Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 56—Patmos
Meer as ‘n halwe eeu het verloop sedert die organisasie van die Christelike kerk. Gedurende daardie tyd is die evangelieboodskap voortdurend teëgestaan. Sy vyande het nooit hul pogings verslap nie en uiteindelik daarin geslaag om die mag van die Romeinse keiser teen die Christene te werf. DHDA 488.1
In die verskriklike vervolging wat gevolg het, het die apostel Johannes baie gedoen om die geloof van die gelowiges te bevestig en te versterk. Hy het getuienis gelewer wat sy teëstanders nie kon betwis nie en wat sy broeders gehelp het om die beproewinge wat oor hulle gekom het, moediglik en met lojaliteit te konfronteer. Wanneer dit gelyk het asof die geloof van die Christene onder die hewige opposisie wat hulle gedwing was om te konfronteer wou wankel, sou die ou, beproefde dienskneg van Jesus die verhaal van die gekruisigde en opgestane Verlosser met krag en welsprekendheid herhaal. Hy het sy geloof standvastig gehandhaaf en van sy lippe het altyd dieselfde blye boodskap gekom: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die woord van die lewe ... wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle.” (1 Johannes 1:1-3). DHDA 488.2
Johannes het tot ‘n baie gevorderde ouderdom gelewe. Hy was ‘n getuie van die verwoesting van Jerusalem en die vernietiging van die statige tempel. As die laaste oorlewende van die dissipels wat in noue verbinding met die Verlosser was, het sy boodskap ‘n groot invloed op die voortgaande bevestiging van die feit dat Jesus die Messias, die Verlosser van die wêreld was gehad. Niemand kon aan sy opregtheid twyfel nie en deur sy leerstellings is baie gelei om van ongeloof weg te draai. DHDA 488.3
Die owerstes van die Jode was met bittere haat teenoor Johannes vervul weens sy onwrikbare trou aan die saak van Christus. Hulle het verklaar dat hulle pogings teen die Christene niks sou baat terwyl Johannes se getuienis in die ore van die volk bly lui het nie. Sodat die wonderwerke en die leringe van Jesus in vergetelheid kon wegsink, moes die stem van die dapper getuie stilgemaak word. DHDA 489.1
Gevolglik is Johannes na Rome ontbied om ter wille van sy geloof verhoor te word. Hier, voor die owerhede, was die leerstellings van die apostel verkeerd vertolk. Valse getuies het hom daarvan beskuldig dat hy opruiende kettery verkondig het. Deur hierdie beskuldigings het sy vyande gehoop om die dissipel se dood te bewerkstellig. DHDA 489.2
Johannes het homself op so ‘n duidelike en oortuigende wyse verdedig en met soveel eenvoud en openhartigheid, dat sy woorde ‘n kragtige uitwerking gehad het. Sy toehoorders was verbaas oor sy wysheid en welsprekendheid. Maar hoe meer oortuigend sy getuienis was, hoe dieper was die haat van sy teëstanders. Die keiser Domitianus was met woede vervul Hy kon die redenasie van Christus se getroue advokaat van Christus nie weerlê, of die gesag waarmee hy die waarheid gespreek het, ewenaar nie; nogtans was hy vasbeslote om sy stem stil te maak. DHDA 489.3
Johannes is in ‘n ketel kokende olie gegooi; maar die Here het die lewe van Sy getroue dienaar bewaar, net soos Hy die drie Hebreërs in die vuuroond bewaar het. Terwyl die woorde gespreek is: So vergaan almal wat in daardie bedrieër, Jesus Christus van Nasaret, glo het Johannes verklaar: My Meester het Homself geduldig aan alles wat Satan en sy engele kon bedink om Hom te verneder en te martel onderwerp. Hy het Sy lewe gegee om die wêreld te red. Dit is vir my ‘n eer om toegelaat te word om ter wille van Hom te ly. Ek is ‘n swak, sondige mens. Christus was heilig, onskuldig, onbesmet. Hy het geen sonde gedoen en in Sy mond is geen bedrog gevind nie. DHDA 489.4
Hierdie woorde het hul invloed gehad en Johannes is deur dieselfde manne wat hom in die ketel gegooi het, uitgehaal. DHDA 490.1
Die hand van vervolging het weer sterk op die apostel neergekom. Op bevel van die keiser is Johannes na Patmos verban en “...ter wille van die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus... ” veroordeel. (Openbaring 1:9). Sy vyande het gedink dat sy invloed daar nie meer gevoel sou word nie en dat hy uiteindelik weens ontbering en ellende sou sterf. DHDA 490.2
Patmos, ‘n dorre, rotsagtige eiland in die Egeïese See, is deur die Romeinse regering gekies as ‘n plek vir die verbanning van misdadigers; maar vir die dienskneg van God het hierdie sombere plek die poort van die hemel geword. Hier, weg van die besige tonele van die lewe en van die aktiewe arbeid van vroeëre jare, het hy gemeenskap met God en Christus en die engele van die hemel gehad en van hulle het hy onderrig aangaande die toekoms van die kerk ontvang. Die gebeure wat in die slottonele van die aarde se geskiedenis sou plaasvind, is voor hom uiteengesit; en daar het hy die visioene wat hy ontvang het neergeskryf. Toe sy stem nie langer van die Een wie hy liefgehad en gedien het kon getuig nie, moes die boodskappe van daardie onvrugbare kus uitgaan as ‘n lamp wat brand en die vaste voorneme van die Here aangaande elke nasie op die aarde openbaar. DHDA 490.3
Tussen die kranse en rotse van Patmos het Johannes in gemeenskap met sy Skepper verkeer. Hy het oor sy lewe teruggedink en by die gedagte aan die seëninge wat hy ontvang het, het vrede sy hart gevul. Hy het die lewe van ‘n Christen gelewe en hy kon in geloof sê: “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe.” (1Johannes 3:14). Maar nie so met die keiser wat hom verban het nie. Hy kon slegs oor velde van oorlogvoering en bloedvergieting terugkyk na verlate huise, na wenende weduwees en weeskinders, die vrug van sy ambisieuse begeerte na uitnemendheid. DHDA 490.4
In sy geïsoleerde woonplek kon Johannes die Goddelike mag in meer diepte as ooit tevore, soos in die boek van die natuur en op die geïnspireerde bladsye opgeteken, bestudeer. Dit was vir hom ‘n genot om oor die werk van die skepping te peins en die Goddelike Argitek te aanbid. Vroeër jare is sy oë deur die heuwels met bosbedekkings, groen valleie en vrugbare vlaktes begroet; en dit was altyd vir hom ‘n vreugde om in die skoonheid van die natuur, die wysheid en vaardigheid van die Skepper na te speur. Nou was hy deur tonele wat vir baie mense somber en oninteressant sou voorkom omring, maar vir Johannes was dit anders. Alhoewel sy omgewing woes en dor voorgekom het, was die blou hemel wat oor hom gebuig het, net so helder en mooi soos die lug bokant sy geliefde Jerusalem. In die wilde, ruwe rotse, in die geheimenisse van die diepte, in die glorie van die uitspansel, het hy belangrike lesse gelees. Alles het die boodskap van die mag en heerlikheid van God verkondig. DHDA 491.1
Rondom hom het die apostel bewyse van die Vloed wat die aarde oorstroom het omdat die bewoners daarvan dit gewaag het om God se wet te oortree, gesien. Die rotse wat uit die see en uit die aarde opgewerp is deur die waters wat daaruit deurgebreek het, het die verskrikking van daardie verskriklike uitstorting van die toorn van God helder voor sy gees gebring. In die stem van baie waters-diep roep tot diep-het die profeet die stem van die Skepper gehoor. Die see, verwoed deur die genadelose winde, het vir hom die toorn van ‘n beledigde God voorgestel. Die magtige golwe in hul hewige oproerigheid, beperk tot die perke wat deur ‘n onsigbare Hand daargestel is, het tot hom gespreek van die beheer van ‘n oneindige Mag. En in teenstelling hiermee, het hy die swakheid en dwaasheid van sterflinge wat, hoewel hulle soos wurms uit die stof is, in hul veronderstelde wysheid en krag roem en hulle hart teen die Heerser van die heelal oprig, asof God iemand soos hulle is, besef. Die rotse het hom aan Christus herinner, aan die Rots van sy krag, in wie se skuiling hy sonder vrees kon skuil. Van die verbanne apostel op die rotsagtige Patmos, het daar met die vurigste verlange van siel na God, die vurigste gebede opgegaan. DHDA 491.2
Die geskiedenis van Johannes gee ‘n treffende voorbeeld van die wyse waarop God bejaarde werkers kan gebruik. Toe Johannes na die eiland Patmos verban is, was daar baie wat van mening was dat hy verby diensbaarheid was, dat hy ‘n ou en geknakte riet was wat enige oomblik op die aarde kon val. Maar dit het die Here gepas om hom steeds verder te gebruik. Hoewel hy van die tonele van sy vorige arbeid verban was, het hy nie opgehou om vir die waarheid te getuig nie. Selfs op Patmos het hy vriende en bekeerlinge gemaak. Syne was ‘n boodskap van vreugde en die verkondiging van ‘n opgestane Verlosser wat opgevaar het na die hemel om vir Sy volk in te tree, totdat Hy sal terugkeer om hulle na Hom toe te neem. En nadat Johannes oud in die diens van sy Here geword het, het hy meer boodskappe uit die hemel ontvang as wat hy gedurende al die vorige jare van sy lewe ontvang het. DHDA 492.1
Die mees deernisvolle agting moet vir diegene wie se lewensbelang aan die werk van God verbonde is gekoester word. Hierdie bejaarde werkers het, te midde van storms en beproewinge, getrou gebly. Hulle het moontlike swakhede, maar hulle besit steeds talente wat hulle in staat stel om hul plek in die werk van God vol te staan. Alhoewel hulle uitgeput is en nie meer in staat is om die swaar laste te dra wat jonger manne kan en moet dra nie, is die raad wat hulle kan gee van die grootste waarde. DHDA 492.2
Hulle het miskien foute begaan, maar uit hul foute het hulle geleer om foute en gevare te vermy en maak dit hulle nie om daardie rede bevoeg om wyse raad te gee nie? Hulle het toetse en beproewings deurstaan en alhoewel hulle van hulle lewenskrag verloor het, skuif die Here hulle nie eenkant nie. Hy gee aan hulle spesiale genade en wysheid. DHDA 492.3
Diegene wat hul Meester gedien het toe die werk moeilik was, wat gebrek gely en getrou gebly het toe daar min was om vir die waarheid te staan, moet geër en gerespekteer word. Die Here wil hê dat die jonger arbeiders wysheid, krag en volwassenheid moet verkry, deur met daardie getroue manne om te gaan. Laat die jonger mans besef dat hulle baie bevoorreg is om sulke werkers onder hulle te hê. Laat aan hulle ‘n geëerde plek in hul rade gegee word. DHDA 493.1
Namate diegene wat hul lewe in die diens van Christus deurgebring het, die einde van hul aardse bediening nader, sal hulle deur die Heilige Gees beweeg word om van die ervarings wat hulle ten opsigte van die werk van God beleef het, te vertel. Die verhaal van God se wonderbare omgang met Sy volk, van Sy goedheid waarmee Hy hulle uit beproewing verlos het, moet aan diegene wat pas tot die geloof gekom het, oorvertel word. God begeer dat die ou en beproefde werkers hulle plek moet volstaan en hulle deel moet doen om manne en vroue te red om nie deur die magtige stroom van die bose meegesleur te word nie. Hy wil hê dat hulle die wapenrusting moet aanhou totdat Hy hulle beveel om dit neer te lê. DHDA 493.2
In die ervaring van die apostel Johannes onder vervolging, is daar ‘n les van wonderlike krag en vertroosting vir die Christen. God verhoed nie die sameswering van goddelose mense nie, maar Hy laat hulle planne ten goede werk vir diegene wat hulle geloof en trou onder beproewinge en konflik handhaaf. Die evangeliewerker doen dikwels sy werk te midde van storms van vervolging, bitter teëstand en onregverdige verwyt. Wanneer dit gebeur, moet hy onthou dat die ervaring wat mens in die vuuroond van beproewing en swaarkry opdoen, alles die moeite werd is. So bring God Sy kinders na aan Hom, sodat Hy hul swakheid en Sy krag aan hulle kan toon. Hy leer hulle om op Hom te steun. So berei Hy hulle voor om noodgevalle te konfronteer, vertrouensposte te vul en die groot doel waarvoor hulle krag ontvang het te bereik. DHDA 493.3
Deur al die eeue het die aangestelde getuies van God hulself ter wille van die waarheid, aan verwyt en vervolging blootgestel. Josef was belaster en vervolg omdat hy sy deug en sy integriteit bewaar het. Dawid, die uitverkore boodskapper van God, is deur sy vyande soos ‘n roofdier gejag. Daniël is in die leeukuil gegooi omdat hy getrou aan die hemel was. Job is van sy wêreldse besittings ontneem en in sy liggaam geteister, dat hy deur sy familielede en vriende verag is; tog het hy sy integriteit gehandhaaf. Jeremia kon nie afgeskrik word om die woorde wat God aan hom toevertrou het te spreek nie; en sy getuienis het die koning en die vorste so woedend gemaak dat hy in ‘n walglike put gewerp is. Stefanus is gestenig omdat hy Christus, die gekruisigde, verkondig het. Paulus is in die gevangenis gesit, met stokke geslaan, gestenig en uiteindelik doodgemaak omdat hy ‘n getroue boodskapper van God vir die Heidene was. En Johannes is na die eiland Patmos verban ter wille van “...die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus.” DHDA 494.1
Hierdie voorbeelde van menslike standvastigheid getuig van die betroubaarheid van die beloftes van God-van Sy blywende teenwoordigheid en volgehou genade. Dit getuig van die krag van geloof om die magte van die wêreld te weerstaan. Dit is die werk van geloof om in die donkerste uur rus by God te vind, om te voel, hoe ook al beproef en deur die tyd van storms heen en weer geslinger te word, dat ons Vader aan die stuur is. Slegs die oog van geloof kan verder as die tydelike dinge sien om die waarde van die ewige rykdom reg te skat. DHDA 494.2
Jesus bied nie aan Sy volgelinge die vooruitsig om aardse glorie en rykdom te verkry, om ‘n lewe vry van beproewing te ly nie. In plaas daarvan doen Hy ‘n beroep op hulle om Hom op die weg van selfverloëning en verwyt te volg. Hy wat gekom het om die wêreld te verlos, is deur die verenigde magte van die bose teëgestaan. Bose manne en bose engele het hulle, in ‘n genadelose verbond, teen die Vredevors geskaar. Sy elke woord en daad het van Goddelike deernis getuig en Sy ongelykvormigheid aan die wêreld het die bitterste vyandskap uitgelok. DHDA 495.1
So sal dit met almal wees wat godvrugtig in Christus Jesus sal lewe. Vervolging en smaad wag op almal wat met die Gees van Christus deurdrenk is. Die aard van die vervolging verander saam met die tye, maar die beginsel-die onderliggende gees-is dieselfde as die wat die uitverkorenes van die Here sedert die dae van Abel gedood het. DHDA 495.2
Deur al die eeue het Satan die volk van God vervolg. Hy het hulle gemartel en doodgemaak, maar in hulle sterwe het hulle oorwinnaars geword. Hulle het van die mag van die Een getuig wat magtiger as Satan is. Goddelose mense mag die liggaam martel en doodmaak, maar hulle kan nie aan die lewe wat met Christus in God verborge is raak nie. Hulle kan manne en vroue in gevangenisse opsluit, maar hulle kan die gees nie bind nie. DHDA 495.3
Deur beproewing en vervolging word die heerlikheid, die karakter van God, in Sy uitverkorenes geopenbaar. Die gelowiges in Christus, deur die wêreld gehaat en vervolg, word in die skool van Christus opgelei en gedissiplineer. Op aarde wandel hulle op nou paadjies; hulle word in die vuuroond van ellende gereinig. Hulle volg Christus deur swaar stryd; hulle verduur selfverloëning en ervaar bitter teleurstellings; maar so leer hulle die skuld en die wee van die sonde ken en beskou dit met afsku. Aangesien hulle deel het aan die lyding van Christus, kan hulle verby die somberheid na die heerlikheid kyk en sê: “Ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.” (Romeine 8:18). DHDA 495.4