Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 42—Reis en Skipbreuk*
Uiteindelik was Paulus op pad na Rome. Lukas skryf: “Toe daar besluit is dat ons moes wegvaar na Italië, het hulle Paulus en sommige ander gevangenes oorgegee aan ‘n hoofman oor honderd van die keiserlike leërafdeling, met die naam van Julius. En nadat ons in ‘n skip van Adramittium gegaan het, met die doel om by die aanlegplekke in Asië aan te gaan, het ons afgevaar en Aristárchus van Macedonië, ‘n man van Thessalonika, was saam met ons.” DHDA 377.1
In die eerste eeu van die Christelike era, was daar besondere swaarkry en gevaar aan ‘n seereis verbonde. Seevaarders het hulle koers hoofsaaklik deur die ligging van die son en die sterre gerig; en wanneer dit nie verskyn het nie en daar aanduidings van ‘n storm was, was die eienaars van die vaartuie bevrees om die oop see aan te durf. Gedurende ‘n gedeelte van die jaar was veilige skeepvaart byna onmoontlik. DHDA 377.2
Daar was nou van die apostel vereis om moeilike ervarings te verduur wat hy in kettings geboei, gedurende die lang en vervelige reis na Italië sou ondervind. Een van die omstandighede het die ontbering van sy lot grootliks verlig-hy is die geselskap van Lukas en Aristárchus toegelaat. In sy sendbrief aan die Kolossense het hy na laasgenoemde as sy “...medegevangene...” verwys, (Kolossense 4:10), maar dit was uit eie keuse dat Aristarchus Paulus se gevangenskap met hom gedeel het, sodat hy hom in sy ontbering kon bedien. DHDA 377.3
Die reis het voorspoedig begin. Die volgende dag het hulle in die hawe van Sidon geanker. Hier het Julius, die hoofman oor honderd, “...Paulus mensliewend behandel...” en toe hy meegedeel is dat daar Christene op die plek was, het hy “...hom toegelaat om vriende te besoek en versorging te ontvang.” Die apostel, wat in swak gesondheid verkeer het, het hierdie verlof grootliks waardeer. DHDA 377.4
Toe hulle uit Sidon vertrek, het die skip dwarswinde teëgekom; en omdat hulle van koers af gedryf is, was hulle vordering baie stadig. In Mira in die provinsie Licië, het die hoofman oor honderd ‘n groot skip van Alexandrië wat na Italië sou vaar gevind en hy het dadelik sy gevangenes oorgeplaas. Maar die wind was steeds teenstrydig en die vordering van die skip was bemoeilik. Lukas skryf: “Verskeie dae het ons langsaam gevaar en met moeite teenoor Cnidus gekom; en omdat die wind ons nie toegelaat het nie, onderkant Kreta langs gevaar, teenoor Salmone. En toe ons met moeite dit verbygeseil het, kom ons by ‘n plek wat genoem word Mooi Hawens.” DHDA 378.1
By Mooi Hawens was hulle genoodsaak om ‘n geruime tyd op meer gunstige winde te wag. Die winter het vinnig genader en “...die skeepvaart [het] al gevaarlik geword...” en diegene in beheer van die skip moes alle hoop laat vaar om hul bestemming te bereik voordat die seisoen vir seevaart vir die jaar gesluit sou word. Die enigste vraag wat nou beslis moes word, was of hulle in Mooi Hawens moes bly of moes probeer om ‘n meer gunstige plek te bereik om te oorwinter. DHDA 378.2
Hierdie vraag is ernstig oorweeg en uiteindelik het die hoofman oor honderd dit na Paulus verwys, wat die agting van die matrose, sowel as die soldate gewen het. Sonder om te aarsel het die apostel hulle aangeraai om te bly waar hulle was. DHDA 378.3
Hy het gesê: “Ek sien dat die reis met ramp en groot skade verbonde sal wees, nie alleen vir die vrag en die skip nie, maar ook vir ons lewe.” Maar “...die stuurman en die eienaar van die skip... ” en die meerderheid van die passasiers en bemanningslede was nie bereid om hierdie raad te aanvaar nie. Omdat die hawe waar hulle geanker was “...nie geskik was om daar te oorwinter nie, het die meerderheid aangeraai om ook daarvandaan af te vaar en indien moontlik Fenix te bereik om te oorwinter, ‘n hawe in Kreta wat oop lê na die suidweste en na die noordweste.” DHDA 378.4
Die hoofman oor honderd het besluit om die oordeel van die meerderheid te volg. “En toe die suidewind saggies waai...” het hulle ...”die ankers gelig...” en van Mooi Hawens weggeseil in die hoop dat hulle binnekort die gewenste hawe sou bereik. “Maar nie lank daarna nie het ‘n stormwind ... daarvandaan neergeslaan.” Die skip is meegesleur en kon nie teen die wind seil nie. DHDA 379.1
Aangedryf deur die storm, het die vaartuig die klein eilandjie Clauda genader en in die beskutting van die eiland, het die matrose hulle op die ergste voorberei. Die reddingsboot, die enigste wyse van ontsnapping indien die skip sou vergaan, was op sleeptou en kon enige oomblik in stukke opgebreek word. Hulle eerste taak was om die reddingsboot aan boord te hys. Daarna is alle moontlike voorsorgmaatreëls getref om die skip te versterk en voor te berei om die storm te weerstaan. Die skamele beskerming wat die klein eilandjie gebied het, het hulle nie lank gebaat nie en hulle was binnekort weer aan die volle geweld van die storm blootgestel. DHDA 379.2
Die storm het heelnag gewoed en ondanks die voorsorgsmaatreëls wat getref is, het die vaartuig gelek. Die volgende dag het hulle “...die vrag uitgegooi.” Die nag het weer aangebreek, maar die wind het nie bedaar nie. Die stormgeteisterde skip met sy verpletterde mas en geskeurde seile, is heen en weer deur die woede van die storm geslinger. Elke oomblik het dit gelyk asof die krakende houtwerk sou breek wanneer die skip onder die skok van die storm rol en sidder. Die lekkasie het vinnig toegeneem en passasiers en bemanning het onophoudelik aan die pompe gewerk. Daar was geen oomblik se rus vir enigeen aan boord nie. “Op die derde dag...” skryf Lukas, “...het ons met ons eie hande die skeepsgereedskap uitgegooi. En omdat die son en ook die sterre baie dae lank nie geskyn het nie en ‘n hewige storm ons gedruk het, is eindelik alle hoop om gered te word ons ontneem.” DHDA 379.3
Veertien dae lank het hulle onder ‘n sonlose en sterrelose hemel gedryf. Die apostel, hoewel hy liggaamlik gely het, het vir die donkerste uur woorde van hoop gehad en ‘n helpende hand in elke noodsituasie. Deur die geloof het hy die arm van Oneindige Krag vasgegryp en sy hart was op God gerig. Hy het geen vrees vir homself gekoester nie; hy het geweet dat God hom sou bewaar om in Rome vir die waarheid van Christus te getuig. Maar sy hart was gevul met jammerte vir die arme siele rondom hom, wat sondig en verdorwe en onvoorbereid was om te sterf. Terwyl hy ernstig by God gepleit het om hulle lewens te spaar, is daar aan hom geopenbaar dat sy gebed toegestaan is. DHDA 380.1
Toe die storm effens bedaar, het Paulus het van die geleentheid gebruik gemaak, op die dek gaan staan, sy stem verhef en gesê: “Manne, julle moes na my geluister en nie van Kreta afgevaar het nie en julle so hierdie ramp en skade bespaar het. Maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip. Want daar het in hierdie nag by my gestaan ‘n engel van God aan wie ek behoort, wat ek ook dien. En hy het gesê: Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar. Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is. Maar ons moet op ‘n sekere eiland strand.” DHDA 380.2
Met hierdie woorde het die hoop opgevlam. Passasiers en bemanning is uit hulle moedeloosheid opgewek. Daar was baie wat gedoen moes word en elke poging binne hul vermoë moes aangewend word om vernietiging te voorkom. DHDA 380.3
Dit was in die veertiende nag wat hulle op die swart golwe rondgeslinger is, dat die matrose ongeveer middernag die geluid van brekende branders gehoor het en “...vermoed dat hulle naby land kom. Daarop gooi hulle die dieplood uit en kry twintig vaam; en nadat hulle ‘n bietjie verder gegaan het, gooi hulle die dieplood uit en kry vyftien vaam. En omdat hulle bang was...” skryf Lukas, “...dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle van die agterskip vier ankers uitgegooi en gewens dat dit dag word.” DHDA 381.1
Teen dagbreek was die buitelyne van die stormagtige kus dofweg sigbaar, maar geen bekende bakens kon gesien word nie. Die vooruitsigte was so somber, dat die heidense matrose, wat alle moed verloor het, op die punt was “...om uit die skip te vlug” en deur voor te gee dat hulle besig was om voor te berei om die “...ankers van die voorskip af...” uit te gooi, het hulle reeds die reddingsboot laat sak, toe Paulus hulle lafhartige voornemens gewaar en aan die hoofman oor honderd en die krygsmanne sê: “As hierdie manne nie in die skip bly nie, kan julle nie gered word nie. ” Onmiddellik het “...die soldate die toue van die sleepbootjie afgekap en hom laat afval...” in die see. DHDA 381.2
Die mees kritieke uur het nog voor hulle gelê. Die apostel het weer bemoedigende woorde geuiter en almal, matrose en passasiers gesmeek om voedsel in te neem en gesê: “Dit is vandag die veertiende dag dat julle in afwagting bly vas sonder om iets te gebruik. Daarom raai ek julle aan om voedsel te neem, want dit dien tot julle behoud; want van niemand onder julle sal ‘n haar van sy hoof val nie.” DHDA 381.3
“Toe hy dit gesê het, neem hy brood, dank God in die teenwoordigheid van almal, breek dit en begin eet.” Toe het die uitgeputte en ontmoedigde geselskap van tweehonderd-vyf-en-sewentig siele, wat sonder Paulus wanhopig sou raak, saam met die apostel geëet. “En nadat hulle met voedsel versadig was, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi.” DHDA 381.4
Daglig het nou ten volle aangebreek, maar hulle kon niks sien wat ‘n aanduiding kon gee van waar hulle was nie. “Maar hulle het ‘n inham met ‘n strand bemerk, waarop hulle van plan was om die skip te laat loop as hulle kon. En hulle het die ankers afgekap en in die see laat lê en tegelykertyd die roertoue losgemaak. En hulle het die voorseil teen die wind opgetrek en op die stand aangestuur. En hulle het op ‘n plek verval met die see aan weerskante en die skip laat strand; en die voorskip het vasgeraak en onbeweeglik bly sit, maar die agterskip is deur die geweld van die branders uitmekaar geslaan.” DHDA 382.1
Paulus en die ander gevangenes is nou deur ‘n lot, veel erger as skipbreuk bedreig. Die soldate het besef dat terwyl hulle gestrewe het om die land te bereik, dit vir hulle onmoontlik sou wees om hulle gevangenes te beheer. Elkeen sou sy hande vol hê in ‘n poging om homself te red. Maar as een van die gevangenes vermis sou word, sal die lewens van diegene wat daarvoor verantwoordelik was, verbeur word. Daarom wou die soldate al die gevangenes doodmaak. Die Romeinse wet het hierdie wrede beleid goedgekeur en die plan sou dadelik uitgevoer gewees het, was dit nie vir hom teenoor wie almal ‘n verpligting gehad het nie. Julius, die hoofman oor honderd, het geweet dat almal aan boord hulle lewens aan Paulus te danke gehad het en omdat hy boonop oortuig was dat die Here met hom was, was hy bang om hom leed aan te doen. Daarom het hy “...bevel gegee dat die wat kon swem, eerste in die see moes spring om aan land te kom en die ander, sommige op planke en sommige op stukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom.” Toe die naamrol uitgeroep is, is niemand vermis nie. DHDA 382.2
Die skipbreukelinge is vriendelik deur die barbaarse bewoners van Melite ontvang. Lukas skryf: “Hulle het ‘n groot vuur aangesteek en ons almal daarby gebring weens die reën wat gedreig het en weens die koue.” Paulus was tussen diegene wat aktief besig was om na die gemak van die ander om te sien. Nadat hy “...’n klomp droë hout bymekaargemaak...” het, het hy dit ...“op die vuur gesit ... ‘n Adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt.” Die omstanders was met afgryse gevul; en toe hulle aan sy ketting gewaar dat hy ‘n gevangene was, het hulle vir mekaar gesê: “Hierdie man is beslis ‘n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie al is hy uit die see gered.” Maar Paulus het die gedierte in die vuur afgeskud en niks oorgekom nie. Die mense het geweet hoe giftig die adder was en het gewag dat hy enige oomblik in verskriklik pyn sou neerval. “Maar toe hulle lank gewag en gesien het dat niks besonders met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy ‘n god was.” DHDA 382.3
Gedurende die drie maande wat die skeepsgeselskap op Melite gebly het, is aan Paulus en sy medewerkers baie geleenthede gebied om die evangelie te verkondig. Die Here het op ‘n merkwaardige manier deur hulle gewerk. Ter wille van Paulus is al die skipbreukelinge met groot vriendelikheid behandel; in al hulle behoeftes is voorsien en toe hulle Melite verlaat het, is hulle vrylik voorsien van alles wat hulle vir die reis nodig gehad het. Die belangrikste voorvalle van hul verblyf is soos volg deur Lukas beskryf: DHDA 383.1
“Nou het die hoof van die eiland, wie se naam Publius was, in die omgewing van daardie plek ‘n stuk grond gehad, en hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik geherberg. En die vader van Publius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. En hierna het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees. En hulle het ons ook baie eerbewyse betoon en toe ons sou afvaar, ons van die nodige voorsien.” DHDA 383.2