Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 46—Vryheid
Terwyl Paulus se arbeid in Rome geseën is met die bekering van baie siele en die versterking en bemoediging van die gelowiges, het daar donker wolke begin saampak, wat nie alleen sy eie veiligheid nie, maar ook die welvaart van die kerk bedreig het. Met sy aankoms in Rome, is hy onder beheer van die kaptein van die keiserlike wag gestel, ‘n man van geregtigheid en integriteit, deur wie se tegemoetkomendheid hy betreklik vrygelaat is om die werk van die evangelie na te streef. Maar voor die einde van die gevangenisstraf van twee jaar, is hierdie man deur ‘n amptenaar vervang van wie die apostel geen spesiale gunste kon verwag nie. DHDA 417.1
Die Jode was nou meer bedrywig as ooit tevore in hul pogings teen Paulus en hulle het ‘n bekwame handlanger in die losbandige vrou, wat Nero sy tweede vrou gemaak het, gevind en wat, alhoewel sy ‘n Joodse proseliet was, al haar invloed uitgeoefen het om hulle in hul moorddadige planne teen die kampvegter van die Christendom te ondersteun. DHDA 417.2
Paulus kon nie hoop op veel geregtigheid van die keiser op wie hy hom beroep het nie. Nero was meer bedorwe in sedes, meer ligsinnig van aard en tegelykertyd in staat tot meer gruwelike wreedheid as enige heerser wat hom voorafgegaan het. Die leisels van die regering kon nie aan ‘n meer despotiese heerser toevertrou gewees het. Die eerste jaar van sy regering is gekenmerk deur die vergiftiging van sy jong stiefbroer, die regmatige troonopvolger. Nero het van die een diepte van ondeug en misdaad na die ander neergedaal totdat hy sy eie moeder en daarna sy vrou vermoor het. Daar was geen gruweldaad wat hy nie sou pleeg nie en geen bose daad waartoe hy hom nie sou verlaag nie. In elke edele gemoed het hy slegs afkeer en minagting afgedwing. DHDA 417.3
Die besonderhede van die ongeregtighede wat in sy hof beoefen is, is te vernederend, te afskuwelik om te beskryf. Sy bandelose goddeloosheid het weersin en afkeur gewek, selfs by diegene wat gedwing was om in sy misdade te deel. Hulle het voortdurend gevrees vir die omvang wat sy volgende daad sou aanneem. Tog het selfs misdade soos die van Nero nie die getrouheid van sy onderdane laat wankel nie. Hy was erken as die alleenheerser van die hele beskaafde wêreld. Meer as dit, was hy die ontvanger van goddelike eerbetoon en is hy as ‘n god aanbid. DHDA 418.1
Uit ‘n menslike oogpunt beskou, was Paulus se veroordeling voor so ‘n regter ‘n uitgemaakte saak. Maar die apostel het gevoel dat solank hy aan God getrou was, hy niks te vrees gehad het nie. Die Een wat in die verlede sy Beskermer was, kon hom nog steeds teen die kwaadwilligheid van die Jode en die mag van die keiser beskerm. DHDA 418.2
En God hét Sy dienskneg beskerm. Met Paulus se verhoor kon die beskuldigings teen hom nie stand hou nie en teen die algemene verwagting in en met ‘n inagneming van geregtigheid wat geheel en al in stryd was met sy geaardheid, het Nero die gevangene onskuldig verklaar. Paulus se boeie is verwyder en hy was weer ‘n vry man. DHDA 418.3
Indien sy verhoor langer uitgestel was, of as hy om enige rede tot die volgende jaar in Rome aangehou was, sou hy sonder twyfel omgekom het in die vervolging wat toe plaasgevind het. Gedurende Paulus se gevangenskap het die aantal bekeerlinge tot die Christelike geloof so toegeneem, dat hulle die aandag en vyandskap van die owerhede getrek het. Die woede van die keiser was veral ontketen oor die bekering van die lede van sy eie huishouding en hy het spoedig ‘n voorwendsel gevind om die Christene die voorwerpe van sy genadelose wreedheid te maak. DHDA 418.4
Omstreeks hierdie tyd het ‘n hewige brand in Rome ontstaan waardeur byna die helfte van die stad afgebrand het. Volgens gerugte het Nero self die vlamme laat aansteek, maar om agterdog teen hom te vermy, het hy ‘n vertoon van groot vrygewigheid gemaak deur die haweloses en behoeftiges by te staan. Hy is egter van die misdaad beskuldig. Die volk was ontstoke en woedend en om homself en ook die stad te bevry van ‘n klas wat hy gevrees en gehaat het, het Nero die skuld op die Christene geplaas. Sy set was geslaagd en duisende van die volgelinge van Christus, mans, vroue en kinders, is wreedaardig om die lewe gebring. DHDA 419.1
Paulus is hierdie verskriklike vervolging gespaar, want kort na sy vrylating het hy Rome verlaat. Hy het hierdie laaste bietjie vryheid ywerig aangewend om onder die gemeentes te werk. Hy het gepoog om ‘n hegter eenheid tussen die Griekse en die Oosterse gemeentes te bewerkstellig en om die denkwyses van die gelowiges teen die valse leerstellings wat ingesluip het om die geloof te verderf, te versterk. DHDA 419.2
Die beproewinge en sorge wat Paulus verduur het, het sy fisiese krag verswak. Die gebreke van die ouderdom het hom ingehaal. Hy het gevoel dat hy nou sy laaste werk verrig en namate die tyd van sy arbeid uitgeloop het, het sy pogings meer intensief geword. Dit het gelyk asof daar geen einde aan sy ywer was nie. Vasberade van doel, vinnig tot aksie, sterk in geloof, het hy van gemeente tot gemeente deur baie lande gereis en op al die maniere in sy vermoë, gepoog om die hande van die gelowiges te versterk, sodat hulle getroue werk kon lewer om siele vir Jesus te verower en sodat hulle in die moeilike tye wat reeds ophande was, standvastig vir die evangelie kon bly staan en getroue getuienis vir Christus kon lewer. DHDA 419.3