Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 40—Paulus Beroep Hom op die Keiser*
“Festus het dan in die provinsie gekom en na drie dae van Cesárea opgegaan na Jerusalem. En die hoëpriester en die vernaamstes van die Jode het Paulus by hom aangeklaag en by hom aangedring en gevra, as ‘n guns teen Paulus, dat hy hom na Jerusalem moes laat haal.” Met hierdie versoek was hulle van plan om Paulus langs die pad na Jerusalem voor te lê en hom te vermoor. Maar Festus het ‘n hoë begrip van die verantwoordelikheid van sy posisie gehad en hy het hoflik geweier om Paulus te laat haal. Hy het geantwoord “...dat dit nie by die Romeine gewoonte is om enige mens ... aan die dood prys te gee voordat die beskuldigde die beskuldigers voor hom gehad het en geleentheid tot verdediging in verband met die beskuldiging gekry het nie.” Hy het gesê “...dat hy self spoedig... ” na Cesárea “...sou reis. Laat dan die onder julle ... wat bevoeg is, saamgaan en as daar iets verkeerds in hierdie man is, hom beskuldig.” DHDA 367.1
Dit was nie wat die Jode begeer het nie. Hulle het nie hul vorige nederlaag in Cesárea vergeet nie. In teenstelling met die kalm houding en kragtige argumente van die apostel, sou hulle eie kwaadaardige gees en ongegronde beskuldigings in ‘n uiters ongunstige lig beskou word. Hulle het weereens aangedring dat Paulus vir ‘n verhoor na Jerusalem gebring moes word, maar Festus het vasgestaan by sy besluit dat Paulus ‘n regverdige verhoor in Cesárea toegestaan word. In Sy voorsienigheid het God hierdie besluit van Festus bestier om die lewe van die apostel te verleng. DHDA 367.2
Met hulle planne verydel, het die Joodse leiers hulle dadelik beywer om teen Paulus in die hof van die goewerneur te getuig. Na sy terugkeer na Cesárea, nadat hy ‘n paar dae in Jerusalem vertoef het, het Festus “...die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee dat Paulus voorgebring moes word ... Die Jode wat van Jerusalem afgekom het...” het “...rondom hom gestaan en baie en swaar beskuldiginge teen Paulus ingebring wat hulle nie kon bewys nie.” Omdat hulle hierdie keer sonder ‘n regsverteenwoordiging was, het die Jode hul beskuldigings self voorgelê. Namate die verhoor gevorder het, het die beskuldigde met kalmte en openhartigheid die valsheid van hul verklarings blootgestel. DHDA 367.3
Festus het afgelei dat die geskilpunt, geheel en al met die Joodse leerstellings verband gehou het en dat, korrek verstaan, was daar niks in die aanklagtes teen Paulus, al sou dit bewys kon word, wat die doodsvonnis of selfs gevangenisstraf regverdig het nie. Tog het hy duidelik besef wat se storm van woede daar sou losbars indien Paulus nie veroordeel of in hulle hande oorgelewer sou word nie. En “...omdat Festus aan die Jode ‘n guns wou bewys...” het hy hom tot Paulus gewend en gevra of hy gewillig sou wees om onder sy beskerming na Jerusalem te gaan om deur die Sanhedrin verhoor te word. DHDA 368.1
Die apostel het geweet dat hy geen geregtigheid van die mense wat weens hulle misdade die toorn van God oor hulle gebring het, kon verwag nie. Hy het geweet dat hy, net soos die profeet Elia, veiliger onder die heidene sou wees as by diegene wat die lig van die hemel verwerp en hulle harte teen die evangelie verhard het. Moeg van die getwis kon sy aktiewe gees die herhaaldelike vertragings en spanning van sy verhoor en gevangenisstraf nie langer verduur nie. Daarom het hy besluit om, as Romeinse burger, van sy voorregte gebruik te maak en hom op die keiser te beroep. DHDA 368.2
In antwoord op die vraag van die goewerneur, het Paulus gesê: “Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word. Aan die Jode het ek geen onreg gedoen nie, soos u ook baie goed weet. Want as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie. Maar as daar niks is in die dinge waarvan hulle my beskuldig nie, dan kan niemand my aan hulle by wyse van guns oorlewer nie. Ek beroep my op die keiser!” DHDA 368.3
Festus het niks van die sameswerings van die Jode om Paulus te vermoor geweet nie en hy was verbaas oor die beroep op die keiser. Die apostel se woorde het egter ‘n einde aan die geregtelike prosedure gemaak. “Toe antwoord Festus, nadat hy met die Raad gespreek het: Op die keiser het jy jou beroep-na die keiser sal jy gaan!” DHDA 369.1
So het dit gebeur dat ‘n dienskneg van God weereens vanweë die haat wat uit dweepsug en eiegeregtigheid gebore is, gedwing was om hom tot die heidene vir beskerming te wend. Dit was hierdie selfde haat wat die profeet Elia gedwing het om vir hulp na die weduwee van Sarfat te vlug en wat die verkondigers van die evangelie genoop het om van die Jode af weg te draai en hulle boodskap aan die Heidene te verkondig. En hierdie haat sal die volk van God wat in hierdie eeu leef, ook teëkom. Onder baie van die belydende volgelinge van Christus heers dieselfde trots, formalisme en selfsug, dieselfde gees van onderdrukking, wat so ‘n groot plek in die harte van die Jode opgeneem het. In die toekoms sal mense wat beweer dat hulle verteenwoordigers van Christus is, dieselfde rigting volg as wat die priesters en die owerstes teenoor Christus en die apostels gevolg het. In die groot krisis wat hulle binnekort sal ervaar, sal die getroue dienaars van God met dieselfde hardheid van hart, dieselfde wrede vasberadenheid en dieselfde onversetlike haat kennis maak. DHDA 369.2
Almal wat God in daardie bose dae onbevrees volgens die voorskrifte van hulle gewete dien, sal moed, standvastigheid en kennis van God en Sy Woord nodig hê; want diegene wat aan God getrou is, sal vervolg word, hulle beweegredes sal bestraf word, hulle beste pogings verkeerd geïnterpreteer en hulle name as boos uitgedryf word. Die Satan sal met al sy bedrieglike krag werk om die hart te beïnvloed en die verstand te benewel, om boosheid goed te laat voorkom en die goeie boos. Hoe sterker en suiwerder die geloof van God se volk en hoe vaster hulle voorneme om Hom te gehoorsaam, des te feller sal die Satan daarna streef om die woede van diegene wat voorgee om regverdig te wees maar nogtans die wet van God vertrap, teen hulle op te sweep. Dit sal die sterkste vertroue en die heldhaftigste doelwit verg om aan die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer was vas te hou. DHDA 369.3
God verlang dat Sy volk hulle moet voorberei vir die krisis wat binnekort gaan plaasvind. Voorbereid, of onvoorbereid, moet hulle almal dit konfronteer; en diegene wat hul lewens in ooreenstemming met die Goddelike maatstaf gebring het, sal in die dag van beproewing vasstaan. Wanneer sekulêre heersers met godsdienstige predikante saamspan om sake van die gewete voor te skryf, sal daar gesien word wie God waarlik vrees en dien. Wanneer die duisternis op sy diepste is, sal die lig van die Goddelike karakter die helderste skyn. Wanneer elke ander vertroue misluk, sal daar gesien word wie ‘n blywende vertroue in Jehova het. En terwyl die vyande van die waarheid aan alle kante is en die Here se dienaars ten kwade dophou, sal God ten goede oor hulle waak. Hy sal vir hulle soos die skaduwee van ‘n groot rots in ‘n vermoeide land wees. DHDA 370.1