Die Handelinge Van Die Apostels

54/59

Hoofstuk 53—Johannes, die Geliefde

Johannes word bo die ander dissipels onderskei as “...die dissipel ... vir wie Jesus liefgehad het.” (Johannes 21:20). Dit blyk asof hy ‘n voortreflike vriendskap met Jesus geniet het en hy het baie blyke van die Redder se vertroue en liefde ontvang. Hy was een van die drie wat toegelaat was om die heerlikheid van Christus op die berg van verheerliking te aanskou, asook Sy foltering in Getsémané; en dit was aan sy sorg dat ons Here Sy moeder in die laaste ure van Sy foltering aan die kruis toevertrou het. DHDA 464.1

Die Verlosser se toegeneentheid teenoor die geliefde dissipel is met al die krag van vurige toewyding beantwoord. Johannes het aan Christus vasgehou soos die rank wat aan die statige pilaar kleef. Ter wille van sy Meester het hy die gevare van die geregsaal aangedurf en by die kruis vertoef; en met die tyding dat Christus opgestaan het, het hy hom in alle ywer na die graf gehaas, wat selfs die voortvarende Petrus oortref het. DHDA 464.2

Die vertrouende liefde en onbaatsugtige toewyding wat in die lewe en karakter van Johannes gemanifesteer word, bied lesse van onskatbare waarde vir die Christelike kerk. Johannes het nie van nature daardie minsame karakter gehad wat in sy latere ervaring geopenbaar is nie. Van nature het hy ernstige gebreke gehad. Nie alleen was hy trots, selfvoldaan en eersugtig nie, maar ook voortvarend en wrewelrig wanneer hy te nagekom is. Hy en sy broer is die “...seuns van die donder...” genoem. ‘n Slegte humeur, wraaksug en kritiese gees was alles by die geliefde dissipel teenwoordig. Maar agter dit alles het die Goddelike Leermeester die vurige, opregte, liefdevolle hart gewaar. Jesus het sy eiegeregtigheid bestraf, sy eersug teleurgestel, sy geloof getoets. Maar Hy het die dinge waarna sy siel verlang het aan hom geopenbaar, naamlik die skoonheid van heiligheid en die transformerende krag van liefde. DHDA 464.3

Die gebreke in Johannes se karakter het met verskeie geleenthede gedurende sy persoonlike omgang met die Verlosser, sterk na vore gekom. Op ‘n stadium het Christus boodskappers voor Hom uit na ‘n dorpie van die Samaritane gestuur met die versoek dat die mense vir Hom en Sy dissipels verversings voorberei. Maar toe die Verlosser die stad nader, het dit geblyk asof Hy begeer het om deur te reis na Jerusalem. Dit het die afguns van die Samaritane opgewek en in plaas van Hom uit te nooi om by hulle te vertoef, het hulle die hoflikheid wat hulle aan ‘n gewone reisiger sou betoon, van Hom weerhou. Jesus dwing nooit Sy teenwoordigheid op iemand af nie en die Samaritane het die seën wat hulle sou ontvang het as hulle Hom genooi het om hulle gas te wees, verbeur. DHDA 465.1

Die dissipels het geweet dat Jesus van plan was om die Samaritane met Sy teenwoordigheid te seën; hulle was met verbasing en verontwaardiging gevul oor die kilheid, jaloesie en disrespek wat aan hul Meester betoon is. Jakobus en Johannes was veral met verontwaardiging gevul. Dat Hy, vir wie hulle soveel eerbied gehad het, op hierdie wyse behandel was, was in hulle oë te onaanvaarbaar om sonder onmiddellike straf oorgesien te word. In hulle ywer het hulle gesê: “Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elia ook gedoen het?” Dit was ‘n verwysing na die vernietiging van die Samaritaanse kapteins en hulle soldate wat uitgestuur was om Elia in hegtenis te neem. Hulle was verbaas om te sien dat hulle woorde Jesus gepynig het en nog meer verbaas toe Sy bestraffing op hulle ore val: “Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red.” (Lukas 9:54¬56). DHDA 465.2

Dit is nie deel van Christus se sending om mense te dwing om Hom te ontvang nie. Dit is Satan en die mense wat deur sy gees aangedryf word, wat die gewete wil dwing. Onder die voorwendsel van ywer vir geregtigheid, veroorsaak mense wat gemeenskap met die bose engele het, soms lyding vir hul medemens om hulle tot hul eie godsdienstige idees te bekeer; maar Christus betoon altyd barmhartigheid en poog altyd om deur die openbaring van Sy liefde te oorwin. Hy kan geen mededinger in die siel toelaat of gedeeltelike diens aanvaar nie; maar Hy begeer slegs vrywillige diens, die gewillige oorgawe van die hart onder die dwang van liefde. DHDA 465.3

Op ‘n ander geleentheid het Jakobus en Johannes, deur hul moeder, ‘n versoek gerig dat hulle toegelaat mag word om die hoogste ereposisies in Christus se koninkryk te beklee. Ondanks die herhaalde onderrig van Christus aangaande die aard van Sy koninkryk, het hierdie jong dissipels steeds die hoop op ‘n Messias wat Sy koninklike troon in ooreenstemming met die verwagtinge van mense sou opeis gekoester. Omdat die moeder saam met hulle die ereplek in die koninkryk vir haar seuns begeer het, het sy versoek: “Sê dat hierdie twee seuns van my in U koninkryk mag sit, een aan U regter- en een aan U linkerhand.” DHDA 466.1

Maar die Heiland het geantwoord: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?” Hulle het hulle Sy onverklaarbare woorde met verwysing tot beproewing en lyding onthou, maar het tog vol selfvertroue geantwoord: “Ons kan.” Hulle sou dit as die hoogste eer beskou om hulle lojaliteit te bewys deur in alles te deel wat oor hulle Here sou kom. DHDA 466.2

“Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word...” het Jesus verklaar en voor Hom ‘n kruis in plaas van ‘n troon en twee misdadigers as Sy metgeselle aan Sy regter- en Sy linkerhand, gesien. Jakobus en Johannes sou saam met hul Meester deel hê aan Sy lyding-een was bestem om binnekort deur die swaard te sterf; die ander, sou sy Meester langer as al die ander dissipels in arbeid, smaad en vervolging dien. “Maar om te sit aan My regter- en aan My linkerhand berus nie by My om te gee nie... ” het Hy vervolg, “...maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.” (Mattheus 20:21-23). DHDA 466.3

Jesus het die beweegrede vir hulle versoek verstaan en het die trots en eersug van die twee dissipels aldus bestraf: “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Mattheus 20:25-28). DHDA 467.1

In die koninkryk van God word posisie nie deur bevoordeling verkry nie. Dit word nie verdien nie en ook nie deur arbitrêre toekenning nie. Dit is die resultaat van die karakter. Die kroon en die troon is die tekens van ‘n toestand wat bereik is-bewyse van verowering van self deur die genade van onse Here Jesus Christus. DHDA 467.2

Lank daarna, toe Johannes in gemeenskap met Christus deur deelname aan Sy lyding gebring is, het die Here Jesus aan hom geopenbaar wat die toestand van nabyheid aan Sy koninkryk is. “Aan hom wat oorwin...” het Christus gesê, “...sal Ek gee om saam met My te sit op My troon, soos Ek ook oorwin het en saam met My Vader op Sy troon gaan sit het.” (Openbaring 3:21). Die een wat die naaste aan Christus staan, sal hy wees wat die diepste teue van Sy gees van selfopofferende liefde gedrink het-liefde wat nie grootpraat nie, nie opgeblase is nie, nie sy eie belang soek nie, nie verbitterd word nie, die kwaad nie toereken nie (sien 1 Korinthiërs 13:4,5)-liefde wat die dissipel beweeg het, soos dit onse Here beweeg het, om alles te gee, om te lewe en te werk en te offer tot die dood toe, vir die redding van die mensdom. DHDA 467.3

Op ‘n ander keer, tydens hul vroeë dae van evangelisasiewerk, het Jakobus en Johannes iemand ontmoet wat, alhoewel hy nie ‘n erkende volgeling van Christus was nie, in Sy Naam duiwels uitgedryf het. Die dissipels het die man verbied om te werk en gedink dat hulle die regte ding gedoen het. Maar toe hulle die saak aan Christus voorlê, het Hy hulle bestraf en gesê: “Moet hom nie belet nie, want daar is niemand wat ‘n krag in My Naam sal doen en gou van My sal kan kwaad spreek nie.” (Markus 9:39). Niemand wat homself op enige wyse vriendelik teenoor Christus bewys het, moes weerhou word nie. Die dissipels moes nie ‘n enge, eksklusiewe gees openbaar nie, maar moes dieselfde ingrypende meegevoel openbaar wat hulle in hul Meester gesien het. Jakobus en Johannes het gedink dat hulle die eer van die Here beskerm deur die man te verbied; maar hulle het begin insien dat hulle jaloers op hul eie was. Hulle het hul fout erken en die teregwysing aanvaar. DHDA 468.1

Die lesse van Christus, wat sagmoedigheid, nederigheid en liefde as noodsaaklik vir groei in die genade en die geskiktheid vir Sy werk uiteensit, was vir Johannes van die grootste waarde. Hy het elke les op prys gestel en voortdurend daarna gestreef om sy lewe in ooreenstemming met die Goddelike voorbeeld te bring. Johannes het begin om die heerlikheid van Christus te onderskei-nie die wêreldse prag en gesag waarop hy geleer het om te hoop nie, maar “...’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom-vol van genade en waarheid.” (Johannes 1:14). DHDA 468.2

Die diepte en ywer van Johannes se liefde vir sy Meester was nie die oorsaak van Christus se liefde vir hom nie, maar die uitwerking van daardie liefde. Johannes het begeer om soos Jesus te word en onder die transformerende invloed van die liefde van Christus het hy sagmoedig en nederig geword. Die self is in Christus verberg. Meer as al sy metgeselle het Johannes hom aan die mag van daardie wonderbare liefde oorgegee. Hy sê: “Die lewe is geopenbaar en ons het dit gesien ... En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” (1 Johannes 1:2; Johannes 1:16). Johannes het die Verlosser deur persoonlike ervaring geken. Sy Meester se lesse is op sy siel ingegraveer. Toe hy van die Heiland se genade getuig het, was sy eenvoudige taal welsprekend met die liefde wat sy hele wese deurdring het. DHDA 468.3

Dit was Johannes se innige liefde vir Christus wat daartoe gelei het dat hy altyd aan Sy sy wou wees. Die Verlosser het al twaalf liefgehad, maar Johannes het die ontvanklikste gees gehad. Hy was jonger as die ander en met meer van ‘n kind se vertroue, het hy sy hart vir Jesus oopgestel. Sodoende het hy meer in voeling met Christus gekom en deur hom is die Heiland se diepste geestelike leer aan die mense oorgedra. DHDA 469.1

Jesus is lief vir diegene wat die Vader verteenwoordig en Johannes kon van die liefde van die Vader praat soos geen ander dissipel dit kon doen nie. Hy het dit wat hy in sy eie siel ervaar het aan sy medemens geopenbaar en die eienskappe van God in sy eie karakter verteenwoordig. Die heerlikheid van die Here was op sy gelaat te sien. Die skoonheid van heiligheid wat hom hervorm het, het met ‘n Christelike glans uit sy gelaat gestraal. In aanbidding en liefde het hy die Verlosser aanskou, totdat gelykheid aan Christus en gemeenskap met Hom sy enigste begeerte geword het en die karakter van sy Meester in sy karakter weerspieël is. DHDA 469.2

“Kyk...” het hy gesê, “...wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! ... Geliefdes, nou is ons kinders van God en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” (1 Johannes 3:1,2). DHDA 469.3