Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 57—Die Openbaring
In die dae van die apostels was die Christengelowiges gevul met erns en entoesiasme. So onvermoeid het hulle vir hulle Meester gewerk, dat die evangelie van die koninkryk, ongeag hewige teenkanting, in ‘n betreklike kort tyd in al die bewoonde dele van die aarde verkondig is. Die ywer wat op hierdie stadium deur die volgelinge van Jesus geopenbaar is, is deur die pen van Ingewing opgeteken, vir die bemoediging van gelowiges in elke eeu. Van die kerk in Éfese, wat die Here Jesus as ‘n simbool van die ganse Christelike kerk in die apostoliese tydperk gebruik het, het die getroue en waaragtige Getuie verklaar: DHDA 497.1
“Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy die op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie en hulle leuenaars bevind het; en dat jy verdra het en lydsaamheid besit en ter wille van My Naam gearbei en nie moeg geword het nie.” (Openbaring 2:2,3). DHDA 497.2
Die aanvanklike ervaring van die kerk in Éfese is deur kinderlike eenvoud en ywer gekenmerk. Die gelowiges het ernstig gepoog om elke woord van God te gehoorsaam en hulle lewens het ‘n ernstige, opregte liefde vir Christus geopenbaar. Hulle het hulle daarin verheug om die wil van God te doen omdat die Verlosser ‘n blywende teenwoordigheid in hulle harte was. Gevul met liefde vir hul Verlosser, was hulle hoogste strewe om siele vir Hom te wen. Hulle het nie daaraan gedink om die kosbare skat van die genade van Christus vir hulself op te gaar nie. Hulle het die belangrikheid van hulle roeping gevoel en belas met die boodskap: “Vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!”, het hulle van verlange gebrand om die blye boodskap van verlossing na die uiterste uithoeke van die aarde oor te dra. En die wêreld het van hulle kennis geneem dat hulle by Jesus was. Sondige mense wat berouvol was het vergifnis ontvang, is gereinig en geheilig is en het deur Sy Seun medewerkers van God geword. DHDA 497.3
Die lede van die kerk was verenig, een in gesindheid en optrede. Liefde vir Christus was die goue ketting wat hulle saamgebind het. Hulle het gevolglik daarna gestreef om die Here al meer volkome te leer ken en in hul lewens is die vreugde en vrede van Christus geopenbaar. Hulle het die wese en die weduwees in hul swaarkry besoek en hulle vlekkeloos van die wêreld bewaar, omdat hulle besef het dat indien hulle sou versuim om dit te doen, dit ‘n weerspreking van hul belydenis sou wees en ‘n verloëning van hul Verlosser. DHDA 498.1
Die werk is in elke stad voortgedra. Siele het tot bekering gekom, wat op hulle beurt genoop gevoel het om van die onskatbare rykdom wat hulle ontvang het, te vertel. Hulle kon nie rus voordat die lig wat hulle gees verlig het, ook op ander geskyn het nie. ‘n Menigte van ongelowiges is bekend gemaak met die redes vir die Christen se hoop. Warm, besielende persoonlike oproepe is tot die dwalendes en die uitgeworpenes gerig en diegene wat, hoewel hulle die waarheid ken, meer liefhebbers van genot was as liefhebbers van God. DHDA 498.2
Maar mettertyd het die ywer van die gelowiges begin kwyn en hulle liefde vir God en vir mekaar het al minder geword. Kilheid het die kerk binnegesluip. Sommige het vergeet op watter wonderbaarlike manier hulle die waarheid ontvang het. Een vir een het die ou vaandeldraers van hulle poste geval. Sommige van die jonger werkers, wat moontlik die laste van hierdie baanbrekers kon gedeel het en sodoende as wyse leiers voorberei kon geword het, het moeg geraak vir die waarhede wat so dikwels herhaal is. In hulle begeerte na iets nuuts en opsienbarend, het hulle gepoog om nuwe leerstellings in te bring wat vir baie mense meer aanneemlik sou wees, maar wat nie in ooreenstemming met die fundamentele beginsels van die evangelie is nie. In hul selfvertroue en geestelike blindheid, kon hulle nie agterkom dat hierdie drogredenasies aanleiding daartoe sou gee dat baie mense die ervarings van die verlede sou bevraagteken nie en sodoende tot verwarring en ongeloof sou lei nie. DHDA 498.3
Namate hierdie valse leerstellings aangespoor is, het daar geskille ontstaan en die oë van baie mense het van Jesus, die Leidsman en Voleinder van hulle geloof weggedraai. Die bespreking van onbelangrike leerstellings en die oordenking van gunstige verdigsels van die mens se uitvindsel, het tyd in beslag geneem wat aan die verkondiging van die evangelie bestee moes gewees het. Die massas wat moontlik deur die getroue aanbieding van die waarheid oortuig en bekeer kon word, is onbewaak gelaat. Vroomheid was vinnig besig om te kwyn en dit het gelyk asof Satan op die punt was om die oorhand oor diegene wat beweer het dat hulle volgelinge van Christus is, te verkry. DHDA 499.1
Dit was in hierdie kritieke tydperk in die geskiedenis van die kerk dat Johannes as banneling na Patmos gevonnis is. Nog nooit tevore het die kerk sy stem so nodig gehad soos nou nie. Byna al sy voormalige medewerkers in die evangeliebediening het ‘n marteldood gely. Die oorblyfsel van die gelowiges het voor hewige opposisie te staan gekom. Aan alle uiterlike voorkomste geskat, was die dag wanneer die vyande van die kerk van Christus sou seëvier, nie meer ver in die toekoms nie. DHDA 499.2
Maar die hand van die Here het ongesiens in die duisternis beweeg. In die voorsienigheid van God is Johannes op ‘n plek geplaas waar Christus aan hom ‘n wonderbaarlike openbaring van Homself en van die Goddelike waarheid vir die verligting van die kerke kon gee. DHDA 499.3
Deur die ballingskap van Johannes, het die vyande van die waarheid gehoop om die stem van God se getroue getuie vir ewig die stil te maak; maar op Patmos het die dissipel ‘n boodskap ontvang waarvan die invloed tot aan die einde van die tyd, die kerk sou versterk. Alhoewel hulle nie van die verantwoordelikheid vir hul verkeerde daad vrygespreek kon word nie, het diegene wat Johannes verban het werktuie in die hande van God geword om die plan van die hemel uit te voer en die einste poging om die lig uit te doof, het die waarheid in ‘n duidelike lig gestel. DHDA 499.4
Dit was op die Sabbat dat die Here van heerlikheid aan die banneling verskyn het. Johannes het die Sabbat gedurende sy ballingskap op Patmos net so heilig gehou soos toe hy vir die mense in die dorpe en stede van Judea gepreek het. Hy het die kosbare beloftes aangaande daardie dag vir homself opgeëis. Johannes skryf: “Ek was in die Gees op die dag van die Here en ek het agter my ‘n groot stem gehoor, soos van ‘n basuin, wat sê: Ek is die Alfa en die Omega, die eerste en die laaste ... Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars en tussen die sewe kandelaars, Een soos die Seun van die mens.” (Openbaring 1:10-13). DHDA 500.1
Hierdie geliefde dissipel was ryklik begunstig. Hy het sy Meester in Getsémané gesien, Sy gesig met bloeddruppels van smart opgemerk, “...so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie en sy gestalte was nie soos die van ‘n mensekind nie.” (Jesaja 52:14). Hy het Hom in die hande van die Romeinse soldate gesien in ‘n ou purper kleed en met dorings bekroon. Hy het Hom aan die kruis van Golgota, die voorwerp van wrede bespotting en mishandeling, sien hang. Nou is Johannes weereens die voorreg gegun om sy Here te aanskou. Maar hoe veranderd was Sy voorkoms! Hy was nie meer die Man van smarte, deur mense verag en verneder nie. Hy was met ‘n gewaad van hemelse glans geklee. “Sy hoof en hare...” is “...wit soos wit wol, soos sneeu en sy oë soos ‘n vuurvlam en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond.” (Openbaring 1:14,15). Sy stem was soos die musiek van baie waters. Sy aangesig het soos die son geskyn. In Sy hand was sewe sterre en uit Sy mond het ‘n tweesnydende swaard gegaan, ‘n embleem van die krag van Sy woord. Patmos is deur die heerlikheid van die opgestane Here luisterryk gemaak. DHDA 500.2
“En toe ek Hom sien...” skryf Johannes, “...val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het Sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie.” (vers 17). DHDA 501.1
Johannes is versterk om in die teenwoordigheid van sy verheerlikte Here te bly lewe. Toe is die heerlikhede van die hemel voor sy verwonderde oë geopen. Dit was hom vergun om die troon van God te sien, verby die konflikte van die aarde te kyk en die wit gewaad van die verlostes te aanskou. Hy het die musiek van die hemelse engele en die triomfantlike liedere van diegene wat deur die bloed van die Lam en die woord van hulle getuienis oorwin het, gehoor. In die openbaring wat aan hom gegee is, is die een opwindende toneel na die ander van die ervaring van die volk van God ontvou en die geskiedenis van die kerk tot aan die einde van die tyd voorspel. Met beelde en simbole is onderwerpe van groot belang aan Johannes geopenbaar en hy moes dit opteken sodat die volk van God wat in sy tyd en in die toekomstige eeue sou leef, ‘n intelligente begrip van die gevare en konflikte wat voor hulle lê, kon hê. DHDA 501.2
Hierdie openbaring is gegee vir die leiding en vertroosting van die kerk dwarsdeur die Christelike bedeling. Tog het godsdienstige leraars verklaar dat dit ‘n verseëlde boek is en dat die geheime daarvan nie verklaar kon word nie. Daarom het baie mense hulle van die profetiese verslag afgewend en geweier om tyd aan die studie van die verborgenhede daarvan te bestee. Maar God wil nie hê dat Sy volk die boek so moet beskou nie. Dit is “...die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur ... Salig is hy wat die woorde van die profesie lees...” sê die Here “...en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.” (Verse 1,3.) “Ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou.” (Openbaring 22:18-20). DHDA 501.3
In die Openbaring word die diep dinge van God uitgebeeld. Die naam van die geïnspireerde bladsye, “...die Openbaring...”, weerspreek die stelling dat dit ‘n verseëlde boek is. ‘n Openbaring is iets wat geopenbaar word. Die Here self het die verborgenhede in hierdie boek aan Sy dienaar geopenbaar en dit is Sy doel dat dit vir almal oop vir studie sal wees. Die waarhede daarin vervat, is aan diegene wat in die laaste dae van hierdie aarde se geskiedenis leef gerig, sowel as diegene wat in die dae van Johannes geleef het. Sommige van die tonele wat in die profesie uitgebeeld word, was in die verlede en sommige vind tans plaas; sommige wys op die beëindiging van die groot stryd tussen die magte van die duisternis en die Vors van die hemel en ander openbaar die triomf en vreugde van die verlostes op die nuwe aarde. DHDA 502.1
Niemand moet dink dat, omdat hulle nie die betekenis van elke simbool in die boek Openbaring kan verklaar nie, dit nutteloos is vir hulle om hierdie boek te ondersoek in ‘n poging om die betekenis van die waarhede daarin vervat te ken nie. Die Een wat hierdie verborgenhede aan Johannes geopenbaar het, sal aan die ywerige soeker na waarheid ‘n voorsmaak van die hemelse dinge gee. Diegene wie se harte oop is om die waarheid te ontvang, sal in staat wees om die leerstellings daarvan te begryp en hy sal die seëninge ontvang wat aan diegene gegee word wat “...die woorde van die profesie ... hoor en bewaar wat daarin geskrywe is.” DHDA 502.2
In Openbaring ontmoet en eindig al die boeke van die Bybel. Hier is die aanvulling van die boek Daniël. Die een is ‘n profesie; die ander ‘n openbaring. Die verseëlde boek is nie die Openbaring nie, maar die gedeelte van die profesie van Daniël wat betrekking het op die laaste dae. Die engel het beveel: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe.” (Daniël 12:4). DHDA 503.1
Dit was Christus wat die apostel gebied het om die dinge wat aan hom geopenbaar word op te teken. Hy het beveel: “Skryf wat jy sien in ‘n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pergamus en Thiatire en Sardis en Filadelfia en Laodicea ... Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid ... Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is sowel as die wat gaan gebeur; die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in My regterhand gesien het en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes.” (Openbaring 1:11,18-20). DHDA 503.2
Die name van die sewe gemeentes is simbolies van die kerk in die verskillende tydperke van die Christelike era. Die getal 7 dui op volledigheid en is simbolies van die feit dat die boodskappe tot aan die einde van die tyd strek, terwyl die simbole wat gebruik word, die toestand van die kerk op verskillende tye in die wêreldgeskiedenis dui. DHDA 503.3
Daar word van Christus gepraat dat Hy te midde van die goue kandelaars gewandel het. Dit is simbolies van Sy verhouding tot die gemeentes. Hy is in voortdurende kommunikasie met Sy mense. Hy ken hulle ware toestand. Hy neem hulle orde, hulle vroomheid en hulle toewyding waar. Alhoewel Hy in die hemelse heiligdom Hoëpriester en Middelaar is, word Hy voorgestel dat Hy op en af tussen Sy gemeentes op aarde loop. Met onvermoeide waaksaamheid en onophoudelike oplettendheid kyk Hy of die lig van enigeen van Sy wagte swakker word of doodgaan. As die kandelaars bloot aan menslike sorg oorgelaat was, sou die flikkerende vlam kwyn en doodgaan; maar Hy is die ware Wagter in die huis van die Here, die ware Bewaarder van die tempelhowe. Sy volgehoue sorg en ondersteunende genade is die bron van lewe en die lig. DHDA 503.4
Christus word voorgestel dat Hy sewe sterre in Sy regterhand hou. Dit gee ons die versekering dat geen kerk wat aan sy pand getrou is, hoef te vrees dat hy tot niet sal gaan nie, want geen ster wat die beskerming van die Almagtige geniet kan uit die hand van Christus geruk word nie. DHDA 504.1
“Dit sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou...” (Openbaring 2:1). Hierdie woorde word aan die leraars van die gemeentes gerig-diegene wat deur God met gewigtige verantwoordelikhede toevertrou word. Die lieflike invloede wat in die kerk oorvloedig moet wees, is verbonde aan die dienaars van God wat die liefde van Christus moet openbaar. Die sterre van die hemel is onder Sy beheer. Hy verskaf lig aan hulle. Hy lei en rig hul bewegings. As Hy dit nie gedoen het nie, sou hulle gevalle sterre geword het. Dit geld ook vir Sy leraars. Hulle is slegs instrumente in Sy hande en elke goed wat hulle bewerk, word deur Sy krag gedoen. Sy lig moet deur hulle skyn. Die Verlosser moet hulle doeltreffendheid wees. As hulle na Hom opsien soos Hy na die Vader opgesien het, sal hulle in staat gestel word om Sy werk te doen. Indien hulle God hul afhanklikheid maak, sal Hy aan hulle Sy glans gee om in die wêreld te weerspieël. DHDA 504.2
Die verborgenheid van die ongeregtigheid wat Paulus voorspel het, het reeds vroeg in die geskiedenis van die kerk sy verderflike werk begin en terwyl die valse leraars aangaande wie Petrus die gelowiges gewaarsku het, hulle ketterye aan andere opgedring het, is vele deur hul valse leerstellings verstrik. Sommige het onder die beproewinge gewankel en in die versoeking gekom om die geloof prys te gee. In die tyd toe hierdie openbaring aan Johannes gegee is, het talle reeds hul eerste liefde vir die evangeliewaarheid verloor. Maar in Sy genade het God die kerk nie alleen gelaat om in sy afvallige toestand voort te gaan nie. Deur middel van ‘n boodskap vol oneindige teerheid het Hy Sy liefde vir hulle en Sy verlange dat hulle ‘n gewisse werk vir die ewigheid moes doen, geopenbaar. Hy het gesmeek: “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke” (vers 5). DHDA 504.3
Die kerk was gebrekkig en het behoefte gehad aan strenge bestraffing en kastyding en Johannes is besiel om boodskappe van waarskuwing en bestraffing en dringende smeking tot diegene wat die grondbeginsels van die evangelie uit die oog verloor het en hulle hoop op die saligheid daardeur in gevaar sou stel, te rig. Maar die woorde van bestraffing wat God nodig geag het om te stuur, word altyd met tedere liefde gespreek en met die belofte van vrede vir die boetvaardige gelowige. “Kyk...” sê die Here, “...Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met Hom maaltyd hou en hy met My.” (Openbaring 3:20). DHDA 505.1
En vir diegene wat te midde van die stryd aan hulle geloof in God vashou, is daar aan die profeet woorde van lof en belofte gegee: “Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie ... Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.” Die gelowiges is vermaan: “Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe ... Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.” (Verse 8,10,2,11). DHDA 505.2
Dit was deur iemand wat homself as ‘n “...broeder en deelgenoot in die verdrukking...” (Openbaring 1:9) verklaar het, dat Christus aan Sy kerk die dinge geopenbaar het wat hulle ter wille van Hom moet ly. Toe hy deur die lang eeue van duisternis en bygeloof gekyk het, het die bejaarde banneling gesien hoe menigtes as gevolg van hul liefde vir die waarheid, martelaarskap ly. Maar hy het ook gesien dat Hy wat die vroeë getuies ondersteun het, nie Sy getroue volgelinge gedurende die eeue van vervolging wat hulle voor die einde van die tyd moes verduur, sou verlaat nie. “Vrees vir niks wat jy sal ly nie...” het die Here gesê. “Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal ... verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.” (Openbaring 2:10). DHDA 505.3
En aan al die getroues wat teen die bose gestry het, het Johannes die belofte gehoor: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne- in die paradys van God is ... Wie oorwin, sal beklee word met wit klere en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele ... Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.” (Vers 7;3:5,21). DHDA 506.1
Johannes het die barmhartigheid, die deernis en die liefde van God, met Sy heiligheid, regverdigheid en krag sien saamsmelt. Hy het gesien dat sondaars ‘n Vader in Hom, vir wie hulle weens hulle sondes bang was, vind. En toe hy verby die einde van die groot stryd kyk, sien hy op die berg Sion “...die oorwinnaars ... by die see van glas...” staan “...met siters van God.” Hulle het daar die “...lied ... van Moses...” en van die Lam gesing. (Openbaring 15:2,3). DHDA 506.2
Die Heiland word aan Johannes in simbole van “...die Leeu wat uit die stam van Juda is...” en “...’n Lam asof Hy geslag is...” voorgestel. (Openbaring 5:5,6). Hierdie simbole verteenwoordig die vereniging van almagtige krag en selfopofferende liefde. Die Leeu van Juda, so vreesaanjaend vir die verwerpers van Sy genade, sal vir die gehoorsames en getroues die Lam van God wees. Die vuurkolom wat verskrikking en toorn tot die oortreder van God se wet spreek, is ‘n teken van lig en barmhartigheid en verlossing vir diegene wat Sy gebooie onderhou het. Die arm wat sterk is om die opstandiges te verslaan, sal sterk wees om die getroues te red. Almal wat getrou is, sal gered word. “Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” (Mattheus 24:31). DHDA 506.3
In vergelyking met die miljoene van die wêreld, sal God se volk, soos hulle nog altyd was, ‘n klein kuddetjie wees; maar as hulle vir die waarheid soos in Sy Woord geopenbaar staan, sal God hulle toevlug wees. Hulle staan onder die beskerming van die breë skild van die Almagtige. God is altyd ‘n meerderheid. Wanneer die klank van die laaste basuin tot in die gevangenis van die afgestorwenes deurdring en die regverdiges triomfantlik uitkom en uitroep: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Korinthiërs 15:55), sal die getroues uit alle eeue wat by God, by Christus en by die engele staan, verreweg in die meerderheid wees. DHDA 507.1
Christus se ware dissipels sal Hom deur bittere stryd volg, selfverloëning verduur en bittere teleurstellings ervaar; maar dit leer hulle die skuld en wee van die sonde en hulle word daartoe gelei om dit met afsku te bejeën. As deelgenote aan die lyding van Christus, is hulle bestem om deelgenote aan Sy heerlikheid te wees. In ‘n heilige visioen het die profeet die uiteindelike oorwinning van God se oorblyfselkerk gesien. Hy het geskryf: DHDA 507.2
“Ek het gesien iets soos ‘n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars ... het ek by die see van glas sien staan, met siters van God. En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God en die lied van die Lam en gesê: Groot en wonderlik is U werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is U weë, o Koning van die heiliges!” (Openbaring 15:2,3). DHDA 507.3
“En ek het gesien en kyk, die Lam staan op die berg Sion en saam met Hom honderd-vier-en-veertigduisend met Sy Naam en die Naam van Sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe.” (Openbaring 14:1). In hierdie wêreld het hulle hul gedagtes aan God gewy; hulle het Hom met hart en verstand gedien; en nou kan Hy Sy Naam “...op hulle voorhoofde... ” skryf. “En hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.” (Openbaring 22:5). Hulle gaan nie in en uit soos diegene wat vir ‘n plek bedel nie. Hulle is van die getal aan wie Christus sê: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” Hy verwelkom hulle as Sy kinders en sê: “Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Mattheus 25:34,21). DHDA 508.1
“Dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.” (Openbaring 14:4). In die visioen sien die profeet hulle op die berg Sion staan, omgord vir heilige diens, in wit linne geklee, dit is, die geregtigheid van die heiliges. Maar almal wat die Lam in die hemel volg, moes Hom eers op aarde gevolg het, nie prikkelbaar of wispelturig nie, maar met betroubare, liefdevolle, gewillige gehoorsaamheid, soos ‘n kudde die herder volg. DHDA 508.2
“Ek het die geluid gehoor van siterspelers wat speel op hulle siters. En hulle het ‘n nuwe lied gesing voor die troon ... en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd- vier-en-veertigduisend wat van die aarde vrygekoop is. ... En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God.” (Verse 2¬5). DHDA 508.3
“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is ... En sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen. En dit het ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad en by die poorte twaalf engele en name daarop geskrywe, naamlik die van die twaalf stamme van die kinders van Israel ... Die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas. En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel en die Lam.” (Openbaring 21:2,11,12,21,22). DHDA 508.4
“En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie en die troon van God en van die Lam sal daarin wees en sy diensknegte sal Hom dien. En hulle sal sy aangesig sien en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees. En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig.” (Openbaring 22:3-5). DHDA 509.1
“En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee en die blare van die boom is tot genesing van die nasies ... Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.” (Verse 1,2,14). DHDA 509.2
“En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: DHDA 509.3
“Kyk, die tabernakel van God is by die mense en Hy sal by hulle woon en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3). DHDA 509.4