Die Handelinge Van Die Apostels

11/59

Hoofstuk 10—Die Eerste Christen Martelaar*

Stefanus, die leier van die sewe diakens, was ‘n man van diepe vroomheid en groot geloof. Alhoewel hy ‘n gebore Jood was, het hy die Griekse taal gepraat en was vertroud met die gewoontes en maniere van die Grieke. Hy het dus die geleentheid gehad om die evangelie in die sinagoges van die Griekssprekende Jode te verkondig. Hy was baie aktief in die saak van Christus en het sy geloof met vrymoedigheid verkondig. Geleerde rabbi’s en wetgeleerdes het in openbare besprekings met hom betrokke geraak en verwag om ‘n maklike oorwinning te behaal, “...maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie.” Hy het nie net deur die krag van die Heilige Gees gespreek nie, maar dit was duidelik dat hy ‘n student van die profesieë was en geleerd in alle sake van die wet. Met bekwaamheid het hy die waarhede wat hy voorgestaan het verdedig en sy teëstanders volkome verslaan. Aan hom is die belofte vervul: “Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink nie. Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie.” (Lukas 21:14,15). DHDA 76.1

Soos die priesters en owerstes die krag wat met Stefanus se prediking gepaard gegaan het opgemerk het, is hulle met bittere haat vervul. In plaas van toe te gee aan die getuienis wat hy aangebied het, was hulle vasbeslote om sy stem stil te maak deur hom te dood. By verskeie geleenthede het hulle die Romeinse owerheid omgekoop om sonder kommentaar gevalle oor die hoof te sien waar die Jode die wet in eie hande geneem en gevangenes volgens hul eie volksgebruike verhoor, gevonnis en tereggestel het. Die vyande van Stefanus het nie daaraan getwyfel dat hulle weer dieselfde weg kon volg, sonder om hulself in gevaar te stel nie. Hulle was vasbeslote om die gevolge te waag en het derhalwe beslag op hom gelê en hom voor die Sanhedrin gebring om verhoor te word. DHDA 76.2

Geleerde Jode uit die omliggende lande is ingeroep om die gevangene se argumente te weerlê. Saulus van Tarsus was ook teenwoordig en het ‘n leidende rol in die geding teen Stefanus gespeel. Hy het die gewig van welsprekendheid en die logika van die rabbi’s op die saak toegepas om die volk te oortuig dat Stefanus misleidende en gevaarlike leerstellings verkondig; maar in Stefanus het hy iemand ontmoet wat die bedoeling van God ten volle begryp in die verspreiding van die evangelie aan ander nasies. DHDA 77.1

Omdat die priesters en owerstes nie opgewasse was teen die duidelike, kalme wysheid van Stefanus nie, het hulle besluit om van hom ‘n voorbeeld te maak. En terwyl hulle sodoende hul wraaksug en haat sou bevredig, sou hulle ander, uit vrees, verhoed om hierdie geloof te aanvaar. Getuies is gehuur om valse getuienis, dat hulle hom lasterlike woorde teen die wet en teen die tempel hoor spreek het, te lewer. “Ons het hom hoor sê...” het die getuies beweer, “...hierdie Jesus, die Nasarener, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander.” DHDA 77.2

Soos Stefanus van aangesig tot aangesig voor sy regters gestaan het om op die aanklag van godslastering te antwoord, het daar ‘n heilige glans op sy aangesig gerus. “En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was.” Baie wat daardie lig gesien het, het gebewe en hulle gesigte bedek, maar die hardnekkige ongeloof en vooroordeel van die owerstes het nie gewankel nie. DHDA 77.3

Toe Stefanus aangaande die waarheid van die beskuldigings teen hom ondervra is, het hy met ‘n helder, deurdringende stem, wat deur die regsaal weerklink het, met sy verdediging begin. Met woorde wat die vergadering in verrukking gehad het, het hy die geskiedenis van die uitverkore volk van God herhaal. Hy het ‘n grondige kennis van die Joodse bedeling en die geestelike vertolking daarvan, soos dit nou in Christus geopenbaar is, aan die dag gelê. Hy het die woorde van Moses wat van die Messias voorspel het aangehaal: “Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister.” Hy het sy eie lojaliteit aan God en aan die Joodse geloof duidelik gestel, terwyl hy daarop gewys dat die wet waarop die Jode vir hulle verlossing vertrou het, Israel nie van afgodery kon red nie. Hy het Jesus Christus met die ganse Joodse geskiedenis verbind. Hy het na die oprigting van die tempel deur Salomo verwys en na die woorde van beide Salomo en Jesaja: “Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is My troon en die aarde die voetbank van My voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van My rus? Het My hand nie al hierdie dinge gemaak nie?” DHDA 77.4

Toe Stefanus hierdie punt bereik, was daar ‘n beroering onder die volk. Toe hy Christus met die profesieë verbind en op hierdie wyse oor die tempel praat, het die priester, wat voorgegee het dat hy met afgryse vervul was, sy kleed geskeur. Hierdie daad was ‘n teken vir Stefanus dat sy stem spoedig vir ewig gestil sou word. Hy het die weerstand teen sy woorde gewaar en geweet dat hy sy laaste getuienis lewer. Hoewel hy in die middel van sy preek was, het hy dit plotseling afgesluit. DHDA 78.1

Skielik het hy die verloop van die geskiedenis wat hy gevolg het onderbreek en hom tot sy verwoede regters met die uitroep gewend: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het; julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie!” DHDA 78.2

Hierop was die priesters en owerstes buite hulself van woede. Hulle het meer soos roofdiere as mense opgetree en het met ‘n gekners van tande op Stefanus afgestorm. Die gevangene het sy lot op die gesigte om hom gelees, maar hy het nie gewankel nie. Vir hom het die vrees vir die dood gewyk. Die verwoede priesters en opgewonde gepeupel het vir hom geen verskrikking ingehou nie. Die toneel voor hom het uit sy sig verdwyn. Vir Hom het die hemelpoorte oopgegaan en terwyl hy daar inkyk, sien hy die heerlikheid van die howe van God en Christus, asof Hy pas van Sy troon opgestaan het om Sy dienskneg te onderskraag. Triomfantlik het Stefanus uitgeroep: “Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.” DHDA 79.1

Sy beskrywing van die heerlike toneel waarop sy oë gerus het, was meer as wat sy vervolgers kon verduur. Hulle het hul ore toegestop sodat hulle nie sy woorde kon hoor nie en met harde uitroepe eendragtig op hom afgestorm en “...hom buitekant die stad uitgewerp ... En hulle het Stefanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees! En hy het op sy knieë neergeval en met ‘n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.” DHDA 79.2

Geen wettige vonnis is oor Stefanus uitgespreek nie, maar die Romeinse owerheid is met groot somme geld omgekoop om nie die saak te ondersoek nie. DHDA 79.3

Die marteldood van Stefanus het ‘n diep indruk op almal wat dit aanskou het gemaak. Die herinnering aan die seël van God op sy gesig, sy woorde wat die siele van sy toehoorders aangeraak het, het in die geheue van die toeskouers gebly en getuig van die waarheid van wat hy verkondig het. Sy dood was ‘n ernstige beproewing vir die kerk, maar dit het die bekering van Saulus tot gevolg gehad, wat die geloof en standvastigheid van die martelaar en die heerlikheid wat op sy aangesig gerus het, nie uit sy geheue kon verban nie. DHDA 79.4

Met die verhoor en dood van Stefanus was dit asof Saulus met ‘n waansinnige ywer vervul was. Hy het hom agterna vererg oor sy eie heimlike oortuiging dat Stefanus deur God vereer is op dieselfde tyd wat hy deur mense onteer is. Saulus het voortgegaan om die kerk van God te vervolg. Hy het jag op die lede jag gemaak, hulle in hul huise gegryp en aan die priesters en owerstes vir gevangenskap en die dood oorgelewer. Die vurige ywer waarmee hy sy werk van vervolging voortgesit het, het verskrikking onder die Christene in Jerusalem veroorsaak. Die Romeinse owerhede het geen besondere poging aangewend om die wrede werk te keer nie en het die Jode heimlik gehelp, met die doel om hulle te paai en hulle guns te wen. DHDA 80.1

Na die dood van Stefanus is Saulus, uit erkentlikheid vir die rol wat hy tydens daardie geleentheid gespeel het, tot lid van die Sanhedrin gekies. ‘n Tyd lank was hy ‘n magtige werktuig in die hande van Satan in die voortsetting van sy opstand teen die Seun van God. Maar binnekort sou hierdie meedoënlose vervolger sy kragte inspan tot uitbreiding van die kerk wat hy tans besig was om af te breek. Een wat magtiger is as die Satan het Saulus uitgekies om die gemartelde Stefanus se plek in te neem en Sy Naam te verkondig en daarvoor te ly en om die boodskap van verlossing deur Sy bloed wyd en syd te versprei. DHDA 80.2