Die Handelinge Van Die Apostels

56/59

Hoofstuk 55—Herskep deur Genade

In die lewe van die dissipel Johannes, word ware heiligmaking geïllustreer. Gedurende die jare van sy intieme omgang met Christus, is hy dikwels deur die Heiland vermaan en gewaarsku; en hy het hierdie teregwysings aanvaar. Terwyl die Goddelike karakter aan hom geopenbaar is, het Johannes bewus geword van sy eie gebreke en hierdie openbaring het hom nederig gemaak. In teenstelling met sy eie gewelddadige gees, het hy elke dag die sagmoedigheid en verdraagsaamheid van Jesus aanskou en Sy lesse van nederigheid en geduld aangehoor. Dag na dag was sy hart tot Christus aangetrokke, totdat hy, in sy liefde vir sy Meester, homself totaal uit die oog verloor het. Die mag en teerheid, die majesteit en sagmoedigheid, die krag en geduld wat hy in die daaglikse lewe van die seun van God aanskou het, het sy siel met bewondering gevul. Hy het sy opvlieënde, eersugtige humeur aan die vormende mag van Christus onderwerp en die Goddelike liefde het ‘n transformasie van karakter teweeggebring. DHDA 479.1

In opvallende kontras met die heiligmaking wat in die lewe van Johannes teweeggebring is, was die ervaring van sy mede-dissipel, Judas. Soos sy medewerker, het Judas beweer dat hy ‘n dissipel van Christus was, maar hy het slegs ‘n vorm van godsaligheid gehad. Hy was nie ongevoelig vir die reinheid van Christus se karakter nie; en dikwels, terwyl hy na die woorde van die Heiland geluister het, was hy oortuig, maar hy wou nie sy hart verneder of sy sondes bely nie. Deur die Goddelike invloed te weerstaan, het hy die Meester wat hy beweer het hy liefgehad het, oneer aangedoen. Johannes het ernstig teen sy gebreke gestry; maar Judas het sy gewete verkrag en aan versoeking toegegee en sy sondige gewoontes meer vaster aan hom gebind. Die beoefening van die waarhede wat Christus geleer het, was teenstrydig met sy begeertes en voornemens en hy kon hom nie daartoe bring om sy idees prys te gee sodat hy die wysheid van die hemel kon ontvang nie. In plaas daarvan om in die lig te wandel, het hy gekies om in duisternis te wandel. Bose begeertes, hebsug, wraakgierige hartstogte, donker en sombere gedagtes is gekoester, totdat Satan volle beheer oor hom verkry het. DHDA 479.2

Johannes en Judas is verteenwoordigers van diegene wat beweer dat hulle volgelinge van Christus is. Albei hierdie dissipels het dieselfde geleenthede gehad om die Goddelike voorbeeld te bestudeer en te volg. Albei was nou verbonde aan Jesus en was bevoorreg om na Sy leer te luister. Elkeen het ernstige gebreke van karakter gehad en elkeen het toegang tot die Goddelike genade wat karakters verander, gehad. Maar terwyl die een in nederigheid van Jesus geleer het, het die ander openbaar dat hy geen dader van die woord was nie, maar slegs ‘n hoorder. Een, wat daagliks aan self gesterf en sonde oorkom het, is deur die waarheid geheilig; die ander, wat die herskeppende krag van genade weerstaan en aan selfsugtige begeertes toegegee het, is aan Satan gebind. DHDA 480.1

Transformasie van karakter soos gesien in die lewe van Johannes, is altyd die gevolg van gemeenskap met Christus. Daar mag moontlik duidelike gebreke in die karakter van een individu wees, maar wanneer hy ‘n ware dissipel van Christus word, word hy deur die Goddelike genade verander en geheilig. Terwyl hy die heerlikheid van die Here soos in ‘n spieël aanskou, word hy van heerlikheid tot heerlikheid verander totdat hy soos Hy is wie hy aanbid. DHDA 480.2

Johannes was ‘n leraar van heiligheid en in sy briewe aan die kerk het hy onfeilbare reëls neergelê vir die optrede van Christene. “Elkeen wat hierdie hoop op Hom het...” het hy geskryf, “...reinig homself soos Hy rein is.” “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1 Johannes 3:3;2:6). Hy het geleer dat die Christen rein van hart en lewe moet wees. Nooit mag hy met ‘n betekenislose belydenis tevrede wees nie. Soos God in Sy sfeer heilig is, so moet die gevalle mens deur geloof in Christus in sy sfeer heilig wees. DHDA 480.3

Die apostel Paulus het geskryf: “Dit is die wil van God: julle heiligmaking.” (1 Thessalonicense 4:3). God se doel in al Sy handelinge met Sy volk, is die heiligmaking van die kerk. Hy het hulle van die ewigheid af gekies om heilig te wees. Hy het Sy Seun gegee om vir hulle te sterf, sodat hulle deur gehoorsaamheid aan die waarheid geheilig en van alle kleinlikheid en die eie ek kan afsien. Hy vereis ‘n persoonlike werk van hulle, ‘n persoonlike oorgawe. God kan alleenlik deur diegene wat bely dat hulle in Hom glo, slegs namate hulle gelykvormig aan Sy beeld word en deur Sy gees beheer word, vereer word. Dan kan hulle, as getuies vir die Verlosser, bekend maak wat Goddelike genade vir hulle gedoen het. DHDA 481.1

Ware heiligmaking kom deur die uitwerking van die beginsel van liefde. “God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.” (1 Johannes 4:16). Die lewe van hom in wie se hart Christus woon, sal daadwerklike godsvrug openbaar. Die karakter sal gesuiwer, verhef, veredel en verheerlik word. ‘n Suiwere leer sal met werke van geregtigheid saamsmelt; hemelse voorskrifte sal met hemelse gebruike vermeng word. DHDA 481.2

Diegene wat die seën van heiligmaking wil ontvang, moet eers die betekenis van selfopoffering leer. Die kruis van Christus is die sentrale steunpilaar waaraan die “...alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid...” hang. (2 Korinthiërs 4:17). Christus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Mattheus 16:24). Dit is die geur van ons liefde vir ons medemens wat ons liefde vir God openbaar. Dit is geduldige diens wat rus vir die siel bring. Dit is deur nederige, naarstige, getroue arbeid dat die welvaart van Israel bevorder word. God handhaaf en versterk die een wat bereid is om op die weg van Christus te volg. DHDA 481.3

Heiligmaking is nie die werk van ‘n oomblik, ‘n uur, of ‘n dag nie, maar van ‘n leeftyd. Dit word nie deur ‘n vlugtige gevoel van geluk verkry nie, maar is die gevolg van voortdurend aan sonde te sterf en vir Christus te leef. Wat verkeerd is kan nie reggestel word nie, of hervormings in die karakter teweeggebring word deur af en toe floue pogings aan te wend nie. Dit is alleen deur langdurige, volgehoue inspanning, streng dissipline en ernstige stryd wat ons sal oorwin. Ons weet nie die een dag hoe sterk ons stryd die volgende dag sal wees nie. Solank as wat Satan regeer, sal ons die eie ek moet onderwerp en besitlike sondes oorwin; solank as wat die lewe sal duur, sal daar geen stilhouplek wees nie, geen punt wat ons kan bereik en sê: Ek het dit ten volle bereik nie. Heiligmaking is die gevolg van lewenslange gehoorsaamheid. DHDA 482.1

Nie een van die apostels en profete het ooit beweer dat hulle sonder sonde was nie. Manne wat die naaste aan God geleef het, manne wat liewer hulle lewens sou prysgegee het as om wetend ‘n verkeerde daad te doen, manne wat God met Goddelike lig en krag vereer het, het die sondigheid van hulle natuur bely. Hulle het geen vertroue in die vlees gestel nie en op geen eiegeregtigheid aanspraak gemaak nie, maar het volkome op die geregtigheid van Christus vertrou. DHDA 482.2

So sal dit met almal wees wat Christus aanskou. Hoe nader ons aan Jesus kom en hoe duideliker ons die reinheid van Sy karakter onderskei, hoe duideliker sal ons die buitengewone sondigheid van sonde insien en hoe minder sal ons geneig wees om onsself te verhef. Daar sal ‘n voortdurende uitreiking van die siel na God wees, ‘n voortdurende, ernstige, hartverskeurende belydenis van sonde en vernedering van die hart voor Hom. Met elke stap vorentoe in die Christelike ervaring, sal ons berou verdiep. Ons sal weet dat ons genoegsaamheid in Christus alleen is en ons sal die belydenis van die apostel ons eie maak: “Ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie ... Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” (Romeine 7:18; Galasiërs 6:14.) DHDA 482.3

Laat die opname-engele die geskiedenis van die heilige stryd en konflik van die volk van God neerskryf; laat hulle hul gebede en trane opteken; maar laat God nie onteer word deur ‘n verklaring van menslike lippe: “Ek is sondeloos; ek is heilig... ” nie. Geheiligde lippe sal nooit sulke aanmatigende woorde uiter nie. DHDA 483.1

Die apostel Paulus is tot in die derde hemel opgeneem en het dinge gesien en gehoor wat nie uitgespreek kon word nie en tog was sy beskeie uitspraak: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna.” (Filippense 3:12). Laat die engele van die hemel van Paulus se oorwinning in die goeie stryd van geloof skryf. Laat die hemel hom verheug in sy vasberade treë hemelwaarts en omdat hy, met die prys voor oë, elke ander oorweging as drek beskou. Engele verheug hulle om van sy oorwinning te vertel, maar Paulus roem hom nie oor sy prestasies nie. Die gesindheid van Paulus is die gesindheid wat elke navolger van Christus moet aanneem soos hy vorentoe beur in die stryd vir die onverwelklike kroon. DHDA 483.2

Laat diegene wat geneig voel om ‘n hoë aanspraak op heiligheid te maak, in die spieël van God se wet kyk. Wanneer hulle die verreikende aansprake en die werk daarvan as ‘n onderskeider van die gedagtes en bedoelings van die hart sien, sal hulle hul nie op sondeloosheid roem nie. “As ons sê dat ons geen sonde het nie... ” sê Johannes sonder om hom van sy broeders te onderskei, “...mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie ... As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is Sy woord nie in ons nie ... As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:8,10,9). DHDA 483.3

Daar is diegene wat heiligheid beweer, wat verklaar dat hulle volkome aan die Here behoort, wat aanspraak op die reg op die beloftes van God maak, terwyl hulle weier om aan Sy gebooie gehoorsaam te wees. Hierdie oortreders van die wet maak aanspraak op alles wat aan die kinders van God belowe word; maar dit is aanmatiging van hulle kant af, want Johannes sê vir ons dat ware liefde vir God in gehoorsaamheid aan al Sy gebooie geopenbaar sal word. Dit is nie genoeg om die teorie van die waarheid te glo, ‘n belydenis van geloof in Christus te maak, te glo dat Jesus geen indringer is nie en dat die godsdiens van die Bybel geen slinkse fabel is nie. Johannes het geskryf: “Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is ... En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom.” (1 Johannes 2:4,5;3:24). DHDA 484.1

Johannes het nie geleer dat redding deur gehoorsaamheid verdien word nie; maar daardie gehoorsaamheid is die vrug van geloof en liefde. Hy het gesê: “Julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem en geen sonde is in Hom nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie.” (1Johannes 3:5,6). As ons in Christus bly, as die liefde van God in die hart woon, sal ons gevoelens, ons gedagtes en ons dade in ooreenstemming met die wil van God wees. Die geheiligde hart is in harmonie met die voorskrifte van God se wet. DHDA 484.2

Daar is baie wat, hoewel hulle probeer om God se gebooie te gehoorsaam, min vrede of vreugde het. Hierdie leemte in hulle lewe is die gevolg van versuim om geloof te beoefen. Hulle wandel as’t ware in ‘n land van sout, ‘n dorre woestyn. Hulle eis min terwyl hulle baie kan eis; want daar is geen beperking op die beloftes van God nie. Sulke mense stel nie die heiligmaking wat deur gehoorsaamheid aan die waarheid na vore kom, korrek voor nie. Die Here se wil is dat al Sy seuns en dogters gelukkig, vreedsaam en gehoorsaam sal wees. Deur geloof te beoefen, kom die gelowige in besit van hierdie seëninge. Deur geloof kan elke tekort in die karakter voorsien word, elke besoedeling gereinig, elke fout reggestel word en elke uitmuntendheid ontwikkel word. DHDA 484.3

Gebed is die hemel se geordende middel tot sukses in die konflik met sonde en die ontwikkeling van die Christelike karakter. Die Goddelike invloede wat in antwoord op die gelowige gebed kom, sal alles waarvoor hy pleit, in die siel van die smekeling tot stand bring. Ons kan vra vir die vergifnis van sonde, vir die Heilige Gees, vir ‘n Christelike gesindheid, vir wysheid en krag om Sy werk te doen, vir elke gawe wat Hy beloof het en die belofte is: “Julle sal dit ontvang.” DHDA 485.1

Dit was op die berg saam met God dat Moses die patroon van die wonderlike gebou wat die verblyf van Sy heerlikheid sou wees, aanskou het. Dit was op die berg by God-in die geheime plek van gemeenskap-dat ons Sy heerlike ideaal vir die mensdom moet bepeins. In alle eeue, deur middel van gemeenskap met die hemel, het God Sy doel vir Sy kinders uitgewerk, deur die leerstellings van genade geleidelik aan hulle bekend te maak. Die wyse waarop Hy die waarheid oordra, word deur die woorde geïllustreer: “Sy opgang is so seker soos die dagbreek.” (Hosea 6:3). Hy wat homself plaas waar God hom kan verlig, beweeg as’t ware van die oggendskemering na die volle lig van die middaguur. DHDA 485.2

Ware heiligmaking beteken volmaakte liefde, volmaakte gehoorsaamheid, volmaakte ooreenstemming met die wil van God. Ons moet deur gehoorsaamheid aan die waarheid vir God geheilig word. Ons gewete moet van dooie werke gesuiwer word om die lewende God te dien. Ons is nog nie volmaak nie; maar dit is ons voorreg om ons van die strikke van die eie ek en sonde los te sny en na volmaaktheid te vorder. Groot moontlikhede, hoë en heilige prestasies word binne die bereik van almal geplaas. DHDA 485.3

Die rede waarom baie mense tans in hierdie wêreld nie in die Goddelike lewe verder vorder nie, is omdat hulle die wil van God op so ‘n wyse vertolk dat dit by hulle eie wil inpas. Terwyl hulle hul eie begeertes volg, vlei hulle hulself dat hulle aan die wil van God voldoen. Hulle het geen innerlike stryd nie. Daar is ander wat weer ‘n tyd lank suksesvol is in die stryd teen hul selfsugtige begeerte na plesier en gemak. Hulle is opreg en ernstig, maar raak moeg vir die langdurige inspanning, vir die daaglikse afsterwe, vir die onophoudelike verwarring. Traagheid skyn vir hulle aanloklik te wees, die afsterf van self weersinwekkend; en hulle sluit lomerig hul oë en swig voor die krag van versoeking in plaas daarvan om dit te weerstaan. DHDA 486.1

Die aanwysings wat in die Woord van God neergelê word, laat geen ruimte vir kompromieë met die bose nie. Die Seun van God is geopenbaar sodat Hy alle mense na Hom toe kan aantrek. Hy het nie gekom om die wêreld aan die slaap te sus nie, maar om die smal weg aan te dui waarop almal wat die poorte van die Godstad uiteindelik wil bereik moet reis. Sy kinders moet volg waar Hy gelei het al beteken dit ook watter opoffering van gemak of selfsugtige toegeeflikheid ten koste van arbeid of lyding, hulle moet ‘n voortdurende stryd met hulself handhaaf. DHDA 486.2

Die grootste lof wat mense aan God kan bring, is om gewyde kanale te word deur wie Hy kan werk. Tyd stap vinnig aan na die ewigheid. Laat ons nie van God weerhou wat aan Hom behoort nie. Laat ons Hom nie dit weier wat, alhoewel dit nie met verdienste gegee kan word nie, nie sonder vernietiging geweier kan word nie. Hy vra vir die hele hart; gee dit aan Hom; dit behoort aan Hom, deur die skepping sowel as deur die verlossing. Hy vra vir jou verstand; gee dit vir Hom; dit is Syne. Hy vra vir jou geld; gee dit aan Hom; dit is Syne. “Weet julle nie ... dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop.” (1Korinthiërs 6:19,20). God vra vir die eerbetoon van ‘n geheiligde siel, wat homself deur die beoefening van geloof wat deur liefde werk, voorberei het om Hom te dien. Hy hou die hoogste ideaal aan ons voor, naamlik volmaaktheid. Hy vra ons om in hierdie wêreld absoluut en volkome vir Hom te wees, net soos Hy in die teenwoordigheid van God vir ons is. DHDA 486.3

“Dit is die wil van God...” vir julle, naamlik “...julle heiligmaking.” (1 Thessalonicense 4:3). Is dit ook jou wil? Jou sondes mag soos berge voor jou opdoem; maar as jy jou hart verneder en jou sondes bely en op die rein verdienste van ‘n gekruisigde en opgestane Verlosser vertrou, sal Hy jou vergewe en van alle ongeregtigheid reinig. God vereis van jou volkome ooreenstemming met Sy wet. Hierdie wet is die weerklank van Sy stem wat vir jou sê: Heiliger, ja, steeds heiliger. Begeer die volheid van die genade van Christus. Laat jou hart gevul word met ‘n intense verlange na Sy geregtigheid, die werking waarvan God se Woord verklaar dat dit vrede is en die effek daarvan rustigheid en sekerheid tot in ewigheid. DHDA 487.1

Namate jou siel na God smag, sal jy meer en meer die ondeurgrondelike rykdom van Sy genade vind. Namate jy hierdie rykdom bepeins, sal jy besit daarvan neem en die verdienste van die offer van die Heiland openbaar, die beskerming van Sy geregtigheid, die volheid van Sy wysheid en Sy krag om jou “...vlekkeloos en onberispelik...” (2 Petrus 3:14) voor die Vader aan te bied. DHDA 487.2