Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 47—Die Finale Gevangeneming
Paulus se werk onder die gemeentes na sy vrylating, sou nie die aandag van sy vyande ontglip nie. Sedert die begin van die vervolging onder Nero, was die Christene oral ‘n verbode sekte. Mettertyd het die ongelowige Jode die plan uitgedink om Paulus van die brandstigting in Rome te beskuldig. Nie een van hulle het vir ‘n oomblik geglo dat hy skuldig was nie, maar hulle het goed geweet dat so ‘n beskuldiging met die geringste blyk van geloofwaardigheid, sy ondergang sou verseël. As gevolg van hul pogings is Paulus weer in hegtenis geneem en is hy na sy finale gevangenskap gehaas. DHDA 420.1
Op sy tweede reis na Rome is Paulus deur verskeie van sy voormalige metgeselle vergesel; ander wou graag sy lot deel, maar hy wou nie toelaat dat hulle hul lewens in gevaar stel nie. Sy vooruitsigte was baie ongunstiger as tydens sy vorige gevangenskap. Die vervolging onder Nero het die aantal Christene in Rome aansienlik laat afneem. Duisende is weens hul geloof gemartel, baie het die stad verlaat en die wat agtergebly het, was depressief en geïntimideer. DHDA 420.2
Met sy aankoms in Rome, is Paulus in ‘n donker kerker geplaas en daar het hy gebly totdat sy loopbaan beëindig is. Omdat hy van die mees veragtelike en verskriklikste misdade teen die stad en die nasie beskuldig was, was hy die voorwerp van algemene vervloeking. DHDA 420.3
Die paar vriende wat in die apostel se laste gedeel het, het hom nou begin verlaat, sommige deur verlating en ander op sendings na verskeie gemeentes. Figellus en Hermogenes was die eerstes om te vertrek. Toe het Demas, ontsteld oor die wolke van moeilikheid en gevaar wat besig was om saam te pak, die vervolgde apostel verlaat. Crescens is deur Paulus na die gemeentes in Galasië gestuur, Titus na Dalmasië en Tichikus na Éfese. Paulus het aangaande hierdie ervaring aan Timotheus geskryf en gesê: “Lukas is alleen by my.” (2 Timotheus 4:11). Nog nooit het die apostel die bediening van sy broeders so nodig soos toe gehad nie, verswak soos hy was weens ouderdom, swoeg en swakhede in die klam, donker kerkers van ‘n Romeinse gevangenis. Die dienste van Lukas, die geliefde dissipel en getroue vriend, was vir Paulus ‘n groot troos en het hom in staat gestel om met sy broeders in die wêreld daar buite te kommunikeer. DHDA 420.4
In hierdie tyd van beproewing het die herhaalde besoeke van Onesiforus Paulus se hart verbly. Hierdie hartlike Efesiër het alles in sy vermoë gedoen om die las van die apostel se gevangenskap te verlig. Sy geliefde leraar was ter wille van die waarheid in boeie terwyl hy self vry was en hy het geen moeite om Paulus se lot draagliker te maak ontsien nie. DHDA 421.1
In die laaste brief wat die apostel ooit geskryf het, praat hy van hierdie getroue dissipel soos volg: “Mag die Here aan die huis van Onesiforus barmhartigheid bewys, want hy het my dikwels verkwik en hom oor my kettings nie geskaam nie, maar toe hy in Rome gekom het, het hy my baie ywerig gesoek en gevind. Mag die Here hom skenk dat hy barmhartigheid mag verkry van die Here in die dag.” (2 Timotheus 1:16-18). DHDA 421.2
Die verlange na liefde en medelye word deur God self in die hart ingeplant. Christus het in Sy uur van lyding in Getsémané na die medelye van Sy dissipels verlang. En hoewel hy skynbaar onverskillig teenoor swaarkry en lyding was, het Paulus na medelye en geselskap gesmag. Die besoek van Onesiforus, wat in ‘n tyd van eensaamheid en verlatenheid van sy getrouheid getuig het, het blydskap en vreugde vir die een wat sy lewe in diens vir ander deurgebring het, gebring. DHDA 421.3