Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 7—’n Waarskuwing Teen Huigelary*
Soos die dissipels die waarhede van die evangelie in Jerusalem verkondig het, was God ‘n getuie van hulle woord en ‘n groot menigte het geglo. Talle van daardie eerste gelowiges is weens die ywerige dweepsug van die Jode onmiddellik van familie en vriende geskei en dit was noodsaaklik om hulle van voedsel en herberg te voorsien. DHDA 53.1
Die verslag lui: “Want niemand onder hulle was behoeftig nie...” en dit vertel hoe daar in die behoefte voorsien is. Die gelowiges wat geld en besittings gehad het, het dit met blymoedigheid opgeoffer om in die nood te voorsien. Hulle het hul huise en lande verkoop en die geld voor die apostels se voete neergelê “...en aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het.” DHDA 53.2
Hierdie vrygewigheid van die gelowiges was die gevolg van die uitstorting van die Heilige Gees. Die bekeerlinge tot die evangelie was “...een van hart en siel.” Een gemeenskaplike belang het hulle beheer, naamlik die welslae van die sending wat aan hulle opgedra is en inhaligheid het geen plek in hulle lewens gehad nie. Hulle liefde vir hul broeders en vir die saak wat hulle voorgehou het, was groter as hulle liefde vir geld en besittings. Hulle werke het daarvan getuig dat hulle die siele van mense van groter waarde as aardse rykdom geag het. DHDA 53.3
So sal dit altyd wees wanneer die Gees van God beheer oor die lewe neem. Diegene wie se harte vol van die liefde van Christus is, sal die voorbeeld van Hom wat om ons onthalwe arm geword het, sodat ons deur Sy armoede ryk kon word, volg. Geld, tyd, invloed-al die gawes wat hulle uit die hand van God ontvang het, sal hulle slegs as waardevol beskou as middele om die evangeliewerk te bevorder. So was dit in die eerste gemeente en wanneer daar in die hedendaagse kerk gesien word dat, deur die mag van die Gees, die lidmate hulle weggedraai het van hulle liefde vir wêreldse dinge en gewillig is om opofferings te maak sodat hulle medemense die evangelie kan hoor, sal die waarhede wat verkondig word ‘n geweldige invloed op die hoorders uitoefen. DHDA 53.4
In skerp teenstelling met die voorbeeld van vrygewigheid van die gelowiges, was die gedrag van Ananias en Saffira, wie se ervaring, soos deur die pen van Ingewing geskryf, ‘n donker vlek op die geskiedenis van die vroeë kerk gelaat het. Saam met ander, het hierdie beweerde dissipels die voorreg gehad om die prediking van die evangelie deur die apostels te hoor. Hulle was saam met ander gelowiges toe die plek waar hulle saam was, geskud is en almal met die Heilige Gees vervul is nadat die apostels gebid het. (Handelinge 4:31). Al die aanwesiges het onder sterk oortuiging verkeer en onder die regstreekse invloed van die Gees van God het Ananias en Saffira beloof om die opbrengs van die verkoop van ‘n bepaalde stuk grond aan die Here te gee. DHDA 54.1
Agterna het Ananias en Saffira die Gees bedroef deur aan gevoelens van hebsug toe te gee. Hulle het begin spyt kry oor die belofte wat hulle gemaak het en het spoedig die weldadige invloed van die seën wat hulle harte warm gemaak het met die begeerte om groot dinge ten behoewe van die saak van Christus te doen, verloor. Hulle het gevoel dat hulle oorhaastig opgetree het en dat hulle hul besluit in heroorweging moes neem. Hulle het die saak bespreek en besluit om nie die belofte na te kom nie. Hulle het egter gesien dat diegene wat van hulle besittings afstand gedoen het om in die behoeftes van hul meer behoeftige broeders te voorsien, hoë aansien onder die gelowiges geniet het; en te skaam dat hul broeders moet weet dat hulle God die besittings wat hulle plegtig aan Hom beloof het misgun, het hulle opsetlik besluit om hulle eiendom te verkoop en voor te gee dat hulle die opbrengs in die algemene fonds stort, maar in werklikheid ‘n groot deel daarvan vir hulleself terug te hou. Op hierdie wyse sou hulle uit die algemene voorrade leef en terselfdertyd ook die hoë agting van hulle broeders geniet. DHDA 54.2
Maar God haat huigelary en valsheid. Ananias en Saffira het in hulle optrede teenoor God bedrog gepleeg; hulle het vir die Heilige Gees gelieg en hulle sonde is met spoedige en verskriklike oordeel gestraf. Toe Ananias met sy offergawe kom, sê Petrus aan hom: “Ananias, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” DHDA 55.1
“En toe Ananias hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.” DHDA 55.2
“As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie?” het Petrus gevra. Geen onregmatige invloed is op Ananias uitgeoefen wat hom gedwing het om sy besittings vir die gemeenskaplike welsyn van almal op te offer nie. Hy het uit eie keuse opgetree. Maar deurdat hy die dissipels probeer bedrieg het, het hy vir die Almagtige gelieg. DHDA 55.3
“Na verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het. En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel. En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur en hulle sal jou uitdra. Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe. En ‘n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.” DHDA 55.4
Oneindige Wysheid het gesien dat hierdie duidelike openbaring van die toorn van God noodsaaklik was om die jong gemeente teen verdorwenheid te beskerm. Hulle getalle het vinnig toegeneem. Dit sou die gemeente in gevaar gestel het indien daar as gevolg van die vinnige aanwas, manne en vroue ingebring sou word wat, terwyl hulle voorgee om God te dien, mammon steeds aanbid. Hierdie oordeel het getuig dat mense God nie kan bedrieg nie, dat Hy die verborge sonde in die hart bespeur en dat Hy Hom nie laat uittart nie. Dit was bedoel om vir die kerk ‘n waarskuwing te wees en om hulle te lei om skyn en huigelary te vermy en op hul hoede te wees om God nie te beroof nie. DHDA 55.5
Hierdie voorbeeld van God se afkeur van hebsug, bedrog en huigelary was nie slegs vir daardie eerste gemeente as ‘n gevaarteken bedoel nie, maar vir alle toekomstige geslagte. Ananias en Saffira het aanvanklik hebsug gekoester. Die begeerte om ‘n deel van wat hulle aan God beloof het vir hulself te behou, het tot bedrog en huigelary aanleiding gegee. DHDA 56.1
God het die verkondiging van die evangelie van die arbeid en gifte van Sy volk afhanklik gemaak. Vrywillige offergawes en die tiendes maak deel uit van die inkomste vir die Here se werk. God eis ‘n sekere deel, naamlik ‘n tiende, van die middele wat Hy aan die mensdom toevertrou het. Hy laat dit aan almal oor om te besluit of hulle meer as dit wil gee. Maar wanneer die hart deur die invloed van die Heilige Gees beweeg word en ‘n sekere bedrag belowe word, het die persoon wat die belofte gemaak het, geen verdere reg op die gewyde deel nie. Beloftes van hierdie aard aan mense, sou as bindend beskou word; is dit wat aan God belowe is, nie meer bindend nie? Is beloftes wat in die hof van die gewete verhoor word, dan minder bindend as skriftelike ooreenkomste met mense? DHDA 56.2
Wanneer Goddelike lig buitengewoon helder en sterk in die hart skyn, laat vaar aangebore selfsug sy greep en is daar ‘n geneentheid om vir die saak van God te gee. Maar niemand moet dink dat hy toegelaat sal word om sy beloftes na te kom sonder dat die Satan beswaar maak nie. Dit behaag hom nie om te sien dat die Verlosser se koninkryk op aarde opgebou word nie. Hy stel voor dat die belofte wat gemaak is te groot is, dat dit die gewers se pogings om besittings te versamel, of om die begeertes van hulle gesinne te bevredig, in die wiele kan ry. DHDA 56.3
Dit is God wat mense met eiendom seën en Hy doen dit sodat hulle in staat kan wees om vir die bevordering van Sy saak te gee. Hy stuur die sonskyn en die reën. Hy laat die plante groei. Hy gee gesondheid en die vermoë om geld te verdien. Al ons seëninge kom uit Sy milde hand. Op Sy beurt wil Hy hê dat manne en vroue hulle dankbaarheid moet bewys deur, by wyse van tiendes en offergawes, ‘n gedeelte aan Hom terug te gee-dankoffers, vrywillige offergawes, soenoffers. As middele volgens hierdie Goddelike plan na die skatkis sou instroom-’n tiende van die inkomste en milde offergawes-sal daar oorvloediglike voorsiening wees vir die bevordering van die werk van die Here. DHDA 57.1
Maar menseharte raak as gevolg van selfsug verhard en hulle kom soos Ananias en Saffira in die versoeking om ‘n gedeelte van die bedrag terug te hou terwyl hulle voorgee dat hulle God se vereistes nakom. Baie mense gee ruim geld uit om hul eie begeertes te bevredig. Manne en vroue raadpleeg hul begeertes en bevredig hulle smaak, terwyl hulle, byna onwillig, ‘n bekrompe offergawe aan God bring. Hulle vergeet dat God eendag streng rekenskap sal eis van hoe Sy middele gebruik is en dat Hy net so onwillig is om die karige offergawe aan te neem as wat Hy was om Ananias en Saffira se offergawe aan te neem. DHDA 57.2
Uit die streng straf wat Hy aan daardie meinediges uitgedeel het, wil God ook hê dat ons moet leer hoe ‘n groot haat en afsku Hy vir alle huigelary en bedrog het. Deur voor te gee dat hulle alles gegee het, het Ananias en Saffira vir die Heilige Gees gelieg en gevolglik het hulle hierdie lewe en ook die toekomstige lewe verloor. Dieselfde God wat hulle gestraf het, veroordeel tans alle bedrog. Valse lippe is vir Hom ‘n gruwel. Hy verklaar dat niks in die Heilige Stad sal ingaan “...wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie.” (Openbaring 21:27). Laat ons nie die waarheid met ‘n ligte hand of ‘n onvaste greep hanteer nie. Laat dit deel van die lewe word. Om van die waarheid ‘n speelbal te maak en dit te verdraai om by ons eie selfsugtige planne te pas, beteken om in geloof skipbreuk te ly. “Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord.” (Efesiërs 6:14). Hy wat onwaarhede kwytraak, verkwansel sy siel op ‘n goedkoop mark. Dit mag blyk asof onwaarhede hom in noodgevalle mag help; dit mag voorkom asof hy daarmee sy sake beter bevorder as wat hy met eerlikheid kan doen; maar hy bereik uiteindelik die punt waar hy niemand kan vertrou nie. Omdat hy self ‘n bedrieër is, het hy geen vertroue in ‘n ander se woord nie. DHDA 57.3
In die geval van Ananias en Saffira is die sonde van bedrog teenoor God spoedig gestraf. Dieselfde sonde is dikwels in die latere geskiedenis van die kerk herhaal en dit word deur baie mense in ons tyd gepleeg. Maar, hoewel dit miskien nie deur sigbare tekens van God se afkeur gestraf word nie, is dit tans niks minder afskuwelik in Sy oë as in die dae van die apostels nie. Die waarskuwing is gegee: God het duidelik Sy afsku in hierdie sonde gemanifesteer en almal wat hulle aan huigelary en hebsug skuldig maak, kan verseker wees dat hulle hul eie siele vernietig. DHDA 58.1