Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 44—Die Keiserlike Huishouding
Die evangelie het altyd sy grootste welslae onder die nederige klasse behaal. “Julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie.” (1 Korinthiërs 1:26). Daar kon nie verwag word dat Paulus, ‘n arm gevangene sonder vriende, die aandag sou kon trek van die welgestelde en getitelde klasse van die Romeinse burgers nie. Die ondeug het aan hulle al sy glinsterende aanloklikhede gebied en hulle gewilliglik gevange gehou. Maar onder die uitgemergelde, armoedige slagoffers van onderdrukking, selfs onder die arme slawe, het baie van hulle graag na die woorde van Paulus geluister en in die geloof van Christus hoop en vrede gevind wat hulle in hul ontberinge bemoedig het. DHDA 396.1
Alhoewel die werk van die apostel met die nederiges en laer klasse begin het, het die invloed daarvan uitgebrei totdat dit die paleis van die keiser bereik het. DHDA 396.2
Rome was in hierdie tyd die hoofstad van die wêreld. Die hoogmoedige keisers het aan byna elke nasie op aarde wette voorgeskryf. Koning en hofdienaar was of onkundig aangaande die nederige Nasarener of het Hom met haat en veragting bejeën. Tog het die evangelie in minder as twee jaar sy weg vanaf die gevangene se nederige woning, tot in die keiserlike sale gebaan. Paulus was soos ‘n boosdoener geboei, maar “...die woord van God is nie gebonde nie.” (2 Timotheus 2:9). DHDA 396.3
Vroeër jare het die apostel die geloof van Christus met oortuigende krag in die openbaar verkondig en deur tekens en wonderwerke het hy onmiskenbaar getuienis van die Goddelike aard daarvan gelewer. Met edele fermheid het hy voor die wyses van Griekeland opgestaan en deur sy kennis en welsprekendheid, die argumente van die trotse filosofie die swye opgelê. Onverskrokke het hy voor konings en goewerneurs gestaan en oor geregtigheid, matigheid en die oordeel wat kom geredeneer, totdat die hoogmoedige heersers gebewe het asof hulle reeds die verskrikking van die dag van God aanskou. DHDA 396.4
Die apostel is nou nie meer sulke geleenthede gegun nie, aangesien hy tot sy woning beperk was en slegs in staat was om die waarheid aan diegene wat hom daar besoek het te verkondig. Hy het nie, soos Moses en Aaron, ‘n Goddelike opdrag gehad om voor die losbandige koning te verskyn en hom in die naam van die groot EK IS, oor sy wreedheid en onderdrukking tereg te wys nie. Tog was dit juis in hierdie tyd, toe die hoof-prediker blykbaar van openbare arbeid afgesny was, dat ‘n groot oorwinning vir die evangelie behaal is; want lidmate is uit die huishouding van die keiser by die kerk gevoeg. DHDA 397.1
Nêrens kon daar ‘n atmosfeer bestaan het wat meer ongunstig vir die Christelike geloof was as in die Romeinse hof nie. Dit was asof Nero die laaste spoor van die Goddelike en selfs van menslikheid uit sy siel uitgewis het en die afdruk van die Satan gedra het. Sy dienaars en hofdienaars was oor die algemeen van dieselfde karakter as hy self-gewelddadig, ontaard en korrup. Oënskynlik sou dit vir die Christendom onmoontlik wees om in die paleis van Nero vastrapplek te vind. DHDA 397.2
Tog, in hierdie geval, soos in soveel ander, is die waarheid van Paulus se bewerings bewys, dat die wapens van oorlogvoering “...deur God ... kragtig [is] om vestings neer te werp.” (2 Korinthiërs 10:4). Selfs in Nero se huishouding is trofeë vir die kruis gewen. Onder die veragtelike dienaars van ‘n meer veragtelike koning, is bekeerlinge gewen wat seuns van God geword het. Hulle was nie Christene in die geheim nie, maar openlik. Hulle het hulle nie vir hul geloof geskaam nie. DHDA 397.3
En op hoedanige wyse is daar ingang en ‘n vaste grondslag vir die Christendom verkry, waar selfs die toegang daarvan onmoontlik gelyk het? In sy sendbrief aan die Filippense het Paulus geskryf dat die sukses om bekeerlinge tot die geloof uit Nero se huishouding te wen, aan sy gevangenskap toegeskryf kan word. Bevrees dat daar gemeen mag word dat sy swaarkry die vordering van die evangelie mag belemmer, het hy hulle verseker: “Ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het.” (Filippense 1:12). DHDA 397.4
Toe die Christelike gemeentes vir die eerste keer verneem het dat Paulus Rome sou besoek, het hulle uitgesien na ‘n kennelike oorwinning vir die evangelie in daardie stad. Paulus het die waarheid na baie lande geneem; hy het dit in groot stede verkondig. Sou hierdie voorvegter van die geloof nie daarin kon slaag om selfs in die metropool van die wêreld siele vir Christus te wen nie? Maar hulle hoop was verpletter deur die tyding dat Paulus as gevangene na Rome gegaan het. Hulle het vol vertroue gehoop dat wanneer die evangelie eers in hierdie sentrum gevestig was, dit spoedig na alle nasies sou uitbrei en ‘n heersende mag op aarde sou word. Hoe groot was hulle teleurstelling! Menslike verwagtinge is verydel, maar nie die plan van God nie. DHDA 398.1
Nie deur Paulus se preke nie, maar deur sy boeie, is die aandag van die paleis op die Christelike geloof gevestig. Dit was as ‘n gevangene dat hy die boeie van soveel siele, wat hulle in die slawerny van sonde gehou het, verbreek het. Dit was ook nie al nie. Hy het verklaar dat: “Die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, dit des te meer waag om die woord onbevrees te spreek.” (Filippense 1:14). DHDA 398.2
Paulus se geduld en opgewektheid tydens sy lang en onregverdige gevangenskap, sy moed en geloof, was ‘n voortdurende preek. Sy gees, so anders as die gees van die wêreld, het getuig dat ‘n mag hoër as enige aardse mag by hom was. En deur sy voorbeeld is Christene tot groter inspanning aangespoor as voorstanders van die saak uit die openbare arbeid waarvan Paulus teruggetrek is. Op hierdie wyse was die gebondenheid van die apostel invloedryk, omdat, toe sy krag en bruikbaarheid geblyk het aan bande gelê te wees en hy in alle waarskynlikheid die minste kon uitrig, hy gerwe vir Christus in velde waarvan hy geblyk het heeltemal uitgesluit te wees, versamel het. DHDA 398.3
Voor die einde van daardie twee jaar van gevangeskap, kon Paulus sê dat sy “...boeie openbaar geword het in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander.” En onder diegene wat aan die Filippense groete gestuur het, maak hy veral melding van “...die wat aan die keiserlike huis behoort.” (Vers 13;4:22). DHDA 399.1
Geduld, sowel as moed, het sy oorwinnings. Deur sagmoedigheid wat beproef word, nie minder as deur vrymoedigheid in ondernemingsgees, kan siele vir Christus gewen word. Die Christen wat geduld en opgewektheid onder verlies en lyding openbaar, wat selfs die dood met die vrede en kalmte van ‘n onwankelbare geloof tegemoetgaan, kan meer vir die evangelie bereik as wat hy deur ‘n lang lewe van getroue arbeid sou kon bewerkstellig. Dikwels wanneer ‘n dienaar van God uit aktiewe diens onttrek word, is die onverklaarbare voorsienigheid wat deur ons kortsigtige visie betreur sal word, deur God ontwerp om ‘n werk te verrig wat andersins nooit gedoen sou word nie. DHDA 399.2
Laat die volgeling van Christus nie dink dat wanneer hy nie langer in staat is om openlike en aktiewe diens vir God en Sy waarheid te verrig nie, dat hy geen diens het om te lewer en geen loon het om te verseker nie. Christus se ware getuies word nooit ter syde gestel nie. In gesondheid en in siekte, in lewe en in dood, gebruik God hulle steeds. Toe die diensknegte van Christus deur die kwaadwilligheid van Satan vervolg was en in hul aktiewe diens verhinder is, toe hulle in die gevangenis gewerp of na die skavot of die brandstapel gesleep was, was dit juis toe dat die waarheid ‘n groter oorwinning behaal het. Soos hierdie getroues hul getuienis met hul bloed verseël het, was siele wat tot dusver in twyfel en onsekerheid verkeer het, oortuig van die geloof in Christus en het hulle moedig vir Hom gestaan. Uit die as van die martelare het ‘n oorvloedige oes vir God ontstaan. DHDA 399.3
Die ywer en getrouheid van Paulus en sy medewerkers, nie minder as die geloof en gehoorsaamheid van hierdie bekeerlinge tot die Christendom onder omstandighede wat so somber is nie, is ‘n bestraffing vir die gebrek aan geloof van die dienaar van Christus. Die apostel en sy medewerkers kon geredeneer het dat dit tevergeefs sou wees om die diensknegte van Nero tot bekering en geloof in Christus te roep, onderworpe soos hulle was, aan hewige versoekings, omring deur formidabele hindernisse en blootgestel aan bittere teëstand. Selfs al sou hulle van die waarheid oortuig word, hoe kon hulle dit gehoorsaam? Maar Paulus het nie so geredeneer nie; in geloof het hy die evangelie aan hierdie siele voorgehou en onder diegene wat gehoor het, was daar sommige wat ten alle koste besluit het om te gehoorsaam. Ondanks struikelblokke en gevare, sou hulle die lig aanvaar en op God vertrou om hulle te help om hul lig oor ander te laat skyn. DHDA 400.1
Nie alleen was daar bekeerlinge vir die waarheid uit die keiser se huishouding gewen nie, maar na hulle bekering het hulle in daardie huishouding aangebly. Hulle was van mening dat hulle nie die voorreg gehad het om hulle pos te verlaat, bloot omdat hulle omgewing nie meer gemoedelik was nie. Hulle het die waarheid daar gevind en daar het hulle gebly en deur hulle veranderde lewe en karakter het hulle van die transformerende krag van die nuwe geloof getuig. DHDA 400.2
Is daar iemand wat in die versoeking verkeer om hul omstandighede as verskoning te gebruik om nie vir Christus te getuig nie? Laat hulle die omstandighede van die dissipels in die huis van die keiser oorweeg-die verdorwenheid van die keiser, die losbandigheid van sy hof. Ons kan ons beswaarlik omstandighede voorstel wat meer ongunstig vir ‘n godsdienstige lewe is en wat groter opoffering of teëstand inhou, as die omstandighede waarin hierdie bekeerlinge verkeer het. Maar te midde van probleme en gevare het hulle getrou gebly. Die Christen kan probeer homself te verontskuldig om die waarheid, soos dit in Jesus is, te gehoorsaam as gevolg van hindernisse wat onoorkomelik lyk; maar hy kan geen verskoning bied wat ‘n ondersoek kan deurstaan nie. Sou hy dit kon doen, sou hy bewys dat God onregverdig is, omdat Hy vir Sy kinders voorwaardes vir verlossing stel waaraan hulle nie kan voldoen nie. DHDA 400.3
Hy wie se hart ingestel is om God te dien, sal geleenthede vind om vir Hom te getuig. Moeilikhede sal magteloos wees om hom, wat vasbeslote is om eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek, te verhinder. In die krag wat deur gebed en ‘n studie van die Woord verkry word, sal hy deug nastreef en ondeug versaak. Met die oog op Jesus gevestig, die Outeur en Voleinder van geloof, wat die teëspraak van sondaars teen Homself verduur het, sal die gelowige minagting en bespotting gewilliglik trotseer. En hulp en genade, voldoende vir elke situasie, word deur Hom belowe, wie se woord die waarheid is. Sy ewige arms omhels die siel wat homself tot Hom wend vir hulp. In Sy sorg, kan ons veilig rus en sê: “Die dag as ek vrees, sal ek op U vertrou.” (Psalm 56:4). Aan almal wat op Hom vertrou, sal God Sy belofte nakom. DHDA 401.1
Deur Sy eie voorbeeld het die Verlosser getoon dat Sy volgelinge in die wêreld kan wees en tog nie van die wêreld nie. Hy het nie gekom om aan die verleidelike plesiere van die wêreld deel te neem, om deur die gebruike daarvan beïnvloed te word en die praktyke daarvan te volg nie, maar om die wil van Sy Vader te doen, om verlorenes te soek en te red. Met hierdie doel voor oë, kan die Christen in enige omgewing onbesmet staan. Ongeag sy posisie of omstandighede, verhewe of nederig, hy sal die krag van ware godsdiens in die getroue uitvoering van sy pligte openbaar. DHDA 401.2
Nie vry van beproewing nie, maar te midde daarvan, word die Christelike karakter ontwikkel. Blootstelling aan afjakke en teëstand, lei die volgeling van Christus na groter waaksaamheid en ernstiger gebed tot die magtige Helper. Erge beproewing wat deur die genade van God verduur word, ontwikkel geduld, waaksaamheid, krag en ‘n diep en blywende vertroue in God. Dit is die triomf van die Christelike geloof, dat dit sy volgelinge in staat stel om te ly en sterk te wees; om hom te onderwerp en sodoende te verower; om die hele dag gedood te word en tog te lewe; om die kruis te dra en sodoende die kroon van heerlikheid te verwerf. DHDA 402.1