Die Handelinge Van Die Apostels

6/59

Hoofstuk 5—Die Gawe van die Gees

Toe Christus die Heilige Gees aan Sy dissipels beloof het, was Hy na aan die einde van Sy aardse bediening. Hy het in die skaduwee van die kruis gestaan, ten volle bewus van die groot skuldlas wat op Hom as Sondedraer sou rus. Voordat Hy Hom as offer oorgegee het, het Hy Sy dissipels onderrig aangaande die noodsaaklikste en mees volmaakte gawe wat Hy aan Sy volgelinge sou skenk-die gawe wat die grenslose hulpbronne van die genade binne hulle bereik sou bring. Hy het gesê: “Ek sal die Vader bid en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” (Johannes 14:16,17). Die Verlosser het vooruitgewys na die tyd wanneer die Heilige Gees sou kom om, as Sy verteenwoordiger, ‘n magtige werk te doen. Die boosheid wat deur die eeue toegeneem het, sou deur die krag van die Heilige Gees weerstaan word. DHDA 32.1

Wat was die gevolg van die uitstorting van die Heilige Gees op die Pinksterfees? Die blye tyding van ‘n opgestane Verlosser is na die uiteinde van die bewoonde wêreld geneem. Namate die dissipels die boodskap van reddende genade verkondig het, het menseharte hulle aan die krag van hierdie boodskap oorgegee. Die kerk het aanskou hoe bekeerlinge uit alle oorde instroom. Afvalliges het hulle opnuut bekeer. Sondaars het saam met gelowiges na die kosbare pêrel gesoek. Sommige, wat die bitterste teëstanders van die evangelie was, het die kampvegters daarvan geword. Die profesie is vervul: “Die struikelende onder hulle sal in die dag wees soos Dawid en die huis van Dawid soos ... die Engel van die Here.” (Sagaria 12:8). Elke Christen het in sy broer ‘n openbaring van Goddelike liefde en welwillendheid gesien. Een gemeenskaplike belang het geheers; een onderwerp van navolging het al die ander verswelg. Die strewe van die gelowiges was om die gelykenis van Christus se karakter te openbaar en om te werk vir die uitbreiding van Sy koninkryk. DHDA 32.2

“En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus en groot genade was oor hulle almal.” (Handelinge 4:33). Onder hulle arbeid is uitverkore manne tot die kerk toegevoeg wat, nadat hulle die woord van waarheid ontvang het, hulle lewe aan die werk om aan ander die hoop te gee wat hul eie harte met vrede en vreugde gevul het, toe te wy. Hulle kon nie deur dreigemente teruggehou of geïntimideer word nie. Die Here het deur hulle gepraat en soos hulle van plek tot plek beweeg het, is die evangelie aan die armes verkondig en wonderwerke van Goddelike genade is verrig. DHDA 33.1

So kragtig kan God deur manne werk, wat hulle aan die beheer van Sy Gees oorgee. DHDA 33.2

Die belofte van die Gees is tot geen bepaalde eeu of ras beperk nie. Christus het verklaar dat die Goddelike invloed van Sy Gees tot aan die einde met Sy volgelinge sou wees. Van die dag van Pinkster af tot nou toe is die Trooster na almal gestuur wat hulle ten volle aan die diens van die Here oorgegee het. Die Heilige Gees het tot almal wat Christus as hulle persoonlike Saligmaker aangeneem het, as Raadgewer, Heiligmaker, Leidsman en Getuie gekom. Hoe nader gelowiges aan God gewandel het, hoe duideliker en kragtiger het hulle van hulle Verlosser se liefde en reddende genade getuig. Die manne en vroue wat deur die lang eeue van vervolging en beproewing ‘n groot mate van die teenwoordigheid van die Gees in hulle lewens ervaar het, het as tekens en wonders in die wêreld gestaan. Hulle het voor engele en mense die transformerende krag van verlossende liefde geopenbaar. DHDA 33.3

Diegene wat tydens Pinkster met krag van Bo toegerus was, was nie daardeur van verdere versoeking en vervolging vrygestel nie. Soos hulle vir die waarheid en geregtigheid getuig het, is hulle voortdurend deur die vyand van alle waarheid aangeval, wat gestreef het om hulle van hul Christelike ervaring te beroof. Hulle is gedwing om met al hul Godgegewe mag te stry om die gestalte as manne en vroue in Christus te bereik. Hulle het daagliks vir ‘n vars voorraad van genade gebid, sodat hulle hoër en steeds hoër na volmaaktheid kon styg. Onder die werking van die Heilige Gees het selfs die swakste, deur die beoefening van geloof in God, geleer om die magte wat aan hom toevertrou is te verbeter en om geheilig, verfynd en veredel te word. Soos hulle in nederigheid hulself aan die vormende invloed van die Heilige Gees onderwerp het, het hulle die volheid van die Godheid ontvang en is hulle in die beeltenis van die Goddelikheid gevorm. DHDA 33.4

Die verloop van tyd het geen verandering in Christus se afskeidsbelofte om die Heilige Gees as Sy Verteenwoordiger te stuur, gebring nie. Dit is nie as gevolg van enige beperking van God se kant af dat die rykdom van Sy genade nie na die aarde deurvloei na mense nie. As die vervulling van die belofte nie gesien word soos dit kan wees nie, is dit omdat die belofte nie waardeer word soos dit gewaardeer behoort te word nie. As hulle bereid was, sou almal met die Gees vervul word. Waar min aandag aan die behoefte aan die Heilige Gees geskenk word, word geestelike droogte, geestelike duisternis, geestelike agteruitgang en dood gewaar. Waar minderwaardige sake ook al die aandag trek, ontbreek die goddelike krag, alhoewel dit in oneindige volheid, wat nodig is vir die groei en welvaart van die kerk en wat ander seëninge tot gevolg sal hê, aangebied word. DHDA 34.1

Aangesien dit dan die wyse is waarop ons krag moet ontvang, waarom honger en dors ons nie na die gawe van die Gees nie? Waarom praat ons nie daaroor, bid ons nie daarvoor en preek ons nie daaroor nie? Die Here is meer gewillig om die Heilige Gees aan diegene wat Hom dien te gee, as wat ouers is om goeie gawes aan hulle kinders te gee. Elke werker behoort tot God te bid dat hy daagliks met die Heilige Gees gedoop mag word. Groepe Christen- werkers behoort saam te kom om vir spesiale hulp en hemelse wysheid te vra sodat hulle kan weet hoe om met wysheid planne te beraam en dit uit te voer. Hulle behoort veral te bid dat God Sy gekose gesante in die sendingveld met ‘n ryke mate van Sy Gees moet doop. Die aanwesigheid van die Gees van God by die werkers sal aan die verkondiging van die waarheid ‘n krag verleen wat al die eer en heerlikheid van die wêreld nie kan gee nie. DHDA 34.2

Die Heilige Gees bly by die toegewyde werker van God waar hy hom ook al mag bevind. Die woorde wat tot die dissipels gerig is, word ook tot ons gespreek. Die Trooster is tot ons beskikking, asook vir hulle. Die Gees voorsien die krag wat strydende, worstelende siele in elke noodgeval, te midde van die haat van die wêreld en ondanks die besef van hulle eie tekortkominge en foute, onderskraag. In verdriet en verdrukking, wanneer die vooruitsig donker en die toekoms verwarrend voorkom en ons hulpeloos en alleen voel, is dit juis die tye wanneer, in antwoord op die gebed van geloof, die Heilige Gees die hart vertroos. DHDA 35.1

Dit is nie afdoende bewys dat iemand ‘n Christen is omdat hy geestelike saligheid onder buitengewone omstandighede manifesteer nie. Heiligheid is nie saligheid nie; dit is algehele oorgawe aan die wil van God; dit is om van elke woord wat deur die mond van God uitgaan, te lewe; dit is om die wil van die hemelse Vader te doen; dit is om God in beproewings, in duisternis, sowel as in die lig te vertrou; dit is om deur geloof en nie deur sig te wandel nie; dit is om jou met onvoorwaardelike vertroue op God te verlaat en in Sy liefde te bly. DHDA 35.2

Dit is nie noodsaaklik vir ons om presies te kan beskryf wat die Heilige Gees is nie. Christus vertel ons die Gees is die Trooster, “...die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan...” Daar word onomwonde van die Heilige Gees gesê dat Hy in Sy werk om mense na die volle waarheid te lei, “...nie uit Homself spreek nie...” (Johannes 15:26;16:13). DHDA 35.3

Die aard van die Heilige Gees is ‘n verborgenheid. Mense kan dit nie verklaar nie, want God het dit nie aan hulle geopenbaar nie. Mense met onwerklike idees mag skrifgedeeltes saamflans en daar ‘n menslike uitleg aan gee, maar die gemeente sal nie versterk word deur hierdie idees te aanvaar nie. Aangaande sulke verborgenhede wat te diep vir die menslike verstand is, is swye goud werd. DHDA 36.1

Die amp van die Heilige Gees word met die woorde van Christus duidelik gespesifiseer. “En as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel.” (Johannes 16:8). Dit is die Heilige Gees wat van sonde oortuig. Indien die sondaar aan die besielende invloed van die Gees gehoor gee, sal hy tot berou gelei word en insien dat dit belangrik is om die Goddelike vereistes te gehoorsaam. DHDA 36.2

Aan die boetvaardige sondaar wat na geregtigheid honger en dors, openbaar die Heilige Gees die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Hy sal dit neem “...uit wat aan My behoort en aan julle verkondig,” sê Christus. “Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Johannes 16:14;14:26). DHDA 36.3

Die Gees is as ‘n herskeppende Werktuig gegee om die heil wat deur die dood van ons Verlosser teweeggebring is, doeltreffend te maak. Die Gees streef voortdurend om die aandag van die mensdom op die groot offer wat aan die kruis van Golgota gedoen is te vestig, om die liefde van God voor die wêreld te ontvou en om aan die oortuigde siel die kosbaarhede van die Skrifte oop te stel. DHDA 36.4

Nadat die Heilige Gees van sonde oortuig en die maatstaf van geregtigheid aan die verstand geopenbaar het, onttrek Hy die liefde vir aardse dinge en vervul Hy die siel met ‘n verlange na heiligheid. Die Heiland het gesê: Hy sal “...julle in die hele waarheid lei...” (Johannes 16:13). Indien mense gewillig is om hervorm te word, sal heiligmaking van die hele wese teweeggebring word. Die Gees sal die dinge van God neem en dit op die siel afdruk. Deur Sy krag sal die weg van die lewe so duidelik gemaak word, dat dit vir niemand nodig sal wees om daarvan af te dwaal nie. DHDA 36.5

Van die begin af werk God met Sy Heilige Gees deur menslike werktuie om Sy doel ten bate van die sondige mensdom te volbring. Dit is in die lewens van die aartsvaders geopenbaar. Aan die kerk in die woestyn het God in die tyd van Moses Sy “...goeie Gees ... gegee om hulle te onderrig...” (Nehemia 9:20). En in die dae van die apostels het Hy deur middel van die Heilige Gees op ‘n magtige wyse vir Sy kerk gewerk. Dieselfde mag wat die aartsvaders ondersteun het, wat Kaleb en Josua van geloof en moed voorsien het en wat die werk van die apostoliese kerk doeltreffend gemaak het, het God se getroue, gelowige kinders in elke daaropvolgende eeu bygestaan. Dit was deur die krag van die Heilige Gees wat die Waldense-Christene gedurende die donker Middeleeue gehelp is om die weg vir die Hervorming voor te berei. Dieselfde mag het die pogings van die edele manne en vroue wat die weg vir die totstandkoming van hedendaagse sendingvelde gebaan het en die vertaling van die Bybel in die tale en dialekte van alle nasies en volke, met sukses bekroon. DHDA 37.1

En God gebruik steeds Sy kerk om Sy doelwit op die aarde bekend te maak. Die boodskappers van die kruis gaan vandag steeds van stad tot stad en van land tot land om die weg vir die wederkoms van Christus voor te berei. Die vaandel van God se wet word hoog gehou. Die Gees van die Almagtige beweeg menseharte en dié wat Sy invloed gehoorsaam, word getuies vir God en Sy waarheid. Op baie plekke kan toegewyde manne en vroue, wat die lig van die weg van verlossing wat Christus vir hulle duidelik gemaak het aan andere oordra, gesien word. En namate hulle voortgaan om hul lig te laat skyn, soos diegene wat op die dag van die Pinkster gedoop is, ontvang hulle meer en meer van die krag van die Gees. Sodoende word die aarde met die heerlikheid van God verlig. DHDA 37.2

Aan die ander kant is daar sommige wat nie van hulle huidige geleenthede gebruik maak nie, maar ledig sit en wag dat ‘n spesiale tyd van geestelike verkwikking hulle begaafdheid om andere in te lig grootliks moet vermeerder. Hulle verwaarloos die pligte en voorregte van die oomblik en laat hulle lig dof brand, terwyl hulle na die tyd uitsien wanneer hulle sonder enige persoonlike inspanning spesiale seëninge sal ontvang waardeur hulle verander en vir diens toegerus sal word. DHDA 38.1

Dit is waar dat aan die einde van tyd, wanneer God se werk op aarde afgesluit word, die ernstige pogings wat toegewyde werkers onder die leiding van die Heilige Gees aanwend, vergesel sal word van besondere tekens van Goddelike guns. Deur die beeld van die vroeë en die laat reëns wat tydens die saai- en oestyd in Oosterse lande geval het, het die Hebreeuse profete voorspel dat die genade van die Gees in buitengewone mate op God se kerk uitgestort sal word. Die uitstorting van die Gees in die dae van die apostels was die begin van die vroeë reëns, met glorieryke resultate. Die teenwoordigheid van die Gees sal tot aan die einde van tyd met die ware kerk wees. DHDA 38.2

Maar na aan die einde van die oes op aarde, word ‘n spesiale uitstorting van geestelike genade beloof om die gemeente vir die koms van die Seun van die mens voor te berei. Hierdie uitstorting van die Gees word met die val van die laat reëns vergelyk; en dit is vir hierdie bykomende krag dat Christene “...in die tyd van die laat reëns...” tot die Here van die oes moet bid. In antwoord maak die Here “...die weerligte en Hy sal aan hulle ‘n stortreën gee.” Hy “...laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns.” (Sagaria 10:1; Joël 2:23). DHDA 38.3

Maar tensy die lede van God se kerk vandag ‘n lewende verbinding met die Bron van alle geestelike groei het, sal hulle nie gereed vir die oestyd wees nie. Tensy hulle hul lampe laat snuit en brand, sal hulle nie in die tyd van spesiale behoefte die bykomende genade ontvang nie. DHDA 38.4

Slegs diegene wat voortdurend opnuut ‘n toevoer van genade ontvang, sal oor krag beskik na gelang van hulle daaglikse behoefte en hulle vermoë om daardie krag te gebruik. In plaas daarvan dat hulle na ‘n toekomstige tyd uitsien wanneer hulle deur ‘n spesiale bedeling van geestelike krag ‘n wonderwerk sal ontvang om hulle vir die werk om siele te red toe te rus, gee hulle hulself daagliks aan God oor, sodat Hy geskikte werktuie van hulle vir Sy gebruik kan maak. Hulle maak daagliks gebruik van die geleenthede vir diens wat binne hulle bereik is. Hulle getuig daagliks vir die Meester, waar hulle hul ook al mag bevind, hetsy in die beskeie werkkring van die huisgesin of in die openbare veld van bruikbaarheid. DHDA 39.1

Vir die toegewyde werker is dit ‘n heerlike troos om te weet dat selfs Christus gedurende Sy lewe op aarde Sy Vader daagliks om ‘n vars aanvulling van die nodige genade gebid het; en na hierdie gemeenskap met God het Hy uitgegaan om ander te versterk en te seën. Aanskou die Seun van God wat in gebed tot Sy Vader neerbuig! Hoewel Hy die Seun van God is, versterk Hy Sy geloof deur gebed; en deur gemeenskap met die hemel versamel Hy vir Homself die krag om sonde te weerstaan en om in die behoeftes van mense te voorsien. As Oudste Broer van ons geslag, is Hy bekend met die behoeftes van diegene wat swak is en in ‘n sondige, verleidelike wêreld leef, maar nogtans begeer om Hom te dien. Hy weet dat die boodskappers wat Hy gerade ag om uit te stuur, swak, dwalende mense is; maar aan almal wat hulle geheel en al aan Sy diens wy, beloof Hy Goddelike bystand. Sy eie voorbeeld is ‘n versekering dat ernstige, volhardende gebed tot God, in geloof-geloof wat tot algehele afhanklikheid van God en onvoorwaardelike toewyding aan Sy werk lei-in die stryd teen die sonde sal help om die bystand van die Heilige Gees na die mensdom te bring. DHDA 39.2

Elke werker wat Christus se voorbeeld volg, sal gereed wees om die krag wat God aan Sy kerk beloof het om die oes van die aarde ryp te maak, te ontvang en te gebruik. Elke oggend wanneer die boodskappers van die evangelie voor die Here kniel en hulle beloftes van toewyding aan Hom hernieu, sal Hy die teenwoordigheid van Sy Gees met Sy opwekkende, heiligmakende krag aan hulle skenk. Wanneer hulle uitgaan om die pligte van die dag te verrig, het hulle die versekering dat die ongesiene werking van die Heilige Gees hulle in staat stel om “...medewerkers van God...” te wees. DHDA 40.1