die Een wat gespreek het, naamlik die Seun van God, is duidelik aan hom geopenbaar. In die heerlike Wese wat voor hom gestaan het, het hy die Gekruisigde gesien. Die beeld van die Heiland se aangesig is vir ewig op die getrefde Jood se siel afgedruk. Die woorde wat gespreek is, het sy hart met geweldige krag getref. ‘n Ligstroom het tot in die donkerste kamers van sy verstand gevloei en die onkunde en dwaling van sy vorige lewe, asook sy huidige behoefte aan verligting van die Heilige Gees, geopenbaar. DHDA 91.2
Saulus het nou besef dat hy met sy vervolging van die volgelinge van Jesus in werklikheid die werk van die Satan gedoen het. Hy het ingesien dat sy oortuigings van wat reg was en van sy eie plig, grootliks op sy implisiete vertroue in die priesters en owerstes gegrond was. Hy het hulle geglo toe hulle hom aan hom gesê het dat die verhaal van die opstanding ‘n listige versinsel van die dissipels was. Noudat Jesus self aan hom geopenbaar was, was Saulus oortuig van die waarheid van die eise wat deur die dissipels gemaak is. DHDA 91.3
In daardie uur van hemelse verligting het Saulus se gedagtes merkwaardig vinnig gereageer. Die profetiese verslae van die Heilige Skrif is vir sy verstand oopgestel. Hy het ingesien dat die verwerping van Jesus deur die Jode, Sy kruisiging, opstanding en Hemelvaart deur die profete voorspel was en bewys het dat Hy die beloofde Messias was. Stefanus se preek tydens sy martelaarskap het met geweld in Saulus gedagtes opgekom en hy het besef dat die martelaar inderdaad “...die heerlikheid van God...” gesien het toe hy uitgeroep het: “Ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.” (Handelinge 7:55,56). Die priesters het gesê dat daardie woorde godslasterlik was, maar nou het Saulus besef dat dit waar was. DHDA 92.1
Wat ‘n openbaring was dit vir die vervolger! Saulus het nou verseker geweet dat die beloofde Messias in die gedaante van Jesus van Nasaret na die aarde gekom het en dat hy deur diegene wat Hy kom red het, verwerp en gekruisig is. Hy het ook geweet dat die Heiland seëvierend uit die graf opgestaan en na die hemel opgevaar het. In daardie oomblik van Goddelike openbaring het hy ook met vrees onthou dat Stefanus, wat van die gekruisigde en opgestane Heiland getuig het, met sy toestemming geoffer was en dat later, deur sy toedoen, talle waardige volgelinge van Jesus deur wrede vervolging omgekom het. DHDA 92.2
Die Verlosser het deur Stefanus tot Saulus, wie se duidelike redenasie nie weerspreek kon word nie, gespreek. Die geleerde Jood het gesien dat die aangesig van die martelaar die lig van Christus se heerlikheid reflekteer en “...dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was.” (Handelinge 6:15). Hy het Stefanus se lankmoedigheid teenoor sy vyande en sy vergifnis vir hulle gesien. Hy het ook die standvastigheid en blymoedige lydsaamheid gesien van talle wat deur sy toedoen gemartel en geteister is. Hy het gesien dat sommige selfs hulle lewens met blymoedigheid ten behoewe van hul geloof prysgegee het. DHDA 92.3
Al hierdie dinge het luid tot Saulus gespreek en soms die byna oorweldigende oortuiging op sy gemoed afgedwing dat Jesus die beloofde Messias was. Op sulke tye het hy die hele nag lank teen hierdie oortuiging geworstel en die saak altyd afgemaak deur sy geloof dat Jesus nie die Messias was nie en dat Sy volgelinge misleide dwepers was, te herbevestig. DHDA 93.1
Nou het Jesus met Sy eie stem tot Saulus gespreek en gesê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” En op die vraag: “Wie is U, Here? was die antwoord: “Ek is Jesus wat jy vervolg.” Hier vereenselwig Christus Hom met Sy volk. Deurdat hy die volgelinge van Jesus vervolg het, het Saulus regstreeks teen die Here van die hemel toegeslaan. Deur hulle valslik te beskuldig en teen hulle te getuig, het hy die Verlosser van die wêreld valslik beskuldig en teen Hom getuig. DHDA 93.2
Saulus het geensins daaraan getwyfel dat die Een wat tot hom gespreek het, Jesus van Nasaret, die lank verwagte Messias, die Trooster en Verlosser van Israel was nie. “En terwyl hy bewe en verbaas was...” verneem hy: “Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.” DHDA 93.3
Toe die heerlikheid onttrek is en Saulus van die grond af opstaan, het hy homself totaal van alle lig ontneem bevind. Die glans van Christus se heerlikheid was te skerp vir sy sterflike oë; en nadat dit onttrek was, het nagdonkerte oor sy sig neergedaal. Hy het geglo dat God hom met blindheid vir sy wrede vervolging van die volgelinge van Jesus gestraf het. Hy het in die vreesaanjaende duisternis rondgetas en bevrees en verbaas het sy metgeselle “...hom aan die hand gelei en in Damaskus gebring.” DHDA 93.4
Saulus het Damaskus vroeër die oggend op daardie veelbewoë dag met diepe tevredenheid oor die vertroue wat die owerpriesters in hom gestel het genader. Groot verantwoordelikhede was aan hom toevertrou. Hy het die opdrag ontvang om die belange van die Joodse geloof te bevorder, deur die verspreiding van die nuwe geloof in Damaskus, indien moontlik, te keer. Hy het hom voorgeneem om sy sending met sukses te bekroon en het met vurige verlange uitgesien na die dinge wat hy verwag het om daar te beleef. DHDA 94.1
Maar hoe anders as sy verwagting was sy intog in die stad! Met blindheid geslaan, hulpeloos, deur berou gemartel en nie wetend watter verdere oordeel daar vir hom in die vooruitsig wag nie, het hy die huis van die dissipel Judas opgesoek waar hy in eensaamheid genoeg geleentheid gehad het om na te dink en te bid. DHDA 94.2
Drie dae lank het Saulus “...niks gesien nie en niks geëet of gedrink nie.” Daardie dae van sielefoltering was vir hom soos jare. Keer op keer het hy met sieleangs onthou watter aandeel hy aan die marteling van Stefanus gehad het. Met afsku het hy gedink hoe hy hom daaraan skuldig gemaak het, deur hom aan die boosheid en vooroordeel van die priesters en owerstes te onderwerp, selfs nadat Stefanus se aangesig met die glans van die hemel verlig was. Bedroef en met ‘n gebroke gees het hy hom herinner hoe dikwels hy sy oë en ore teen die duidelikste bewyse gesluit het en sy meedoënlose vervolging van die gelowiges van Jesus van Nasaret voortgesit het. DHDA 94.3
Hierdie dae van nadere selfondersoek en verootmoediging van hart was in eensame afsondering deurgebring. Die gelowiges, wat oor die doel van Saulus se koms na Damaskus gewaarsku was, het gevrees dat hy toneel speel om hulle makliker te mislei en het hulle op ’n afstand gehou en geweier om medelye aan hom te betoon. Hy het geen begeerte gehad om ‘n beroep op die onbekeerde Jode te doen, met wie se samewerking hy van plan was om die gelowiges te vervolg nie, want hy het goed geweet hulle nie eers na sy verhaal sou luister nie. DHDA 94.4
So is hy dan skynbaar van alle meegevoel afgesny. Sy enigste hoop op hulp was in ‘n genadige God en hy het homself met ‘n gebroke hart op Hom beroep. DHDA 95.1
Gedurende die lang ure terwyl Saulus alleen met God opgesluit was, het hy homself aan talle skrifgedeeltes herinner wat na die eerste koms van Christus verwys. Sorgvuldig het hy die profesieë nagegaan en sy geheue deur die oortuiging waartoe hy pas gekom het, verskerp. Terwyl hy oor die betekenis van daardie profesieë nagedink het, was hy verstom oor sy vorige blindheid van begrip en oor die blindheid van die Jode oor die algemeen, wat daartoe aanleiding gegee het dat hulle Jesus as die beloofde Messias verwerp het. In sy verligte visie was alles nou duidelik. Hy het geweet dat sy voormalige vooroordeel en ongeloof sy geestelike insig benewel het en hom verhoed het om in Jesus van Nasaret, die Messias van die profesieë te sien. DHDA 95.2
Toe Saulus hom volkome aan die oortuigende mag van die Heilige Gees oorgee, het hy die foute van sy lewe raakgesien en die verreikende eise van die wet van God herken. Hy, wat voorheen ‘n trotse Fariseër was wat geglo het dat hy deur sy goeie werke geregverdig was, het nou met die nederigheid en eenvoud van ‘n klein kindjie voor God gekniel, sy eie onwaardigheid bely en om die deugde van die gekruisigde en opgestane Heiland gepleit. Saulus het daarna verlang om in volle harmonie met die Vader en die Seun te kom en met Hulle gemeenskap te hou; en in sy sterk verlange na vergifnis en aanvaarding het hy vurige gebede tot die genadetroon gerig. DHDA 95.3
Die gebede van die boetvaardige Fariseër was nie tevergeefs nie. Sy innerlike oorwegings en die gevoelens van sy hart is deur Goddelike genade verander; en sy edeler hoedanighede is in ooreenstemming met die ewige planne van God gebring. Christus en Sy geregtigheid het vir Saulus meer as die hele wêreld geword. DHDA 95.4
Die bekering van Saulus is ‘n treffende bewys van die wonderwerkende krag van die Heilige Gees om mense van sonde te oortuig. Hy het werklik geglo dat Jesus van Nasaret die wet van God verontagsaam en Sy dissipels geleer het dat dit geen invloed gehad het nie. Maar na sy bekering het Saulus in Jesus die Een, wat na die aarde gekom het met die juiste doel om Sy Vader se wet te handhaaf, herken. Hy was oortuig dat Jesus die oorsprong van die hele Joodse offerstelsel was. Hy het ingesien dat tipe en antitipe mekaar by die kruisiging ontmoet het, dat Jesus die Ou-Testamentiese profesieë aangaande die Verlosser van Israel vervul het. DHDA 96.1
In die verhaal van Saulus se bekering word belangrike beginsels aan ons voorgehou en ons behoort dit in gedagte te hou. Saulus is regstreeks in die teenwoordigheid van Christus ingebring. Christus het hom vir ‘n uiters belangrike werk bestem, hy was ‘n “...uitverkore werktuig...” vir Hom; nogtans het die Here hom nie onmiddellik aangaande die werk wat aan hom opgedra is ingelig nie. Hy het hom in sy loop gestuit en van sonde oortuig; maar toe Saulus gevra het: “Here, wat wil U hê moet ek doen?” het die Here die vraende Jood met Sy kerk in verbinding gebring om daar kennis van God se wil aangaande hom te verkry. DHDA 96.2
Die wonderlike lig wat die duisternis in Saulus se siel verlig het, was die werk van die Here; maar daar was ook ‘n werk wat die dissipels vir hom moes doen. Christus het die werk van openbaring en oortuiging verrig; nou was die boetvaardige in ‘n toestand om van diegene wat God aangestel het om Sy waarheid te verkondig te leer. DHDA 96.3
Terwyl Saulus in die eensaamheid van Judas se huis voortgegaan het met gebed en smeking, het die Here aan “...’n dissipel in Damaskus met die naam van Ananias...” verskyn en aan hom gesê dat Saulus van Tarsus besig was om te bid en dat hy hulp nodig het. Die hemelse boodskapper het gesê: “Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; en hy het in ‘n gesig ‘n man met die naam van Ananias sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien.” DHDA 96.4
Ananias kon die woorde van die engel skaars glo, want die berig van Saulus se bittere vervolging van die heiliges in Jerusalem het wyd en syd versprei. Hy het gewaag om teë te praat: “Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy U heiliges in Jerusalem aangedoen het; en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat U Naam aanroep.” Maar die bevel was beslis: “Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor die nasies en konings en die kinders van Israel.” DHDA 97.1
Gehoorsaam aan die bevel van die engel het Ananias die man opgesoek wat onlangs nog dreigemente en moord teen almal wat in die Naam van Jesus geglo het uitgespreek het. Hy het sy hande op die boetvaardige lyer se hoof gelê en gesê: “Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word.” DHDA 97.2
“En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.” DHDA 97.3
So het Jesus die gesag van Sy georganiseerde kerk op aarde goedgekeur en Saulus met Sy aangestelde verteenwoordigers op aarde in verbinding gebring. Christus het nou ‘n kerk as Sy verteenwoordiger op aarde gehad en daaraan was die werk om die boetvaardige sondaar op die lewensweg te rig toevertrou. DHDA 97.4
Baie mense is van mening dat hulle alleenlik aan Christus, onafhanklik van Sy erkende volgelinge op aarde, vir hulle lig en ervaring verantwoordelik is. Jesus is die Vriend van sondaars en Hy is oor hulle ellende begaan. Hy het alle mag in die hemel en op die aarde; maar Hy erken die middele wat Hy tot verligting en verlossing van die mensdom georden het. Hy verwys sondaars na die kerk wat Hy as ‘n kanaal van lig vir die wêreld gemaak het. DHDA 98.1
Toe daar aan Saulus, te midde van sy blinde dwaling en vooroordeel, ‘n gesig van die Christus wat hy vervolg het geopenbaar is, is hy regstreeks in verbinding met die kerk, wat die lig van die wêreld was, gebring. In hierdie geval het Ananias Christus en Sy dienaars op aarde wat aangestel is om namens Hom op te tree, verteenwoordig. Namens Christus het Ananias Saulus se oë aangeraak, sodat hulle weer kon sien. Namens Christus het hy sy hande op hom gelê en toe hy in die Naam van Christus gebid het, het Saulus die Heilige Gees ontvang. Alles word in die Naam en op gesag van Christus gedoen. Christus is die Bron; die kerk is die kanaal van kommunikasie. DHDA 98.2