Die Handelinge Van Die Apostels

52/59

Hoofstuk 51—'n Getroue Onderherder*

In die boek Handelinge, word daar weinig melding gemaak van die latere werk van die apostel Petrus. Gedurende die besige jare van sy bediening wat gevolg het op die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag, was hy een van diegene wat onvermoeide pogings aangewend het om die Jode wat tydens die jaarlikse feeste na Jerusalem gekom het om te aanbid, te bereik. DHDA 442.1

Namate die aantal gelowiges in Jerusalem en op ander plekke wat deur die boodskappers van die kruis besoek was toegeneem het, was die talente wat Petrus besit het van onskatbare waarde vir die vroeë Christelike kerk. Die invloed van sy getuienis aangaande Jesus van Nasaret, het wyd en syd gestrek. Daar was ‘n dubbele verantwoordelikheid op hom gelê. Hy het ‘n positiewe getuienis aangaande die Messias voor ongelowiges gelewer en ernstig vir hul bekering gewerk; en terselfdertyd het hy ‘n besondere werk vir die gelowiges verrig om hul geloof in Christus te versterk. DHDA 442.2

Dit was nadat Petrus gelei was tot selfverloëning en volle vertroue in Goddelike mag, dat hy sy oproep om as onderherder op te tree ontvang het. Christus het, voordat hy Hom verloën het, aan Petrus gesê: “As jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.” (Lukas 22:32). Hierdie woorde was tekenend van die omvangryke en effektiewe werk wat hierdie apostel in die toekoms vir diegene wat tot die geloof sou kom, sou doen. Petrus se eie belewenis van sonde, lyding en berou het hom vir hierdie werk voorberei. Eers nadat hy sy swakheid leer ken het, kon hy die gelowige se behoefte aan afhanklikheid van Christus besef. Te midde van die storm van versoeking het hy besef dat die mens slegs in veiligheid kan wandel wanneer hy algehele wantroue in homself het en volkome op die Verlosser vertrou. DHDA 442.3

By die laaste ontmoeting van Christus met Sy dissipels by die see, het Hy Petrus getoets deur die vraag driemaal te herhaal: “Het jy My lief?” (Johannes 21:15-17) en is hy in sy plek onder die twaalf herstel. Sy werk is aan hom toegewys; hy moes die kudde van die Here voed. En noudat hy tot bekering gekom het en aanvaar is, moes hy nie net streef om diegene buite die kudde te red nie, maar hy moes ook ‘n herder van die skape wees. DHDA 443.1

Christus het net een diensvoorwaarde aan Petrus gestel: “Het jy My lief?” Dit is die wesenlike kwalifikasie. Al het Petrus alle ander kwalifikasies besit, kon hy nogtans nie sonder die liefde vir Christus ‘n getroue herder van die kudde van God wees nie. Kennis, welwillendheid, welsprekendheid, ywer-alles is noodsaaklik in die goeie werk; maar sonder die liefde van Christus in die hart is die werk van ‘n prediker ‘n mislukking. DHDA 443.2

Die liefde van Christus is nie ‘n onbestendige gevoel nie, maar ‘n lewende beginsel wat as ‘n blywende krag in die hart geopenbaar moet word. Indien die karakter en optrede van die herder ‘n voorbeeld van die waarheid wat hy voorstaan is, sal die Here die seël van Sy goedkeuring op sy werk afdruk. Die herder en die kudde sal een word, verenig in hul gemeenskaplike hoop in Christus. DHDA 443.3

Die manier waarop die Redder Petrus hanteer het, het ‘n les vir hom en sy broeders ingehou. Alhoewel Petrus sy Here verloën het, het die liefde wat Jesus vir Hom gehad het, nooit gewankel nie. En soos die apostel moes begin met die werk om ander te dien, moes hy die oortreder met geduld, medelye en vergewensgesinde liefde hanteer. Gedagtig aan sy eie swakheid en mislukking, moes hy die skape en lammers wat aan sy sorg toevertrou is, met net soveel deernis behandel as wat Christus hom behandel het. DHDA 443.4

Mense wat self aan die sonde oorgegee is, is geneig om hardhandig op te tree teenoor diegene wat versoek is en gedwaal het. Hulle kan die hart nie lees nie; hulle is onbekend met sy worsteling en pyn. Hulle moet nog leer van teregwysing met liefde, die hou wat verwond om te genees, of die waarskuwing wat hoop uitspreek. DHDA 444.1

Regdeur sy bediening, het Petrus getrou oor die kudde wat aan sy sorg toevertrou is gewaak en sodoende bewys dat hy getrou was aan die opdrag wat die Heiland aan hom gegee het en die verantwoordelikheid waardig was. Hy het Jesus van Nasaret altyd as die Hoop van Israel, die Verlosser van die mensdom, verhef. Hy het sy eie lewe aan die dissipline van die Meesterwerker onderwerp. Hy het met alle middele tot sy beskikking gepoog om die gelowiges vir aktiewe diens op te lei. Sy godvrugtige voorbeeld en onvermoeide aktiwiteit het baie belowende jongmanne geïnspireer om hulself volkome aan die werk van die bediening oor te gee. Met verloop van tyd het die apostel se invloed as opvoeder en leier toegeneem; en hoewel hy nooit sy las versaak het om veral vir die Jode te werk nie, het hy sy getuienis na baie lande geneem en die geloof van menigtes in die evangelie versterk. DHDA 444.2

In die latere jare van sy bediening, is Petrus geïnspireer om aan die gelowiges “...van die verstrooiing in Pontus, Galasië, Kappadocië, Asië en Bithinië...” te skryf. Sy briewe het gedien om die moed van diegene wat beproewing en verdrukking verduur het, te laat herleef en hulle geloof te versterk en om diegene wat weens menigvuldige versoekings gevaar geloop het om hulle houvas op God te verloor, weer tot goeie werke aan te spoor. Dit blyk dat hierdie briewe deur iemand geskryf is in wie die lyding van Christus en ook Sy vertroosting oorvloedig geword het; iemand wie se hele wese deur genade verander is en wie se hoop op die ewige lewe seker en standvastig was. DHDA 444.3

Heel aan die begin van sy eerste brief het die bejaarde dienaar van God aan sy Here ‘n eerbetoon van lof en danksegging toegeskryf. Hy het verklaar: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” DHDA 444.4

In hierdie hoop van die seker erfnis op die aarde wat nuut gemaak is, het die vroeë Christene hulle verbly, selfs in tye van strawwe beproewing en verdrukking. Petrus het geskryf: “Daarin verheug julle jul, al word julle nou-as dit nodig is-’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie ... julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.” DHDA 445.1

Die woorde van die apostel is geskryf vir die onderrig van gelowiges in elke eeu en dit het besondere betekenis vir diegene wat in die tyd leef wanneer “...die einde van alle dinge ... naby...” is. Sy vermanings en waarskuwings en sy woorde van geloof en moed is nodig vir elke siel wat sy vertroue “...tot die einde toe onwrikbaar vashou.” (Hebreërs 3:14). DHDA 445.2

Die apostel het probeer om die gelowiges te leer hoe belangrik dit is om te verhoed dat die gedagtes na verbode temas dwaal, of om hul kragte met beuselagtighede te verkwis. Diegene wat nie ‘n prooi van Satan wil word nie, moet die gange van die siel goed bewaak; hulle moet vermy om dinge te lees, te sien, of te hoor wat onrein gedagtes sal voorstel. Die gedagtes moet nie toegelaat word om na willekeur aan elke onderwerp wat die vyand van die siel miskien voorstel te dink nie. Die hart moet getrou bewaak word, anders sal uiterlike euwels, innerlike euwels wek en die siel sal in duisternis dwaal. Petrus het geskryf: “Omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” DHDA 445.3

“Wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van ‘n Getroue Onderherder die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.” DHDA 446.1

Indien silwer en goud voldoende was om die redding van mense te bekom, hoe maklik sou dit kon geskied deur Hom wat gesê het: “Aan My behoort die silwer en aan My die goud.” (Haggai 2:8). Maar slegs deur die kosbare bloed van die Seun van God kon die oortreder verlos word. Die verlossingsplan is in opoffering vasgelê. Die apostel Paulus het geskryf: “Julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur Sy armoede ryk kan word.” (2 Korinthiërs 8:9). Christus het Homself vir ons gegee om ons van alle ongeregtigheid te verlos en as die kroon van seën, “...die genadegawe van God ... die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Romeine 6:23). DHDA 446.2

Petrus skryf verder: “As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart.” Die Woord van God-die waarheid-is die kanaal waardeur die Here Sy Gees en krag openbaar. Gehoorsaamheid aan die woord lewer die gehalte van vrugte wat vereis word, naamlik “...ongeveinsde broederliefde.” Hierdie liefde is in die hemel gebore lei tot hoë beweegredes en onbaatsugtige dade. DHDA 447.1

Wanneer die waarheid ‘n blywende lewensbeginsel word, word die siel “...wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.” Hierdie wedergeboorte is die gevolg van die aanneming van Christus as die Woord van God. Wanneer Goddelike waarhede deur die Heilige Gees op die gemoed afgedruk word, ontstaan daar nuwe begrippe en word die kragte wat voorheen rustend was, opgewek om met God saam te werk. DHDA 447.2

So was dit ook met Petrus en sy mededissipels. Christus was die openbaarder van die waarheid aan die wêreld. Deur Hom is die onverganklike saad-die Woord van God-in die harte van mense gesaai. Maar baie van die kosbaarste lesse van die Groot Leermeester, is aan persone vertel wat dit toe nie verstaan het nie. Toe die Heilige Gees die dissipels aan Sy leer na die Hemelvaart herinner het, het hulle sluimerende sintuie ontwaak. Die betekenis van hierdie waarhede het deur hul gedagtes geflits, soos ‘n nuwe openbaring die suiwer en onvervalste waarheid plek vir homself gemaak het. Toe het die heerlike belewenis van Sy lewe hulle eie geword. Die Woord het deur hulle, die manne wat Hy aangestel het, getuig en hulle het die magtige waarheid verkondig: “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon ... vol van genade en waarheid ... En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” (Johannes 1:14,16). DHDA 447.3

Die apostel het die gelowiges vermaan om die Skrif te bestudeer, sodat, deur ‘n behoorlike begrip daarvan vir hulle die werk van die ewigheid kon verseker. Petrus het besef dat in die ervaring van elke siel wat uiteindelik oorwin, daar tonele van verwarring en beproewing sou wees; maar hy het ook geweet dat ‘n begrip van die Skrif die een wat in versoeking verkeer, in staat sou stel om beloftes te onthou wat die hart sou vertroos en geloof in die Almagtige sou versterk. DHDA 447.4

Hy het verklaar: “Alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is. Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.” DHDA 448.1

Baie van die gelowiges aan wie Petrus sy briewe gerig het, het te midde van die heidene gewoon en baie het daarvan afgehang dat hulle aan die hoë roeping van hul beroep getrou bly. Die apostel het hulle aandag op hulle voorregte as volgelinge van Jesus Christus gevestig. Hy het geskryf: “Julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.” DHDA 448.2

“Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.” DHDA 448.3

Die apostel het die houding wat gelowiges teenoor die owerhede moet handhaaf, duidelik uiteengesit: “Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here-of dit die koning as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen te prys. Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ‘n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God. Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.” DHDA 449.1

Diensknegte is aangeraai om hul meesters onderdanig te wees “...met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is. Want...” het die apostel verduidelik, “...dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly-dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg. Hy wat geen sonde gedoen het nie en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.” DHDA 449.2

Die apostel het die vroue in die geloof vermaan om kuis te wees in gesprekke en beskeie in kleredrag en gedrag. “Julle versiering...” het hy aangeraai, ...“moet nie uiterlik wees nie; haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.” DHDA 449.3

Hierdie les geld vir gelowiges in elke eeu. “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.” (Mattheus 7:20). Die innerlike versiering van ‘n sagmoedige en stil gees, is van onskatbare waarde. In die lewe van die ware Christen is die uiterlike versiering altyd in harmonie met die inwendige vrede en heiligheid. Christus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Mattheus 16:24). Selfverloëning en opoffering sal die lewe van die Christen kenmerk. ‘n Bewys dat die smaak bekeerd is, sal in die kleredrag van almal wat op die weg wandel wat vir die verlostes van die Here gemaak is gesien word. DHDA 450.1

Dit is reg om lief te wees vir skoonheid en dit te begeer; maar God wil dat ons eers die hoogste skoonheid, die onverganklike moet liefhê en nastreef. Geen uiterlike versiering kan in waarde of lieflikheid vergelyk word met ‘n “...sagmoedige en stille gees...” die “...wit en fyn rein linne...” (Openbaring 19:14) wat al die heiliges van die aarde sal dra nie. Hierdie klere sal hulle hier mooi en geliefd maak en hierna hul kenteken vir toegang tot die paleis van die Koning wees. Sy belofte is: “Hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is.” (Openbaring 3:4). DHDA 450.2

Terwyl hy met profetiese visie vooruitgesien het na die gevaarlike tye wat die Christelike kerk sou betree, het die apostel die gelowiges vermaan om standvastig te bly te midde van verdrukking en lyding. Hy het geskryf: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien... ” nie. DHDA 450.3

Beproewing is deel van die opvoeding wat in die skool van Christus gegee word om God se kinders te suiwer van die onreinheid van aardsgesindheid. Dit is omdat God Sy kinders lei, dat hulle beproewende ervarings beleef. Beproewing en struikelblokke is Sy gekose metode van dissiplinering en Sy vasgestelde voorwaardes vir sukses. Hy wat die harte van mense lees, ken hulle swakhede beter as wat hulle dit self ken. Hy sien dat sommige bekwaamhede het wat, indien dit reg aangewend word, tot bevordering van Sy werk gebruik kan word. In Sy voorsienigheid lei Hy hierdie siele in verskillende toestande en omstandighede sodat hulle die gebreke waarvan hulle onbewus is, kan ontdek. Hy gee aan hulle die geleentheid om hierdie gebreke te oorkom en hulself vir diens te bekwaam. Dikwels laat Hy toe dat die vure van ellende brand sodat hulle gereinig kan word. DHDA 450.4

God se sorg vir Sy erfenis is onophoudelik. Hy laat geen beproewing oor Sy kinders kom nie, behalwe dit wat noodsaaklik is vir hul huidige en ewige beswil. Hy sal Sy kerk reinig net soos Hy die tempel gedurende Sy bediening op aarde gereinig het. Alles wat Hy oor Sy volk by wyse van toets en beproewing bring, is sodat hulle dieper vroomheid en groter krag mag verkry om die oorwinning van die kruis voort te dra. DHDA 451.1

Daar was ‘n tyd in Petrus se ervaring toe hy nie die kruis in die werk van Christus wou sien nie. Toe die Verlosser Sy dreigende lyding en dood aan die dissipels bekend gemaak het, het Petrus uitgeroep: “Here, dit sal U nooit oorkom nie!” (Mattheus 16:22). Selfbejammering wat weggekrimp het van gemeenskap met Christus in Sy lyding, het Petrus se beswaar uitgelok. Dit was vir die dissipel ‘n bittere les, wat hy maar stadig geleer het, dat die weg van Christus op aarde deur sielsangs en vernedering moes gaan. Maar in die hitte van die brandende vuuroond moes hy die les daarvan leer. Nou, terwyl sy liggaam, wat voorheen so aktief was, met die las van die jare en arbeid neergebuig was, kon hy skryf: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van Sy heerlikheid met blydskap kan jubel.” DHDA 451.2

Die apostel spreek die ouderlinge aan oor hul verantwoordelikhede as onderherders van die kudde van Christus en skryf: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.” DHDA 452.1

Diegene wat die posisie van onderherders inneem, moet naarstiglik oor die kudde van die Here waak. Dit moet nie ‘n oorheersende waaksaamheid wees nie, maar geneig om te bemoedig, te versterk en op te hef. Bediening beteken meer as om te preek; dit beteken ernstige, persoonlike arbeid. Die kerk op aarde is saamgestel uit dwalende manne en vroue wat geduldige, noukeurige inspanning nodig het om opgelei en gedissiplineer te word om in hierdie lewe met aanvaarding te werk en in die toekomstige lewe met heerlikheid en onsterflikheid bekroon te word. Pastore is nodig-getroue herders-wat God se volk nie sal vlei of hardvogtig behandel nie, maar wat hulle met die brood van die lewe sal voed-manne wat daagliks die bekerende krag van die Heilige Gees ervaar en ‘n sterk, onselfsugtige liefde vir diegene vir wie hulle werk, koester. DHDA 452.2

Daar is ‘n taktvolle werk vir die onderherder om te doen wanneer hy geroep word om vervreemding, bitterheid, afguns en jaloesie in die kerk te bestry en hy sal in die gees van Christus moet werk om sake reg te stel. Daar moet getrou gewaarsku word, sonde moet tereggewys word, dit wat verkeerd is moet reggestel word, nie slegs deur die werk van die leraar op die kansel nie, maar deur persoonlike arbeid. Die eiesinnige hart mag aanstoot neem aan die boodskap en die dienaar van God kan verkeerd verstaan en gekritiseer word. Laat hy dan onthou “...die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.” (Jakobus 3:17,18). DHDA 452.3

Dit is die werk van die evangeliedienaar om “...vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God.” (Efesiërs 3:9). As iemand wat tot hierdie werk toetree die deel kies wat die minste selfopoffering vereis, homself tevrede stel met prediking en die werk van persoonlike bediening aan iemand anders oorlaat, sal sy arbeid nie vir God aanvaarbaar wees nie. Siele vir wie Christus gesterf het, vergaan weens gebrek aan goed gerigte persoonlike arbeid; en hy wat tot die bediening toetree en ongewillig is om die persoonlike werk te doen wat die versorging van die kudde vereis, het sy roeping misgeloop. DHDA 453.1

Die gees van die ware herder is ‘n gees van selfverloëning. Hy verloor die self uit die oog sodat hy die werke van God kan verrig. Deur die verkondiging van die woord en deur persoonlike bediening in die huise van mense, leer hy hul behoeftes, hul smarte en hul beproewinge ken; en in samewerking met die groot Lasdraer, deel hy in hulle verdrukking, vertroos hulle in hul nood, verlig hul sielehonger en wen hulle harte vir God. In hierdie werk word die predikant deur die engele van die hemel vergesel en hy word self onderrig en verlig in die waarheid wat wys maak tot redding. DHDA 453.2

Ten opsigte van sy opdrag aan diegene in vertroulike posisies in die kerk, het die apostel ‘n paar algemene beginsels uiteengesit wat deur almal wat met die kerkgenootskap verband hou, gevolg moes word. Die jonger lede van die kudde is vermaan om die voorbeeld van ouer manne te volg in die beoefening van Christelike nederigheid. “Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof.” DHDA 453.3

So het Petrus aan die gelowiges geskryf in ‘n tyd toe die kerk in besondere beproewing verkeer het. Baie het reeds deel aan Christus se lyding gehad en binnekort sou die kerk ‘n tydperk van ontsettende vervolging beleef. Binne enkele kort jare, sou baie van diegene wat as leraars en leiers in die kerk gedien het, hul lewens vir die evangelie neerlê. Spoedig sou wrede wolwe inkom en die kudde nie ontsien nie. Maar niemand wat sy hoop op Christus gevestig het, sou hierdeur ontmoedig word nie. Met woorde van bemoediging het Petrus die gedagtes van die gelowiges weg van hul huidige beproewings en toekomstige tonele van lyding gerig na “...’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis ... Mag die God van alle genade self...” so het hy vurig gebid, “...wat ons geroep het tot Sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.” DHDA 454.1