Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 58—Die Seëvierende Kerk
Meer as agtien eeue het verloop sedert die apostels van hulle arbeid gerus het, maar die geskiedenis van hulle moeite en opofferings ter wille van Christus is steeds een van die kosbaarste skatte van die kerk. Hierdie geskiedenis, geskryf onder leiding van die Heilige Gees, is opgeteken sodat die volgelinge van Christus in elke eeu tot groter ywer en erns in die saak van die Verlosser aangespoor kan word. DHDA 510.1
Die dissipels het die opdrag wat Christus aan hulle gegee het, uitgevoer. Soos hierdie boodskappers van die kruis uitgegaan het om die evangelie te verkondig, was daar so ‘n openbaring van die heerlikheid van God, soos wat die sterflike mens nog nooit tevore ervaar het nie. Deur die samewerking van die Goddelike Gees, het die apostels ‘n werk verrig wat die wêreld geskud het. Die evangelie is in een generasie na elke nasie oorgedra. DHDA 510.2
Glorieryk was die resultate van die bediening van die uitverkore apostels van Christus. Aan die begin van hul bediening was sommige van hulle ongeletterd, maar hulle toewyding aan die saak van hul Meester was onvoorwaardelik en onder Sy leiding is hulle voorberei vir die groot werk wat aan hulle opgedra was. Genade en waarheid het in hul harte geheers, hulle motiewe geïnspireerd en hulle optrede beheersd. Hulle lewens was met Christus in God geborge en die self is uit die oog verloor, in die diepte van oneindige liefde verswelg. DHDA 510.3
Die dissipels was manne wat geweet het hoe om met opregtheid te praat en te bid, manne wat die krag van die Sterkte van Israel kon aangryp. Hoe naby het hulle aan God se sy gestaan en hul persoonlike eer aan Sy troon verbind! Jehova was hulle God. Sy eer was hulle eer. Sy waarheid was hulle waarheid. Elke aanval op die evangelie was asof hul siel diep deurboor is en met alle mag tot hul beskikking het hulle vir die saak van Christus geveg. Hulle kon die woord van die lewe voorhou omdat hulle die hemelse salwing ontvang het. Hulle het groot verwagtinge gehad; daarom het hulle baie gewaag. Christus het Homself aan hulle geopenbaar en hulle het na Hom opgesien en leiding by Hom gesoek. Hulle begrip van die waarheid en hul krag om teëstand te weerstaan, was gelykstaande aan hulle ooreenstemming met die wil van God. Jesus Christus, die wysheid en krag van God, was die hooftema van elke preek. Sy Naam-die enigste Naam wat onder die hemel gegee is waardeur mense gered kan word-is deur hulle verhef. Wanneer hulle die volmaaktheid van Christus, die opgestane Verlosser verkondig het, het hulle woorde harte aangeroer en is manne en vroue vir die evangelie gewen. Menigtes wat die Verlosser se Naam beledig het en Sy mag geminag het, het hulself nou as dissipels van die Gekruisigde bely. DHDA 510.4
Die apostels het hulle sending nie in eie krag uitgevoer nie, maar in die krag van die lewende God. Hulle werk was nie maklik nie. Die aanvang van die Christelike kerk se werk is deur ontbering en bitter smart gekenmerk. In hulle werk het die dissipels voortdurend ontbering, laster en vervolging teëgekom; maar hulle het nie hul lewens vir hulself dierbaar geag nie en het hulle verbly dat hulle geroep is om vir Christus te ly. Wankelmoedigheid, besluiteloosheid en onsekerheid het geen plek in hul arbeid gehad nie. Hulle was bereid om te gee en gebruik te word. Die bewustheid van die verantwoordelikheid wat op hulle gerus het, het hulle ervaring gesuiwer en verryk en die genade van die hemel is in die oorwinnings wat hulle vir Christus behaal het geopenbaar. Met die mag van Sy almag, het God deur hulle gewerk om die evangelie te laat seëvier. DHDA 511.1
Op die grondslag wat Christus self gelê het, het die apostels die kerk van God gebou. In die Skrif word die beeld van die oprigting van ‘n tempel gereeld gebruik om die bou van die kerk te illustreer. Sagaria verwys na Christus as die Spruit wat die tempel van die Here sou bou. Hy praat van die Heidene wat met die werk behulpsaam sou wees: “Die wat ver is, sal kom en aan die tempel van die Here bou.” Jesaja verklaar verder: “Uitlanders sal jou mure bou.” (Sagaria 6:12,15; Jesaja 60:10). DHDA 511.2
Aangaande die oprigting van hierdie tempel, skryf Petrus: “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat hulle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” (1 Petrus 2:4,5). DHDA 512.1
In die steengroef van die Joodse en die Heidense wêreld, het die apostels gewerk en stene uitgehaal om op die fondament te lê. In sy brief aan die gelowiges in Éfese sê Paulus: “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” (Efesiërs 2:19-22). DHDA 512.2
En aan die Korinthiërs het hy geskryf: “Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op die fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels-elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.” (1 Korinthiërs 3:10-13). DHDA 512.3
Die apostels het op ‘n vaste fondament gebou, naamlik die Rots van die Eeue. Na hierdie fondament het hulle die stene gebring wat hulle uit die steengroewe van die wêreld gehaal het. Die bouers het nie ongehinderd gearbei nie. Hulle werk is buitengewoon deur die teëstand van die vyande van Christus bemoeilik. Hulle moes stry teen die dweepsug, vooroordeel en die haat van diegene wat op ‘n valse fondament gebou het. Baie wat as bouers van die kerk gewerk het, kon met die bouers van die muur in Nehemia se tyd, vergelyk word, van wie daar geskryf staan: “Van die bouers aan die muur het die lasdraers hulle werk so gedoen dat hulle met die een hand die werk verrig het, terwyl die ander hand die werpspies vashou.” (Nehemia 4:17). DHDA 513.1
Konings en goewerneurs, priesters en owerstes het die tempel van God probeer vernietig. Maar te midde van gevangenisstraf, marteling en dood, het getroue manne die werk voortgesit; en die struktuur het mooi en simmetries gegroei. Soms was die werkers byna verblind deur die mistigheid van bygeloof wat hulle omring het. Soms is hulle byna deur die geweld van hul teëstanders oorweldig. Maar met onwankelbare geloof en onverbiddelike moedigheid het hulle met die werk voortgegaan. DHDA 513.2
Een na die ander het die voorste bouers voor die hand van die vyand geval. Stefanus is gestenig; Jakobus is met die swaard gedood; Paulus is onthoof; Petrus is gekruisig; Johannes is verban. Nogtans het die kerk gegroei. Nuwe werkers het die plek van die wat geval het ingeneem en steen na steen is by die gebou gevoeg. So het die tempel van die kerk van God geleidelik gegroei. DHDA 513.3
Eeue van hewige vervolging het na die totstandkoming van die Christelike kerk gevolg, maar daar was nooit ‘n gebrek aan manne wat die werk om God se tempel te bou, meer kosbaar as die lewe self geag het nie. Aangaande hulle staan daar geskryf: “Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel-die wêreld was hulle nie werd nie-hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.” (Hebreërs 11:36-38). DHDA 513.4
Die vyand van geregtigheid het niks ongedaan gelaat in sy poging om die werk wat aan die Here se bouers toevertrou is, te staak nie. Maar God het “...Homself nie onbetuig gelaat nie.” (Handelinge 14:17). Werkers is opgewek wat die geloof wat eenmaal aan die heiliges toevertrou is, bekwaam verdedig het. Die geskiedenis getuig van die standvastigheid en heldhaftigheid van hierdie manne. Soos die apostels, het baie van hulle op hulle poste geval, maar die bou van die tempel het geleidelik voortgegaan. Die werksmanne is gedood, maar die werk het gevorder. Die Waldense, John Wycliffe, Huss, Jeronimus, Martin Luther en Zwingli, Cranmer, Latimer en Knox, die Hugenote, John en Charles Wesley en nog ‘n menigte ander het boumateriaal vir die fondasie gebring wat tot in alle ewigheid sal bestaan. En in latere jare het diegene wat so edelmoedig gepoog het om die verspreiding van God se woord te bevorder en diegene wat deur hul diens in heidense lande die weg vir die verkondiging van die laaste groot boodskap voorberei het, almal gehelp om die struktuur op te rig. DHDA 514.1
Deur die eeue heen wat sedert die dae van die apostels verloop het, het die bouwerk van die tempel van God nooit opgehou nie. Ons kan deur die eeue heen terugkyk en die lewende stene daarvan sien wat soos ligstrale deur die duisternis van dwaling en bygeloof skyn. Hierdie kosbare juwele sal deur die ewigheid met toenemende glans skyn en getuig van die krag van die waarheid van God. Die flitsende lig van hierdie gepoleerde stene openbaar die sterk kontras tussen lig en duisternis, tussen die goud van die waarheid en die skuim van die dwaling. DHDA 514.2
Paulus en die ander apostels en al die regverdiges wat sedertdien geleef het, het hulle aandeel tot die oprigting van die tempel bygedra. Maar die struktuur is nog nie voltooi nie. Ons wat in hierdie era leef, het ‘n werk om te doen, ‘n rol om te speel. Ons moet boumateriaal op die fondasie neerlê wat die vuurproef sal deurstaan-goud, silwer, kosbare stene “...wat uitgebeitel is na die boustyl van ‘n paleis.” (Psalm 144:12). Tot diegene wat so vir God bou, spreek Paulus woorde van bemoediging en vermaning: “As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (1 Korinthiërs 3:14,15). Die Christen wat die woord van die lewe getrou aanbied en manne en vroue in die weg van heiligheid en vrede lei, bring standhoudende boumateriaal na die fondasie en in die koninkryk van God sal hy as ‘n wyse bouer vereer word. DHDA 515.1
Van die apostels staan geskrywe: “Hulle het uitgegaan en oral gepreek en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.” (Markus16:20). Soos Christus Sy dissipels uitgestuur het, stuur Hy vandag die lede van Sy kerk uit. Dieselfde mag wat die apostels gehad het, is ook tot hulle beskikking. As hulle God hul krag sal maak, sal Hy met hulle saamwerk en hulle sal nie tevergeefs arbei nie. Laat hulle besef dat die werk waarmee hulle besig is, ‘n werk is waarop die Here Sy seël geplaas het. God het aan Jeremia gesê: “Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek. Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red ... Toe het die Here Sy hand uitgestrek...” en Sy dienskneg se mond aangeraak met die woorde: “Hiermee lê Ek my woorde in jou mond.” (Jeremia 1:7-9). En Hy beveel ons om uit te gaan en die woorde te spreek wat Hy vir ons gee, terwyl ons Sy heilige aanraking op ons lippe voel. DHDA 515.2
Christus het ‘n heilige opdrag aan die kerk gegee. Elke lidmaat behoort ‘n kanaal te wees waardeur God die skatte van Sy genade, die ondeurgrondelike rykdom van Christus, kan oordra. Die Here begeer niks meer as agente wat Sy Gees en Sy karakter in die wêreld sal verteenwoordig nie. Daar is niks wat die wêreld meer benodig as die manifestasie, deur die mensdom, van die Heiland se liefde nie. Die wêreld het aan niks ‘n groter behoefte as die openbaring van die Heiland se liefde deur die mensdom nie. Die ganse hemel wag op manne en vroue deur wie God die krag van die Christendom kan openbaar. DHDA 516.1
Die kerk is die verteenwoordiger van God vir die verkondiging van die waarheid, wat deur Hom bemagtig word om ‘n spesiale werk te doen; as die kerk lojaal aan Hom is en al Sy gebooie gehoorsaam, sal die voortreflikheid van die genade van God daarin woon. As die kerk getrou aan sy trou is en die Here God van Israel eer, is daar geen mag wat hom kan weerstaan nie. DHDA 516.2
Ywer vir God en Sy saak het die dissipels beweeg om met groot mag vir die evangelie te getuig. Behoort ‘n soortgelyke ywer nie ons harte aan te vuur met vasberadenheid om die verhaal van die verlossende liefde van Christus en Hom gekruisig, te vertel nie? Dit is elke Christen se voorreg om nie net na die koms van die Heiland uit te sien nie, maar ook om dit te verhaas. DHDA 516.3
As die kerk die kleed van Christus se geregtigheid sal aantrek en hom onttrek van alle trou met die wêreld, sal ‘n helder en glorieryke dag aanbreek. God se belofte aan haar sal vir ewig vasstaan. Hy sal haar ‘n ewige voortreflikheid maak, ‘n vreugde vir baie geslagte. Die waarheid, wat diegene wat dit verag en verwerp verbygaan, sal seëvier. Alhoewel dit soms blykbaar vertraag was, was die vooruitgang daarvan nooit gestuit nie. Wanneer die boodskap van God teëstand ervaar, verleen Hy bykomende krag daaraan, sodat dit ‘n groter invloed kan uitoefen. Dit is met Goddelike krag toegerus en sal deur die sterkste hindernisse beweeg en oor elke versperring seëvier. DHDA 516.4
Wat het die Seun van God gedurende Sy lewe van swoeg en opoffering ondersteun? Hy het die gevolge van die arbeid van Sy siel gesien en Hy was tevrede. Hy het die ewigheid ingekyk en die geluk van diegene wat deur Sy vernedering vergifnis en die ewige lewe ontvang het gesien. Sy oor het die gejuig van die verlostes gehoor. Hy het gehoor hoe die vrygekooptes die lied van Moses en van die Lam sing. DHDA 517.1
Ons mag ‘n toekomsvisie hê, die seëninge van die hemel. In die Bybel word visioene van toekomstige glorie geopenbaar, tonele wat deur die hand van God geskilder is en dit is kosbaar vir Sy kerk. Deur geloof kan ons op die drumpel van die ewige stad staan en die genadige verwelkoming hoor van diegene wat in hierdie lewe met Christus saamgewerk het omdat hulle dit as ‘n eer beskou het om ter wille van Hom te ly. Wanneer hulle die woorde: “Kom, julle geseëndes van my Vader...” hoor, werp hulle hul krone voor die voete van die Verlosser neer terwyl hulle uitroep: “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof ... Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Mattheus 25:34; Openbaring 5:12,13.) DHDA 517.2
Daar begroet die verlostes diegene wat hulle na die Verlosser gely het en almal verenig in lof aan Hom wat gesterf het, sodat mense die lewe wat met die lewe van die Vader ooreenstem, kan hê. Die stryd is verby. Verdrukking en twis is beëindig. Oorwinningsliedere vul die ganse hemel terwyl die verlostes die vreugdevolle noot van die lied opneem: Waardig, waardig is die Lam wat geslag is en weer lewe, ‘n triomfantlike Oorwinnaar. DHDA 517.3
“Na hierdie dinge het ek gesien en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” (Openbaring 7,9,10). DHDA 517.4
“Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal Sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei en God sal alle trane van hulle oë afvee ... En daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” (Openbaring 7:14-17; 21:4). DHDA 518.1