Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 39—Die Verhoor in Cesárea*
Vyf dae na Paulus se aankoms in Cesárea, het sy beskuldigers, vergesel van Tertullus, ‘n redenaar wat hulle vir regsverteenwoordiging gehuur het, van Jerusalem af aangekom. Die saak is spoedig verhoor. Paulus is voor die vergadering gebring en Tertullus het hom begin beskuldig. Van mening dat vleiery ‘n groter invloed op die Romeinse regter sou uitoefen as die eenvoudige verklarings van waarheid en geregtigheid, het die sluwe redenaar sy toespraak begin deur Felix te prys: “Dat ‘n groot vrede deur u, hoogedele Felix, ons te beurt val en dat daar hervorminge deur u voorsorg in elke opsig en oral vir hierdie nasie tot stand kom, neem ons met alle dankbaarheid aan.” DHDA 359.1
Tertullus het hom tot openlike valsheid verlaag; want Felix se karakter was laag en veragtelik. Daar was van hom gesê dat hy “...by die bedryf van allerlei wellus en wreedheid die gesag van ‘n koning met die denkwyse van ‘n slaaf uitgeoefen het.” (Tacitus, History, hoofstuk 5, paragraaf 9). Diegene wat Tertullus gehoor het, het geweet dat sy vleiende woorde onwaar was, maar hulle begeerte om Paulus se veroordeling te verseker, was sterker as hul liefde vir die waarheid. DHDA 359.2
In sy toespraak het Tertullus Paulus van misdade aangekla wat, indien dit bewys kon word, sou lei tot sy skuldigbevinding aan hoogverraad teen die regering. “Ons het gevind dat hierdie man ‘n pes is...” het hy verklaar “...en ‘n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld en ‘n voorman van die sekte van die Nasareners, wat selfs probeer het om die tempel te ontheilig.” Tertullus het toe gesê dat Lisias, die kommandant van die garnisoen in Jerusalem, Paulus met geweld van die Jode weggeneem het toe hulle op die punt was om hom volgens hulle kerklike wet te oordeel en hulle so gedwing het om die saak voor Felix te bring. Hierdie verklarings is gemaak met die doel om die goewerneur oor te haal om Paulus aan die Joodse hof uit te lewer. Al die aanklagte is hewiglik deur die aanwesige Jode ondersteun, wat geen poging aangewend het om hul haat teen die gevangene te verberg nie. DHDA 359.3
Felix het genoeg insig gehad om die ingesteldheid en karakter van Paulus se beskuldigers te bespeur. Hy het geweet met watter motief hulle hom gevlei het en hy het ook gesien dat hulle nie hul aanklagte teen Paulus kon staaf nie. Hy het hom tot die beskuldigde gewend en vir hom gewink om vir homself te antwoord. Paulus het geen woorde aan komplimente verspil nie, maar het eenvoudig gesê dat hy hom met vrymoedigheid voor Felix kon verdedig omdat laasgenoemde vir lank prokurator was en dus ‘n goeie begrip van die wette en gebruike van die Jode gehad het. Met verwysing tot die aanklagte teen hom, het hy duidelik getoon dat nie een daarvan waar was nie. Hy het verklaar dat hy geen onrus in enige deel van Jerusalem veroorsaak het nie en ook nie die heiligdom ontheilig het nie. Hy het gesê: “Hulle het my nie in die tempel gevind, besig om met iemand te praat of ‘n opstand van die volk te verwek nie en ook nie in die sinagoges of in die stad nie. En hulle kan ook die dinge waarvan hulle my nou beskuldig, nie bewys nie.” DHDA 360.1
Terwyl hy bely het dat hy “...volgens die Weg wat hulle sekte noem...” die God van sy vaders gedien het, het hy volgehou dat hy altyd alles geglo het “...wat in die wet en in die profete geskrywe is...” en dat hy in ooreenstemming met die duidelike leer van die Skrif in die opstanding van die dode geglo het. En hy het verder verklaar dat dit die oorheersende doel van sy lewe was “...om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê.” DHDA 360.2
Op ‘n openhartige en reguit wyse het hy die doel van sy besoek aan Jerusalem en die omstandighede van sy inhegtenisneming en verhoor uiteengesit: “Na baie jare het ek gekom om aan my volk aalmoese te bring en offers. En terwyl ek hiermee besig was, het sekere Jode uit Asië my in die tempel gevind nadat ek geheilig was, nie met ‘n skare of met ‘n opskudding nie. Hulle behoort hier voor u te wees om beskuldiging in te bring as hulle iets teen my het. Of laat hierdie manne self sê of hulle enige onreg in my gevind het toe ek voor die Raad gestaan het, behalwe oor hierdie een woord wat ek uitgeroep het terwyl ek onder hulle gestaan het, naamlik: Oor die opstanding van die dode staan ek vandag by u voor die gereg!” DHDA 360.3
Die apostel het met erns en duidelike opregtheid gepraat en sy woorde is met gewig van oortuiging vergesel. Claudius Lisias het in sy brief aan Felix ‘n soortgelyke getuienis gelewer met betrekking tot Paulus se gedrag. Boonop het Felix ‘n beter begrip van die Joodse geloof gehad as wat baie van hulle vermoed het. Paulus se duidelike verklaring van die feite in die saak, het Felix in staat gestel om die motiewe van die Jode in ‘n poging om die apostel skuldig aan oproer en verraad te bevind, duideliker te verstaan. Die goewerneur sou hulle nie bevredig deur ‘n Romeinse burger onregverdig te veroordeel nie en sou hom ook nie aan hulle uitlewer om doodgemaak te word nie. Tog het Felix geen hoër beweegrede as eiebelang geken nie en hy is deur ‘n begeerte na lof en bevordering beheer. Die vrees om die Jode aanstoot te gee, het hom egter weerhou om aan ‘n man, wat hy geweet het onskuldig was, volkome reg te laat geskied. Daarom het hy besluit om die verhoor uit te stel totdat Lisias teenwoordig sou wees en gesê: “Wanneer Lisias, die owerste oor duisend, afkom, sal ek julle saak ten volle ondersoek.” DHDA 361.1
Die apostel het as gevangene aangebly, maar Felix het aan die hoofman oor honderd aan wie se sorg hy toevertrou is, bevel gegee “...dat hy verligting moes hê en dat hy niemand van sy eie mense moes verhinder om hom te bedien of te besoek nie.” DHDA 361.2
Dit was nie lank daarna nie dat Felix en sy vrou, Drusilla, Paulus laat roep het om in ‘n privaat onderhoud van hom te verneem “...oor die geloof in Christus...” Hulle was bereid, selfs gretig, om na hierdie nuwe waarhede te luister-waarhede wat hulle dalk nooit weer sou hoor nie en wat, indien dit verwerp word, op die dag van God ‘n summier getuienis teen hulle sou wees. DHDA 362.1
Paulus het dit as ‘n Godgegewe geleentheid beskou, en getrou daarop voortgebou. Hy het geweet dat hy in die teenwoordigheid van iemand staan wat die gesag het om hom ter dood te veroordeel of vry te stel; tog het hy Felix en Drusilla nie met lof of vleitaal toegespreek nie. Hy het geweet dat sy woorde vir hulle ‘n geur van lewe of van die dood sou wees en van alle selfsugtige oorwegings vergeet en probeer om hulle bewus van hulle gevaar te maak. DHDA 362.2
Die apostel het besef dat die evangelie aanspraak maak op elkeen wat na sy woorde luister; dat hulle eendag of tussen die rein en heiliges rondom die groot wit troon sou staan, of saam met diegene aan wie Christus sal sê: “Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:23). Hy het geweet dat hy elkeen van sy toehoorders voor die geregshof van die hemel moet ontmoet en daar rekenskap moet gee, nie net vir alles wat hy gesê en gedoen het nie, maar ook vir die beweegredes en die gees van sy woorde en dade. DHDA 362.3
Felix se optrede was voorheen so gewelddadig en wreed, dat min mense voorheen dit sou waag om selfs net te laat deurskemer dat sy karakter en gedrag nie foutloos was nie. Maar Paulus het geen vrees vir mense gehad nie. Hy het sy geloof in Christus en die redes daarvoor duidelik verklaar en dit het daartoe gelei dat hy veral gepraat het oor die deugde wat noodsaaklik vir die Christelike karakter is, maar waaraan die hoogmoedige paar voor hom so opvallend arm was. DHDA 362.4
Hy het die karakter van God aan Felix en Drusilla voorgehou-Sy geregtigheid, regverdigheid en billikheid en die aard van Sy wet. Hy het duidelik daarop gewys dat dit ‘n mens se plig is om ‘n lewe van nugterheid en matigheid te lei, om die hartstogte onder die beheer van die rede te hou, in ooreenstemming met God se wet en die liggaamlike en geestelike kragte in ‘n gesonde toestand te bewaar. Hy het verklaar dat daar beslis ‘n oordeelsdag sou kom wanneer almal beloon sou word volgens die dade wat in die liggaam gedoen is en wanneer dit duidelik sou blyk dat rykdom, posisie, of titels, magteloos is om die guns van God vir ‘n mens te wen, of hom van die gevolge van die sonde te red. Hy het daarop gewys dat die lewe tans, die mens se tyd is om vir die toekomstige lewe voor te berei. Indien hy sy huidige voorregte en geleenthede sou verwaarloos, sal hy ewige verlies ly; geen nuwe proeftydperk sal aan hom gegee word nie. DHDA 363.1
Paulus het veral by die ingrypende aansprake van God se wet stilgestaan. Hy het getoon hoe dit tot in die diepste verborgenheid van die mens se sedelike karakter strek en ‘n vloed van lig op dit wat vir die oë en kennis van mense verborge was, werp. Wat die hande mag doen, of die tong mag uitspreek-wat die uiterlike lewe openbaar-is ‘n onvolmaakte openbaring van die mens se sedelike karakter. Die wet ondersoek sy gedagtes, beweegredes en sy doelwitte. Die donker hartstogte wat vir die oë van mense verborge is, die jaloesie, haat, wellus en eersug, die bose dade wat in die donker hoekies van die siel bedink word, maar tog nooit uitgevoer word weens gebrek aan geleentheid nie, al hierdie dinge word deur die wet van God veroordeel. DHDA 363.2
Paulus het gepoog om die gedagtes van sy toehoorders na die een groot Offer vir die sonde te lei. Hy het na die offers gewys wat die skaduwees van die komende dinge was en Christus as die teenbeeld van al die seremonies voorgehou-die voorwerp waarna as die enigste Bron van die lewe en hoop vir die gevalle mens vooruitgewys het. Heilige manne van ouds is deur geloof in die bloed van Christus gered. Soos hulle die sterwensnood van die slagoffers aanskou het, het hulle oor die kloof van eeue na die Lam van God gekyk wat die sonde van die wêreld sou wegneem. DHDA 363.3
God maak met reg aanspraak op die liefde en gehoorsaamheid van al Sy skepsels. In Sy wet het Hy aan hulle ‘n volmaakte standaard van wat reg is gegee. Maar baie vergeet van hul Skepper en verkies om hul eie weg in teenstelling met Sy wil te volg. Hulle vergeld die liefde wat so hoog soos die hemel en so breed soos die heelal is, met vyandskap. God kan nie die vereistes van Sy wet verlaag om aan die standaard van die goddelose mense te voldoen nie; en die mens, in sy eie mag, kan ook nie aan die eise van die wet voldoen nie. Slegs deur geloof in Christus kan die sondaar van sy skuld kwytgeskeld word en in staat gestel word om die wet van sy Skepper te gehoorsaam. DHDA 364.1
So het Paulus, die gevangene, die aansprake van die Goddelike wet op Jood en heiden aangespoor en Jesus, die veragte Nasarener, as die Seun van God, die Verlosser van die wêreld, voorgehou. DHDA 364.2
Die Joodse prinses was deeglik bewus van die heilige karakter van die wet wat sy so skaamteloos oortree het, maar haar vooroordeel teenoor die Man van Golgota het haar hart teen die Woord van die Lewe verhard. Maar Felix het nog nooit vantevore na die waarheid geluister nie en toe die Gees van God sy siel oortuig het, het hy diep ontsteld geraak. Sy gewete, wat nou aangewakker was, het sy stem laat hoor en Felix het gevoel dat Paulus se woorde waar is. Sy gedagtes het oor sy skuldige verlede teruggegaan. Met ontstellende duidelikheid het die geheime van sy vroeëre lewe van losbandigheid en bloedvergieting en die duistere verslag van sy later jare voor hom opgedoem. Hy het homself as losbandig, wreed en hebsugtig gesien. Die waarheid was nooit tevore tot so mate in sy hart tuisgebring nie. Nooit tevore was sy siel so skrikbevange nie. Die gedagte dat al die geheime van sy loopbaan van misdaad oop voor die oog van God was en dat hy volgens sy dade geoordeel sou word, het hom laat sidder van vrees. DHDA 364.3
Maar in plaas daarvan om toe te laat dat oortuigings hom tot inkeer bring, het hy hierdie onwelkome refleksies probeer verdryf. Die onderhoud met Paulus is kortgeknip. Hy het gesê: “Gaan vir hierdie keer heen en as ek ‘n geleentheid vind, sal ek jou laat roep.” DHDA 365.1
Hoe wyd is die kontras tussen die optrede van Felix en die tronkbewaarder van Filippi! Die diensknegte van die Here was in boeie na die tronkbewaarder gebring, net soos Paulus ook na Felix. Die getuienis wat hulle gelewer het dat hulle deur die krag van God onderhou is, hulle blydskap onder lyding en smaad, hul vreesloosheid toe die aarde onder die skok van die aardbewing geskud het en hulle gees van Christelike vergifnis, het die tronkbewaarder se hart oortuig en met bewing het hy sy sondes bely en vergifnis ontvang. Felix het gebewe maar hy het nie berou gehad nie. Die tronkbewaarder het die Gees van God met blydskap in sy hart en in sy huis verwelkom; Felix het die Goddelike Boodskapper beveel om weg te gaan. Een het gekies om die kind van God en ‘n erfgenaam van die hemel te word; die ander het sy lot by die bewerkers van ongeregtigheid ingewerp. DHDA 365.2
Twee jaar lank is daar nie verder teen Paulus opgetree nie, maar hy het steeds ‘n gevangene gebly. Felix het hom verskeie kere besoek en aandagtig na sy woorde geluister. Maar die ware motief vir hierdie oënskynlike vriendelikheid, was geldsug en hy het te kenne gegee dat Paulus deur die betaling van ‘n groot bedrag geld sy vrylating sou kon verseker. Die apostel was egter te edel van karakter om homself deur omkoop te bevry. Hy het hom nie aan enige misdaad skuldig gemaak nie en hy wou nie ‘n onreg pleeg om sy vryheid te verkry nie. Verder was hy self te arm om so ‘n losprys te betaal, indien hy geneig was om dit te doen en hy sou nie vir homself ‘n beroep op die meegevoel en vrygewigheid van sy bekeerlinge doen nie. Hy het ook gevoel dat hy in die hande van God was en hy sou nie met die Goddelike voornemens wat van toepassing op homself was inmeng nie. DHDA 365.3
Weens die ernstige onreg wat teen die Jode gepleeg is, is Felix is uiteindelik na Rome ontbied. Voordat hy, in antwoord op hierdie opdrag, Cesárea verlaat het, wou hy “...aan die Jode ‘n guns ... bewys...” deur toe te laat dat Paulus in die gevangenis bly. Maar Felix was nie suksesvol in sy poging om die vertroue van die Jode te herwin nie. Hy is in skande van sy amp onthef en Porcius Festus is aangestel om hom op te volg, met sy hoofkwartier in Cesárea. DHDA 366.1
‘Ligstraal uit die hemel was toegelaat om op Felix te skyn toe Paulus met hom oor geregtigheid, selfbeheersing en die toekomstige oordeel geredeneer het. Dit was sy hemelse geleentheid om sy sondes te besef en te versaak. Maar hy het aan die boodskapper van God gesê: “Gaan vir hierdie keer heen en as ek ‘n geleentheid vind, sal ek jou laat roep.” Hy het sy laaste aanbod van genade versmaai. Hy sou nooit weer ‘n oproep van God ontvang nie. DHDA 366.2