Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 8—Voor die Sanhedrin*
Dit was die kruis, die instrument van smaad en marteling, wat hoop en redding na die wêreld gebring het. Die dissipels was eenvoudige manne, sonder rykdom en met geen wapen behalwe die Woord van God nie; nogtans het hulle in die krag van Christus uitgegaan om die wonderlike verhaal van die krip en die kruis te vertel en om alle teëstand te oorwin. Sonder aardse eer of erkenning, was hulle geloofshelde. Oor hulle lippe het woorde van Goddelike welsprekendheid wat die wêreld geskud het gekom. DHDA 59.1
In Jerusalem, waar die vooroordeel die sterkste geheers het en waar die grootste wanbegrippe oor Hom, wat as ‘n misdadiger gekruisig is geheers het, het die dissipels die woorde van lewe steeds met vrymoedigheid gespreek. Hulle het aan die Jode die werk en sending van Christus, Sy kruisiging, opstanding en Hemelvaart verkondig. Met verbasing het priesters en owerstes die duidelike, vrymoedige getuienis van die apostels aangehoor. Die krag van die verrese Heiland het inderdaad oor die dissipels gekom en hulle werk is vergesel van wonderwerke wat die aantal gelowiges daagliks laat toeneem het. Langs die strate waar die dissipels sou verbygaan, het mense hulle siekes “...op bedde en draagbare gelê ... met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee, op iemand van hulle sou val.” Ook diegene wat deur onrein geeste gepla is, is daarheen gebring. Die skare het rondom hulle saamgedrom en diegene wat genees is, het God geloof en die Naam van die Verlosser verheerlik. DHDA 59.2
Die priesters en owerstes het gesien dat Christus bo 78 hulle verheerlik word. Toe die Sadduseërs, wat nie in ‘n opstanding geglo het nie, die apostels hoor verkondig dat Christus uit die dood opgestaan het, was hulle woedend, want hulle het besef dat indien die apostels toegelaat word om ‘n opgestane Christus te verkondig en in Sy Naam wonderwerke te verrig, almal die leer dat daar geen opstanding is nie sou verwerp en dat die sekte van die Sadduseërs binnekort tot niet sou gaan. Die Fariseërs was kwaad toe hulle besef dat die dissipels se leer geneig het om die Joodse seremonies te ondermyn en die offerstelsel nutteloos te maak. DHDA 59.3
Tot dusver was alle pogings om hierdie nuwe leer te onderdruk nutteloos; maar nou het sowel Fariseërs as Sadduseërs hulle voorgeneem om die werk van die dissipels te beëindig, want dit het bewys dat hulle aan die dood van Jesus skuldig was. Verontwaardig het die priesters Petrus en Johannes met geweld gevange geneem en in die gemeenskaplike gevangenis gesit. DHDA 60.1
Die Joodse leiers het grootliks nagelaat om God se doel vir Sy uitverkore volk te vervul. Diegene aan wie die Here Sy waarheid toevertrou het, was ontrou aan hulle pand en God het ander gekies om Sy werk te doen. In hulle blindheid het hierdie leiers nou vrye teuels aan hulle sogenaamde regmatige verontwaardiging teen diegene wat hulle geliefkoosde leerstellings verontagsaam het, gegee. Hulle wou nie eers aan die moontlikheid toegee dat hulle die Woord moontlik nie reg verstaan het of dat hulle die Skrifte verkeerd vertolk of toegepas het nie. Hulle het opgetree soos mense wat van hulle sinne beroof was. Watter reg, het hulle gevra, het hierdie leraars, sommige van hulle blote vissermanne, om idees wat teenstrydig is met die leer wat ons die volk geleer het, aan te bied? In hulle vasberadenheid om die verkondiging van daardie leer te onderdruk, het hulle diegene wat dit aangebied het, in die gevangenis gesit. DHDA 60.2
Die dissipels was nie deur hierdie behandeling geïntimideer of afgeskrik nie. Die Heilige Gees het hulle aan die woorde wat Christus gespreek het herinner: “‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie ... Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys het ... Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het.” (Johannes 15:20,21;16:2,4). DHDA 60.3
Die God van die hemel, die magtige Heerser van die heelal, het die gevangeneming van die dissipels in Sy eie hande geneem, want mense het teen Sy werk gestry. In die nag het die engel van die Here die tronkdeure geopen en aan die dissipels gesê: “Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.” Hierdie bevel was presies die teenoorgestelde van die Joodse leiers se bevel; maar die apostels het nie gesê: Ons kan dit nie doen voordat ons die owerhede geraadpleeg en by hulle verlof gekry het nie. Nee, God het gesê: “Gaan...” en hulle het gehoorsaam. “Hulle het ... vroeg in die more in die tempel gegaan en begin leer.” DHDA 61.1
Toe Petrus en Johannes hulle opwagting onder die gelowiges maak en oorvertel hoe die engel hulle direk deur die groep soldate wat die gevangenis bewaak het gelei het en hulle beveel het om met die werk wat onderbreek was voort te gaan, was die broeders verbaas en vol vreugde. DHDA 61.2
In die tussentyd het die hoëpriester en die wat saam met hom was, “...gekom en die Raad en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaargeroep.” Die priesters en owerstes het ooreengekom om die dissipels aan opstand skuldig te bevind en om hulle daarvan te beskuldig dat hulle Ananias en Saffira vermoor het en dat hulle saamgesweer het om die priesters van hulle gesag te beroof. Hulle het gehoop om die gepeupel tot so ‘n mate op te werk, dat hulle sake in hul eie hande sou neem en die dissipels sou behandel soos hulle Jesus behandel het. Hulle was bewus daarvan dat baie van diegene wat nie Jesus se leer aanvaar het nie, moeg was vir die willekeurige heerskappy van die Joodse owerhede en graag ‘n verandering wou hê. Die priesters het gevrees dat indien hierdie ontevredenes die waarhede wat die apostels verkondig het sou aanneem en Jesus as die Messias sou erken, die woede van die ganse volk teen die godsdienstige leiers sou draai en dat hulle dan verantwoording vir die moord op Christus sou moes doen. Hulle het besluit om streng stappe te neem om dit te verhoed. DHDA 61.3
Groot was hulle verbasing toe hulle die gevangenes laat haal, net om te verneem dat die deur van die gevangenis stewig gegrendel was en dat die wagte daarby gestaan het, maar dat die gevangenes nêrens te vinde was nie. DHDA 62.1
Spoedig het die verstommende berig gekom: “Kyk, die manne wat julle in die gevangenis gesit het, staan in die tempel en leer die volk. Daarop gaan die hoofman met die dienaars en bring hulle, maar nie met geweld nie, uit vrees vir die volk dat hulle gestenig sou word.” DHDA 62.2
Hoewel die apostels deur ‘n wonderwerk uit die gevangenis verlos is, is hulle nie die geregtelike verhoor en straf gespaar nie. Toe Christus by hulle was, het Hy gesê: “Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke.” (Markus 13:9). Deur ‘n engel te stuur om hulle te verlos, het God hulle ‘n teken van Sy liefde en die versekering van Sy teenwoordigheid gegee. Nou was dit hulle deel om te ly namens die Een wie se evangelie hulle verkondig het. DHDA 62.3
Daar is in die geskiedenis van die profete en apostels talle indrukwekkende voorbeelde van trou aan God. Christus se getuies het gevangenskap, marteling en die dood self verduur eerder as om God se gebooie te oortree. Die verhaal van Petrus en Johannes is net so heldhaftig soos enige ander in die evangeliebedeling. Toe hulle die tweede keer voor die manne staan wat daarop uit was om hulle om die lewe te bring, kon daar in hulle woorde of houding geen vrees of aarseling opgemerk word nie. En toe die hoëpriester sê: “Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring,” het Petrus geantwoord: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Dit was ‘n engel uit die hemel wat hulle uit die gevangenis verlos en hulle beveel het om in die tempel te leer. Deur sy opdrag te gehoorsaam, het hulle die Goddelike bevel uitgevoer en hulle moes ten alle koste voortgaan om dit te doen. DHDA 62.4
Toe kom die Gees van Ingewing oor die dissipels; die beskuldigdes het die aanklaers geword en die lede van die raad van die moord op Christus beskuldig. Petrus het verklaar: “Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan ‘n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser deur Sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk. En ons is Sy getuies van hierdie dinge en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.” DHDA 63.1
Toe die Jode die woorde hoor, was hulle so woedend dat hulle besluit het om die wet, sonder verdere verhoor en sonder verlof van die Romeinse owerheid, in hul eie hande te neem en die gevangenes om die lewe te bring. Hulle, wat reeds aan die bloed van Christus skuldig was, was nou gretig om hulle hande ook met die bloed van Sy dissipels te bevlek. DHDA 63.2
Daar was egter een man in die raad wat die stem van God in die dissipels se woorde gehoor het. Dit was Gamaliël, ‘n Fariseër van onbesproke karakter en boonop ‘n hooggeleerde man in ‘n hoë pos. Sy helder intellek het besef dat die gewelddadigheid wat die priesters beplan het tot verskriklike gevolge sou lei. Voordat hy die aanwesiges toegespreek het, het hy versoek dat die gevangenes eers verwyder moes word. Hy was bekend met die persone met wie hy te doen gehad het; hy het geweet dat die moordenaars van Christus vir niks sou stuit om hulle plan uit te voer nie. DHDA 63.3
Toe spreek hy hulle baie vasberade en baie kalm aan: “Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne; want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het ‘n aantal mense-omtrent vierhonderd-aangesluit. Hy is gedood en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword. En na hom het Judas, die Galileër, opgestaan, in die dae van die inskrywing en ‘n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom en almal wat na hom geluister het, is verstrooi. En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie-dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.” DHDA 64.1
Die priesters het die redelikheid van hierdie sienswyse ingesien en was verplig om met Gamaliël saam te stem. Maar hulle vooroordeel en haat kon skaars in bedwang gehou word. Nadat hulle die dissipels gegesel en hulle weer beveel het om teen gevaar van hulle lewens nie meer in die Naam van Jesus te preek nie, het hulle hulle baie teësinnig vrygelaat. “Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir Sy Naam oneer te ly. En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.” DHDA 64.2
Kort voordat Hy gekruisig is, het Christus aan Sy dissipels ‘n nalatenskap van vrede bemaak. Hy het gesê: “Vrede laat Ek vir julle na, My vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” (Johannes 14:27). Hierdie vrede is nie die vrede wat deur gelykvormigheid met die wêreld kom nie. Christus het nooit vrede verkry deur ‘n kompromie met die bose aan te gaan nie. Die vrede wat Christus aan Sy dissipels nagelaat het, was inwendig eerder as uitwendig en dit sou ewig, deur stryd en twis by sy getuies bly. DHDA 64.3
Van Homself het Christus gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” (Mattheus 10:34). Hy, die Vredevors, was juis die oorsaak van verdeeldheid. Hy wat gekom het om die blye boodskap te verkondig en om in menseharte hoop en vreugde te skep, het ‘n stryd wat diep brand en geweldige hartstogte laat opvlam, ontketen. En Hy waarsku Sy volgelinge: “In die wêreld sal julle verdrukking hê.” Hulle sal “...die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam ... Julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende en hulle sal van julle doodmaak.” (Johannes 16:33; Lukas 21:12,16.) DHDA 65.1
Hierdie profesie is op ‘n duidelike wyse vervul. Elke vernedering, oneer en wreedheid wat die Satan in die harte van mense kon aanhits om te bedink, is die volgelinge van Jesus aangedoen. En dit sal weer op ‘n baie duidelike wyse vervul word; want die vleeslike hart is steeds ‘n vyand van die wet van God en sal hom nooit daaraan onderwerp nie. Die wêreld is tans geensins in groter harmonie met die beginsels van Christus as in die dae van die apostels nie. Dieselfde haat wat tot die uitroep: “Kruisig, kruisig Hom!” aanleiding gegee het, dieselfde haat wat tot die vervolging van die dissipels gelei het, werk steeds in die kinders van ongehoorsaamheid. Dieselfde gees wat manne en vroue gedurende die duistere Middeleeue tot gevangenskap, tot verbanning en selfs tot die dood veroordeel het, wat die verfynde marteling van die Inkwisisie bedink het, wat die massamoord van die St Bartholomeusnag beplan en uitgevoer en die brande van Smithfield aangesteek het, is steeds aan die werk met die kwaadwillige energie van onbekeerde harte. Die geskiedenis van die waarheid was nog altyd ‘n verhaal van die stryd tussen goed en kwaad. Die verkondiging van die evangelie is steeds in hierdie wêreld, ondanks teëstand, gevaar, verlies en lyding, voortgesit. DHDA 65.2
Waarin het die krag van diegene wat in die verlede om Christus se ontwil vervolging gely het gelê? Dit was in eenheid met God, eenheid met die Heilige Gees en eenheid met Christus. Smaad en vervolging het talle mense van hul aardse vriende geskei, maar nooit van die liefde van Christus nie. Nooit het die Verlosser die stormgeteisterde siel meer lief as wanneer hy namens die waarheid smaad moet verduur nie. Christus het gesê: “Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.” (Johannes 14:21). Wanneer die gelowige ten behoewe van die waarheid voor aardse regters in die beskuldigdebank staan, is Christus aan sy sy. Wanneer hy deur gevangenismure omsluit word, openbaar Christus Homself aan hom en bemoedig Hy hom met Sy liefde. Wanneer hy om Christus se onthalwe om die lewe gebring word, sê die Heiland aan hom: Hulle kan die liggaam doodmaak, maar hulle kan die siel geen leed aandoen nie. “Hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin ... Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” (Johannes 16:33; Jesaja 41:10). DHDA 66.1
“Die wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid. Rondom Jerusalem is berge; so is die Here rondom Sy volk van nou af tot in ewigheid ... Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld en hulle bloed sal kosbaar wees in Sy oë.” (Psalm 125:1,2;72:14). DHDA 66.2
“Die Here van die leërskare sal hulle beskut ... die Here hulle God sal hulle in die dag verlos as die kudde wat Sy volk is; want hulle is kroongesteentes wat hulle skitterend verhef oor Sy land.” (Sagaria 9:15,16). DHDA 66.3