Die Handelinge Van Die Apostels

49/59

Hoofstuk 48—Paulus Voor Nero

Toe Paulus gedagvaar is om voor die keiser, Nero, te verskyn om verhoor te word, was die vooruitsig van sy dood feitlik seker. Die ernstige aard van die misdaad waarvan hy beskuldig was en die heersende vyandigheid teenoor die Christene, het min rede vir hoop op ‘n gunstige uitslag gelaat. DHDA 422.1

Onder die Grieke en die Romeine was dit gebruiklik om die beskuldigde toe te laat om ‘n advokaat aan te stel om sy saak namens hom voor die geregshof te bepleit. Deur kragtige argumente, passievolle welsprekendheid, of deur smekinge, bedes en trane, het so ‘n advokaat dikwels ‘n beslissing in die guns van die gevangene verseker, of daarin geslaag om versagting van vonnis te verkry. Maar toe Paulus voor Nero gedaag is, het niemand dit gewaag om as sy regsgeleerde of advokaat op te tree nie; geen vriend was byderhand om selfs rekord te hou van die beskuldigings wat teen hom aanhangig gemaak is, of van die argumente wat hy in sy verdediging aangevoer het nie. Onder die Christene in Rome was daar niemand wat na vore gekom het om in daardie moeilike uur by hom te staan nie. DHDA 422.2

Die enigste betroubare verslag van die gebeure word deur Paulus self in sy tweede brief aan Timotheus gegee: “In my eerste verdediging...” het die apostel geskryf, “...het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos.” (2 Timotheus 4:16,17). DHDA 422.3

Paulus voor Nero-wat ‘n treffende teenstelling! Die hoogmoedige heerser voor wie die man van God vir sy geloof verantwoording moes verantwoord, het die hoogtepunt van sy aardse mag, gesag en rykdom, sowel as die laagste dieptes van misdadigheid en ongeregtigheid bereik. Wat mag en grootheid betref, was hy ongeëwenaar. Daar was niemand wat sy gesag betwyfel het en niemand wat sy wil kon teëgaan nie. Konings het hul krone aan sy voete neergelê. Magtige leërs het op sy bevel uitgetrek en die vaandels van sy vloot het van oorwinning getuig. Sy standbeeld is in die sale van die geregshowe opgerig en die bevele van die senatore en uitsprake van regters was maar slegs die weerklank van sy wil. Miljoene het in gehoorsaamheid aan sy bevele neergebuig. Die naam van Nero het die wêreld laat sidder. Om sy misnoeë op die hals te haal, was om besittings, vryheid, selfs die lewe te verloor; en sy frons het meer vrees ingeboesem as ‘n pessiekte. DHDA 422.4

Sonder geld, sonder vriende, sonder regsverteenwoordiging, het die bejaarde gevangene voor Nero gestaan-die aangesig van die keiser was deur die skandelike merke van die hartstogte wat van binne gewoed het gekenmerk; terwyl die aangesig van die beskuldigde getuig het dat daar in sy hart vrede met God was. Paulus se ervaring was een van armoede, selfverloëning en lyding. Ondanks voortdurende wanvoorstelling, verwyte en mishandeling waardeur sy vyande hom probeer intimideer het, het hy die vaandel van die kruis onverskrokke omhoog gehou. Soos sy Meester was hy ‘n hawelose swerwer en soos Hy het hy geleef om die mensdom te seën. Hoe kon Nero, ‘n wispelturige, hartstogtelike, losbandige tiran, die karakter en beweegredes van hierdie seun van God verstaan of waardeer? DHDA 423.1

Die groot saal was gevul met ‘n ywerige, onrustige skare wat vorentoe gebeur het om alles wat sou plaasvind te sien en te hoor. Die hoër en laer klasse was daar, welvarendes en behoeftiges, geleerdes en ongeletterdes, trotsaards en nederiges, almal sonder ‘n ware kennis van die weg van die lewe en verlossing. DHDA 423.2

Die Jode het die ou beskuldigings van oproer en kettery teen Paulus ingebring en Jode sowel as Romeine het hom daarvan beskuldig dat hy die brand in die stad gestig het. Terwyl hierdie beskuldigings teen hom ingebring is, het Paulus ‘n onverstoorbare kalmte bewaar. Die mense en die regters het hom met verbasing aangekyk. Hulle was al by menige verhore teenwoordig en het baie misdadigers gesien, maar nog nooit het hulle ‘n man met sulke heilige kalmte soos die gevangene voor hulle gesien nie. Die skerp oë van die regters, wat gewoond was om die gesigte van die gevangenes voor hulle te lees, het tevergeefs op Paulus se aangesig na tekens van skuld gesoek. Toe hy toegelaat is om ter verdediging van sy saak te spreek, het almal met gretige belangstelling geluister. DHDA 424.1

Weereens het Paulus die geleentheid gehad om die vaandel van die kruis aan die verwonderde skare voor te hou. Terwyl hy die menigte voor hom aanskou het, Jode, Grieke, Romeine en vreemdelinge uit baie lande, is sy siel deur ‘n intense begeerte vir hulle redding beweeg. Hy het nie aan die situasie, die gevare wat hom omring, of die verskriklike lot wat skynbaar so naby is, gedink nie. Hy het net vir Jesus, die Middelaar, wat voor God ten behoewe van die sondige mensdom pleit, gesien. Met meer as menslike welsprekendheid en krag het Paulus die waarhede van die evangelie verkondig. Hy het sy toehoorders op die offer wat vir die gevalle ras gebring is, gewys. Hy het verklaar dat ‘n oneindige prys vir die verlossing van die mens betaal is. Daar is voorsiening gemaak vir hom om die troon van God te deel. Deur middel van engele wat as boodskappers dien, is die aarde met die hemel verbind en al die dade van die mensdom, hetsy goed of kwaad, lê blootgestel voor die oë van Oneindige Geregtigheid. DHDA 424.2

So het die voorstander van die waarheid gepleit. Getrou onder die ontroues, lojaal onder die dislojale, het hy as die verteenwoordiger van God gestaan en sy stem was soos ‘n stem uit die hemel. Daar was geen vrees, geen hartseer, geen moedeloosheid in sy woorde of in sy voorkoms nie. Sterk in die bewustheid van sy onskuld, beklee met die wapenrusting van die waarheid, het hy hom verbly dat hy ‘n seun van God is. Sy woorde het soos ‘n oorwinningskreet bo die lawaai van die stryd opgeklink. Hy het verklaar dat die saak waaraan hy sy lewe gewy het, die enigste saak is wat nie kan misluk nie. Hoewel hy mag vergaan, sal die evangelie nie vergaan nie. God leef en Sy waarheid sal seëvier. DHDA 424.3

Menige wat hom op daardie dag aanskou het, het gesien “...dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was.” (Handelinge 6:15). DHDA 425.1

Nog nooit tevore het daardie skare na sulke woorde geluister nie. Dit het ‘n snaar aangeraak wat in die harte van selfs die mees gehardes onder hulle gevibreer het. Die waarheid, duidelik en oortuigend, het dwaling omvergewerp. Lig het in die gemoedere van baie mense geskyn, wat die ligstrale agterna met blymoedigheid gevolg het. Die waarhede wat op daardie dag geuiter is, was bestem om nasies te skud en deur al die eeue heen te leef om die harte van mense te beïnvloed wanneer die lippe wat dit uitgespreek het, stil in ‘n martelaarsgraf geswyg het. DHDA 425.2

Nooit tevore het Nero die waarheid soos tydens hierdie geleentheid gehoor nie. Die enorme skuld van sy eie lewe was nog nooit so aan hom geopenbaar nie. Die lig van die hemel het die sonde-besoedelde kamers van sy siel deurboor en hy het van vrees gebewe by die gedagte aan die geregshof waarvoor hy, die heerser van die wêreld, uiteindelik sou moes verskyn en waar hy die regverdige vergelding vir sy dade sou ontvang. Hy het die apostel se God gevrees en het nie durf waag om ‘n vonnis oor Paulus, teen wie geen beskuldiging bewys is nie, uit te spreek nie. Sy bloeddorstige gees is ‘n tyd lank deur ‘n gevoel van ontsag weerhou. DHDA 425.3

Vir een oomblik het die hemel vir die skuldige, geharde Nero oopgegaan en die vrede en kalmte daarvan het vir hom begeerlik gelyk. Op daardie oomblik is die uitnodiging van genade selfs aan hom gerig. Maar net vir ‘n oomblik het hy die gedagte aan vergifnis verwelkom. Toe is die bevel uitgevaardig dat Paulus na die kerker teruggeneem moes word; en toe die deur agter die boodskapper van God toegesluit is, is die deur van bekering vir ewig teen die keiser van Rome gesluit. Geen ligstraal uit die hemel sou ooit weer deur die duisternis wat hom omgeef het binnedring nie. Binnekort sou hy die vergeldende oordele van God beleef. DHDA 426.1

Nie lank hierna nie, het Nero op sy berugte ekspedisie na Griekeland gevaar, waar hy homself en sy koninkryk deur veragtelike en verlagende ligsinnigheid onteer het. Toe hy met groot prag en praal na Rome terugkeer, het hy hom met sy hofdienaars omring in ‘n toneel van oproerige, losbandigheid. Te midde van hierdie brassery, is daar oproerigheid in die strate gehoor. ‘n Boodskapper wat gestuur was om vas te stel wat aangaan, het met die ontstellende nuus teruggekeer dat Galba, aan die hoof van ‘n leër, vinnig besig is om na Rome op te trek, dat ‘n opstand reeds in die stad uitgebreek het en dat die strate gevul was met ‘n woedende skare, wat die keiser en al sy aanhangers met die dood gedreig het en besig was om die paleis vinnig te nader. DHDA 426.2

In hierdie tyd van gevaar het Nero nie, soos die getroue Paulus, ‘n kragtige en barmhartige God gehad op wie hy kon vertrou nie. Die ellendige tiran was bevrees vir die lyding en moontlike marteling wat hy moontlik gedwing sou word om deur die gepeupel te verduur en het gedink om sy hand aan sy eie lewe te slaan om dit te beëindig, maar op die kritieke oomblik het sy moed hom begeef. Heeltemal ontmoedig het hy oneervol uit die stad gevlug en in ‘n landelike huis ‘n paar kilometer verder na skuiling gesoek, maar dit was tevergeefs! Sy skuilplek is spoedig ontdek en toe die agtervolgende ruiters nader kom, het hy 'n slaaf geroep om hom te help en homself ‘n dodelike wond toegedien. So het die tiran Nero op die jeugdige ouderdom van twee-en-dertig jaar omgekom. DHDA 426.3