Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 49—Paulus se Laaste Brief*
Vanaf die geregsaal van die keiser, het Paulus na sy sel teruggekeer en besef dat hy slegs ‘n kort verposing vir homself verkry het. Hy het geweet dat sy vyande nie sou rus voordat hulle sy dood bewerkstellig het nie. Maar hy het ook geweet dat die waarheid tydelik geseëvier het. Dat hy ‘n gekruisigde en opgestane Verlosser voor die groot skare wat na hom geluister het, verkondig het, was op sigself ‘n oorwinning. Daardie dag is ‘n werk begin wat sou groei en sterker word en wat Nero en al die ander vyande van Christus tevergeefs sou probeer om te belemmer of te vernietig. DHDA 428.1
Terwyl Paulus dag na dag in sy somber sel gesit het met die wete dat sy lewe op een woord of ‘n teken van Nero opgeoffer kon word, het hy aan Timotheus gedink en besluit om hom te laat haal. Die versorging van die gemeente in Éfese is aan Timotheus opgedra en hy was dus daar agtergelaat toe Paulus sy laaste reis na Rome onderneem het. Paulus en Timotheus is met ‘n buitengewoon diep band van liefde aan mekaar verbind. Sedert sy bekering het Timotheus in Paulus se arbeid en lyding gedeel en die vriendskap tussen die twee het sterker, dieper en heiliger geword, totdat Timotheus vir die bejaarde en vermoeide apostel alles geword het wat ‘n seun vir ‘n beminde en geëerde vader kon wees. Dit is dus nie verbasend dat Paulus in sy eensaamheid en alleenheid verlang het om hom te sien nie. DHDA 428.2
Onder die gunstigste omstandighede sou dit etlike maande duur voordat Timotheus uit Klein-Asië in Rome sou aankom. Paulus het geweet dat sy lewe onseker was en hy het gevrees dat Timotheus te laat daar sou aankom om hom nog te sien. Hy het belangrike raad en onderrig vir die jongman gehad aan wie sulke groot verantwoordelikheid toevertrou was; en terwyl hy hom aangemoedig het om so spoedig moontlik te kom, het hy sy sterwens-getuienis, wat hy miskien nie persoonlik sou kon gee nie, gedikteer. Met sy siel vol liefdevolle besorgdheid vir sy seun in die evangelie en vir die gemeente onder sy sorg, het Paulus gepoog om Timotheus die belangrikheid van getrouheid aan sy heilige pand te laat verstaan. DHDA 428.3
Paulus het sy brief soos volg met ‘n groet begin: “Aan Timotheus, my geliefde kind: Genade, barmhartigheid, vrede van God die Vader en Christus Jesus, onse Here! Ek dank God, wat ek van my voorouers af in ‘n rein gewete dien, wanneer ek onophoudelik nag en dag aan jou in my gebede dink.” DHDA 429.1
Die apostel het dan ook aan Timotheus nadruk op die noodsaaklikheid van standvastigheid in die geloof gelê: “Om hierdie rede...” het hy geskryf, “...herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande. Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene, nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God.” Paulus het Timotheus gesmeek om te onthou dat hy “...met ‘n heilige roeping...” geroepe was om die krag van Hom te verkondig wat “...die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie, waarvoor...” het hy verklaar, “...ek aangestel is as prediker en apostel en leraar van die heidene. Om hierdie rede ly ek ook hierdie dinge; maar ek skaam my nie, want ek weet in wie ek geglo het en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot dié dag toe.” DHDA 429.2
Gedurende sy lang dienstermyn, het Paulus nooit in sy getrouheid aan Sy Verlosser getwyfel nie. Oral waar hy was, hetsy of hy voor Fariseërs, Romeinse owerhede, voor die woedende skare in Listre of die veroordeelde sondaars in die Macedoniese kerker was; of hy met die vreesbevange soldate op die gestrande skip gestaan, of alleen voor Nero vir sy lewe gepleit het, het hy hom nooit geskaam vir die saak wat hy bepleit het nie. Die een groot doel van sy Christelike lewe was om Hom te dien wie se Naam hom vroeër met minagting gevul het; en van hierdie doel kon geen teenstand hom laat afsien nie. Sy geloof, deur inspanning gesterk en deur opoffering gesuiwer, het hom ondersteun en versterk. DHDA 429.3
“Jy dan, my seun...” het Paulus vervolg, “...wees sterk deur die genade wat in Christus is; en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer. Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus.” DHDA 430.1
Die ware dienaar van God sal van geen swaarkry of verantwoordelikheid terugdeins nie. Van die Bron wat diegene wat opreg na Goddelike krag soek, nooit in die steek sal laat nie, put hy krag wat hom in staat stel om versoekings die hoof te bied en te oorkom en die pligte uit te voer wat God aan hom opdra. Die aard van die genade wat hy ontvang, verhoog sy vermoë om God en Sy Seun te ken. Sy siel gaan met ‘n verlangende begeerte uit om aanneemlike diens vir sy Meester te doen. En namate hy op die Christelike weg vorder, word hy “...sterk deur die genade wat in Christus Jesus is.” Hierdie genade stel hom in staat om ‘n getroue getuie te wees van die dinge wat hy gehoor het. Hy minag of verwaarloos nie die kennis wat hy van God ontvang het nie, maar hy dra hierdie kennis oor aan getroue manne, wat op hulle beurt ander leer. DHDA 430.2
In hierdie, die laaste brief van Paulus aan Timotheus, het hy aan die jonger werker ‘n hoë ideaal voorgehou en hom op die pligte gewys wat op hom as ‘n dienaar van Christus rus. “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel...” het die apostel geskryf, “...as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny ... Vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag na geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep. En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek; en ‘n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie.” DHDA 430.3
Die apostel het Timotheus gewaarsku teen die valse leraars wat sou poog om toegang tot die kerk te verkry. “Weet dit...” het hy verklaar, “...dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig ... mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.” DHDA 431.1
“Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger...” het hy gesê, “...hulle wat verlei en verlei word. Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid. ... Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” God het oorvloedige middele voorsien vir suksesvolle oorlogvoering teen die bose wat in die wêreld is. Die Bybel is die wapen-arsenaal waar ons ons vir die stryd kan toerus. Ons lendene moet met die waarheid omgord wees. Ons borsplaat moet geregtigheid wees. Die skild van geloof moet in ons hand wees en die helm van die verlossing op ons hoof; en met die swaard van die Gees, wat die Woord van God is, moet ons vir ons ‘n weg deur die versperrings en die strikke van die sonde baan. DHDA 431.2
Paulus het geweet dat daar vir die kerk ‘n tydperk van groot gevaar voorgelê het. Hy het geweet dat getroue, ernstige, werk verrig sou moes word deur diegene wat aan die hoof van die gemeentes staan en hy het aan Timotheus geskryf: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by Sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering.” DHDA 432.1
Hierdie plegtige opdrag aan iemand wat so ywerig en getrou soos Timotheus was, is ‘n sterk getuienis van die belangrikheid en verantwoordelikheid van die werk van die evangeliedienaar. Paulus daag Timotheus voor die regterstoel van God en beveel hom om die woord te verkondig, nie die gesegdes en gewoontes van die mense nie; om gereed te wees om oral en so dikwels as wat die geleentheid hom voordoen-voor groot gemeentes, in privaat kringe, langs die pad, voor die kaggel, aan vriende en vyande, hetsy in veiligheid of blootgestel aan swaarkry, gevaar, verwyte en verlies, vir God te getuig. DHDA 432.2
Uit vrees dat Timotheus se sagte, toegewende geaardheid hom daartoe mag lei dat hy ‘n belangrike deel van sy werk sou vermy, het Paulus hom vermaan om getrou te wees in die teregwysing van sonde en selfs diegene wat aan growwe sondes skuldig was, skerp te berispe. Nogtans moes hy dit “...in alle lankmoedigheid en lering...” doen. Hy moes die geduld en liefde van Christus openbaar en sy teregwysings deur die waarhede van die woord verduidelik en afdwing. DHDA 432.3
Dit is moeilik om sonde te haat en tereg te wys en terselfdertyd ontferming en teerheid vir die sondaar te betoon. Hoe ernstiger ons eie pogings om heiligheid van hart en lewe te bekom, hoe skerper sal ons persepsie van die sonde wees en hoe meer beslis ons afkeur van enige afwyking van wat reg is. Ons moet waak teen onnodige strengheid teenoor die oortreder, maar ons moet ook versigtig wees om nie die uiterse sondigheid van sonde uit die oog te verloor nie. Dit is noodsaaklik om Christelike geduld en liefde teenoor die dwalende te betoon, maar daar bestaan ook die gevaar om sulke groot verdraagsaamheid teenoor sy dwaling aan die dag te lê, dat hy sal dink dat sy teregwysing onverdiend was en dit as ongevraagd en onregverdig sal verwerp. DHDA 432.4
Evangeliedienaars doen soms groot skade deur toe te laat dat hulle verdraagsaamheid teenoor die dwalendes ontaard in verdraagsaamheid van sondes en selfs deelname daaraan. Sodoende word hulle gelei om dit wat God veroordeel te verontskuldig en te versag en na ‘n tyd raak hulle so verblind, dat hulle diegene wat God hulle beveel om te bestraf, aanbeveel. Hy wat sy geestelike persepsies afgestomp het deur sondige toegeeflikheid teenoor diegene wat God veroordeel, sal kort voor lank ‘n groter sonde pleeg deur strengheid en hardvogtigheid teenoor diegene wat God goedkeur. DHDA 433.1
Deur die hoogmoed van menslike wysheid, deur minagting vir die invloed van die Heilige Gees en deur minagting vir die waarhede van God se Woord, sal baie wat bely dat hulle Christene is en wat bekwaam voel om ander te leer, gelei word om van die vereistes van God weg te draai. Paulus het aan Timotheus verklaar: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” DHDA 433.2
Die apostel verwys nie hier na die openlik nie- godsdienstige nie, maar na die belydende Christene, wat hierdie neiging hul riglyn maak en sodoende slawe van die eie-ek word. Sulke mense is bereid om slegs na leerstellings te luister wat nie hul sondes, of hul liefde vir plesier bestraf nie. Hulle neem aanstoot aan die duidelike woorde van die getroue dienaars van Christus en kies leraars wat hulle prys en vlei. En onder die belydende leraars is daar diegene wat die opinies van mense verkondig, in plaas van die woord van God. Ontrou aan hul trou, lei hulle diegene wat na hulle opsien vir geestelike leiding, op ‘n dwaalweg. DHDA 433.3
In die voorskrifte van Sy heilige wet, het God aan ons ‘n volmaakte reël vir die lewe gegee; en Hy het verklaar dat hierdie wet tot aan die einde van die tyd, in elke jota of tittel, onveranderd sal bly en sy aanspraak op die mensdom sal handhaaf. Christus het gekom om die wet te verhoog en eerbaar te maak. Hy het getoon dat dit op die breë grondslag van liefde vir God en die mens gegrond is en dat gehoorsaamheid aan Sy voorskrifte die hele plig van die mens is. In Sy eie lewe het Hy ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid aan die wet van God gegee. In die Bergpredikasie het Hy getoon hoe die vereistes daarvan verder strek as die uiterlike optrede en die gedagtes en voornemens van die hart in ag neem. DHDA 434.1
Die wet, as dit gehoorsaam word, lei daartoe dat mense “...die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe.” (Titus 2:12). Maar die vyand van alle geregtigheid het die wêreld gevange geneem en manne en vroue daartoe gelei om aan die wet ongehoorsaam te wees. Soos Paulus vooruitgesien het, het menigtes hulle afgewend van die duidelike, deurvorsende waarhede van God se Woord en vir hulle leraars gekies wat die fabels wat hulle begeer aan hulle voorhou. Baie onder beide predikante en lidmate, vertrap die gebooie van God onder hulle voete. So word die Skepper van die wêreld beledig en Satan lag triomfantelik oor die sukses van sy planne. DHDA 434.2
Met die toename in die minagting van die wet van God, is daar ‘n toenemende afkeer van godsdiens, ‘n toename in trots, liefde vir plesier, ongehoorsaamheid aan ouers en selfbevrediging; en denkende siele oral vra angstig: Wat kan gedoen word om hierdie kommerwekkende euwels reg te stel? Die antwoord word gevind in Paulus se vermaning aan Timotheus: “Verkondig die woord.” In die Bybel word die enigste veilige beginsels van optrede gevind. Dit is ‘n transkripsie van die wil van God, ‘n uitdrukking van Goddelike wysheid. Dit open vir die mens se begrip, die groot probleme van die lewe en vir almal wat die voorskrifte daarvan gehoorsaam, sal dit ‘n onfeilbare gids wees wat hulle daarvan sal weerhou om hul lewens op dwaalweë te verkwis. DHDA 434.3
God het Sy wil bekend gemaak en dis dwaasheid vir ‘n mens om wat oor Sy lippe uitgegaan het te bevraagteken. Nadat Oneindige Wysheid gepraat het, kan daar geen twyfelvrae wees vir die mens om te besleg nie, geen twyfelende moontlikhede om aan te pas nie. Al wat van hom verlang word, is openhartige, ernstige instemming met die uitgesproke wil van God. Gehoorsaamheid is die hoogste voorskrif van die rede, sowel as die gewete. DHDA 435.1
Paulus het sy vermaning voortgesit: “Wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.” Paulus het op die punt gestaan om sy weg te voltooi en hy wou hê dat Timotheus sy plek moes inneem en die kerk bewaar teen die fabels en ketterye waardeur die vyand op verskillende maniere sou probeer om hulle van die eenvoud van die evangelie weg te lei. Hy het hom vermaan om alle tydelike strewes en strikke, wat sou verhinder dat hy homself geheel en al aan sy werk vir God wy te vermy; om met blymoedigheid die teenstand, verwyt en vervolging te verduur waaraan sy getrouheid hom sou blootstel; om volledige bewys van sy bediening te lewer, deur elke middel binne sy bereik aan te wend om goed te doen aan diegene vir wie Christus gesterf het. DHDA 435.2
Paulus se lewe was ‘n voorbeeld van die waarhede wat hy verkondig het en hierin het sy krag gelê. Sy hart was gevul met ‘n diep, blywende besef van sy verantwoordelikheid en hy het in noue gemeenskap met Hom gewerk, wat die Bron van geregtigheid, barmhartigheid en waarheid is. Hy het aan die kruis van Christus as sy enigste waarborg vir sukses vasgehou. Die liefde van die Verlosser was die onverganklike dryfveer wat hom in sy konflik met die self en sy stryd teen die bose ondersteun het, terwyl hy in die diens van Christus teen die onvriendelikheid van die wêreld en die teenstand van sy vyande vorentoe gebeur het. DHDA 435.3
Wat die kerk in hierdie gevaarlike tyd nodig het, is ‘n leërmag van werkers wat, soos Paulus, hulself opgelei het tot bruikbaarheid, wat ‘n diep ervaring van die dinge van God het en wat met erns en ywer gevul is. Geheiligde, selfverloënende mense is nodig; mense wat nie van beproewinge en verantwoordelikhede sal terugdeins nie; mense wat dapper en opreg is; mense in wie se harte Christus gestalte gekry het as die “...hoop van die heerlikheid...” en wat, nadat hulle lippe met ‘n heilige kool uit die vuur aangeraak is, die “...woord...” sal “...verkondig.” By gebrek aan sulke werkers, kwyn die saak van God en noodlottige dwalinge, soos ‘n dodelike gif, besmet die sedes en verwoes die hoop van ‘n groot deel van die mensdom. DHDA 436.1
Terwyl die getroue, vermoeide vaandeldraers hulle lewens ter wille van die waarheid opoffer, wie sal na vore tree om hulle plek in te neem? Sal ons jongmanne die heilige pand uit die hande van hulle vaders aanvaar? Berei hulle hulself voor om die leemtes te vul wat deur die dood van die getroues geskep word? Sal daar gehoor aan die apostel se opdrag gegee word, die oproep tot diensplig gehoor word, te midde van al die aanhitsings tot selfsug en ambisie wat die jeug lok? DHDA 436.2
Paulus het sy brief afgesluit met persoonlike boodskappe aan verskeie persone en opnuut die dringende versoek herhaal dat Timotheus spoedig na hom toe moes kom, indien moontlik nog voor die winter. Hy het van sy eensaamheid wat veroorsaak is deur die verlating van sommige van sy vriende vertel en die noodsaaklike afwesigheid van ander; en sodat Timotheus nie sou huiwer uit vrees dat die gemeente in Éfese sy hulp nodig gehad het nie, het Paulus gesê dat hy Tichikus reeds gestuur het om die gaping te vul. DHDA 436.3
Nadat Paulus melding gemaak het van sy verhoor voor Nero, van die verlating van sy broeders en die volgehoue genade van ‘n Verbondsgod, het hy sy brief afgesluit deur sy geliefde Timotheus aan die voogdyskap van die Opperherder op te dra, wat, hoewel die onderherders miskien neergevel sou word, nog vir Sy kudde sou sorg. DHDA 437.1