Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 41—“Jy Beweeg My Byna” *
Paulus het hom op die keiser beroep en Festus kon nie anders as om hom na Rome te stuur nie. Maar daar het heelwat tyd verloop voordat ‘n geskikte skip gevind kon word; en omdat nog ander gevangenes saam met Paulus gestuur moes word, het die verhoor van hulle sake ook vertraging veroorsaak. Dit het aan Paulus die geleentheid gebied om die redes vir sy geloof aan die vername manne in Cesárea en ook aan koning Agrippa II, die laaste Herodes, bekend te maak. DHDA 371.1
“En na verloop van enkele dae het koning Agrippa en Bernice in Cesárea aangekom om Festus te begroet. En toe hulle daar verskeie dae deurgebring het, het Festus die saak van Paulus aan die koning voorgelê en gesê: Hier is ‘n man deur Felix as gevangene agtergelaat, teen wie die owerpriesters en die ouderlinge van die Jode, toe ek in Jerusalem was, ‘n klag ingedien en vonnis teen hom gevra het.” Hy het die omstandighede wat gelei het tot die beroep van die gevangene op die keiser, uiteengesit en gesê dat die Jode geen beskuldiging soos wat hy gedink het, teen Paulus gebring het nie, maar “...sekere twisvrae oor hulle eie godsdiens ... en oor ‘n sekere Jesus wat dood is, van wie Paulus verklaar het dat Hy lewe.” DHDA 371.2
Soos wat Festus sy verhaal vertel het, is Agrippa se belangstelling gewek en het hy gesê: “Ek sou self ook graag die man wil hoor.” In ooreenstemming met sy begeerte, is ‘n vergadering vir die volgende dag gereël. “Op die volgende dag het Agrippa en Bernice toe met prag en praal gekom en die gehoorsaal binnegetree saam met die owerstes oor duisend en die aansienlikste manne van die stad; en op bevel van Festus is Paulus voorgebring.” DHDA 371.3
Ter ere van sy besoekers het Festus gepoog om die geleentheid in ‘n indrukwekkende vertoning te omskep. Die duursame klere van die prokurator en sy gaste, die swaarde van die soldate en die blink wapenrusting van hul bevelvoerders het glans aan die toneel verleen. DHDA 372.1
En toe het Paulus, steeds geboei, voor die vergaderde geselskap gestaan. Wat ‘n kontras is hier aangebied! Agrippa en Bernice het mag en aansien besit en daarom is hulle deur die wêreld begunstig. Maar dit het hulle aan die karaktertrekke wat deur God geag word ontbreek. Hulle was oortreders van Sy wet, korrup van hart en lewenswyse. Hulle gedrag is deur die hemel verafsku. DHDA 372.2
Daar was niks aan die bejaarde gevangene, vasgeketting aan sy soldaatwag, wat die wêreld daartoe sou bring om aan hom hulde te bring nie. Maar in hierdie man, blykbaar sonder vriende of rykdom of posisie en ‘n gevangene as gevolg van sy geloof in die Seun van God, het die ganse hemel belanggestel. Engele het hom bedien. As die heerlikheid van een van daardie skitterende boodskappers deurgebreek het, sou die koninklike prag en praal verflou het; koning en hofdienaars sou teen die aarde neergevel gewees het, net soos met die Romeinse wagte by die graf van Christus. DHDA 372.3
Festus self het Paulus aan die vergadering voorgestel met die woorde: “Koning Agrippa en manne wat almal hier saam met ons is, u sien hierdie man oor wie die hele menigte van die Jode my aangespreek het in Jerusalem en ook hier en uitgeroep het dat hy nie langer behoort te lewe nie. Maar omdat ek gevind het dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie en hy self ook hom op die keiser beroep het, het ek besluit om hom te stuur. Maar ek kan niks sekers oor hom aan my heer skrywe nie; daarom het ek hom voor u gebring en veral voor u, koning Agrippa, sodat ek na die ondersoek iets kan skrywe. Want dit lyk vir my onredelik om ‘n gevangene te stuur en nie die beskuldiging teen hom aan te dui nie.” DHDA 372.4
Toe het koning Agrippa aan Paulus die geleentheid geskenk om vir homself te praat. Die apostel het hom nie deur die skitterende vertoon of die hoë rang van sy gehoor van stryk laat bring nie, want hy het geweet van hoe min waarde wêreldse rykdom en status is. Aardse prag en gesag kon vir geen oomblik sy moed breek of hom van sy selfbeheersing beroof nie. DHDA 373.1
Hy het verklaar: “Ek ag my gelukkig, koning Agrippa, dat ek my voor u vandag gaan verdedig in verband met alles waarvan ek deur die Jode beskuldig word, veral omdat u bekend is met al die sedes en vraagstukke onder die Jode. Daarom versoek ek u om my geduldig aan te hoor.” DHDA 373.2
Paulus het die verhaal van sy bekering van hardnekkige ongeloof tot geloof in Jesus van Nasaret as die Verlosser van die wêreld vertel. Hy het die hemelse visioen wat hom aanvanklik met onuitspreeklike angs gevul het, maar agterna ‘n bron van groot vertroosting geblyk te wees het, beskryf-’n openbaring van Goddelike heerlikheid te midde waarvan Hy, wie hy verag en gehaat en wie se volgelinge hy probeer uitroei het, op ‘n troon gesit het. Van daardie uur af was Paulus, deur herskeppende genade, verander in ‘n nuwe mens, ‘n opregte, vurige gelowige in Jesus. DHDA 373.3
Met helderheid en kragtig het Paulus voor Agrippa die vernaamste gebeure aangaande die lewe van Christus op aarde uiteengesit. Hy het getuig dat die Messias van die profesieë reeds in die persoon van Jesus van Nasaret verskyn het. Hy het getoon hoe die Ou Testamentiese Geskrifte verklaar het dat die Messias as ‘n mens onder die mense sou verskyn en hoe elke besonderheid wat deur Moses en die profete beskryf is in die lewe van Jesus vervul is. Met die doel om ‘n verlore wêreld te verlos, het die Seun van God die kruis verduur, die skande verag en as oorwinnaar oor die dood en die graf na die hemel opgevaar. DHDA 373.4
Waarom, het Paulus geredeneer, blyk dit ongelooflik te wees dat Christus uit die dood opgestaan het? Dit het eens vir hom so voorgekom, maar hoe kon nie glo wat hy self gesien en gehoor het nie? By die poort van Damaskus het hy die gekruisigde en opgestane Christus waarlik aanskou, Hy wat deur die strate van Jerusalem geloop het, op Golgota gesterf het, die bande van die dood verbreek en na die hemel opgevaar het. Net so gewis soos Cefas, Jakobus, Johannes, of enigeen van die ander dissipels, het hy Hom gesien en met Hom gepraat. Die Stem het hom beveel om die evangelie van ‘n opgestane Verlosser te verkondig en hoe kon hy ongehoorsaam wees? In Damaskus, in Jerusalem, deur die hele Judea en in die verre streke, het hy van Jesus, die Gekruisigde getuig en aan alle klasse getoon dat hulle hulle tot God moet bekeer “...deur werke te doen wat by die bekering pas.” DHDA 374.1
“Om hierdie rede...” het hy verklaar “...het die Jode my in die tempel gevang en my probeer ombring. Maar omdat ek hulp van God verkry het, staan ek tot vandag toe en getuig aan klein en groot, en spreek niks buiten wat die profete en ook Moses gesê het dat sou gebeur nie: dat die Christus moes ly en die eerste wees uit die opstanding van die dode en ‘n lig aan die volk en die heidene sou verkondig.” DHDA 374.2
Die hele geselskap het met vasgevange aandag na Paulus se verhaal van sy wonderlike ervarings geluister. Die apostel het oor sy geliefkoosde onderwerp uitgewei. Niemand wat hom aangehoor het, kon aan sy opregtheid twyfel nie. Maar op die hoogtepunt van sy oortuigende welsprekendheid, is hy deur ‘n uitroep van Festus in die rede geval: “Jy is kranksinnig, Paulus; die groot geleerdheid bring jou tot kranksinnigheid.” DHDA 374.3
Die apostel het geantwoord: “Ek is nie kranksinnig nie, hoogedele Festus, maar ek spreek woorde van waarheid en gesonde verstand. Want die koning, met wie ek ook vrymoediglik spreek, weet van hierdie dinge; want ek glo nie dat aan hom iets van hierdie dinge onbekend is nie, want dit het nie in ‘n hoek gebeur nie.” Toe wend hy hom tot Agrippa en spreek hom regstreeks aan: “Glo u die profete, koning Agrippa? Ek weet dat u glo.” DHDA 374.4
Diep geraak het Agrippa vir ‘n oomblik van sy omgewing en die waardigheid van sy posisie vergeet. Slegs bewus van die waarhede wat hy gehoor het, terwyl hy net die nederige gevangene voor hom sien staan as God se gesant, het hy onwillekeurig geantwoord: “Jy beweeg my byna om ‘n Christen te word.” DHDA 375.1
Met alle erns het die apostel geantwoord: “Ek sou wel God wil bid dat sowel byna as heeltemal nie alleen u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, so mag word soos ek is...” en toe hy sy geboeide hande oplig, voeg hy by: “...buiten hierdie boeie.” DHDA 375.2
Festus, Agrippa en Bernice moes na regte die boeie waarmee die apostel gebind was gedra het. Almal was skuldig aan ernstige misdade. Hierdie oortreders het op daardie dag die aanbod van verlossing in die Naam van Christus gehoor. Ten minste een van hulle is byna beweeg om die genade en vergifnis te aanvaar. Maar Agrippa het die genade wat aangebied was van die hand gewys en geweier om die kruis van ‘n gekruisigde Verlosser te aanvaar. DHDA 375.3
Die koning se nuuskierigheid was bevredig en terwyl hy van sy stoel af opstaan, het hy aangedui dat die onderhoud verby was. Soos die geselskap uiteengegaan het, het hulle onder mekaar gepraat en gesê: “Hierdie man doen niks wat die dood of die boeie verdien nie.” DHDA 375.4
Hoewel Agrippa ‘n Jood was, het hy nie in die dweepsugtige ywer en blinde vooroordeel van die Fariseërs gedeel nie. “Hierdie man...” het hy aan Festus gesê, “...kon losgelaat gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie.” Maar die saak is na ‘n hoër hof verwys en dit was nou buite die jurisdiksie van Festus of Agrippa. DHDA 375.5