Die Handelinge Van Die Apostels

44/59

Hoofstuk 43—In Rome*

Met die aanvang van die oopseisoen vir skeepvaart, het die hoofman oor honderd en sy gevangenes hulle reis na Rome hervat. ‘n Skip van Alexandria, die “Castor en Pollux”, het onderweg na die weste op Melite oorwinter en die reisigers het aan boord van hierdie skip gegaan. Alhoewel die reis in ‘n mate deur dwarswinde vertraag is, het die skip veilig in die pragtige hawe van Puteoli, aan die kus van Italië, anker gegooi. DHDA 384.1

Daar was ‘n paar Christene in hierdie plek en hulle het die apostel gesmeek om sewe dae by hulle oor te bly, ‘n voorreg wat die hoofman oor honderd hom gunstiglik toegestaan het. Sedert die ontvangs van Paulus se sendbrief aan die Romeine, het die Christene in Italië gretig na ‘n besoek van die apostel uitgesien. Hulle het nie verwag om hom as gevangene te sien kom nie, maar sy lyding het hom vir hulle net meer dierbaar gemaak. Omdat die afstand van Puteoli na Rome slegs tweehonderd-vyf- en-twintig kilometer was en die hawestad voortdurend in verbinding met die hoofstad was, is die Christene in Rome van Paulus se aankoms verwittig en sommige van hulle het uitgegaan om hom te ontmoet en te verwelkom. DHDA 384.2

Op die agtste dag nadat hulle geland het, het die hoofman oor honderd en sy gevangenes na Rome vertrek. Julius het met graagte aan die apostel elke guns verleen wat in sy mag was om te verleen; maar hy kon nie sy toestand as gevangene verander of hom van die ketting waarmee hy aan sy soldaatwag geboei was bevry nie. Dit was met ‘n swaar hart wat Paulus sy langverwagte besoek na die hoofstad van die wêreld onderneem het. Hoe verskillend was die omstandighede nie van wat hy verwag het nie! Hoe kon hy, geboei en gestigmatiseer, die evangelie verkondig? Sy hoop om baie siele in Rome vir die waarheid te wen, het geblyk tot teleurstelling gedoem te wees. DHDA 384.3

Uiteindelik het die reisigers die Appius-mark, vyf-en- twintig kilometer van Rome af, bereik. Terwyl hulle vir hulle ‘n weg deur die skare op die groot deurloop gebaan het, was die gryse ou man, met ‘n groep skynbaar geharde misdadigers in kettings, deur menigeen met veragting aangekyk en was hy die voorwerp van menige onbeskofte, spottende grappe gemaak. DHDA 385.1

Skielik is ‘n uitroep van vreugde gehoor en ‘n man uit die verbygaande skare het die gevangene om die nek geval en hom omhels met trane van blydskap, soos ‘n seun ‘n lank afwesige vader sou verwelkom. Weer en weer is die toneel herhaal wanneer baie oë, deur liefdevolle verwagting verskerp, in die vasgekettingde gevangene die een herken wat in Korinthe, Filippi en Éfese die woorde van lewe tot hulle gespreek het. DHDA 385.2

Toe die warmhartige dissipels gretiglik om hul vader in die evangelie saamdrom, het die hele geselskap tot stilstand gekom. Die soldate was ongeduldig oor die vertraging, maar hulle het nie die hart gehad om hierdie gelukkige herontmoeting te onderbreek nie; want ook hulle het geleer om hul gevangene te respekteer en te waardeer. In daardie afgematte, smart-geteisterde gesig, het die dissipels die beeld van Christus weerspieël gesien. Hulle het Paulus verseker dat hulle hom nie vergeet het of opgehou het om hom lief te hê nie; dat hulle die vreugdevolle hoop wat hulle besiel en met God versoen het, aan hom te danke het. In die ywer van hulle liefde sou hulle hom graag die hele pad na die stad op hulle skouers wou dra as hulle die voorreg gehad het. DHDA 385.3

Min mense besef die belangrikheid van die woorde van Lukas dat Paulus, toe hy sy broeders sien, “...God gedank en moed gevat...” het. Te midde van die wenende, medelydende groep gelowiges, wat hulle nie vir sy boeie geskaam het nie, het die apostel God hardop geloof. Die wolk van droefheid wat sy gees omvou het, het verdwyn. Sy Christelike lewe was ‘n opeenvolging van beproewings, lyding en teleurstellings, maar in daardie uur het hy gevoel dat hy ruim vergoed is. Met ‘n vaster tred en vreugde in sy hart het hy sy reis voortgesit. Hy sou nie oor die verlede kla nie en ook nie vir die toekoms vrees nie. Hy het geweet dat boeie en foltering op hom wag; maar hy het ook geweet dat hy die voorreg gehad het om siele uit ‘n slawerny wat oneindig erger was te verlos en hy het hom oor sy lyding ter wille van Christus verheug. DHDA 385.4

In Rome het die hoofman, Julius, sy gevangenes aan die kaptein van die keiserwag oorgelewer. Die goeie verslag wat hy van Paulus gegee het, tesame met die brief van Festus, het tot gevolg gehad dat die apostel deur die hoofkaptein begunstig is en in plaas van in die gevangenis geplaas te word, was hy toegelaat om in sy eie huurhuis te woon. Alhoewel hy steeds aan ‘n soldaat vasgeketting was, was hy vry om sy vriende te ontvang en hom te beywer vir die bevordering van Christus se saak. DHDA 386.1

Baie van die Jode wat ‘n paar jaar tevore uit Rome verban was, was toegelaat om terug te keer, sodat daar nou ‘n groot aantal van hulle was. Paulus het besluit om eerstens, veral teenoor hierdie Jode, die feite aangaande homself en sy werk voor te lê, voordat sy vyande die kans sou kry om hulle teen hom te verbitter. Drie dae na sy aankoms in Rome, het hy al die leidende manne byeengeroep en op ‘n eenvoudige en direkte wyse aan hulle verduidelik waarom hy as gevangene na Rome gekom het. DHDA 386.2

Hy het gesê: “Broeders, alhoewel ek niks gedoen het teen die volk of die voorvaderlike sedes nie, is ek uit Jerusalem as gevangene oorgelewer in die hande van die Romeine. Hulle het my ondersoek en wou my loslaat, omdat daar in my niks was wat die dood verdien het nie. Maar toe die Jode daarteen opkom, was ek verplig om my op die keiser te beroep, nie asof ek iets het om my volk van te beskuldig nie. Om hierdie rede dan het ek versoek om u te sien en toe te spreek, want dit is oor die hoop van Israel dat ek met hierdie ketting geboei is.” DHDA 386.3

Hy het niks van die mishandeling wat hy onder die Jode gely het gesê nie, of van hul herhaaldelike planne om hom te vermoor nie. Sy woorde is deur omsigtigheid en vriendelikheid gekenmerk. Hy wou nie persoonlike aandag of medelye wen nie, maar wou die waarheid verdedig en die eer van die evangelie handhaaf. DHDA 387.1

In antwoord hierop het sy toehoorders gesê dat hulle geen aanklagte teen hom in openbare of privaat briewe ontvang het nie en dat geeneen van die Jode wat na Rome gekom het, hom van enige misdaad beskuldig het nie. Hulle het ook ‘n sterk begeerte uitgespreek om self die redes vir sy geloof in Christus te verneem. “Wat hierdie sekte betref...” het hulle gesê, “...is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word.” DHDA 387.2

Aangesien hulle dit self begeer het, het Paulus hulle genooi om ‘n dag te bepaal wanneer hy die waarhede van die evangelie aan hulle kon voorlê. Op die bepaalde dag het baie van hulle saamgekom “...en in ‘n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die more vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus.” Hy het van sy eie ervaring vertel en argumente uit die Ou-Testamentiese Skrifte met eenvoud, opregtheid en krag aangebied. DHDA 387.3

Die apostel het daarop gewys dat godsdiens nie uit rituele en seremonies, belydenisskrifte en teorieë bestaan nie. Indien dit so was, sou die natuurlike mens deur dit te ondersoek, dit kon verstaan soos wat hy wêreldse dinge verstaan. Paulus het geleer dat die godsdiens ‘n praktiese, reddende krag is, ‘n beginsel wat geheel en al van God kom, ‘n persoonlike ervaring van die vernuwende krag van God op die siel. DHDA 387.4

Hy het daarop gewys hoe Moses vooruit gewys het na Christus as die Profeet na wie hulle moes luister; hoedat al die profete aangaande Hom geprofeteer het as God se groot geneesmiddel vir sonde, die onskuldige Een wat die sondes van die skuldiges moes dra. Hy het nie hulle onderhouding van vormgodsdiens en seremonies afgekeur nie, maar het hulle daarop gewys dat hoewel hulle die rituele-dienste baie noukeurig nagekom het, hulle Hom verwerp het wat die teëbeeld van die hele stelsel was. DHDA 388.1

Paulus het verklaar dat hy Christus voor sy bekering nie deur persoonlike kennis geken het nie, maar bloot deur die begrip wat hy, in gemeen met ander, aangaande die aard en werk van die toekomstige Messias gekoester het. Hy het Jesus van Nasaret as ‘n indringer verwerp omdat hy nie aan hierdie begrip voldoen het nie. Maar nou was Paulus se siening van Christus en Sy sending baie meer geestelik en verhewe van aard, want hy het tot bekering gekom. Die apostel het hulle verseker dat hy Christus nie na die vlees aan hulle voorgehou het nie. Herodes het Christus in die dae van Sy menswees gesien; Annas het Hom gesien; Pilatus en die priesters en owerstes het Hom gesien; die Romeinse soldate het Hom gesien. Maar hulle het Hom nie met die oog van geloof gesien nie; hulle het Hom nie as die verheerlikte Verlosser gesien nie. Om Christus deur die geloof te verstaan, om ‘n geestelike kennis van Hom te hê, was meer begeerlik as ‘n persoonlike kennis van Hom soos Hy op die aarde was. Die gemeenskap met Christus wat Paulus nou geniet het, was intiemer, meer blywend as blote aardse en menslike gemeenskap. DHDA 388.2

Terwyl Paulus gepraat het van wat hy geweet het en getuig het van wat hy gesien het aangaande Jesus van Nasaret as die hoop van Israel, was diegene wat eerlik na die waarheid gesoek het, oortuig. Sy woorde het minstens op sommige gemoedere ‘n indruk gemaak wat nooit uitgewis sou word nie. Maar ander het hardnekkig geweier om die duidelike getuienis van die Skrif te aanvaar, selfs wanneer dit deur iemand wat spesiale lig van die Heilige Gees ontvang het, dit aan hulle voorgehou het. Hulle kon sy argumente nie weerlê nie, maar het geweier om sy gevolgtrekkings te aanvaar. DHDA 388.3

Baie maande het verstryk na Paulus se aankoms in Rome, voordat die Jode uit Jerusalem persoonlik daar opgedaag het om hulle beskuldigings teen die gevangene voor te lê. Hulle was herhaaldelik in hul planne gefnuik; en noudat Paulus voor die hoogste hof van die Romeinse Ryk verhoor sou word, wou hulle nie ‘n verdere nederlaag waag nie. Lisias, Felix, Festus en Agrippa het almal hul geloof in sy onskuld verklaar. Sy vyande kon alleenlik op sukses hoop deur die keiser deur intriges in hulle guns te beïnvloed. Vertraging sou hulle saak bevorder, aangesien dit hulle tyd sou gee om hulle planne te vervolmaak en uit te voer en daarom het hulle ‘n hele ruk gewag voordat hulle hul aanklagte persoonlik teen die apostel geloods het. DHDA 389.1

Deur die voorsienigheid van God het hierdie vertraging tot die bevordering van die evangelie gelei. Deur die goedgesindheid van diegene wat Paulus moes bewaak, was hy toegelaat om in ‘n ruim huis te woon waar hy vrylik saam met sy vriende kon vergader en die waarheid aan diegene kon verkondig wat daagliks gekom het om dit te hoor. So het hy twee jaar lank met sy arbeid voortgegaan, “...terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.” DHDA 389.2

Gedurende hierdie tyd het hy nie van die gemeentes wat hy in baie lande gestig het, vergeet nie. Die apostel het die gevare wat die bekeerlinge tot die nuwe geloof bedreig het besef en so ver moontlik probeer om in hul behoeftes te voorsien, deur vermanings en praktiese instruksies. En uit Rome het hy toegewyde werkers uitgestuur om nie net vir hierdie gemeentes te werk nie, maar ook in gebiede wat hy self nie besoek het nie. Hierdie werkers, as wyse herders, het die werk wat Paulus so goed begin het, versterk; en die apostel, wat deur voortdurende kommunikasie met hulle op hoogte gehou was van die toestand en gevare van die gemeentes, is in staat gestel om wyse toesig oor almal uit te oefen. DHDA 389.3

So het Paulus, terwyl hy blykbaar van aktiewe arbeid weerhou is, ‘n wyer en meer blywende invloed uitgeoefen, as toe hy vry was om, soos vroeër jare, tussen die gemeentes rond te reis. As gevangene van die Here het hy stewiger aan die geneentheid van sy broers vasgehou; en sy woorde, wat deur een wat ter wille van Christus ‘n gevangene was geskryf is, het groter aandag en respek afgedwing as toe hy persoonlik by hulle was. Nie voordat Paulus van hulle weggeneem is, het die gelowiges besef hoe swaar die laste was wat hy namens hulle gedra het nie. Tot dusver het hulle hulself grootliks van verantwoordelikhede en laste verskoon omdat dit hulle ontbreek het aan sy wysheid, takt en ontembare energie; maar nou, in hul onervarenheid om die lesse wat hulle vermy het om te leer, het hulle sy vermanings, raad en instruksies meer waardeer as wat hulle ooit sy persoonlike werk waardeer het. En toe hulle van sy moed en geloof tydens sy lang gevangenskap verneem het, was hulle tot groter getrouheid en ywer vir die saak van Christus aangespoor. DHDA 390.1

Tussen Paulus se assistente in Rome was baie van sy voormalige metgeselle en medewerkers. Lukas, “...die geliefde geneesheer...”, wat hom op sy reis na Jerusalem, gedurende sy twee jaar van gevangenskap in Cesárea en op sy gevaarlike reis na Rome bygestaan het, was nog steeds by hom. Timotheus het ook na sy gerief omgesien. Tichikus, “...die geliefde broeder en getroue dienaar en mededienskneg in die Here...” het die apostel edelmoedig bygestaan. Demas en Markus was ook by hom. Aristarchus en Epafras was sy “medegevangenes”. (Kolossense 4:7-14). DHDA 390.2

Sedert die vroeëre jare van sy geloofsbelydenis, het Markus se Christelike ervaring verdiep. Soos hy ‘n dieper studie van die lewe en dood van Christus gemaak het, het hy duideliker insigte aangaande die Heiland se sending, arbeid en stryd verkry. Markus het in die letsels in Christus se hande en voete die tekens van Sy diens vir die mensdom gelees en die lengte waartoe selfverloëning lei om verlorenes en sterwendes te red en hy was bereid om die Meester op die pad van selfopoffering te volg. Waar hy nou in Paulus se lot as gevangene gedeel het, het hy beter as ooit tevore verstaan dat dit oneindige wins is om Christus te wen, oneindige verlies is om die wêreld te wen en die siel, vir wie se verlossing die bloed van Christus gestort is, te verloor. Ondanks ernstige beproewing en teëspoed het Markus standvastig voortgegaan, ‘n wyse en geliefde helper van die apostel. DHDA 391.1

Demas, wat vir ‘n tyd lank standvastig gebly het, het daarna die saak van Christus versaak. Met verwysing hierna het Paulus geskryf: “Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het.” (2 Timotheus 4:10). Demas het elke hoë en edele oorweging vir wêreldse gewin verruil. Hoe kortsigtig was hierdie verruiling! Omdat hy slegs wêreldse rykdom en eer besit het, was Demas inderdaad arm, hoeveel hy ook al met trots sy eie kon noem; terwyl Markus, wat gekies het om ter wille van Christus te ly, die ewige rykdom besit, omdat hy in die hemel ‘n erfgenaam van God en ‘n mede- erfgenaam met Sy Seun is. DHDA 391.2

Onder diegene wat hulle harte, as gevolg van die arbeid van Paulus in Rome aan God gegee het, was Onesimus, ‘n heidense slaaf wat sy meester, Filemon, ‘n Christengelowige in Kolosse, ‘n onreg aangedoen het en na Rome gevlug het. Uit die goedheid van sy hart het Paulus probeer om die armoede en ellende van die ellendige vlugteling te verlig en daarna gepoog om die lig van die waarheid in sy verdonkerde gees te laat deurdring. Onesimus het na die woorde van lewe geluister, sy sonde bely en hom tot die geloof van Christus bekeer. DHDA 391.3

Onesimus het hom by Paulus, deur sy vroomheid en opregtheid en nie minder deur sy besorgdheid vir die apostel se gerief en sy ywer om die werk van die evangelie te bevorder nie, geliefd gemaak. Paulus het karaktertrekke in hom gesien wat hom ‘n nuttige helper in die sendingwerk sou maak en hy het hom aangeraai om onverwyld na Filemon terug te keer, hom om vergifnis te smeek en vir die toekoms te beplan. Die apostel het belowe om homself vir die bedrag waarvan Filemon beroof was verantwoordelik te hou. Die apostel was gereed om Tichikus met briewe na die verskeie gemeentes in Klein-Asië te stuur en hy het Onesimus saam met hom gestuur. Dit was ‘n ernstige toets vir hierdie slaaf om homself aan die meester wat hy benadeel het uit te lewer; maar hy was opreg bekeerd en het nie van sy plig teruggedeins nie. DHDA 392.1

Paulus het Onesimus die draer van ‘n brief aan Filemon gemaak, waarin die apostel met sy gewone takt en vriendelikheid die saak van die berouvolle slaaf bepleit het en die begeerte uitgespreek het om sy dienste in die toekoms te behou. Die brief het met ‘n hartlike groet aan Filemon as vriend en medewerker begin: DHDA 392.2

“Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! Ek dank my God altyd wanneer ek aan jou in my gebede dink, omdat ek van jou liefde en geloof hoor, wat jy met betrekking tot die Here Jesus en al die heiliges het, dat die gemeenskap van jou geloof kragtig mag word deur die kennis van alles wat goed in julle is, tot eer van Christus Jesus.” Die apostel het Filemon daaraan herinner dat elke goeie bedoeling en karaktereienskap waaroor hy beskik, aan die genade van Christus te danke was; dit alleen het hom anders as die verdorwe en sondige mense gemaak. Dieselfde genade kon die afgetakelde misdadiger ‘n kind van God maak en ‘n nuttige arbeider vir die evangelie. DHDA 392.3

Paulus kon Filemon op sy plig as Christen gewys het, maar hy het verkies om eerder smeektaal te gebruik: “Ek, Paulus, as ‘n ou man en nou ook ‘n gevangene vir Jesus Christus, pleit by jou vir my kind Onesimus, wat ek verwek het in my boeie, wat vroeër vir jou nutteloos was, maar nou baie nuttig vir jou en vir my.” DHDA 393.1

In die lig van die bekering van Onesimus, het die apostel Filemon versoek om die berouvolle slaaf as sy eie kind te ontvang en aan hom soveel liefde te bewys, dat hy sou kies om by sy voormalige heer te bly, “...nie meer as ‘n slaaf nie, maar meer as ‘n slaaf, as ‘n geliefde broeder.” Hy het die begeerte uitgespreek om Onesimus te behou as iemand wat hom in sy gevangenskap kan dien, soos wat Filemon self sou gedoen het, alhoewel hy nie sy dienste verlang tensy Filemon sy slaaf uit eie beweging sou vrylaat nie. DHDA 393.2

Die apostel het goed geweet hoe streng meesters teenoor hul slawe was en hy het ook geweet dat Filemon baie ontstoke oor die gedrag van sy slaaf was. Hy het probeer om op so ‘n wyse aan hom te skryf dat dit sy diepste en teerste gevoelens as ‘n Christen sou ontketen. Die bekering van Onesimus het hom ‘n broer in die geloof gemaak en enige straf wat hierdie nuwe bekeerling opgelê sou word, sou deur Paulus as straf op homself beskou word. DHDA 393.3

Paulus het vrywilliglik aangebied om die skuld van Onesimus op hom te neem, sodat die skuldige die skande van sy straf gespaar sou bly en weer die voorregte wat hy verbeur het, kon geniet. “As jy my dan vir ‘n metgesel hou...” het hy aan Filemon geskryf, “...neem hom aan net soos vir my. En as hy jou benadeel het of iets skuld, sit dit op my rekening-ek, Paulus, het dit met my eie hand geskrywe: ek sal betaal.” DHDA 393.4

Wat ‘n gepaste illustrasie van die liefde van Christus vir die berouvolle sondaar! Die slaaf wat sy heer bedrieg het, het niks gehad om daarvoor te vergoed nie. Die sondaar wat God van jare se diens beroof het, het geen manier om die skuld te uit te wis nie. Jesus tree tussen die sondaar en God in en sê: Ek sal die skuld betaal. Laat die sondaar gespaar bly; Ek sal in sy plek ly. DHDA 394.1

Nadat Paulus aangebied het om die skuld van Onesimus te aanvaar, het hy Filemon daaraan herinner dat hy self baie aan die apostel verskuldig was. Hy was sy eie self aan hom verskuldig, aangesien God Paulus as instrument in sy bekering gebruik het. Toe, in ‘n tere, ernstige oproep, het hy Filemon gesmeek om, aangesien hy die heiliges met sy vrygewigheid verkwik het, ook die gees van die apostel te verkwik deur aan hom hierdie rede tot vreugde te skenk. “In vertroue op jou gehoorsaamheid... ” het hy bygevoeg, “...het ek aan jou geskrywe, omdat ek weet dat jy nog meer sal doen as wat ek sê.” DHDA 394.2

Paulus se brief aan Filemon toon die invloed van die evangelie op die verhouding tussen meester en dienskneg. Slawehandel was ‘n gevestigde instelling in die hele Romeinse Ryk en beide meesters en slawe was lede van die meeste gemeentes vir wie Paulus gewerk het. In die stede, waar slawe dikwels baie meer as vry mense was, was uiters streng wette genoodsaak om hulle onderdanig te hou. ‘n Ryk Romein het dikwels honderde slawe van elke rang, van elke nasie en met verskeie begaafdhede besit. Met volle beheer oor die siele en liggame van daardie hulpelose mense, kon hy enige lyding wat hy wou aan hulle toedien. Indien een van hulle as vergelding of uit selfverdediging, dit sou waag om sy hand teen sy eienaar te lig, kon die hele gesin van die oortreder op ‘n onmenslike wyse opgeoffer word. Die geringste fout, ongeluk of agtelosigheid was dikwels genadeloos gestraf. DHDA 394.3

Sommige meesters, wat meer menslik as ander was, was meer toegeeflik teenoor hul slawe; maar die oorgrote meerderheid van die rykes en adellikes, wat hulle onbeteueld aan hulle wellus, hartstogte en eetlus oorgegee het, het van hulle slawe die ellendige slagoffers van gierigheid en dwingelandy gemaak. Die neiging van die hele stelsel was hopeloos aftakelend. DHDA 395.1

Dit was nie die werk van die apostel om na willekeur die gevestigde orde van die samelewing omver te werp nie. Om dit te probeer doen, sou die sukses van die evangelie verhinder. Maar hy het beginsels geopper wat die diepste wese van slawerny aangeraak het en wat, indien dit toegepas sou word, die hele stelsel sekerlik sou ondermyn. Hy het gesê: “Waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.” (2 Korinthiërs 3:17). Toe hy tot bekering gekom het, het die slaaf ‘n lid van die liggaam van Christus geword en as sodanig moes hy as ‘n broer bemin en behandel word, as mede-erfgenaam van sy heer in die seëninge van God en die voorregte van die evangelie. Aan die ander kant moes diensknegte hul pligte uitvoer, “...nie met oë diens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen.” (Efesiërs 6:6). DHDA 395.2

Die Christendom smee ‘n sterk band van eenheid tussen meester en slaaf, koning en onderdaan, die evangeliedienaar en die verlaagde sondaar wat in Christus reiniging van sy sonde gevind het. Hulle is in dieselfde bloed gewas, deur dieselfde Gees lewend gemaak; en in Christus Jesus is hulle een. DHDA 395.3