Die Handelinge Van Die Apostels

10/59

Hoofstuk 9—Die Sewe Diakens*

“En in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar ‘n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is.” DHDA 67.1

Die eerste kerk het uit allerlei klasse van mense van verskeie nasionaliteite bestaan. Tydens die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag “...het daar ... in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is.” (Handelinge 2:5). Onder die aanhangers van die Hebreeuse geloof wat in Jerusalem vergader was, was sommige wat as Griekssprekende Jode bekend was. Tussen hulle en die Jode van Palestina het daar lank reeds wantroue en vyandskap bestaan. DHDA 67.2

Die harte van diegene wat onder die bearbeiding van die apostels tot inkeer gekom het, is deur middel van Christelike liefde versag en verenig. Ondanks hulle voormalige vooroordeel was almal eensgesind teenoor mekaar. Die Satan het geweet dat hy, vir solank daardie eensgesindheid bestaan, magteloos sou wees om die vooruitgang van die evangelie te stuit; en hy het gepoog om voordeel uit hul vroeëre denkwyses te put in die hoop dat hy daardeur in staat sou wees om elemente van onenigheid in die kerk in te bring. DHDA 67.3

So het dit gebeur dat, namate die getal dissipels toegeneem het, die vyand daarin geslaag het om agterdog onder sommiges, wat voorheen daaraan gewoond was om hul geloofsgenote met agterdog te bejeën en om hulle geestelike leiers te kritiseer, te wek en so “...het daar ‘n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs.” Die oorsaak van die klagte was ‘n beweerde verwaarlosing van die Griekssprekende weduwees in die daaglikse verspreiding van hulp. Enige ongelykheid sou teenstrydig met die gees van die evangelie gewees het, maar tog het die Satan daarin geslaag om agterdog te wek. Daar moes onmiddellik opgetree word om enige geleentheid vir ontevredenheid uit die weg te ruim sodat die vyand nie in sy poging om verdeeldheid onder die gelowiges te saai, sou slaag nie. DHDA 67.4

Die dissipels van Jesus het ‘n krisis in hulle ervaring bereik. Onder die wyse leiding van die apostels wat eensgesind in die krag van die Heilige Gees gearbei het, het die werk wat aan die boodskappers van die evangelie toevertrou was, spoedig uitgebrei. Die kerk het voortdurend gegroei en die aanwas in die getal lidmate het ‘n toenemende groter las op die leiers gelê. Geen enkele persoon, of selfs groep van persone kon volhou om hierdie laste alleen te dra sonder om die toekomstige voorspoed van die kerk in gevaar te stel nie. Dit was nodig vir ‘n verdere verspreiding van die verantwoordelikhede wat in die vroeë dae van die kerk so getrou deur ‘n paar manne gedra is. Die apostels moes nou ‘n belangrike stap neem om die orde van die evangeliewerk te vervolmaak deur die laste wat tot dusver deur hulleself gedra is, op ander te lê. DHDA 68.1

Die apostels het ‘n vergadering van die gelowiges byeengeroep en is deur die Heilige Gees gelei om ‘n plan vir ‘n beter organisering van al die werkkragte van die kerk uiteen te sit. Die tyd het aangebreek, het die apostels verklaar, dat die geestelike leiers wat toesig oor die kerk moes hou, van die taak om na die armes om te sien en ander soortgelyke laste onthef moes word, sodat hulle vry kon wees om die evangelie ongehinderd te verkondig. Hulle het gesê: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel; maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.” Hierdie raad is gevolg en deur gebed en die oplegging van hande is sewe manne gekies en plegtig afgesonder vir hulle pligte as diakens. DHDA 68.2

Die aanstelling van die sewe om oor spesifieke lyne van werk toesig te hou, het ‘n groot seën vir die kerk blyk te wees. Hierdie ampsdraers het met omsigtigheid aandag aan persoonlike behoeftes geskenk en ook die algemene geldsake van die gemeente behartig en deur hulle versigtige bestuur en godvrugtige voorbeeld, was hulle van besondere hulp vir hul mede-ampsdraers om die verskillende belange van die kerk in ‘n geheel saam te bind. DHDA 69.1

Dat hierdie stap in ooreenstemming met die plan van God was, het geblyk uit die onmiddellike gevolge ten goede wat waargeneem is. “Die woord van God het toegeneem en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder en ‘n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.” Hierdie insameling van siele was tot ‘n groot mate toe te skryf aan die groter vryheid wat aan die apostels gegee is en aan die ywer wat die sewe diakens aan die dag gelê het. Die feit dat hierdie broeders georden was om veral na die behoeftes van die armes om te sien, het hulle nie verhoed om in die geloof te onderrig nie. Inteendeel, hulle was ten volle bekwaam om ander in die waarheid te onderrig en het die werk met groot ywer en welslae onderneem. DHDA 69.2

Aan die vroeë kerk is ‘n steeds groeiende taak toevertrou, naamlik om sentrums van lig en seën te vestig, oral waar opregte siele gewillig was om hulle aan die diens van Christus te wy. Die verkondiging van die evangelie moes van wêreldwye omvang wees en die boodskappers van die kruis kon nie verwag om hulle belangrike sending te vervul tensy hulle met die bande van Christelike eenheid verenig sou bly en so aan die wêreld toon dat hulle een met God in Christus was nie. Het hulle Goddelike Leier dan nie tot die Vader gebid: “Bewaar in U Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons... ” nie? En het Hy nie van Sy dissipels gesê: “Die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie”? Het Hy die Vader nie gesmeek dat hulle “...volkome een...” moes wees “...sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het...” nie? (Johannes 17:11,14,23,21). Hulle geestelike lewe en krag was afhanklik van ‘n noue verbinding met die Een van wie hulle die opdrag ontvang het om die evangelie te verkondig. DHDA 69.3

Slegs in verbondenheid met Christus kon die dissipels op die begeleidende krag van die Heilige Gees en die medewerking van die hemelse engele hoop. Met behulp van hierdie Goddelike hulpmiddels sou hulle aan die wêreld ‘n verenigde front kon toon en die oorwinning in die stryd wat hulle noodgedwonge voortdurend teen die magte van die duisternis moes voer, behaal. Solank hulle sou voortgaan om saam te werk, sou hemelse boodskappers voor hulle uitgaan om die weg voor te berei; harte sou ontvanklik vir die waarheid wees en talle sou vir Christus gewin word. Solank hulle eensgesind sou bly, sou die kerk uitgaan ” mooi soos die maan, rein soos die son, verskriklik soos slagordes met vaandels” (Hooglied 6:10). Niks kon die vooruitgang daarvan weerstaan nie. Die kerk sou van oorwinning tot oorwinning vooruitgaan en sy Goddelike roeping, naamlik die verkondiging van die evangelie aan die wêreld, glorieryk vervul. DHDA 70.1

Die organisasie van die gemeente in Jerusalem moes as voorbeeld vir die organisasie van gemeentes in elke ander plek dien waar die boodskappers van die waarheid bekeerlinge tot die evangelie sou maak. Diegene aan wie die algemene toesig van die gemeente opgedra is, moes nie oor die erfdeel van die Here heers nie, maar hulle moes, soos verstandige herders “...oor die kudde van God...” toesig hou “...as voorbeelde vir die kudde.” (1 Petrus 5:2,3); en die diakens moes manne “...van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid...” wees. Hierdie manne moes verenig aan die kant van die reg stelling neem en dit met vasberadenheid en beslistheid handhaaf. So sou hulle ‘n saambindende invloed op die kudde hê. DHDA 70.2

Later in die geskiedenis van die vroeë kerk, toe ‘n groot aantal gelowiges in verskeie dele van die wêreld in gemeentes verenig was, is die organisasie van die kerk verder vervolmaak, sodat die orde en eensgesinde samewerking gehandhaaf kon word. Elke lid is gemaan om sy deel goed te doen. Elkeen moes die talente wat aan hom toevertrou was, met wysheid gebruik. Sommige is deur die Heilige Gees met besondere gawes bedeel-“...in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale... ” (1 Korinthiërs 12:28). Maar al hierdie klasse werkers moes eensgesind saamwerk. DHDA 71.1

“Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van werkinge en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil. Want net soos die liggaam een is en baie lede het en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.” (1 Korinthiërs 12:4¬12). DHDA 71.2

Dit is ernstige verantwoordelikhede wat op diegene rus wat geroep is om as leiers in die kerk van God op aarde op te tree. In die dae van die teokrasie, toe Moses probeer het om alleen die laste te dra wat so swaar was dat hy daaronder sou beswyk het, het Jetro hom aangeraai om ’n wyse verdeling van die verantwoordelikhede te beplan. Jetro se raad was: “Wat jou betref, wees jy die verteenwoordiger van die volk by God en bring jy die sake voor God en onderrig hulle in die insettinge en die wette en maak hulle die weg bekend waarop hulle moet gaan en die werk wat hulle moet doen.” Verder het Jetro aan die hand gedoen dat hy “...owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien...” moes aanstel. Hulle moes “...bekwame manne...” wees “...wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat.” Hulle moes “...voortdurend oor die volk die regspraak uitoefen...” sodat Moses vrygestel kon word van die vermoeiende verantwoordelikheid om voortdurend aandag aan geringer sake te skenk, wat deur toegewyde helpers met wysheid besleg kon word. DHDA 71.3

Die tyd en krag van diegene wat in die voorsienigheid van God in verantwoordelike posisies van leierskap in die kerk geplaas is, behoort aan belangriker sake wat besondere wysheid en ruimhartigheid vereis, bestee te word. God het nie bedoel dat daar op sodanige persone ‘n beroep gedoen moes word om minderwaardige sake te besleg, wat deur ander wat goed gekwalifiseer daarvoor is, hanteer kan word nie. Jetro het aan Moses voorgestel: “Al die groot sake moet hulle na jou bring, maar in al die klein sake moet hulle self regspreek. Maak dit so ligter vir jou en laat hulle saam met jou dra. As jy dit doen en God jou dit beveel, kan jy uithou en sal ook al hierdie mense tevrede na hulle woonplek gaan.” DHDA 72.1

Ooreenkomstig hierdie plan het Moses “...bekwame manne uit die hele Israel gekies en hulle as hoofde oor die volk aangestel-owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien. En hulle het voortdurend oor die volk regspraak uitgeoefen: die moeilike sake het hulle na Moses gebring, maar in al die klein sake self reggespreek.” (Exodus 18:19-26). DHDA 72.2

Toe Moses later sewentig van die oudstes kies om saam met hom die verantwoordelikheid van die leierskap te dra, het hy daarvoor gesorg dat die manne wat hy as helpers gekies het, waardige manne met gesonde oordeel en ondervinding was. Toe hy daardie oudstes tydens hulle ampsaanvaarding toegespreek het, het hy die hoedanighede beskryf wat ‘n man moet besit om ‘n wyse bestuurder in die gemeente te wees. Moses het gesê: “Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ‘n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God.” (Deuteronomium 1:16,17). DHDA 72.3

Teen die einde van sy bewind het koning Dawid ‘n plegtige opdrag aan diegene wat die las van die werk van God in sy tyd gedra het gegee. Hy het “...al die owerstes van Israel, die stamowerstes en die owerstes van die afdelings wat in die koning se diens was en die owerstes oor duisend en die owerstes oor honderd en die owerstes oor al die besittings en vee van die koning en van sy seuns, saam met die hofdienaars en die helde en elke dapper man in Jerusalem bymekaar laat kom.” Toe het die bejaarde koning hulle plegtig beveel “...voor die oë van die hele Israel, die vergadering van die Here en voor die ore van onse God: Onderhou en soek al die gebooie van die Here julle God.” (1 Kronieke 28:1,8). DHDA 73.1

Aan Salomo wat geroep was om ‘n pos van verantwoordelike leierskap in Israel te vul, het Dawid ‘n spesiale opdrag gegee: “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ‘n volkome hart en met ‘n gewillige siel, want die Here deursoek al die harte en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot. Kyk nou, die Here het jou verkies ... wees sterk.” (1 Kronieke 28:9,10). DHDA 73.2

Dieselfde beginsels van vroomheid en geregtigheid wat die leiers onder God se volk in die dae van Moses en van Dawid moes volg, moes ook deur diegene wat oor die pas- gestigte kerk van God in die evangeliebedeling moes toesig hou, gevolg word. In die werk om die sake van al die kerke in orde te bring en geskikte manne in te seën om as ampsdraers te dien, het die apostels hulle by die hoë maatstaf van leierskap gehou wat in die Geskrifte van die Ou Testament uiteengesit is. Hulle het volgehou dat elkeen wat die verantwoordelikheid van leierskap in die gemeente aanvaar, “...as ‘n rentmeester van God onberispelik...” moet wees, “...nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie; maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers; een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.” (Titus 1:7-9). DHDA 73.3

Die orde wat in die vroeë Christelike kerk gehandhaaf is, het dit vir hulle moontlik gemaak om soos ‘n goed gedissiplineerde leër, wat met die wapenrusting van God beklee is, soos een man voort te beweeg. Hoewel die groep gelowiges oor ‘n groot gebied verstrooi was, was hulle almal lede van een liggaam; almal het eendragtig en in harmonie met mekaar beweeg. Wanneer daar in ‘n plaaslike gemeente tweedrag ontstaan het, soos later wel in Antiochië en elders gebeur het en die gelowiges nie in staat was om eenstemmigheid onder mekaar te bereik nie, is sulke sake nie toegelaat om verdeeldheid in die gemeente te veroorsaak nie. Dit is na ‘n algemene raadsitting van al die gelowiges verwys, wat uit aangestelde afgevaardigdes uit die verskeie gemeentes, met die apostels en ouderlinge as verantwoordelike leiers, bestaan het. Op hierdie wyse is die pogings van die Satan om die kerk op geïsoleerde plekke aan te val, deur die gesamentlike optrede van almal die hoof gebied en die planne van die vyand om te ontwrig en te vernietig, is gedwarsboom. DHDA 74.1

“God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.” (1 Korinthiërs 14:33). Hy vereis dat orde en stelsel vandag, nie minder as in die dae van die ou tyd nie, in die hantering van kerklike sake gehandhaaf moet word. Hy verlang dat Sy werk met deeglikheid en presisie voortgesit moet word sodat Hy die seël van Sy goedkeuring daarop kan druk. Christen moet met Christen verenig wees, gemeente met gemeente, die menslike medewerker in samewerking met Goddelikheid, die menslike werktuig onderdanig aan die Heilige Gees en almal verenig om aan die wêreld die blye boodskap van die genade van God te bring. DHDA 74.2