Die Handelinge Van Die Apostels

53/59

Hoofstuk 52—Standvastig tot die Einde*

In die tweede brief wat Petrus aan diegene gerig het wat “...net so ‘n kosbare geloof...” as hy verkry het, sit Petrus die Goddelike plan vir die ontwikkeling van die Christelike karakter uiteen. Hy skryf: DHDA 455.1

“Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! Immers, Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.” DHDA 455.2

“En juis daarom moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug en by die deug die kennis en by die kennis die selfbeheersing en by die selfbeheersing die lydsaamheid en by die lydsaamheid die godsvrug en by die godsvrug die broederliefde en by die broederliefde die naasteliefde. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie.” DHDA 455.3

Hierdie woorde is vol onderwysing en tref die kern van die oorwinning. Die apostel stel die leer van Christelike vooruitgang voor, waarvan elke trap die vooruitgang in die kennis van God is en dat daar geen stilstand in die bestyging van die leer moet wees nie. Geloof, deugsaamheid, kennis, selfbeheersing, geduld, godsaligheid, broederlike goedhartigheid en liefdadigheid, die sporte van die leer verteenwoordig. Ons word gered deur trap vir trap te klim, totdat ons die hoogte van Christus se ideaal vir ons bereik het. So word Hy wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing vir ons gemaak. DHDA 455.4

God het Sy volk tot heerlikheid en deug geroep en dit sal sigbaar wees in die lewens van almal wat werklik aan Hom gebonde is. Nadat hulle die hemelse gawe deelagtig geword het, moet hulle aanbeweeg tot volmaaktheid “...deur die geloof tot saligheid...” te bewaar. (1 Petrus 1:5). Dit is die glorie van God om Sy deug aan Sy kinders te skenk. Hy verlang om te sien dat manne en vroue die hoogste vlak bereik; en wanneer hulle deur geloof die krag van Christus aangryp, wanneer hulle Sy onfeilbare beloftes bepleit en dit vir hulself opeis; wanneer hulle met ‘n dringendheid wat nie ontken kan word nie, na die krag van die Heilige Gees strewe, sal hulle volkome in Hom gemaak word. DHDA 456.1

Nadat die geloof van die evangelie ontvang is, is die volgende werk van die gelowige om deug by sy karakter te voeg en sodoende die hart te reinig en die denke vir die ontvangs van die kennis van God voor te berei. Hierdie kennis is die grondslag van ware onderrig en ware diens. Dit is die enigste ware beskerming teen versoeking; en dit alleen kan die mens soos God in karakter maak. Deur die kennis van God en van Sy Seun Jesus Christus word aan die gelowige “...alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” Geen goeie gawe word van hom wat opreg begeer om die geregtigheid van God te verkry weerhou nie. DHDA 456.2

Christus het gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God en Jesus Christus wat U gestuur het.” (Johannes 17:3). En die profeet Jeremia het verklaar: “Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in die dinge het Ek ‘n behae, spreek die Here.” (Jeremia 9:23,24). Die menslike verstand kan skaars die breedte en diepte en hoogte van die geestelike strekking van hom wat hierdie kennis verwerf, begryp. DHDA 456.3

Niemand hoef in sy sfeer te misluk om die volmaaktheid van die Christelike karakter te bereik nie. Deur die offer van Christus is voorsiening vir die gelowige gemaak om alle dinge met betrekking tot die lewe en godsaligheid te ontvang. God roep ons op om die vlak van volmaaktheid te bereik en hou die voorbeeld van Christus se karakter aan ons voor. In Sy mensheid, wat deur ‘n lewe van voortdurende weerstand teen die kwaad vervolmaak is, het die Verlosser getoon dat mense, in samewerking met Goddelikheid, in hierdie lewe, tot volmaaktheid van karakter kan kom. Dit is die versekering van God aan ons, dat ook ons ook volkome die oorwinning kan behaal. DHDA 457.1

Aan die gelowige word die wonderlike moontlikheid voorgehou om, soos Christus, gehoorsaam aan al die beginsels van die wet te wees. Maar op sigself is die mens nie in staat om hierdie toestand te bereik nie. Die heiligheid wat hy, volgens God se Woord moet hê voordat hy gered kan word, is die gevolg van die werking van die Goddelike genade terwyl hy hom in onderwerping aan die tug en beteuelende invloed van die Gees van die waarheid neerbuig. Die gehoorsaamheid van die mens kan slegs deur die wierook van Christus se geregtigheid, wat elke daad van gehoorsaamheid met die Goddelike geur vul, vervolmaak word. Die Christen se aandeel is om te volhard om elke swakheid te oorkom. Hy moet voortdurend tot die Verlosser bid om die ongesteldheid van sy sonde-siek siel te genees. Hy het nie die wysheid of die krag om te oorkom nie; dit behoort aan die Here en Hy skenk dit aan diegene wat in nederigheid en ootmoed by Hom om hulp soek. DHDA 457.2

Die werk van transformasie van onheiligheid na heiligheid, is ‘n deurlopende proses. God werk dag vir dag vir die heiligmaking van die mens en die mens moet met Hom saamwerk en volhardende pogings aanwend om regte gewoontes te kweek. Hy moet genade by genade voeg; en terwyl hy aan hierdie plan van toevoeging werk, werk God vir hom aan die plan van vermenigvuldiging. Ons Verlosser is altyd bereid om die gebed van die verslae hart te hoor en te verhoor en genade en vrede word vir Sy getroues vermenigvuldig. Hy skenk graag aan hulle die seëninge wat hulle in die stryd teen die euwels wat hulle omring nodig het. DHDA 457.3

Daar is diegene wat ‘n poging aanwend om die leer van Christelike vooruitgang te bestyg; maar namate hulle vorder, begin hulle hul vertroue in die krag van die mens stel en verloor hulle Jesus, die Outeur en Voleinder van hulle geloof, uit die oog. Die gevolg is mislukking-die verlies van alles wat bereik is. Die toestand van diegene wat die vyand van siele toelaat om hulle van die Christelike genadegawes wat in hul harte en lewens ontwikkel het, te beroof is inderdaad droefgeestig. Die apostel sê: “Hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” DHDA 458.1

Die apostel Petrus het ‘n lang ervaring in die dinge van God gehad. Sy geloof in die krag van God om te red, het met die jare versterk totdat hy bo alle twyfel bewys het dat dit onmoontlik is vir die persoon, wat in geloof voortbeweeg en sport vir sport opwaarts klim totdat hy die hoogste sport van die leer wat tot by die poorte van die hemel reik bereik het, om te misluk. DHDA 458.2

Vir baie jare het Petrus by die gelowiges die noodsaaklikheid van voortdurende toename in genade en kennis van die waarheid ingeprent; en nou, wetende dat hy binnekort geroep sou word om martelaarskap vir sy geloof te ly, het hy weer die aandag op die kosbare voorregte binne die bereik van elke gelowige gevestig. In die volle versekering van sy geloof, het die bejaarde apostel sy broers tot standvastigheid van doel in die Christelike lewe vermaan. “Daarom, broeders...” het hy gesmeek, “...moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” Kosbare versekering! Heerlik is die hoop wat aan die gelowige voorgehou word as hy deur geloof na die hoogtes van Christelike volmaaktheid vorder! DHDA 458.3

Die apostel het voortgegaan: “Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd hieraan te herinner nie, alhoewel julle dit weet en vasstaan in die waarheid wat by julle is. En ek beskou dit as reg, solank as ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek, omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het. En ek sal my beywer, dat julle ook gedurig na my heengaan hierdie dinge in gedagtenis kan hou.” DHDA 459.1

Die apostel was volkome bekwaam om oor die voornemens van God vir die mensdom te praat; want tydens die aardse bediening van Christus het hy baie gesien en gehoor wat op die koninkryk van God betrekking het. Hy het die gelowiges herinner: “Ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit; want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was.” DHDA 459.2

So oortuigend soos hierdie bewys van die sekerheid van die gelowiges se hoop was, was daar ‘n meer oortuigende getuienis in die profesie, waardeur die geloof van almal bevestig en veilig gegrond kon word. “En ons het die profetiese woord wat baie vas is... ” het Petrus verklaar, “...waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” DHDA 459.3

Terwyl die apostel die “...profetiese woord wat baie vas is...” as ‘n veilige riglyn in tye van gevaar voorgehou het, het die hy die kerk terselfdertyd ernstig teen die fakkel van valse profesieë gewaarsku, wat deur “...valse leraars...” hoog gehou sou word, wat “...verderflike ketterye heimlik...” sou inbring “...en ook die Here ... verloën.” Hierdie valse leraars wat in die kerk ontstaan en as betroubaar deur hulle broers in die geloof beskou word, vergelyk die apostel met “...waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur ‘n stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word.” Hy het verklaar dat “...vir hulle die laaste erger geword [het] as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is.” DHDA 460.1

Soos hy deur die eeue heen na die einde van die tyd gekyk het, was Petrus besiel om die toestande wat kort voor die wederkoms van Christus in die wêreld sou heers, uiteen te sit. Hy het geskryf dat “...daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.” Maar, “...wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid-dan oorval ‘n skielike verderf hulle.” (1 Thessalonicense 5:3). Nie almal sal egter deur die vyand se sluheid verstrik raak nie. Namate die einde van alle aardse dinge naderkom, sal daar getroues wees wat in staat sal wees om die tekens van die tye te onderskei. Terwyl ‘n groot aantal belydende gelowiges hulle geloof deur hulle dade sal verloën, sal daar ‘n oorblyfsel wees wat tot die einde toe sal volhard. DHDA 460.2

Petrus het die hoop op die wederkoms van Christus in sy hart lewendig gehou en hy het die kerk verseker van die gewisse vervulling van die Heiland se belofte: “As Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem.” (Johannes 14:3). Vir die beproefdes en getroues mag dit voorkom asof die koms lank vertraag is, maar die apostel het hulle verseker: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.” DHDA 461.1

“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?-julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” DHDA 461.2

“Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede. En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het...” DHDA 461.3

“Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” DHDA 461.4

Deur die voorsienigheid van God is Petrus toegelaat om sy bediening in Rome af te sluit, waar sy gevangenskap deur die keiser Nero min of meer op die tyd van Paulus se finale gevangeneming, gelas is. So het dit dan gebeur dat die twee veteraan-apostels, wat jare lank ver van mekaar geskei was, hul laaste getuienis vir Christus in die hoofstad van die wêreld sou lewer en hul bloed op die grond sou uitgiet as die saad van ‘n groot oes van heiliges en martelare. DHDA 461.5

Sedert sy hervestiging na sy verloëning van Christus, het Petrus gevare onbevrees aangedurf en het hy met ‘n edel gemoed die kruisiging, opstanding en Hemelvaart van die Verlosser verkondig. Terwyl hy in sy sel gelê het, het hy die woorde wat Christus met hom gespreek het in herinnering geroep: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek en ‘n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie.” (Johannes 21:18). So het Jesus aan die dissipel die spesifieke wyse waarop hy sou sterf bekend gemaak en die uitstrekking van sy hande aan die kruis voorspel. DHDA 462.1

Petrus, as Jood en vreemdeling, is veroordeel om gegesel en gekruisig te word. Met hierdie vreeslike dood in die vooruitsig het die apostel onthou van sy groot sonde deur Jesus in die uur van Sy beproewing te verloën. Hy, wat voorheen so onwillig was om die kruis te erken, het dit nou as ‘n vreugde beskou om sy lewe vir die evangelie op te offer en het gevoel dat dit vir hom, wat sy Here verloën het, ‘n te groot eer was om op dieselfde wyse as sy Meester te sterf. Petrus het opreg berou gehad oor hierdie sonde en is deur Christus vergewe, soos blyk uit die hoë opdrag wat aan hom gegee is om die skape en die lammers van die kudde te voed. Maar hy kon homself nooit vergewe nie. Nie eers die gedagte aan die foltering van die laaste verskriklike toneel kon die bitterheid van sy hartseer en berou verminder nie. As ‘n laaste guns het hy sy teregstellers versoek dat hy onderstebo aan die kruis vasgespyker moes word. Die versoek is toegestaan en op hierdie wyse het die Petrus gesterf. DHDA 462.2