Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 45—Uit Rome Geskryf*
Die apostel Paulus het vroeg in sy Christelike ervaring spesiale geleenthede ontvang om die wil van God aangaande die volgelinge van Jesus te leer ken. Hy is “weggeruk ... tot in die derde hemel ... in die Paradys...” en het “...onuitspreeklike woorde gehoor ... wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.” Hy het self erken dat hy “...van die Here...” baie “...gesigte en openbaringe...” ontvang het. Sy begrip van die beginsels van die waarheid in die evangelie was gelyk aan die van “...die uitnemende apostels.” (2 Korinthiërs 12:2,4,1,11.) Hy het ‘n duidelike, volledige begrip gehad van “...die breedte en lengte en diepte en hoogte...” van “...die liefde van Christus ... wat die kennis oortref.” (Efesiërs 3:18,19). DHDA 403.1
Paulus kon nie alles vertel wat hy in die gesig gesien het nie, want onder sy toehoorders was daar sommige wat sy woorde verkeerd sou toepas. Maar dit wat aan hom geopenbaar is, het hom in staat gestel om as leier en wyse leraar te werk en dit het ook die boodskappe wat hy in latere jare aan die gemeentes gestuur het gevorm. Die indruk wat hy in die visioen ontvang het, het altyd by hom gebly en dit het hom in staat gestel om die Christelike karakter reg voor te stel. Mondelings en per brief het hy ‘n boodskap verkondig wat sedertdien hulp en krag aan die kerk van God hulp verleen het. Aan die hedendaagse gelowiges spreek hierdie boodskap duidelik van die gevare wat die kerk sal bedreig en van valse leringe waarmee hulle te doen sal kry. DHDA 403.2
Die apostel se begeerte vir diegene aan wie hy sy briewe van raad en vermanings gerig het, was dat hulle “...nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering...”, maar dat hulle almal “...tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus...” moes kom. Hy het diegene wat volgelinge van Jesus in heidense gemeenskappe was, gesmeek om nie meer te “...wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie-mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God ... vanweë die verharding van hulle hart...”, maar “...nougeset ... nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit.” (Efesiërs 4:14,13,17,18;5:15;16.) Hy het die gelowiges aangemoedig om vooruit te sien na die tyd wanneer Christus wat “...die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het ... die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks...” ‘n heilige gemeente “...sonder gebrek.” (Efesiërs 5:25,27). DHDA 403.3
Hierdie boodskappe, nie met die krag van ‘n mens geskryf nie, maar van God, bevat lesse wat deur almal bestudeer behoort te word en wat dikwels tot voordeel herhaal kan word. Daarin word die praktiese godsvrug uiteengesit, beginsels neergelê wat in elke kerk gevolg behoort te word en die weg wat tot die ewige lewe lei, word duidelik gemaak. DHDA 404.1
In sy brief aan “...die heilige en gelowige broeders in Christus wat in Kolosse is...” wat gedurende sy gevangenskap in Rome geskryf is, maak Paulus melding van sy vreugde oor hulle standvastigheid in die geloof waarvan Epafras hom vertel het. Die apostel skryf dat hy “...julle liefde in die Gees aan ons te kenne gegee het.” En dan vervolg hy: “Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap.” DHDA 404.2
So het Paulus sy begeerte vir die gelowiges in Kolosse verwoord. Hoe hoog is die ideaal wat hierdie woorde voor die volgeling van Christus hou! Hulle toon die wonderlike moontlikhede van die Christelike lewe en maak dit duidelik dat daar geen beperking aan die seëninge is wat die kinders van God kan ontvang nie. Deur voortdurend toe te neem in ‘n kennis van God, kan hulle van krag tot krag, en van hoogte tot hoogte in die Christelike ervaring gaan, totdat hulle deur “...die mag van sy heerlikheid...” bekwaam gemaak word “...om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig.” DHDA 405.1
Die apostel het Christus voor sy broers verhef as die Een deur wie God alles geskape het en deur wie Hy hulle verlossing bewerk het. Hy het verklaar dat die Hand wat die wêreld in die ruimte onderhou en die ordelike gang van alle dinge in die heelal van God, in hul onophoudelike aktiwiteite hou, die Hand is wat vir hulle aan die kruis vasgespyker was. Paulus het geskryf: “In Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte-alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge en in Hom hou alle dinge stand ... Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van Sy vlees deur die dood, om hulle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel.” DHDA 405.2
Die Seun van God het neergebuig om die wat geval het, op te lig. Hiervoor het Hy die sondelose wêrelde omhoog verlaat-die nege-en-negentig wat Hom liefgehad het-en na hierdie aarde gekom om “...ter wille van ons oortredings deurboor...” en “...ter wille van ons ongeregtighede ... verbrysel...” te word. (Jesaja 53:5). Hy was in alle opsigte aan Sy broeders gelyk gemaak. Hy het vlees geword net soos ons. Hy het geweet wat dit beteken om honger en dors en uitgeput te wees. Hy is deur voedsel versterk en deur slaap verkwik. Hy was ‘n vreemdeling en ‘n bywoner op aarde-in die wêreld maar nie van die wêreld nie; Hy is versoek en beproef soos manne en vroue vandag versoek en beproef word, maar het nogtans ‘n sondelose lewe gelei. Saggeaard, vol deernis, medelydend en altyd bedagsaam teenoor ander, het Hy die karakter van God verteenwoordig. “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon ... vol van genade en waarheid.” (Johannes 1:14). DHDA 405.3
Omring deur die praktyke en invloede van die heidendom, het die gelowiges in Kolossense gevaar geloop om van die eenvoud van die evangelie weggetrek te word en Paulus het hulle hierteen gewaarsku en hulle na Christus gewys as die enigste veilige Gids. “Want ek wil hê dat julle moet weet...” het hy geskryf, “...wat ‘n groot stryd ek oor julle het en oor die wat in Laodicea is en almal wat my aangesig in die vlees nie gesien het nie, dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.” DHDA 406.1
“Dit sê ek, sodat niemand julle mag verlei met drogredes nie. ... Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging. Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag.” DHDA 406.2
Christus het voorspel dat bedrieërs sou opstaan, deur wie “...ongeregtigheid...” weens hulle invloed vermeerder sou word en dat “...die liefde van die meeste [sou] verkoel.” (Mattheus 24:12). Hy het die dissipels gewaarsku dat die kerk deur hierdie euwel aan groter gevaar blootgestel sou word as deur die vervolging van sy vyande. Paulus het die gelowiges keer op keer teen hierdie valse leraars gewaarsku. Hulle moes bo alles teen hierdie gevaar waak; want deur valse leraars te ontvang, sou hulle die deur vir dwalings oopstel waardeur die vyand hul geestelike persepsies sou verdof en die vertroue van diegene wat pas tot die geloof gekom het, sou laat wankel. Christus was die maatstaf waaraan hulle die leerstellings moes toets. Alles wat nie in ooreenstemming met Sy leerstellings was nie, moes verwerp word. Christus is vir die sonde gekruisig; Christus het uit die dood opgestaan; Christus het na die hemel opgevaar-dit was die wetenskap van die verlossing wat hulle moes leer en verkondig. DHDA 406.3
Die waarskuwings in die Woord van God met betrekking tot die gevare wat die Christelike kerk omring, is ook van toepassing op ons vandag. Net soos in die dae van die apostels, toe mense deur tradisie en filosofie probeer het om die geloof in die Skrif te vernietig, so probeer die vyand van geregtigheid vandag om deur aangename idees van hoër kritiek, evolusie, spiritualisme, teosofie en panteïsme, siele op verbode paaie te lei. Vir baie is die Bybel soos ‘n lamp sonder olie, omdat hulle hul gedagtes in kanale van spekulatiewe geloof wat misverstand en verwarring meebring, weggelei het. Die werk van hoër kritiek, om te dissekteer, te veronderstel en te rekonstrueer, vernietig die geloof in die Bybel as ‘n duidelike openbaring. Dit beroof die Woord van God van krag om menselewens te beheer, op te hef en te inspireer. Deur spiritualisme word menigtes geleer om te glo dat begeerte die hoogste wet is, dat losbandigheid vryheid is en dat die mens slegs aan homself verantwoording verskuldig is. DHDA 407.1
Die volgeling van Christus sal die “drogredes” teëkom waarteen die apostel die gelowiges in Kolossense gewaarsku het. Hy sal spiritistiese vertolkings van die Skrif teëkom, maar hy moet dit nie aanvaar nie. Sy stem moet duidelik aangaande die ewige waarhede van die Skrif gehoor word. Terwyl hy sy oë op Christus gerig hou, moet hy doelgerig op die aangewese weg voortbeweeg en alle leerstellings verwerp wat nie met Sy leer ooreenstem nie. Die waarheid van God moet die onderwerp van sy oordenking en bepeinsing wees. Hy moet die Bybel as die stem van God wat direk met hom praat beskou. So sal hy Goddelike wysheid vind. DHDA 407.2
Die kennis van God, soos in Christus geopenbaar, is die kennis waaroor almal wat gered word moet beskik. Dit is die kennis wat transformasie van die karakter bewerkstellig. In die lewe ontvang, sal dit die siel in die beeld van Christus herskep. Dit is die kennis wat God Sy kinders uitnooi om te ontvang, in vergelyking waarmee alles ydelheid en nietigheid is. DHDA 408.1
In elke geslag en in elke land was die ware grondslag vir karakterbou dieselfde-die beginsels wat in die Woord van God bevat word. Die enigste veilige en vaste reël is om te doen wat God sê. “Die wet van die Here is volmaak...” en “...hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie.” (Psalm 19:8;15:5). Dit was met die Woord van God wat die dissipels die valse teorieë van hulle tyd bekamp en gesê het: “Niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie.” (1 Korinthiërs 3:11). DHDA 408.2
Ten tye van hulle bekering en doop het die gelowiges in Kolosse hulself verbind om gelowe en gebruike wat tot dusver deel van hulle lewe was, af te skaf en om getrou te wees aan Christus. In sy brief het Paulus hulle hieraan herinner en hy het hulle gesmeek om nie te vergeet dat hulle hulself voortdurend moet inspan om die belofte na te kom teen die euwels wat oor hulle wil heers nie. “As julle dan saam met Christus opgewek is...” het hy gesê, “...soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” DHDA 408.3
“As iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (2 Korinthiërs 5:17). Deur die krag van Christus het manne en vroue die kettings van sondige gewoontes verbreek. Hulle het selfsug afgesweer. Die goddelose het eerbiedig geword, die dronkaard nugter, die onreine rein. Siele wat die gelykenis van die Satan gedra het, is in die beeld van God verander. Hierdie verandering is op sigself die grootste wonderwerk. Hierdie verandering wat deur die Woord verrig word, is een van die diepste verborgenhede van die Woord. Ons kan dit nie verstaan nie; ons kan net glo, soos die Skrifte verklaar: “Dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.” DHDA 409.1
Wanneer die Gees van God verstand en hart beheer, breek die bekeerde siel uit in ‘n nuwe lied; want hy besef dat in sy ervaring die belofte van God vervul is, dat sy oortreding vergewe is, dat sy sonde bedek is. Hy het berou teenoor God getoon vir die verbreking van die Goddelike wet en geloof en teenoor Christus wat vir die regverdiging van die mens gesterf het. “Omdat...” hy “...dan uit die geloof geregverdig is...” het hy “...vrede by God deur onse Here Jesus Christus.” (Romeine 5:1). DHDA 409.2
Maar omdat hy hierdie ervaring gehad het, moet die Christen nie met hande gevou sit, tevrede met dit wat vir hom bereik is nie. Hy wat besluit het om die geestelike koninkryk binne te gaan, sal vind dat al die magte en hartstogte van die onwedergebore natuur, gesteun deur die magte van die koninkryk van die duisternis, teen hom gekant is. Elke dag moet hy sy toewyding hernu, elke dag teen die bose stry. Ou gewoontes, oorerflike neigings om kwaad te doen, sal stry om die oorhand te verkry en hy moet voortdurend daarteen waak en in die krag van Christus strewe om die oorwinning te behaal. DHDA 409.3
“Maak dood dan julle lede wat op die aarde is...” het Paulus aan die Kolossense geskryf, “...waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond ... Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers en wees dankbaar.” DHDA 410.1
Die brief aan die Kolossense is gevul met lesse van die hoogste waarde vir almal wat in die diens van Christus betrokke is, lesse wat die enigheid van doel en verhewe doelwit toon, wat in die lewe van hom wat die Verlosser tereg verteenwoordig, gesien sal word. Die gelowige sal van alles wat hom sal verhinder om opwaartse vooruitgang te maak afstand doen, of wat die voete van ‘n ander van die smal weg afvallig sal maak en die gelowige sal in sy daaglikse lewe barmhartigheid, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid en die liefde van Christus openbaar. DHDA 410.2
Ons grootste behoefte is die krag van ‘n hoër, suiwerder, edeler lewe. Die wêreld neem te veel van ons gedagtes in beslag en die koninkryk van die hemel te min. DHDA 410.3
In sy pogings om God se ideaal vir hom te bereik, moet die Christen oor niks wanhopig raak nie. Sedelike en geestelike volmaaktheid, deur die genade en krag van Christus, word aan almal belowe. Jesus is die Bron van krag, die Fontein van die lewe. Hy bring ons by Sy Woord en van die boom van die lewe bied Hy aan ons die blare van genesing vir sonde-siek siele. Hy lei ons na die troon van God en lê in ons mond ‘n gebed waardeur ons in noue kontak met Hom gebring word. Hy stel namens ons die almagtige agentskappe van die hemel in werking. Met elke stap raak ons Sy lewende krag aan. DHDA 410.4
God bepaal geen beperking op die vooruitgang van diegene wat begeer om vervul te word “...met die kennis van Sy wil in alle wysheid en geestelike insig...” nie. Deur gebed, deur waaksaamheid, deur groei in kennis en begrip, moet hulle “...met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid.” So word hulle voorberei om vir ander te werk. Dit is die Redder se doel dat mense wat gereinig en geheilig is Sy helpende hand sal wees. Laat ons Hom vir hierdie groot voorreg bedank wat “...ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig-Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde.” DHDA 411.1
Paulus se brief aan die Filippense, soos die een aan die Kolossense, was geskryf terwyl hy ‘n gevangene in Rome was. Die gemeente in Filippi het aan die hand van Epafroditus, wat Paulus “...my broeder en medewerker en medestryder, julle afgevaardigde en bedienaar van my behoefte....” noem, geskenke aan hom gestuur. Terwyl hy in Rome was, was Epafroditus siek “...tot by die dood; maar God was hom barmhartig...” het Paulus geskryf “...en nie hom alleen nie, maar ook my, dat ek nie droefheid op droefheid sou hê nie.” Toe die gelowiges in Filippi van die siekte van Epafroditus hoor, was hulle baie bekommerd oor hom en hy het besluit om na hulle terug te keer. “Hy het na julle almal verlang...” het Paulus geskryf “...en was besorg omdat julle gehoor het dat hy siek was. ... Ek het hom des te spoediger gestuur, sodat julle hom kan sien en julle weer verbly en ek minder bedroef kan wees. Ontvang hom dan in die Here met alle blydskap en hou sulke manne in eer. Want ter wille van die werk van Christus het hy tot naby die dood gekom en diensbetoning aan my.” DHDA 411.2
Deur Epafroditus het Paulus ‘n brief aan die gelowiges in Filippi gestuur, waarin hy hulle bedank vir hul geskenke aan hom. Van al die gemeentes was die gemeente van Filippi die vrygewigste om in Paulus se behoeftes te voorsien. Verder het die apostel in sy brief gesê: “En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedonië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. Want ook in Thessalonika het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening. Maar ek het alles ontvang en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafroditus ontvang het wat deur julle gestuur is, ‘n lieflike geur, ‘n welgevallige offer, welbehaaglik by God.” DHDA 412.1
“Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink-en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap-oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe, omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus; soos dit vir my reg is om dit van julle almal te dink, omdat ek julle in my hart dra, aangesien julle almal in my boeie sowel as in die verdediging en bevestiging van die evangelie my deelgenote in die genade is. Want God is my getuie hoe ek na julle almal verlang. ... En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ‘n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God.” DHDA 412.2
Die genade van God het Paulus in sy gevangenskap onderskraag en hom in staat gestel om hom in sy verdrukking te verbly. Met geloof en versekering het hy aan sy broeders in Filippi geskryf dat sy gevangenskap die bevordering van die evangelie tot gevolg gehad het. “Ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het, sodat my boeie openbaar geword het in Christus onder die hele Keiserlike lyfwag en by al die ander en die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, dit des te meer waag om die woord onbevrees te spreek.” DHDA 412.3
Daar is ‘n les vir ons in hierdie ervaring van Paulus, want dit openbaar die wyse waarop God te werk gaan. Die Here kan die oorwinning behaal uit wat vir ons na ontmoediging en ‘n nederlaag mag lyk. Ons verkeer in gevaar om God te vergeet, om ons oë op die sienlike dinge te vestig in plaas daarvan om deur die oog van geloof die onsienlike te aanskou. Wanneer teëspoed of rampe ons tref, is ons gereed om God van verwaarlosing of wreedheid te beskuldig. Wanneer Hy dit nodig vind om ons bruikbaarheid op een of ander manier af te sny, treur ons en dink nie daaraan dat God sodoende vir ons beswil werk nie. Ons moet leer dat tugtiging deel uitmaak van Sy groot plan en dat die Christen onder die roede van swaarkry soms meer vir die Meester kan verrig as wanneer hy in aktiewe diens besig is. DHDA 413.1
As voorbeeld van die Christelike lewe, het Paulus die Filippense na Christus verwys, wat, hoewel Hy “...in die gestalte van God was...” dit geen roof geag het “...om aan God gelyk te wees nie...” maar Hy het “...Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mens gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” DHDA 413.2
Hy het voortgegaan: “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae. Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, deurdat julle die woord van die lewe vashou, My tot ‘n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie.” DHDA 413.3
Hierdie woorde is opgeteken as hulp vir elke strydende siel. Paulus handhaaf die standaard van volmaaktheid en wys hoe dit bereik kan word. Hy sê: “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk.” DHDA 414.1
Die werk om redding te verkry is een van samewerking, ‘n gesamentlike operasie. Daar moet samewerking tussen God en die berouvolle sondaar wees. Dit is noodsaaklik vir die vorming van regte beginsels in die karakter. Die mens moet ernstig poog om dit wat hom verhinder om tot volmaaktheid te kom, te oorkom. Maar hy is geheel en al van God afhanklik vir sukses. Menslike inspanning op sigself is nie voldoende nie. Sonder die hulp van Goddelike krag, baat dit niks. God werk en die mens werk. Weerstand teen versoeking moet van die mens kom, wat sy krag van God moet put. Aan die een kant is daar oneindige wysheid, medelye en krag; aan die ander kant, swakheid, sondigheid, algehele hulpeloosheid. DHDA 414.2
God wil hê dat ons selfbeheersing moet hê. Maar Hy kan ons nie sonder ons toestemming en samewerking help nie. Die Goddelike Gees werk deur die kragte en vermoëns wat aan die mens gegee is. Uit onsself is ons nie in staat om die doel, begeertes en neigings in ooreenstemming met die wil van God te bring nie; maar as ons gewillig is, sal die Verlosser dit vir ons volbring terwyl Hy “...ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.” (2 Korinthiërs 10:5). DHDA 414.3
Hy wat ‘n sterk, simmetriese karakter wil ontwikkel, hy wat ‘n ewewigtige Christen wil wees, moet alles gee en alles vir Christus doen, want die Verlosser sal nie verdeelde diens aanvaar nie. Hy moet daagliks die betekenis van selfoorgawe leer. Hy moet die Woord van God bestudeer, die betekenis daarvan leer en die voorskrifte daarvan gehoorsaam. Sodoende kan hy die standaard van Christelike volmaaktheid bereik. Dag vir dag werk God met hom en vervolmaak die karakter wat die laaste toets moet deurstaan. En dag vir dag voer die gelowige, ten aanskoue van mense en engele, ‘n verhewe proefneming uit, wat aandui wat die evangelie vir gevalle mense kan doen. DHDA 414.4
Paulus het geskryf: “Ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” DHDA 415.1
Paulus het baie dinge gedoen. Vanaf die tyd dat hy sy trou aan Christus toegesê het, was sy lewe gevul met onvermoeide diens. Van stad tot stad, van land tot land het hy gereis en die verhaal van die kruis vertel, bekeerlinge vir die evangelie gewen en gemeentes gestig. Oor hierdie gemeentes was hy voortdurend besorg en hy het baie briewe aan hulle geskryf om hulle te onderrig. Soms het hy sy ambag beoefen om sy daaglikse brood te verdien. Maar te midde van al die besige bedrywighede in sy lewe, het Paulus nooit sy een groot doel uit die oog verloor nie, naamlik om die prys van sy hoë roeping na te streef. Een doel het hy onwrikbaar voor hom gehou-om getrou te wees aan die Een wat Homself by die poort van Damaskus aan hom geopenbaar het. Niks het die mag gehad om hom van hierdie doel te laat afsien nie. Om die kruis van Golgota te verhef-dit was die alles- oorheersende dryfveer wat sy woorde en sy dade besiel het. DHDA 415.2
Die groot doel wat Paulus gedring het om te midde van swaarkry en probleme vorentoe te beur, behoort daartoe te lei dat elke Christen-werker homself volkome aan die diens van God wy. Wêreldse aantreklikhede sal aan hom voorgehou word om sy aandag van die Verlosser af te trek, maar hy moet die doel najaag en aan die wêreld, aan engele en aan mense toon dat die hoop om die aangesig van God te sien, al die inspanning en opoffering wat die vervulling van sy hoop verg, werd is. DHDA 415.3
Hoewel hy ‘n gevangene was, was Paulus nie mismoedig nie. In plaas daarvan is daar ‘n toon van oorwinning in die briewe wat hy uit Rome aan die gemeentes geskryf het. Aan die Filippense het hy geskryf: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! ... Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is-watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” DHDA 416.1
“My God sal elke behoefte van julle vervul na Sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus ... Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal!” DHDA 416.2