Die Handelinge Van Die Apostels

7/59

Hoofstuk 6—By die Tempelpoort*

Die dissipels van Christus was ten volle bewus van hulle eie tekortkominge en daarom het hulle deur ootmoed en gebed hulle swakheid met Sy krag, hulle onkunde met Sy wysheid, hulle onwaardigheid met Sy geregtigheid en hulle armoede met Sy onuitputlike rykdom verbind. Aldus versterk en toegerus, het hulle nie geaarsel om in die diens van hulle Meester deur te druk nie. DHDA 41.1

Kort na die uitstorting van die Heilige Gees en onmiddellik na ‘n tydperk van ernstige gebed, het Petrus en Johannes, onderweg na die tempel om te aanbid, by die poort, wat die Skone genoem word, ‘n kreupele van sowat veertig jaar aangetref, wie se lewe van sy geboorte af vol pyn en siekte was. Hierdie ongelukkige man het lank begeer om Jesus te ontmoet sodat hy genees kon word; maar hy was so te sê hulpeloos en ver verwyderd van die plekke waar die groot Geneesheer gewoonlik gewerk het. Sy gesmeek het sy vriende uiteindelik oorgehaal om hom na die tempelpoort te neem, maar toe hy daar aankom, moes hy ontdek dat die Een op wie hy sy hoop gevestig het, wreed om die lewe gebring was. DHDA 41.2

Sy teleurstelling het die medelye van diegene wat bewus was van hoe lank hy gretiglik uitgesien het om deur Jesus genees te word, opgewek en hulle het hom elke dag na die tempel gedra sodat verbygangers oorreed mag word om ‘n ietsie aan hom te gee om sy nood te verlig. Toe Petrus en Johannes verbystap, het hy hulle om ‘n aalmoes gevra. Die dissipels het hom medelydend aangekyk en Petrus het gesê: “Kyk na ons. En hy het sy oë op hulle gehou in die verwagting dat hy iets van hulle sou ontvang. Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie.” Toe Petrus sy eie armoede so ronduit bekend maak, was die kreupele duidelik teleurgesteld; maar hoop het weer opgeflikker toe die apostel vervolg: “Maar wat ek het dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasarener, staan op en loop!” DHDA 41.3

“Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys. En die hele volk het gesien hoe hy daar loop en God prys. En hulle het hom herken, dat dit hy was wat by die Skone Poort van die tempel gesit het om te bedel en hulle is vervul met verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het.” DHDA 42.1

“En toe die kreupel man wat genees was, aan Petrus en Johannes vashou, het die hele volk uitermate verbaas na hulle gehardloop in die pilaargang wat Salomo s’n genoem word.” Hulle was verbaas dat die dissipels dieselfde soort wonderwerke as Jesus kon verrig. En tog, hier was ‘n man wat veertig jaar lank ‘n hulpelose kreupele was, wat hom nou verheug het in die volle gebruik van sy ledemate, sonder pyn en gelukkig in sy geloof in Jesus. DHDA 42.2

Toe die dissipels die verbasing van die volk gewaar, vra Petrus: “Waarom is julle hieroor verwonderd, of waarom kyk julle ons aan asof ons deur ons eie krag of godsvrug bewerk het dat hy loop?” Hy het hulle verseker dat die genesing deur die Naam en verdienste van Jesus van Nasaret, wat God uit die dode opgewek het, verrig is. Die apostel het verklaar: “Deur die geloof in Sy Naam het Sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal.” DHDA 42.3

Die apostels het prontuit gesê dat die Jode ‘n groot sonde begaan het deur die Lewensvors te verwerp en dood te maak; maar hulle het gesorg dat hulle hul toehoorders nie tot wanhoop dryf nie. Petrus het gesê: “Julle het die Heilige en Regverdige verloën en gevra dat ‘n moordenaar aan julle geskenk sou word en die Leidsman tot die lewe het julle gedood. God het Hom uit die dode opgewek, waarvan ons getuies is ... En nou, broeders, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle owerstes; maar God het op die manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al Sy profete, dat die Christus sou ly.” Hy het verklaar dat die Heilige Gees hulle tot berou en bekering maan en hy het hulle verseker dat daar geen ander hoop op verlossing was as deur die genade van Hom wat deur hulle gekruisig is nie. Alleen deur geloof in Hom kon hulle sondes vergewe word. DHDA 42.4

“Kom dan tot inkeer en bekeer julle...” het hy uitgeroep, “...sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom.” DHDA 43.1

“Julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het: En in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word. God het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle gestuur om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer.” DHDA 43.2

So het die dissipels die opstanding van Christus verkondig. Talle van die toehoorders het juis op hierdie getuienis gewag en toe hulle dit hoor, het hulle geglo. Dit het hulle aan die woorde wat Christus gespreek het herinner en hulle het hulle by die geledere van diegene wat die evangelie aangeneem het geskaar. Die saad wat die Heiland gesaai het, het ontkiem en vrugte voortgebring. DHDA 43.3

Terwyl die dissipels met die volk gepraat het, “...het die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom, baie ontevrede dat hulle die volk leer en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig.” DHDA 43.4

Na die opstanding het die priesters wyd en syd die leuen versprei dat die dissipels Sy liggaam gesteel het terwyl die Romeinse wag geslaap het. Dit is nie verbasend dat hulle ontevrede was toe hulle Petrus en Johannes die opstanding hoor verkondig van Hom wat deur hulle vermoor is nie. Veral die Sadduseërs was ontstoke. Hulle het gevoel dat hulle geliefkoosde leerstelling bedreig word en dat hulle geloofwaardigheid op die spel geplaas word. DHDA 43.5

Die aantal bekeerlinge tot die nuwe geloof het vinnig toegeneem en Fariseërs en Sadduseërs was dit eens dat indien hierdie nuwe leraars toegelaat sou word om ongehinderd voort te gaan, hulle eie invloed in groter gevaar verkeer het as toe Jesus nog op aarde was. Gevolglik het die hoofman van die tempel, bygestaan deur ‘n aantal Sadduseërs, Petrus en Johannes in hegtenis geneem en hulle in die gevangenis gesit, aangesien dit te laat in die dag was om hulle te verhoor. DHDA 44.1

Die vyande van die dissipels kon nie anders as om oortuig te word dat Jesus uit die dode opgestaan het nie. Die bewys was te oortuigend om dit te betwyfel. Nogtans het hulle hul harte verhard en geweier om berou oor die vreeslike daad wat hulle met die teregstelling van Jesus gepleeg het te toon. Die Joodse leiers het oorvloedige bewyse gehad dat die apostels onder Goddelike ingewing spreek en handel, maar hulle het die boodskap van waarheid hardnekkig weerstaan. Christus het nie op die wyse gekom wat hulle verwag het nie en hoewel hulle soms oortuig was dat Hy die Seun van God was, het hulle die oortuiging nogtans onderdruk en Hom gekruisig. In Sy barmhartigheid het God hulle nog meer bewyse gegee en nou het hulle weer die geleentheid gehad om hulle tot Hom te bekeer. Hy het die dissipels gestuur om hulle te vertel dat hulle die Lewensvors doodgemaak het en met hierdie vreeslike beskuldiging het Hy hulle weer tot bekering gemaan. Maar die Joodse leraars het hulle in hul eie geregtigheid veilig gevoel en geweier om te erken dat die manne wat hulle daarvan beskuldig het dat hulle Christus gekruisig het onder leiding van die Heilige Gees gepraat het. DHDA 44.2

Nadat hulle hulself aan ‘n beleid van verset teen Christus verbind het, het elke daad van weerstand vir die priesters ‘n bykomende aansporing geword om op dieselfde weg vol te hou. Hulle het hulle al meer in hulle hardnekkigheid verhard. Dit was nie omdat hulle nie kon toegee nie; hulle kon, maar hulle wou nie. Dit was nie net omdat hulle skuldig was en die dood verdien het nie en nie net omdat hulle die Seun van God om die lewe gebring het, dat hulle van die verlossing uitgesluit was nie; dit was omdat hulle hulself met teenstand teen God bewapen het. Hulle het die lig voortdurend verwerp en die oortuigings van die Gees onderdruk. Die invloed wat die kinders van ongehoorsaamheid beheer, het in hulle gewerk en hulle daartoe gebring om die manne, deur wie God gewerk het, te mishandel. Die boosaardigheid van hulle opstand is verskerp deur elke opeenvolgende daad van weerstand teen God en die boodskap wat Hy aan Sy diensknegte gegee het om te verkondig. In hul weiering om hulle te bekeer, het die Joodse leiers elke dag hul opstand opnuut opgeneem en hulself voorberei om te maai wat hulle gesaai het. DHDA 45.1

Die toorn van God word nie teenoor onboetvaardige sondaars gerig bloot weens die sondes wat hulle begaan het nie, maar omdat hulle, wanneer hulle tot bekering gemaan word, verkies om hulle weerstand voort te sit en ondanks die lig wat aan hulle gegee is, die sondes van die verlede te herhaal. Indien die Joodse leiers hulle aan die oortuigende krag van die Heilige Gees onderwerp het, sou hulle vergifnis ontvang het; maar hulle was vasberade om nie toe te gee nie. Deur voortdurende weerstand plaas die sondaar homself waar die Heilige Gees hom nie kan beïnvloed nie. DHDA 45.2

Op die dag na die genesing van die kreupele het Annas en Kajafas en ander hoogwaardigheidsbekleërs van die tempel vir die verhoor byeengekom en die gevangenes is voor hulle gebring. In daardie selfde saal en voor sommige van daardie selfde mense het Petrus sy Here op skandelike wyse verloën. Dit het hom helder voor die gees gekom toe hy self verskyn om verhoor te word. Nou het hy die geleentheid gehad om vir sy lafhartigheid te vergoed. DHDA 45.3

Die aanwesiges wat Petrus se aandeel in die verhoor van sy Meester onthou het, het hulle gerusgestel dat hy nou deur die bedreiging van gevangenskap en die dood afgeskrik sou word. Maar die Petrus wat Christus in die uur van Sy grootste nood verloën het, was voortvarend en selfgenoegsaam; hy was baie anders as die Petrus wat nou voor die Sanhedrin gebring is om verhoor te word. Sedert sy val het hy hom bekeer. Hy was nie meer trots en selfvoldaan nie, maar beskeie en sonder selfvertroue. Hy was vol van die Heilige Gees en hy was vasberade om met behulp van daardie krag die klad van sy afvalligheid te verwyder, deur die Naam wat hy voorheen verloën het, te eer. DHDA 46.1

Tot dusver het die priesters enige melding van die kruisiging en opstanding van Jesus vermy. Maar, om hulle doel te bereik, was hulle gedwing om die beskuldigde te vra hoe die genesing van die kreupel man bewerkstellig was. Hulle het gevra: “Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?” DHDA 46.2

Met heilige vrymoedigheid en in die krag van die Gees het Petrus vreesloos geantwoord: “Laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasarener, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” DHDA 46.3

Hierdie moedige verdediging het die Joodse leiers uit die veld geslaan. Hulle het gedink dat die dissipels vreesbevange en verward sou wees wanneer hulle voor die Sanhedrin gedaag word. Maar in plaas daarvan het hierdie getuies, soos Christus, met ‘n oortuigende krag gespreek en hulle teenstanders die swye opgelê. Daar was geen teken van vrees in Petrus se stem toe hy aangaande Christus sê: “Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het” nie. DHDA 46.4

Hier het Petrus ‘n beeld gebruik waarmee die priesters goed bekend was. Die profete het van die verworpe steen gepraat; en Christus het self eenkeer aan die priesters en oudstes gesê: “Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë? Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.” (Mattheus 21:42-44). DHDA 47.1

Toe die priesters na die apostels se onbevreesde woorde luister, het hulle “...hulle as metgeselle van Jesus herken.” DHDA 47.2

Van die dissipels staan daar geskryf, na die verheerliking van Christus, dat hulle aan die einde van daardie wonderlike toneel niemand “...behalwe Jesus alleen...” gesien het nie. (Mattheus 17:8). “Jesus alleen”-hierdie woorde bevat die geheim van die lewe en krag wat kenmerkend van die vroeë kerk was. Toe die dissipels Christus se woorde die eerste keer gehoor het, het hulle hul behoefte aan Hom ervaar. Hulle het Hom gesoek, Hom gevind en Hom gevolg. Hulle was in die tempel, aan tafel, teen die berghelling en op die veld saam met Hom. Hulle was soos leerlinge by hulle onderwyser en het daagliks van Hom lesse van ewige waarhede ontvang. DHDA 47.3

Na die Verlosser se Hemelvaart was hulle nog altyd bewus van die Goddelike teenwoordigheid wat vol liefde en lig nog steeds by hulle was. Dit was ‘n persoonlike teenwoordigheid. Jesus, die Verlosser, wat met hulle gewandel en gepraat en gebid het, wat hulle harte bemoedig en vertroos het, is met die boodskap van vrede op Sy lippe uit hulle midde in die hemel opgeneem. Toe die wa van engele Hom opneem, het hulle nog steeds Sy woorde gehoor: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Mattheus 28:20). Hy het in menslike gedaante na die hemel opgevaar. Hulle het geweet dat Hy voor die troon van God, steeds hulle Vriend en Verlosser was; dat Sy toegeneentheid onveranderd was; dat Hy Homself vir ewig met die lydende mensdom vereenselwig. Hulle het geweet dat Hy aan God die deugde van Sy bloed sal aanbied en dat Hy Sy deurboorde hande en voete aan Hom sal toon ter herinnering aan die prys wat Hy vir Sy verlostes betaal het; en hierdie gedagte het hulle versterk om ter wille van Hom, smaad te verduur. Hulle verbintenis met Hom was op daardie tydstip sterker as toe Hy nog persoonlik by hulle was. Die lig en liefde en krag van ‘n inwonende Christus het deur hulle uitgestraal sodat mense dit gesien en hulle daaroor verwonder het. DHDA 47.4

Christus het Sy seël op die woorde wat Petrus in Sy verdediging gespreek het, geplaas. Naas aan die dissipel, was die man wat so wonderbaarlik genees is, ‘n oortuigende getuie. Die voorkoms van daardie man, wat ‘n paar uur tevore nog ‘n hulpelose kreupele was, maar nou sterk en gesond was, het saam met Petrus se woorde getuig. Priesters en owerstes was sprakeloos. Hulle was nie in staat om Petrus se verklaring te weerlê nie, maar was nogtans vasberade om ‘n einde aan die lering van die dissipels te maak. DHDA 48.1

Christus se vernaamste wonderwerk-die opwekking van Lasarus-het die seël op die priesters se vasbeslotenheid geplaas, om die wêreld van Jesus en Sy wonderwerke, wat vinnig besig was om hulle invloed op die volk te vernietig, te bevry. Hulle het Hom gekruisig; maar hier was ‘n oortuigende bewys dat hulle nie ‘n einde aan die verrigting van wonderwerke in Sy Naam of die verkondiging van die waarheid wat Hy verkondig het, gemaak het nie. Die genesing van die kreupele en die prediking van die apostels het Jerusalem reeds in beroering gehad. DHDA 48.2

Ten einde hulle verleentheid te verberg, het die priesters en owerstes beveel dat die apostels weggeneem moes word, sodat hulle kon beraadslaag. Almal het saamgestem dat dit nutteloos sou wees om te ontken dat die man genees was. Hulle sou graag die wonderwerk met leuens wou toesmeer; maar dit was onmoontlik omdat dit in die volle daglig in die teenwoordigheid van ‘n groot mensemassa verrig is en duisende het reeds daarvan geweet. Hulle het gevoel dat daar aan die werk van die dissipels ‘n einde gemaak moes word, anders sou talle volgelinge van Jesus toegevoeg word. Hulle eie skande sou daarop volg, want hulle sou skuldig aan die moord op die Seun van God bevind word. DHDA 49.1

Maar nieteenstaande hul begeerte om die dissipels te vernietig, kon die priesters dit nie waag om meer te doen as om hulle met die strengste straf te dreig indien hulle sou voortgaan om in die Naam van Jesus te spreek of te werk nie. Hulle het hulle weer voor die Sanhedrin gedaag en belet om in die Naam van Jesus te spreek of te leer. Maar Petrus en Johannes het geantwoord: “Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” DHDA 49.2

Die priesters sou graag hierdie manne vir hulle onwankelbare trou aan hul roeping wou straf, maar hulle het die volk gevrees, “...want almal het God verheerlik oor wat gebeur het.” Dus, met herhaalde dreigemente en bevele, is die apostels vrygelaat. DHDA 49.3

Terwyl Petrus en Johannes gevangenes was, het die ander dissipels, ten volle bewus van die venynigheid van die Jode, onophoudelik vir hulle broeders gebid, want hulle het gevrees dat die wreedheid waarmee Jesus behandel is, herhaal sou word. Nadat die apostels vrygelaat is, het hulle die ander opgesoek en aan hulle verslag oor die uitslag van die verhoor gelewer. Daar was groot vreugde onder die gelowiges. “En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het, wat deur die mond van U kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met Heidene en die volke van Israel vergader teen U heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat U hand en U raad vooruit bepaal het om plaas te vind.” DHDA 49.4

“En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan U diensknegte om met alle vrymoedigheid U woord te spreek, deurdat U U hand uitstrek tot genesing en tekens en wonders deur die Naam van U heilige Kind Jesus plaasvind.” DHDA 50.1

Die dissipels het gebid dat hulle met meer krag aan hulle vir hul bediening geskenk word, want hulle het besef dat hulle dieselfde hardnekkige teëstand sou ervaar soos wat Christus, terwyl Hy op aarde was, geken het. Terwyl hulle gesamentlike gebede in geloof nog na die hemel opgestyg het, het die antwoord gekom. Die plek waar hulle byeen was, is geskud en hulle is opnuut met die Heilige Gees vervul. Met harte vol moed het hulle weer uitgegaan om die woord van God in Jerusalem te verkondig. “Met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus... ” en God het hulle pogings op wonderbaarlike wyse geseën. DHDA 50.2

Die beginsel waarop die dissipels so onbevrees gestaan het toe hulle in antwoord op die bevel om nie meer in die Naam van Jesus te preek nie, verklaar het: “Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis...” is dieselfde as die wat die aanhangers van die evangelie in die dae van die Hervorming so hard gestry het om te handhaaf. Toe die Duitse vorste in 1529 op die Ryksdag van Spiers byeengekom het, is daar aan die keiser ‘n dekreet voorgelê om godsdiensvryheid aan bande te lê en die verdere verspreiding van die hervormde leerstellings te verbied. Dit het geskyn asof die hoop van die wêreld op die punt was om geblus te word. Sou die vorste die dekreet aanvaar? Sou die lig van die evangelie van die groot skare wat nog in duisternis verkeer het weerhou word? Geweldige beslissings vir die wêreld was op die spel. Diegene wat die hervormde geloof aangeneem het, het saam vergader en hulle eenparige besluit was: “Laat ons die dekreet verwerp. In gewetensake het die meerderheid geen gesag nie.”-Merle d’ Aubigné, History of the Reformation, deel 13, hoofstuk 5. DHDA 50.3

Ons moet hierdie beginsel in ons tyd ferm handhaaf. Die banier van waarheid en godsdiensvryheid wat sedertdien deur die eeue deur die stigters van die evangeliekerk en deur die getuies van God hooggehou is, is in hierdie laaste stryd in ons hande toevertrou. Die verantwoordelikheid vir hierdie groot gawe berus by diegene wat God met ‘n kennis van Sy Woord geseën het. Ons moet hierdie Woord as die opperste gesag aanvaar. Ons moet die menslike regering as ‘n ordinansie van Goddelike aanstelling erken en leer dat dit ons heilige plig is om dit binne die wettige sfeer te gehoorsaam. Maar wanneer die eise daarvan teenstrydig met die eise van God is, moet ons God eerstens bo mense gehoorsaam. Die Woord van God moet as verhewe bo alle menslike wetgewing beskou word. ‘n “So sê die Here...” mag nie tersyde gestel word vir ‘n “So sê die kerk...” of ‘n “So sê die staat...” nie. Die kroon van Christus moet bo die krone van aardse heersers verhef word. DHDA 51.1

Daar word nie van ons verwag om die owerhede te trotseer nie. Ons woorde, ongeag of dit gespreek of geskrewe is, moet versigtig oorweeg word, sodat ons nie onsself op rekord plaas dat ons woorde uiter wat ons as antagonisties teenoor wet en orde laat voorkom nie. Ons moet niks sê of doen wat ons weg onnodig sal versper nie. Ons moet in die Naam van Christus voortgaan om die waarhede wat aan ons toevertrou is, te verkondig. As ons deur mense verbied word om hierdie werk te doen, kan ons soos die apostels sê: “Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” DHDA 51.2