Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 1—God se Doel met Sy Kerk
Die kerk is die aangestelde werktuig van God vir die verlossing van die mensdom. Dit is op diens ingestel en sy sending is om die evangelie aan die wêreld oor te dra. Van die begin af was dit God se plan dat Sy volheid en Sy genoegsaamheid deur die kerk aan die wêreld weerspieël moet word. Die lede van die kerk, diegene wat Hy uit die duisternis tot Sy wonderbare lig geroep het, moet Sy heerlikheid verkondig. Die kerk is die bewaarplek van die rykdom van die genade van Christus; en deur die kerk sal die laaste en volle bewyse van die liefde van God uiteindelik aan selfs “...die owerhede en magte in die hemele...” (Efesiërs 3:10) geopenbaar word. DHDA 1.1
Veelvuldig en wonderlik is die beloftes aangaande die kerk wat in die Skrifte opgeteken staan. “My huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir al die volke.” (Jesaja 56:7). “Ek sal hulle en die plekke rondom my heuwel tot ‘n seën maak en die stortreën laat val op sy tyd; stortreëns van seën sal dit wees.” “En Ek sal vir hulle plante van naam verwek, sodat hulle nie meer deur hongersnood in die land weggeruk sal word nie en die smaad van die nasies nie meer sal dra nie. Maar hulle sal weet dat Ek, die Here hulle God, met hulle is en dat hulle, die huis van Israel, my volk is, spreek die Here HERE. En julle is my skape, die skape van my weide; julle is mense, Ek is julle God, spreek die Here HERE.” (Esegiël 34:26, 29-31). DHDA 1.2
“Julle is my getuies, spreek die Here en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is-voor My is geen God geformeer nie en na My sal daar geeneen wees nie. Ek, Ek is die Here en daar is geen Heiland buiten My nie. Ek het verkondig en verlos en dit laat hoor en daar was geen ander god onder julle nie; en julle is my getuies, spreek die Here en Ek is God ... Ek, die Here, het U geroep in geregtigheid en Ek vat U hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.” (Jesaja 43:10-12;42:6). DHDA 1.3
“In die tyd van die welbehae het Ek U verhoor en in die dag van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe; om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! By die paaie sal hulle wei en op al die kaal heuwels sal hulle weiveld wees. Hulle sal geen honger en geen dors hê nie; en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water. En Ek sal al my berge tot ‘n weg maak en my grootpaaie sal opgevul wees... ” DHDA 2.1
Jubel, o hemele en juig, aarde; en, berge, breek uit in gejubel! Want die Here het Sy volk getroos en ontferm Hom oor Sy ellendiges. Maar Sion sê: Die Here het my verlaat en die Here het my vergeet! Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.” (Jesaja 49:8-16). DHDA 2.2
Die kerk is God se vesting, Sy vrystad, wat Hy in ‘n opstandige wêreld behou. Elke verraad van die gemeente is troubreuk teenoor Hom wat die mensdom met die bloed van Sy eniggebore Seun gekoop het. Van die begin af was getroue siele die kerk op aarde. In elke eeu het die Here Sy wagters gehad wat getroue getuienis aan hulle geslag gelewer het. Hierdie wagters het hulle boodskap van waarskuwing gegee; en wanneer hulle geroep was om hul wapenrusting neer te lê, het ander die werk opgeneem. God het hierdie getuies in ‘'n verbondsverhouding met Homself verbind en het sodoende die gemeente op aarde met die gemeente in die hemel verenig. Hy het Sy engele uitgestuur om Sy gemeente te dien en die poorte van die hel was nie in staat om die oorhand oor Sy volk te kry nie. DHDA 2.3
Gedurende eeue van vervolging, stryd en duisternis het God Sy kerk bygestaan. Geen wolk het dit oorval waarop Hy nie voorbereid was nie; geen enkele opponerende mag het opgestaan om Sy werk te belemmer, wat Hy nie voorsien het nie. Alles het gebeur soos Hy voorspel het. Hy het Sy gemeente nie in die steek gelaat nie, maar het in profetiese verklarings beskryf wat sou gebeur; en wat Sy Heilige Gees Sy profete beweeg het om te voorspel, is bewaarheid. Al Sy voornemens sal uitgevoer word. Sy wet is met Sy troon verbind en geen bose mag kan dit tot niet maak nie. Die waarheid word deur God ingegee en beskerm; en dit sal oor alle teëstand seëvier. DHDA 3.1
Tydens eeue van geestelike duisternis was die kerk van God soos ‘n stad wat op ‘n heuwel gebou is. Eeu na eeu, van geslag tot geslag, is die suiwere leer van die hemel binne sy grense ontvou. Swak en gebrekkig soos dit mag wees, is dit nogtans die een voorwerp waaraan God, in ‘n besondere sin, Sy hoogste aandag skenk. Dit is die skouburg van Sy genade waarin dit Hom behaag om Sy mag om harte te verander, te openbaar. DHDA 3.2
“Waarmee...” vra Christus, “...moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel?” (Markus 4:30). Hy kon die koninkryke van die wêreld nie as ‘n vergelyking gebruik nie. In die samelewing kon Hy niks vind waarmee Hy dit kon vergelyk nie. Aardse koninkryke heers deur die oorheersing van fisieke krag; maar uit die koninkryk van Christus word elke vleeslike wapen, elke dwangmiddel, verban. Hierdie koninkryk bestaan om die mensdom op te hef en te veredel. Die kerk van God is die hof van die heilige lewe, gevul met ‘n verskeidenheid van gawes en met die Heilige Gees bedeel. Die lede moet hulle geluk vind in die geluk van diegene wat hulle tot hulp kan wees en gelukkig maak. DHDA 3.3
Wonderlik is die werk wat die Here van voorneme is om deur Sy kerk te verrig sodat Sy Naam verheerlik kan word. Hierdie werk word in Esegiël se visioen van die genesende rivier uitgebeeld: “Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word. En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe ... En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan-uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.” (Esegiël 47:8-12). DHDA 4.1
God het van die begin af deur Sy volk gewerk om die aarde tot seën te wees. God het Josef ‘n fontein van die lewe vir die eertydse Egiptiese nasie gemaak. Deur Josef se onkreukbaarheid is daardie hele volk gespaar. Deur Daniël het God die lewens van al die wyse manne van Babel gered. En hierdie bevrydings is aanskouingslesse; hulle is ‘n uitbeelding van die geestelike seëninge wat aan die wêreld, deur ‘n verbinding met die God wat Josef en Daniël aanbid het, gebied word. Elkeen in wie se hart Christus woon, elkeen wat Sy liefde aan die wêreld uitdra, werk saam met God tot seën van die mensdom. Namate hy genade van die Heiland ontvang om aan andere uit te deel, vloei daar uit sy hele wese ‘n stroom van geestelike lewe. DHDA 4.2
God het Israel uitgekies om Sy karakter aan die mensdom te openbaar. Hy het verlang dat hulle in die wêreld bronne van heil moes wees. Aan hulle is die hemelse uitsprake toevertrou-die openbaring van die wil van God. In die eerste dae van Israel het die nasies hulle kennis van God weens korrupte praktyke verloor. Hulle het Hom eenmaal geken, maar hulle het “...Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge en hulle onverstandige hart is verduister.” (Romeine 1:21). Nogtans het God hulle in Sy genade nie tot niet gemaak nie. Hy het Hom ten doel gestel om hulle deur Sy uitverkore volk die geleentheid te bied om Hom opnuut te leer ken. Deur die lesse van die offerdiens moes Christus voor al die volke verhoog word; en almal wat na Hom sou opsien, sou leef. Christus was die grondslag van die Joodse godsdiens. Die hele stelsel van tipes en simbole was ‘n saamgestelde profesie van die evangelie, ‘n voorlegging waarin die beloftes van die verlossing vervat is. DHDA 4.3
Maar die volk van Israel het hulle verhewe voorregte as verteenwoordigers van God uit die oog verloor. Hulle het God vergeet en versuim om hulle heilige opdrag te vervul. Die seëninge wat hulle ontvang het, het geen seën aan die wêreld gebring nie. Hulle het al hulle voorregte tot hul eie selfverheerliking aangewend. Hulle het hulle van die wêreld afgesluit om die versoekings te ontkom. Die beperkinge wat God op die omgang met afgodedienaars gelê het om te voorkom dat hulle aan heidense gebruike deelneem, het hulle aangewend om ‘n skeidsmuur tussen hulle en alle ander nasies op te rig. Hulle het God van die diens wat Hy van hulle verlang het beroof en hulle het hulle medemens van godsdienstige leiding en ‘n heilige voorbeeld beroof. DHDA 5.1
Aangaande Israel het God verklaar: “Nogtans het Ek jou geplant as ‘n edele wingerdstok, as heeltemal egte saad; maar hoe is jy vir My verander in wilde lote van ‘n vreemde wingerdstok!” (Jeremia 2:21). “Israel was ‘n weelderig uitbottende wynstok wat sy vrug voortgebring het; hoe meer vrug hy gedra het, des te meer altare het hy gebou; hoe beter dit met sy land gesteld was, des te beter het hy die klippilare gemaak.” (Hosea 10:1). “Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en My wingerd. Wat is daar meer te doen aan My wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra en dit het wilde druiwe voortgebring?” DHDA 5.2
“Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit ‘n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie. Want die wingerd van die Here van die leërskare is die huis van Israel en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!” (Jesaja 5:3-7). “Julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid.” (Esegiël 34:4). DHDA 6.1
Die Joodse leiers het hulself te wys geag om onderrig te ontvang, te regverdig om verlossing te benodig, te hooggeëerd om behoefte aan die eer wat van Christus kom te hê. Die Verlosser het van hulle weggedraai om die voorregte wat hulle misbruik en die werk wat hulle geminag het, aan ander toe te vertrou. Die heerlikheid van God moet geopenbaar en Sy woord bevestig word. Die koninkryk van Christus moet in die wêreld opgerig word. DHDA 6.2
Die verlossing van God moet in die stede van die woestyn verkondig word; en die dissipels is geroep om die werk te doen wat die Joodse leiers nagelaat het om te doen. DHDA 6.3