Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 54—'n Getroue Getuie*
Na die Hemelvaart van Christus, het Johannes as ‘n getroue, ernstige arbeider vir die Meester na vore getree. Saam met die ander dissipels het hy op die Pinksterdag die uitstorting van die Heilige Gees beleef en met hernude ywer en krag het hy voortgegaan om die woorde van lewe tot die mense te spreek en gestreef om hulle gedagtes na die Onsienlike te lei. Hy was ‘n kragtige prediker, vurig en diep ernstig. In skoonheid van taal en met ‘n musikale stem het hy van die woorde en dade van Christus vertel, op ‘n wyse wat die harte van diegene wat hom gehoor het diep geraak het. Die eenvoud van sy woorde, die verhewe krag van die waarhede wat hy gespreek het en die ywer wat sy lering gekenmerk het, het hom toegang tot alle klasse verleen. DHDA 470.1
Die lewe van die apostel was in ooreenstemming met sy lering. Die liefde vir Christus wat in sy hart gegloei het, het hom tot ernstige, onvermoeide arbeid vir sy medemense gelei, veral vir sy broers in die Christelike kerk. DHDA 470.2
Christus het die eerste dissipels gebied om mekaar lief te hê soos Hy hulle liefgehad het. Sodoende moes hulle aan die wêreld getuig dat Christus innerlik gevorm is, die hoop op die heerlikheid. Hy het gesê: “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” (Johannes 13:34). In die tyd toe hierdie woorde gespreek is, kon die dissipels dit nie verstaan nie; maar nadat hulle die lyding van Christus aanskou het, na Sy kruisiging en opstanding en Hemelvaart en nadat die Heilige Gees op die Pinksterdag op hulle gerus het, het hulle ‘n duideliker begrip van die liefde van God gehad en ook van die aard van die liefde wat hulle vir mekaar moes hê. Toe kon Johannes aan sy mededissipels sê: DHDA 470.3
“Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.” DHDA 471.1
Nadat die Heilige Gees neergedaal en die dissipels uitgegaan het om ‘n lewende Verlosser te verkondig, was hulle enigste begeerte vir die redding van siele. Hulle het hulle in die heerlike gemeenskap met die heiliges verbly. Hulle was teer, bedagsaam, selfverloënend en bereid om, ter wille van die waarheid, enige offer te bring. In hul daaglikse omgang met mekaar, het hulle die liefde wat Christus vir hulle voorgeskryf het geopenbaar. Deur onselfsugtige woorde en dade het hulle hul beywer om hierdie liefde in die harte van ander op te wek. DHDA 471.2
Hierdie liefde moes voortdurend deur die gelowiges gekoester word. Hulle moes in gewillige gehoorsaamheid aan die nuwe gebod voortgaan. Hulle moes so innig met Christus verenig wees, dat hulle in staat sou wees om aan al Sy vereistes te voldoen. Hulle lewens moes die krag van ‘n Verlosser wat hulle deur Sy geregtigheid kon regverdig, verhoog. DHDA 471.3
Maar geleidelik het ‘n verandering ingetree. Die gelowiges het begin om gebreke in ander te soek. Hulle het by foute stilgestaan, plek aan onvriendelike kritiek gegee en die Verlosser en Sy liefde uit die oog verloor. Hulle het strenger nadruk op uiterlike seremonies gelê, meer spesifiek op die teorie as die beoefening van die geloof daarvan. In hul ywer om ander te veroordeel, het hulle hul eie foute oor die hoof gesien. Hulle het die broederliefde wat Christus voorgeskryf het, verloor en, die hartseerste van alles, was dat hulle onbewus van hul verlies was. Hulle het nie besef dat geluk en vreugde uit hulle lewens sou verdwyn en dat hulle, nadat die liefde van God uit hul harte gewyk het, binnekort in die duisternis sou wandel nie. DHDA 471.4
Johannes, wat besef het dat broederliefde in die kerk afneem, het op die gelowiges die voortdurende behoefte aan hierdie liefde benadruk. Sy briewe aan die kerk was vol van hierdie gedagte. Hy het geskryf: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.” DHDA 472.1
Aangaande die besondere gesindheid waarin hierdie liefde deur die gelowiges geopenbaar moet word, skryf die apostel: “Tog skryf ek aan julle ‘n nuwe gebod wat waar is in Hom en in julle, want die duisternis gaan verby en die waaragtige lig skyn alreeds. Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het ... Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê ... Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie. Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy Sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.” DHDA 472.2
Dit is nie die teëstand van die wêreld wat die grootste gevaar vir die kerk van Christus inhou nie. Dit is die boosheid wat in die harte van gelowiges gekoester word wat die grootste ramp veroorsaak en die vooruitgang van die saak van God beslis die meeste vertraag. Daar is geen sekerder wyse waarop geestelikheid verswak kan word nie, as deur afguns, agterdog, kritiek en kwaadwilligheid te koester nie. Daarteenoor is die sterkste getuienis dat God Sy Seun na die wêreld gestuur het, die teenwoordigheid van harmonie en eenheid tussen mense met uiteenlopende gesindhede wat die kerk vorm. Dit is die voorreg van die volgelinge van Christus om hierdie getuienis te lewer. Maar om dit te kan vermag, moet hulle hulself aan die gesag van Christus onderwerp. Hulle karakter moet aan Sy karakter voldoen en hulle wil aan Sy wil. DHDA 472.3
Christus het gesê: “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” (Johannes 13:34). Wat ‘n wonderlike verklaring; maar tog, hoe swak word dit uitgevoer! Broederliefde ontbreek grootliks in die kerk van Christus. Baie wat beweer dat hulle die Verlosser liefhet, het mekaar nie lief nie. Ongelowiges hou ons dop om te sien of die geloof van belydende Christene ‘n heiligmakende invloed op hul lewens uitoefen; en hulle is vinnig om die gebreke in karakters en teenstrydighede in optrede te bespeur. Christene moet dit nie vir die vyand moontlik maak om met die vinger na hulle te wys en te sê: Kyk hoe haat hierdie mense mekaar wat onder die vaandel van Christus staan nie. Christene is almal lede van dieselfde gesin, almal kinders van dieselfde hemelse Vader, met dieselfde salige hoop op onsterflikheid. Die band wat hulle saambind, behoort baie innig en vol deernis te wees. DHDA 473.1
Goddelike liefde is die hartroerendste wanneer dit ons oproep om dieselfde tere medelye te manifesteer as wat Christus gemanifesteer het. Alleen die mens wat onselfsugtige liefde vir sy broer koester, het ware liefde vir God. Die ware Christen sal nie bereid wees om die siel wat in gevaar verkeer en nodig het om gewaarsku te word, onversorg te laat nie. Hy sal nie afsydig staan teenoor die dwalendes en hulle verder in ongelukkigheid en mismoedigheid laat versink of op die Satan se slagveld laat sneuwel nie. DHDA 473.2
Diegene wat nog nooit die tere, oorwinnende liefde van Christus ervaar het nie, kan nie ander na die Fontein van die lewe lei nie. Sy liefde in die hart is ‘n dwingende mag wat daartoe lei dat mense Hom in hul gesprekke, in die teer deernisvolle gees, in die opheffing van die lewens van diegene met wie hulle omgaan, openbaar. Suksesvolle Christen-werkers, moet Christus ken; en om Hom te ken, moet hulle Sy liefde ken. In die hemel word hulle geskiktheid as werkers aan hul begaafdheid om lief te hê soos Christus liefgehad het en om te werk soos Hy gewerk het, gemeet. DHDA 474.1
Die apostel skryf: “Laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.” Die volmaaktheid van ‘n Christelike karakter word bereik wanneer die drang om ander tot hulp en seën te wees voortdurend van binne ontstaan. Dit is die atmosfeer van hierdie liefde wat die siel ‘n geur tot die lewe maak en God in staat stel om sy werk te seën. DHDA 474.2
Oorheersende liefde vir God en onselfsugtige liefde vir mekaar-dit is die beste geskenk wat ons hemelse Vader ons kan skenk. Hierdie liefde is nie impulsief nie, maar ‘n Goddelike beginsel, ‘n blywende mag. Die oningewyde hart kan dit nie laat ontstaan of voortbring nie. Dit kom alleen in die hart waar Jesus regeer voor. “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” In die hart wat deur Goddelike genade hernu is, is liefde die oorheersende lewensbeginsel. Dit verander die karakter, beheer die impulse, hou die hartstogte in bedwang en veredel die geneenthede. Hierdie liefde in die siel gekoester, maak die lewe soeter en werp ‘n verfynende invloed op die hele omgewing. DHDA 474.3
Johannes het gestrewe om die gelowiges te lei om verhewe voorregte wat deur die uitoefening van die gees van liefde hulle te beurt sou val, te verstaan. Hierdie verlossende krag wat die hart vul, sal elke ander beweegrede beheer en sy besitters bo die verderflike invloede van die wêreld verhef. En namate hierdie liefde ten volle toegelaat en die dryfkrag in die lewe word, sal hulle vertroue in God en Sy omgang met hulle volkome word. Dan sal hulle met die volle vertroue van geloof na Hom toe kom in die wete dat hulle van Hom alles wat hulle vir hul huidige en ewige beswil benodig, ontvang. “Hierin het die liefde by ons volmaak geword...” het hy geskryf, “...dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. Daar is geen vrees in die liefde nie ... En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat ... ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.” DHDA 474.4
“En as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir die van die hele wêreld ... As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” Die voorwaardes om genade van God te ontvang, is eenvoudig en redelik. Die Here vereis nie dat ons die een of ander pynlike ding moet doen om vergifnis te verkry nie. Ons hoef nie lang en moeisame pelgrimstogte te onderneem of pynlike boetedoening te doen om ons siele aan die God van die hemel op te dra, of vir ons oortreding te vergoed nie. “Hy wat...” sy oortreding “...bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spreuke 28:13). DHDA 475.1
In die hemelse howe pleit Christus vir Sy kerk-Hy pleit vir hulle vir wie Hy die losprys, naamlik Sy bloed, betaal het. Eeue der eeue kan nooit die doeltreffendheid van Sy soenoffer verminder nie. Nie die lewe of die dood, hoogte of diepte, kan ons van die liefde van God skei wat daar in Christus Jesus is nie; nie omdat ons so styf aan Hom vashou nie, maar omdat Hy ons so styf vashou. As ons redding van ons eie pogings afgehang het, kon ons nie gered word nie; maar dit hang van die Een af wat al die beloftes waarborg. Ons begrip van Hom mag swak voorkom, maar Sy liefde is die liefde van ‘n ouer broer; solank ons ons eenheid met Hom handhaaf, kan niemand ons uit Sy hand ruk nie. DHDA 475.2
Namate die jare verstryk en die aantal gelowiges toegeneem het, het Johannes met toenemende getrouheid en erns vir sy broeders gewerk. Die tye was vol gevaar vir die kerk. Sataniese dwalings het oral bestaan. Deur wanvoorstelling en valsheid het die gesante van Satan gepoog om teenstand teen die leerstellings van Christus te wek en gevolglik het tweedrag en ketterye die kerk bedreig. Sommige wat Christus bely het, het beweer dat Sy liefde hulle van gehoorsaamheid aan die wet van God vrystel. Daarteenoor, het baie ander geleer dat dit nodig was om die Joodse gebruike en seremonies te onderhou; dat blote onderhouding van die wet, sonder geloof in die bloed van Christus, voldoende was vir die verlossing. Sommige het beweer dat Christus ‘n goeie mens was, maar hulle het Sy Goddelikheid ontken. Sommige wat beweer het dat hulle aan die saak van God getrou was, was bedrieërs en in die praktyk het hulle Christus en Sy evangelie verloën. Self in ‘n lewe van oortreding, het hulle kettery in die kerk ingebring. So is baie in die doolhowe van skeptisisme en dwaling gelei. DHDA 476.1
Johannes was met hartseer vervul toe hy hierdie giftige dwalinge in die kerk sien insluip. Hy het die gevare waaraan die kerk blootgestel was gesien en hy het die noodtoestand spoedig en met beslistheid gekonfronteer. Die sendbriewe van Johannes adem die gees van liefde. Dit was asof hy met ‘n pen wat in liefde gedoop was geskryf het. Maar toe hy in aanraking met diegene wat die wet van God oortree gekom het en steeds beweer het dat hulle sondeloos lewe, het hy nie gehuiwer om hulle teen hul verskriklike misleiding te waarsku nie. DHDA 476.2
Aan ‘n helpster in die evangeliewerk, ‘n vrou van hoë aansien en wye invloed, het hy geskryf: “Baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris. Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang. Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.” DHDA 477.1
Ons is gemagtig om dieselfde houding as die geliefde dissipel in te neem teenoor diegene wat voorgee dat hulle in die liefde van Christus bly terwyl hulle in stryd met die wet van God leef. Daar bestaan in hierdie laaste dae soortgelyke euwels as die wat die welvaart van die eerste Christelike kerk bedreig het; en die leer van die apostel Johannes aangaande hierdie dinge, moet noukeurig in ag geneem word. Die uitroep word oral gehoor: “Julle moet liefde hê...” veral van diegene wat beweer dat hulle geheilig is. Maar ware liefde is te rein om ‘n onbelyde sonde te bedek. Terwyl ons die siele moet liefhê vir wie Christus gesterf het, moet ons geen kompromie met die sonde aangaan nie. Ons moet nie met opstandiges verenig en dit liefde noem nie. God vereis dat Sy volk in hierdie eeu van die wêreld net so onversetlik vir die reg moet staan, soos Johannes in teenstand met sielverdelgende dwalinge. DHDA 477.2
Die apostel leer dat ons, hoewel ons Christelike hoflikheid moet betoon, gemagtig is om sonde en sondaars op onmiskenbare wyse te bestraf; dat dit nie teenstrydig met ware liefde is nie. Hy skryf: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid. En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem en geen sonde is in Hom nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie.” DHDA 477.3
As getuie vir Christus, het Johannes in geen stryd en ook geen moeisame getwis betrokke geraak nie. Hy het verklaar wat hy geweet het, wat hy gesien en gehoor het. Hy het intiem met Christus omgegaan, het na Sy leringe geluister en Sy magtige wonderwerke aanskou. Min mense kon die skoonheid van Christus se karater sien soos Johannes dit gesien het. Vir hom het die duisternis verbygegaan; die ware lig het op hom geskyn. Sy getuienis met betrekking tot die Redder se lewe en dood was duidelik en kragtig. Uit die oorvloed van ‘n hart wat oorgeloop het van liefde vir die Verlosser het hy gespreek; en geen mag kon sy woorde stuit nie. DHDA 478.1
“Wat van die begin af was...” het hy verklaar, “...wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe ... wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.” DHDA 478.2
So kan elke ware gelowige deur sy eie ervaring in staat wees om “...sy seël...” daarop te sit “...dat God waaragtig is.” (Johannes 3:33). Hy kan getuig van wat hy aangaande die mag van Christus gesien, gehoor en gevoel het. DHDA 478.3