Die Handelinge Van Die Apostels

12/59

Hoofstuk 11—Die Evangelie in Samaria*

Na die dood van Stefanus het daar teen die gelowiges in Jerusalem so ‘n meedoënlose vervolging ontstaan dat almal “...oor die streke van Judea en Samaria...” verstrooi is. “Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.” Later het hy aangaande sy ywer vir hierdie wrede werk gesê: “Ek het gemeen dat ek baie vyandige dinge teen die Naam van Jesus die Nasarener moes doen. Dit het ek ook in Jerusalem gedoen; en ek het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit, nadat ek van die owerpriesters volmag verkry het En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede.” Dat Stefanus nie al een is wat gesterf het nie, blyk uit Saulus se eie woorde: “So dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee.” (Handelinge 26:9-11). DHDA 81.1

In hierdie gevaarlike tyd het Nikodemus onbevrees na vore getree en sy geloof in die gekruisigde Heiland bely. Nikodemus was ‘n lid van die Sanhedrin en is saam met ander deur die leer van Jesus beweeg. Toe hy die wonderwerke van Jesus sien, het hy tot die oortuiging gekom dat Hy die Een is wat deur God gestuur is. Hy was te trots om openlik te erken dat hy hom tot die Galilese Leraar aangetrokke gevoel het, maar het ‘n geheime onderhoud met Hom gevoer. Tydens daardie onderhoud het Jesus die verlossingsplan en Sy sending aan die wêreld aan Nikodemus verduidelik, maar hy het steeds geaarsel. Hy het die waarheid in sy hart verberg en drie jaar lank was daar skynbaar geen vrugte nie. Maar alhoewel Nikodemus Christus nie in die openbaar erken het nie, het hy herhaaldelik in die Sanhedrin daarin geslaag om die planne van die priesters om Hom te dood, te verydel. Nadat Christus uiteindelik aan die kruis verhoog was, het Nikodemus die woorde onthou wat tydens daardie nagtelike onderhoud op die Olyfberg tot hom gespreek is: “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word...” (Johannes 3:14); en het hy in Jesus die Verlosser van die wêreld gesien. DHDA 81.2

Saam met Josef van Arimathea het Nikodemus die koste van Jesus se begrafnis gedra. Die dissipels was bevrees om hulle openlik as volgelinge van Christus te vertoon, maar Nikodemus en Josef het hulle onverskrokke te hulp gekom. Die hulp van hierdie ryk en geëerde manne was in daardie donker uur baie nodig. Hulle kon vir hulle gestorwe Meester doen wat vir die arm dissipels onmoontlik was om te doen; en hulle rykdom en invloed het hulle in ‘n groot mate teen die boosheid van die priesters en owerstes beskerm. DHDA 82.1

En nou, toe die Jode gepoog het om die jong kerk tot niet te maak, het Nikodemus opgetree om hulle te verdedig. Hy het nou nie meer versigtig en onseker opgetree nie, maar die geloof van die dissipels aangemoedig en sy rykdom gebruik om die kerk in Jerusalem te ondersteun en om die evangeliewerk te bevorder. Diegene wat hom vroeër eerbiedig het, het hom nou verag en vervolg en hy het arm aan aardse besittings geword; nogtans het hy nie in die verdediging van sy geloof geweifel nie. DHDA 82.2

Die vervolging wat oor die gemeente in Jerusalem gekom het, het groot stukrag aan die evangeliewerk verleen. Die bediening van die woord in daardie plek is met sukses bekroon en die gevaar het bestaan dat die dissipels te lank daar sou talm sonder om ag te gee op die Verlosser se opdrag om na die hele wêreld te gaan. Hulle het vergeet dat die krag om boosheid te weerstaan verkry word deur tot die aanval oor te gaan en begin dink dat dit hul belangrikste werk was om die gemeente in Jerusalem teen die aanslae van die vyand te beskerm. In plaas daarvan om die nuwe bekeerlinge op te lei om die evangelie na diegene wat dit nog nie gehoor het nie uit te dra, het hulle gevaar geloop om ‘n koers te volg wat almal tevrede sou laat wees met wat reeds bereik is. Om Sy verteenwoordigers verder te versprei waar hulle vir ander kon werk, het God toegelaat dat hulle vervolg word. Toe hulle uit Jerusalem verdryf is, het die gelowiges “...die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.” DHDA 82.3

Onder diegene aan wie die Heiland die opdrag gegee het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies... ” (Mattheus 28:19), was baie uit nederige lewenskringe-manne en vroue wat hulle Here liefgekry het en vasberade was om Sy voorbeeld van onselfsugtige diens na te volg. Aan hierdie nederiges sowel as die dissipels, het die Verlosser gedurende Sy bediening op aarde ‘n kosbare pand toevertrou. Hulle moes die blye boodskap van verlossing deur Christus na die wêreld neem. DHDA 83.1

Toe hulle deur vervolging verstrooi is, het hulle vol ywer vir die sendingwerk uitgegaan. Hulle het die verantwoordelikheid van hulle sending besef. Hulle het geweet dat hulle die lewensbrood vir ‘n hongerige wêreld in hulle hande gehou het; en hulle is deur die liefde van Christus gedring om daardie brood vir almal wat behoeftig is te breek. Die Here het deur hulle gewerk. Oral waar hulle gegaan het, is siekes genees en is die evangelie aan die armes verkondig. DHDA 83.2

Filippus, een van die sewe diakens, was onder diegene wat uit Jerusalem gedryf is. Hy “...het afgekom in ‘n stad van Samaria en Christus aan hulle verkondig. En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen. Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan ... en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword. En daar was groot blydskap in daardie stad.” DHDA 83.3

Christus se boodskap aan die Samaritaanse vrou met wie Hy by die put gepraat het, het vrugte gelewer. Nadat sy Sy woorde aangehoor het, het die vrou na die manne van die stad gegaan en gesê: “Kom kyk ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” Hulle het saam met haar gegaan, Jesus aangehoor en in Hom geglo. In hulle gretigheid om meer te hoor, het hulle Hom gesoebat om langer te bly. Twee dae lank het Hy by hulle gebly “...en baie meer het op grond van sy woord geglo.” (Johannes 4:29,41). DHDA 84.1

En toe die dissipels uit Jerusalem verdryf is, het sommige van hulle ‘n veilige oord in Samaria gevind. Die Samaritane het hierdie boodskappers van die evangelie verwelkom en die Joodse bekeerlinge het ‘n kosbare oes onder diegene wat voorheen hulle bitterste vyande was, ingesamel. DHDA 84.2

Filippus se werk in Samaria is met besondere sukses bekroon en daardeur aangemoedig, het hy hulp uit Jerusalem ontbied. Die apostels het Christus se woorde nou beter verstaan: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (Handelinge 1:8). DHDA 84.3

Terwyl Filippus nog in Samaria was, het ‘n hemelse boodskapper hom beveel: “Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. ... Toe het hy opgestaan en gegaan.” Hy het nie oproep bevraagteken of geaarsel om te gehoorsaam nie; want hy het die les van instemming met die wil van God geleer. DHDA 84.4

“En daar was ‘n man van Ethiopië, ‘n hofdienaar, ‘n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiopiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid. En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees.” Hierdie Ethiopiër was ‘n man van aansien en verreikende invloed. God het gesien dat hy, wanneer hy hom sou bekeer, die lig wat hy ontvang het aan ander sou gee en dat hy ‘n sterk invloed ten gunste van die evangelie sou uitoefen. Engele van die Here het hierdie soeker na lig begelei en hy is nader aan die Heiland getrek. Deur die bediening van die Heilige Gees het die Here hom in aanraking gebring met iemand wat hom na die lig kon lei. DHDA 84.5

Filippus is aangesê om na die Ethiopiër te gaan en die profesie wat hy gelees het aan hom te verduidelik. “Gaan daarheen...” het die Gees gesê “...en bly by daardie wa.” Toe hy nader kom, vra Filippus die Ethiopiër: “Verstaan u wel wat u lees? En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit.” Die skrifgedeelte wat hy gelees het, was Jesaja se profesie aangaande Christus: “Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word en soos ‘n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy Sy mond nie oop nie. In Sy vernedering is Sy oordeel weggeneem en wie sal Sy geslag beskrywe? Want Sy lewe word van die aarde weggeneem.” DHDA 85.1

“Van wie sê die profeet dit...” het die hofdienaar gevra, “...van homself of van iemand anders?” Toe maak Filippus die groot waarheid aangaande die verlossing vir hom oop. Hy het by daardie selfde skrifgedeelte begin en “...Jesus aan hom verkondig.” DHDA 85.2

Die man se hart was geroer met belangstelling namate die Skrifte aan hom verduidelik is; en toe die dissipel klaar gepraat het, was hy gereed om die lig wat hy ontvang het, aan te neem. Hy het nie sy hoë pos in die wêreld as verskoning gebruik om die evangelie te verwerp nie. “Terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.” DHDA 85.3

“En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesárea gekom het.” DHDA 86.1

Hierdie Ethiopiër was verteenwoordigend van ‘n groot klas mense wat deur sendelinge soos Filippus onderrig moes word-manne wat die stem van God sal hoor en sal gaan waar Hy hulle stuur. Daar is baie wat die Skrifte lees wat nie die ware betekenis daarvan verstaan nie. Regdeur die wêreld kyk mense verlangend op na die hemel. Gebede, trane en navrae gaan op van siele wat na lig, genade en die Heilige Gees verlang. Baie staan op die drumpel van die koninkryk en wag om ingeneem te word. DHDA 86.2

’n Engel het Filippus na die een gelei wat na lig gesoek het en gereed was om die evangelie te ontvang en vandag sal engele die voetstappe van diegene wat die Heilige Gees sal toelaat om hulle tonge te heilig en hulle harte te reinig en te veredel, rig. Die engel wat na Filippus gestuur is, kon die werk vir die Ethiopiër self gedoen het, maar dit is nie die wyse waarop God te werk gaan nie. Sy plan is dat mense vir hul medemens moet werk. DHDA 86.3

Gelowiges in elke eeu het ‘n aandeel gehad in die pand wat aan die eerste dissipels toevertrou is. Aan elkeen wat die evangelie ontvang het, is heilige waarhede om aan die wêreld te verkondig toevertrou. God se getroue volk was altyd ywerige sendelinge wat hulle rykdom aan die eer van Sy Naam gewy en hulle talente met wysheid in Sy diens gebruik het. DHDA 86.4

Die onselfsugtige werk van die Christene van die verlede behoort vir ons ‘n objekles en inspirasie te wees. Die lede van God se kerk moet goeie werke ywerig nastreef, wat hulle van wêreldse eersug skei en in die voetspore van Hom wat rondgegaan het om goed te doen, volg. Met harte vol medelyde en barmhartigheid moet hulle vir hulpbehoewendes werk en ‘n kennis van die liefde van die Heiland aan sondaars bring. Werk van hierdie aard vereis moeisame inspanning, maar dit bring ‘n ryke beloning. Diegene wat met opregtheid van doel daaraan deelneem, sal siele wat vir die Heiland gewen word aanskou, want die invloed wat met die uitvoer van die Goddelike opdrag gepaard gaan, is onweerstaanbaar. DHDA 86.5

Die verantwoordelikheid om uit te gaan en hierdie opdrag uit te voer, rus nie net op die geordende predikant nie. Elkeen wat Christus ontvang het, word geroep om vir die redding van sy medemens te werk. “Die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom!” (Openbaring 22:17). Die opdrag om hierdie uitnodiging te rig, sluit die hele kerk in. Elkeen wat die uitnodiging gehoor het, moet die boodskap van berg en van dal laat weerklink en sê: “Kom!” DHDA 87.1

Dit is ‘n dodelike dwaling om te dink dat die werk om siele te red slegs van die predikante afhang. Die nederige, toegewyde gelowige, op wie die Here van die wingerd ‘n las vir siele gelê het, moet deur die mense op wie die Here groter verantwoordelikhede gelê het, aangemoedig word. Die leiers in die gemeente van God moet besef dat die Verlosser se opdrag aan almal wat in Sy Naam glo gegee is. God sal talle, wat nie deur handoplegging aan die bediening toegewy is nie, Sy wingerd instuur. DHDA 87.2

Honderde, ja, duisende wat die verlossingsboodskap gehoor het, is steeds ledig op die markplein terwyl hulle in een of ander vertakking van diens betrokke kan wees. Aan hulle sê Christus: “Wat staan julle hier die hele dag ledig?” en dan voeg Hy by: “Gaan julle ook in die wingerd.” (Mattheus 20:6,7). Waarom is daar nie veel meer wat op hierdie oproep ag gee nie? Is dit omdat hulle dink hulle word vrygespreek omdat hulle nie in die preekstoel staan nie? Laat hulle besef dat daar buite die preekstoel ‘n groot werk vir duisende toegewyde lede is om te doen. DHDA 87.3

God het reeds lank gewag dat die gees van diens van die hele kerk besit moet neem sodat elkeen volgens sy vermoë vir Hom kan werk. Wanneer die lede van God se kerk hulle aangewese werk in die behoeftige velde, tuis en in die buiteland, ter vervulling van die evangelie- opdrag verrig, sal die hele wêreld spoedig gewaarsku wees en dan sal die Here Jesus met krag en groot heerlikheid na die aarde terugkeer. “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” (Mattheus 24:14). DHDA 88.1