Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 50—Ter Dood Veroordeel
Tydens Paulus se laaste verhoor voor Nero was die keiser so sterk beïndruk deur die krag van die woorde van die apostel, dat hy die beslissing in die saak uitgestel het en die beskuldigde dienaar van God nie vrygespreek of skuldig bevind het nie. Maar die kwaadwilligheid van die keiser teen Paulus het gou weer teruggekeer. Gefrustreerd omdat hy die verspreiding van die Christelike godsdiens, selfs nie in sy eie huis kon keer nie, het hy besluit dat die apostel, sodra ‘n aanneemlike voorwendsel gevind kon word doodgemaak moes word. Nie lank daarna nie, het Nero die beslissing uitgespreek wat Paulus tot ‘n marteldood veroordeel het. Aangesien ‘n Romeinse burger nie aan marteling onderwerp kon word nie, is hy gevonnis om onthoof te word. DHDA 438.1
Paulus is in privaatheid na die plek van teregstelling geneem. Min toeskouers was toegelaat om by hom te wees, want sy vervolgers wat die mate van invloed wat hy uitgeoefen het gevrees het, was bang dat bekeerlinge deur die tonele van sy dood gewen sou kon word. Maar selfs die geharde soldate wat hom bewaak het, het na sy woorde geluister en hom met verbasing opgeruimd en selfs blymoedig in die vooruitsig van die dood gesien. Vir sommige wat sy marteldood aanskou het, was die gees van vergifnis teenoor sy moordenaars en sy onwrikbare vertroue in Christus tot die laaste, ‘n geur van lewe tot lewe. Meer as een het die Verlosser wat Paulus verkondig het, aangeneem en het daarna hulle geloof vreesloos met hulle bloed verseël. DHDA 438.2
Tot met sy laaste uur het die lewe van Paulus van die waarheid van sy woorde aan die Korinthiërs getuig: “God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn-dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus. Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word.” (2 Korinthiërs 4:6-10). Sy genoegsaamheid was nie in homself nie, maar in die teenwoordigheid en bemiddeling van die Goddelike Gees wat sy siel gevul het en elke gedagte aan die wil van Christus onderwerp het. Die profeet verklaar: “U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.” (Jesaja 26:3). Die hemel-gebore vrede wat op die aangesig van Paulus geskyn het, het menige siel vir die evangelie gewen. DHDA 438.3
Paulus het die atmosfeer van die hemel saam met hom gedra. Almal wat met hom omgegaan het, het die invloed van sy verbintenis met Christus gevoel. Die feit dat sy eie lewe ‘n voorbeeld van die waarheid wat hy verkondig het was, het oortuigende krag aan sy prediking verleen. Hierin lê die krag van die waarheid. Die ongekunstelde, onbewuste invloed van ‘n heilige lewe is die mees oortuigendste preek wat ten gunste van die Christendom gelewer kan word. Selfs al is dit onweerlegbaar kan ‘n argument teëstand uitlok; maar ‘n Goddelike voorbeeld het ‘n krag wat geheel en al onmoontlik is om te weerstaan. DHDA 439.1
Die apostel het sy naderende lyding in sy kommer oor diegene wat hy sou agterlaat om vooroordeel, haat en vervolging die hoof te bied, uit die oog verloor. Hy het probeer om die paar Christene wat hom na die plek van teregstelling vergesel het te versterk en bemoedig, deur die beloftes wat vir diegene gegee is wat ter wille van die geregtigheid vervolg word, te herhaal. Hy het hulle verseker dat niks wat die Here oor Sy beproefde en getroue kinders gespreek het, sou misluk nie. Hulle mag vir ‘n kort tyd swaarkry onder veelvuldige versoekings; hulle mag miskien gebrek aan aardse geriewe hê; maar hulle kon harte bemoedig met die versekering van die getrouheid van God, deur te sê: “Ek weet in wie ek geglo het en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot die dag toe.” (2 Timotheus 1:12). Die nag van beproewing en lyding sou spoedig ten einde loop en dan sou die blye oggend van vrede en perfekte dag aanbreek. DHDA 439.2
Die apostel het nie met onsekerheid of vrees na die verre toekoms gekyk nie, maar met blye hoop en verlangende verwagting. Terwyl hy op die plek van teregstelling gestaan het, het hy nie die swaard van die laksman of die aarde wat spoedig sy bloed sou opeis gesien nie; hy het deur die kalm blou hemel van daardie somersdag na die troon van die Ewige opgekyk. DHDA 440.1
Hierdie man van geloof het die leer van Jakob se visioen, wat Christus voorstel aanskou, wat die hemel met die aarde en die sterflike mens met die oneindige God verbind het. Sy geloof was versterk toe hy in herinnering geroep het hoe patriarge en profete op die Een wat sy steun en vertroosting is vertrou het en vir wie hy sy lewe gegee het. Van hierdie heilige manne wat van eeu tot eeu vir hul geloof getuig het, het hy die versekering gehoor dat God waaragtig is. Sy mede-apostels wat, om die evangelie van Christus te verkondig, uitgegaan het om godsdienstige dweepsug en heidense bygelowe, vervolging en minagting tegemoet te gaan, wat hul lewens nie vir hulself dierbaar geag het nie, maar om die lig van die kruis, te midde van die donker doolhowe van ongeloof omhoog te hou-hulle het hy gehoor getuig dat Jesus die Seun van God, die Verlosser van die wêreld is. Van die rekbank, die brandstapel, die kerker, uit die spelonke en grotte van die aarde, het hy die martelaarskreet van triomf gehoor. Hy het die getuienis van standvastige siele gehoor wat, hoewel hulle behoeftig, verdruk en gemartel was, nogtans vreesloos en plegtig vir hulle geloof getuig het en gesê het: “Ek weet in wie ek geglo het.” Hierdie mense, deur hulle lewens ter wille van die geloof op te offer, verklaar aan die wêreld dat Hy op wie hulle vertrou het, in staat is om tot die uiterste te red. DHDA 440.2
Paulus wat deur die offer van Christus losgekoop, skoongewas van die sonde in Sy bloed en met Sy geregtigheid beklee is, het die getuienis in homself dat sy siel kosbaar in die oë van sy Verlosser is. Sy lewe is saam met Christus in God geborge en hy was daarvan oortuig dat Hy wat die dood oorwin het, in staat was om die pand wat aan hom toevertrou is, te bewaar. Sy gedagtes het die belofte van die Heiland aangegryp: “Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Johannes 6:40). Sy gedagtes en hoop was op die wederkoms van Sy Here gevestig. En terwyl die swaard van die laksman geval en die skaduwees van die dood die martelaar omvou het, het sy laaste gedagte, net soos sy eerste vooruitgegaan in die groot ontwaking, om die Lewegewer te ontmoet wat hom in die vreugde van die verlostes sal verwelkom. DHDA 441.1
Byna twintig eeue het verloop sedert die bejaarde Paulus sy bloed as ‘n getuienis vir die Woord van God en die getuienis van Jesus Christus uitgestort het. Geen getroue hand het vir die komende geslagte die laaste tonele in die lewe van hierdie heilige man opgeteken nie, maar deur Ingewing is sy sterwende getuienis vir ons bewaar. Soos ‘n trompetgeskal het sy stem sedertdien deur die eeue heen opgeklink en met sy eie moed duisende getuies vir Christus bemoedig en in duisende bedroefde harte die weerklank van sy eie triomfantlike vreugde opgewek: “Ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet en die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in die dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” (2 Timotheus 4:6¬8. DHDA 441.2