Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 38—Paulus ‘n Gevangene*
“Toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders ons met blydskap ontvang. En op die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan en al die ouderlinge was daar teenwoordig.” DHDA 342.1
By hierdie geleentheid het Paulus en sy metgeselle die bydraes van die Heidense gemeentes vir die ondersteuning van die armes onder die Joodse broeders formeel aan die leiers van die werk in Jerusalem oorhandig. Die insameling van hierdie bydraes het van die apostel en sy medewerkers baie tyd, angs en moeisame arbeid geverg. Die bedrag, wat die verwagtinge van die ouderlinge in Jerusalem ver oortref het, het baie opofferings en selfs groot ontberings van die Heidense gelowiges verteenwoordig. DHDA 342.2
Hierdie vrywillige offergawes het die lojaliteit van die Heidense bekeerlinge teenoor die georganiseerde werk van God regoor die wêreld getoon en moes deur almal met dankbare erkenning ontvang gewees het, maar dit was vir Paulus en sy metgeselle duidelik dat selfs onder diegene voor wie hulle nou gestaan het, daar sommige was wat nie die gees van broederliefde wat aanleiding tot hierdie geskenke gegee het, kon waardeer nie. DHDA 342.3
In die vroeëre jare van die evangeliewerk onder die Heidene, was daar van die leidende broeders in Jerusalem wat steeds aan die vorige vooroordele en denkpatrone gekleef het en nie heelhartig met Paulus en sy medewerkers saamgewerk het nie. In hulle angstigheid om ‘n paar sinlose vorms en seremonies te bewaar, het hulle die seën wat op hulle en die saak wat hulle liefgehad het sou rus, deur ‘n poging om alle dele van die werk van die Here te verenig, uit die oog verloor. Alhoewel dit hulle begeerte was om die belange van die Christelike kerk te beskerm, het hulle nie daarin geslaag om tred met die toenemende voorsienighede van God te hou nie en in hul menslike wysheid gepoog om die werkers met baie onnodige beperkings te belas. So het daar ‘n groep mans ontstaan wat nie persoonlik met die veranderende omstandighede en die besondere behoeftes van die werkers in verafgeleë gebiede bekend was nie, maar wat daarop aangedring het dat hulle die gesag gehad het om aan die broeders in daardie velde sekere bepaalde arbeidsmetodes voor te skryf. Hulle het gevoel dat die verkondiging van die evangelie in ooreenstemming met hulle opvattings voortgesit moes word. DHDA 342.4
Verskeie jare het verloop sedert die broeders in Jerusalem, tesame met verteenwoordigers van ander leidende gemeentes, deeglik besin het oor die verwarrende vrae wat ontstaan het aangaande metodes wat deur diegene wat vir die Heidene gewerk het gevolg is. As gevolg van hierdie raadsitting het die broeders gesamentlik ooreengekom om sekere bepaalde aanbevelings aan die gemeentes voor te lê aangaande sekere bepaalde rituele en gebruike, insluitende die besnydenis. Dit was op hierdie algemene raad dat die broeders ook eenparig ooreengekom het om die broeders, Barnabas en Paulus, by die gemeentes aan te beveel as arbeiders wat die volle vertroue van elke gelowige waardig was. DHDA 343.1
Onder die aanwesiges by hierdie vergadering was sommige wat die arbeidsmetodes van die apostels op wie die grootste las om die evangelie aan die Heidense wêreld te verkondig gerus het, ernstig gekritiseer het. Maar tydens die raadsitting het hulle ‘n breër insig aangaande die planne van God gekry en hulle het met hul broeders verenig om wyse besluite, wat die eenwording van die hele liggaam van gelowiges moontlik gemaak het, te neem. DHDA 343.2
Toe dit later duidelik blyk dat die bekeerlinge onder die Heidene vinnig toeneem, was daar enkele van die leidende broeders in Jerusalem wat opnuut hulle vroeëre vooroordele teen die metodes van Paulus en sy medewerkers begin koester het. Hierdie vooroordele het met verloop van jare toegeneem totdat sommige van die leiers besluit het dat die verkondiging van die evangelie voortaan volgens hulle eie idees moes geskied. Indien Paulus sy metodes by sekere beleide wat hulle voorgestaan het sou aanpas, sou hulle sy werk erken en onderhou; anders kon hulle sy werk nie meer gunstig bejeën of hul steun daaraan verleen nie. DHDA 344.1
Hierdie manne het die feit dat God die Leermeester van Sy volk is, uit die oog verloor; dat elke werker in Sy saak individuele ervaring moet opdoen om die Goddelike Leier te volg en nie na die mense vir direkte leiding moet soek nie; dat Sy werkers nie volgens die idees van die mens gevorm moet word nie, maar volgens die Goddelike. DHDA 344.2
In sy bediening het die apostel Paulus die mense geleer, “...nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag.” Die waarhede wat hy verkondig het, is deur die Heilige Gees aan hom geopenbaar, “...want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God ... Daarvan...” verklaar Paulus, “...spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met die wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.” (1 Korinthiërs 2:4,10-13). DHDA 344.3
Regdeur sy bediening het Paulus na God vir regstreekse leiding opgesien. Terselfdertyd het hy baie noukeurig gewerk om in ooreenstemming met die besluite van die algemene raad in Jerusalem te werk en gevolglik is die gemeentes “...versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.” (Handelinge 16:5). En nou, ondanks die gebrek aan medelye van sommige, het hy vertroosting in die wete gevind dat hy sy plig gedoen het deur in sy bekeerlinge ‘n gees van getrouheid, vrygewigheid en broederliefde aan te moedig, soos by hierdie geleentheid in die oorvloedige bydraes wat hy in staat was om aan die Joodse ouderlinge te oorhandig, geopenbaar. DHDA 344.4
Nadat hy die geskenke oorhandig het, het Paulus “...van stuk tot stuk vertel wat God onder die heidene deur sy diens gedoen het.” Hierdie opsomming van die feite het, die oortuiging dat die seën van die hemel sy arbeid vergesel het tot die harte van almal, selfs diegene wat getwyfel het, gebring. “Toe hulle dit hoor, het hulle die Here verheerlik.” Hulle was van mening dat die arbeidsmetodes wat die apostel gevolg het die seël van die Hemel gedra het. Die oorvloedige bydraes wat voor hulle gelê is het verdere gewig aan Paulus se getuienis aangaande die getrouheid van die gemeentes wat hy onder die Heidene gestig het verleen. Die manne wat, hoewel hulle die werk in Jerusalem behartig het, daarop aangedring het dat willekeurige beheermaatreëls toegepas moes word, het Paulus se bediening in ‘n nuwe lig gesien en was daarvan oortuig dat hulle eie weg verkeerd was, dat hulle deur die Joodse gebruike en tradisies in slawerny verkeer het en dat die werk van die evangelie grootliks belemmer was omdat hulle nie ingesien het dat die muur van verdeling tussen Jood en Heiden deur die dood van Christus afgebreek was nie. DHDA 345.1
Hierdie was ‘n gulde geleentheid vir al die leidende broeders om eerlik te bely dat God deur Paulus gewerk het en dat hulle soms fouteer het deur toe te laat dat die verslae van sy vyande hulle jaloesie en vooroordeel opwek. Maar in plaas daarvan om te verenig in ‘n poging om reg teenoor hom wat veronreg is te laat geskied, het hulle hom van raad bedien wat aangedui het dat hulle steeds gevoel het dat Paulus grootliks verantwoordelik vir die bestaande vooroordeel gehou moes word. Hulle het nie edelmoedig tot sy verdediging toegetree om aan die ontevredenes aan te dui waar hulle verkeerd was nie, maar het probeer om ‘n kompromie aan te gaan, deur hom aan te raai om ‘n weg te volg wat, volgens hulle mening, alle misverstand uit die weg sou ruim. DHDA 345.2
In antwoord op sy getuienis het hulle geantwoord: “U sien, broeder, hoeveel duisende Jode daar is wat gelowig geword het en almal is yweraars vir die wet. En hulle is aangaande u vertel dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie. Wat staan ons dan te doen? Dit is dringend nodig dat die menigte bymekaarkom, want hulle sal hoor dat u gekom het. Doen dan wat ons vir u sê. Ons het vier manne wat ‘n gelofte gedoen het; neem hulle en heilig u saam met hulle en betaal die koste vir hulle, sodat hulle hul hoofde kan skeer en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook wandel as een wat die wet onderhou. Wat egter die gelowiges uit die heidene betref, het ons geskrywe en besluit dat hulle niks van die aard moet onderhou nie, maar hulle net moet onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van hoerery.” DHDA 346.1
Die broeders het gehoop dat Paulus, deur die weg te volg wat hulle voorgestel het, die valse gerugte aangaande hom met beslistheid sou weerlê. Hulle het hom verseker dat die vorige raadsbesluit aangaande die Heidense bekeerlinge en die seremoniële wet nog geldig was. Maar die advies wat hulle hom nou gegee het, het nie met daardie besluit gestrook nie. Die Gees van God het hierdie raad nie voorgesê nie; dit was die vrug van lafhartigheid. Die leiers van die gemeente in Jerusalem het geweet dat Christene die haat van die Jode oor hulle sou bring en hulle aan vervolging sou blootstel indien hulle nie die seremoniële wet nagekom het nie. Die Sanhedrin het hul uiterste bes gedoen om die vordering van die evangelie te belemmer. Manne is deur hierdie liggaam gekies om die apostels, veral Paulus, op te volg en hulle werk op elke moontlike manier teë te gaan. Indien gelowiges in Christus deur die Sanhedrin as oortreders van die wet veroordeel sou word, sou hulle spoedig en swaar as afvalliges van die Joodse geloof gestraf word. DHDA 346.2
Baie van die Jode wat die evangelie aangeneem het, het steeds die seremoniële wet gekoester en was maar te gewillig om onverstandige toegewings te maak in die hoop om sodoende die vertroue van hulle landgenote te verkry, hul vooroordeel te verwyder en hulle tot geloof in Christus as die Verlosser van die wêreld te wen. Paulus het besef dat solank baie van die leidende lidmate van die gemeente in Jerusalem voortgaan om vooroordele teen hom te koester, hulle voortdurend sou streef om sy invloed teë te werk. Hy was van mening dat indien hy hulle deur ‘n redelike toegewing tot die waarheid sou kon wen, hy ‘n groot struikelblok vir die sukses van die evangelie op ander plekke sou verwyder. Maar hy was nie deur God gemagtig om tot so mate toe te gee soos wat hulle gevra het nie. DHDA 347.1
As ons dink aan Paulus se groot begeerte om in harmonie met sy broers te wees, sy deernis teenoor die swakkes in die geloof, sy eerbied vir die apostels wat met Christus omgegaan het en vir Jakobus, die broer van die Here en sy voorneme om, sover hy kon, alles vir almal te word sonder om beginsel prys te gee-as ons aan dit alles dink, is dit minder verbasend dat hy hom laat oorhaal het om van die besliste koers wat hy tot nog toe gevolg het, af te wyk. Maar in plaas daarvan dat dit die verlangde doel bereik het, het sy pogings om versoening teweeg te bring sy voorspelde lyding verhaas en het daartoe gelei dat hy van sy broeders geskei is, die kerk van een van sy sterkste pilare ontneem is en die harte van Christene in elke land bedroef is. DHDA 347.2
Die volgende dag het Paulus die raad van die ouderlinge begin deurvoer. Hy het die vier mans wat die Nasireër-eed afgelê het, (sien Numeri 6) waarvan die termyn amper verstreke was, in die tempel ingebring “...om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.” Sekere duur reinigingsoffers moes nog gebring word. DHDA 347.3
Diegene wat Paulus aangeraai het om hierdie stap te neem, het nie die groot gevaar waaraan Paulus hom sodoende sou blootstel, ten volle besef nie. Gedurende hierdie tyd van die jaar, was Jerusalem gevul met aanbidders uit ander lande. Omdat, ter vervulling van die opdrag wat God aan hom gegee het, Paulus die evangelie aan die Heidene verkondig het, het hy baie van die grootste stede ter wêreld besoek en hy was bekend aan duisende wat uit vreemde dele na Jerusalem gekom het om die fees by te woon. Onder hulle was mense wie se harte met bittere haat vir Paulus gevul was en vir hom om tydens ‘n openbare geleentheid in die tempel in te gaan, het hy sy lewe op die spel geplaas. Hy het etlike dae lank heen en weer tussen die aanbidders beweeg, blykbaar onopgemerk; maar voor die einde van die vasgestelde tyd, terwyl hy met ‘n priester oor die offers wat gebring moes word gepraat het, is hy deur sommige Jode uit Asië herken. DHDA 348.1
Met sataniese woede het hulle op hom afgestorm en uitgeroep: “Israeliete, help! Dit is die man wat oral aan almal dinge leer teen die volk en die wet en hierdie plek.” En soos die volk gehoor aan die geroep om hulp gegee het, is daar nog ‘n beskuldiging bygevoeg: “Hy het ook nog Grieke in die tempel gebring en hierdie heilige plek ontheilig.” DHDA 348.2
Volgens die Joodse wet was dit ‘n misdaad wat met die dood strafbaar was vir ‘n onbesnede persoon om die binneste howe van die heiligdom te betree. Paulus is in die geselskap van Trofimus, ‘n Efesiër gesien en daar is vermoed dat hy hom in die tempel ingebring het. Hy het dit nie gedoen nie en omdat hy self ‘n Jood was, was sy daad om die tempel binne te gaan, geen oortreding van die wet nie. Maar hoewel die beskuldiging heeltemal vals was, het dit die algemene vooroordeel opgewek. Soos die uitroepe opgeneem en oral deur die tempelhowe gedra is, het die skare wat bymekaar was in wilde oproerigheid ontaard. Die nuus het spoedig deur die hele Jerusalem versprei, en “...toe kom die hele stad in beweging, en daar was ‘n oploop van die volk.” DHDA 348.3
Dat ‘n afvallige uit Israel dit sou waag om die tempel te ontheilig tydens die samekoms van duisende mense uit alle dele van die wêreld om te aanbid, het die hewigste hartstogte van die gepeupel ontketen. “Hulle het Paulus gegryp en hom buitekant die tempel gesleep; en dadelik is die deur gesluit.” DHDA 349.1
“En onderwyl hulle probeer om hom dood te maak, het ‘n berig die owerste oor duisend van die leërafdeling bereik dat die hele Jerusalem in oproer was.” Claudius Lisias was goed bekend met die onstuimige elemente waarmee hy te doen gehad het en hy het “...meteens soldate en hoofmanne oor honderd geneem en afgehardloop na hulle; en toe hulle die owerste oor duisend en die soldate sien, het hulle opgehou om Paulus te slaan.” Onkundig oor die oorsaak van die oproer, maar ten aanskoue van die woede van die skare teen Paulus, het die Romeinse kaptein tot die gevolgtrekking te kom dat hy ‘n sekere Egiptiese rebel van wie hy gehoor het, wat tot dusver gevangenskap ontsnap het, moes wees. Hy het hom dus gevange geneem en bevel gegee “...dat hy met twee kettings geboei moet word; en hy het gevra wie hy was en wat hy gedoen het.” Onmiddellik is daar baie stemme wat luide en kwaai beskuldigings teen hom gehef het. “En onder die skare het sommige dit en sommige iets anders geskreeu. En omdat hy weens die rumoer geen sekerheid kon verkry nie, het hy bevel gegee dat hy na die kamp gebring moes word. En toe hy op die trappe kom, moes hy deur die soldate gedra word weens die geweld van die skare. Want die menigte van die volk het gevolg en geskreeu: Weg met hom!” DHDA 349.2
Te midde van die oproer was die apostel kalm en selfbeheersd. Sy gedagtes was op God gerig en hy het geweet dat engele van die hemel rondom hom was. Hy was onwillig om die tempel te verlaat sonder om ‘n poging aan te wend om die waarheid aan sy volksgenote voor te hou. Terwyl hy na die kamp gelei word, het hy vir die kaptein gesê: “Is dit my geoorloof om iets vir u te sê?” Lisias het geantwoord: “Ken jy Grieks? Is jy dan nie die Egiptenaar wat ‘n tyd gelede oproer gemaak het en vierduisend rowers na die woestyn uitgelei het nie?” In antwoord daarop het Paulus gesê: “Ek is ‘n Joodse man van Tarsus, ‘n burger van geen onvermaarde stad in Cilicië nie; ek versoek u, laat my toe om die volk toe te spreek.” DHDA 350.1
Die versoek is toegestaan en Paulus het op die trappe gaan staan en met die hand vir die volk gewink. Die gebaar het hul aandag getrek en sy houding het respek afgedwing. “En nadat daar ‘n groot stilte gekom het, het hy hulle in die Hebreeuse taal toegespreek en gesê: Broeders en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle!” Met die klank van die bekende Hebreeuse woorde, “...was hulle nog stiller...” en in die algehele stilte het hy voortgegaan: DHDA 350.2
“Ek is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilicië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamaliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is.” Niemand kon die uitsprake van die apostel weerlê nie, want die feite waarna hy verwys het, was bekend aan baie wat nog in Jerusalem gewoon het. Hy het toe gepraat van sy vroeëre ywer om die dissipels van Christus te vervolg tot die dood toe; en hy het sy toehoorders van die omstandighede van sy bekering vertel en hoe sy eie trotse hart gelei is om voor die gekruisigde Nasarener te buig. Indien hy probeer het om met sy teëstanders te redeneer, sou hulle hardkoppig geweier het om na sy woorde te luister; maar die vertelling van sy ervaring het met ‘n oortuigende krag gepaard gegaan, wat voorlopig geblyk het hulle harte te versag en in bedwang te bring. DHDA 350.3
Hy het toe gepoog om aan te toon dat sy werk onder die Heidene nie uit sy eie keuse onderneem is nie. Hy het begeer om vir sy eie volk te werk, maar juis in daardie tempel het die stem van God in ‘n heilige gesig met hom gepraat en sy koers “...ver[weg] ... na die heidene...” gerig. DHDA 351.1
Tot dusver het die volk aandagtig geluister, maar toe Paulus die punt in sy relaas bereik waar hy as gesant van Christus vir die Heidene aangestel is, het hulle woede opnuut losgebars. Gewoond daaraan om hulself as die enigste mense wat deur God bevoordeel word beskou het, was hulle nie bereid om die veragte Heidene toe te laat om in die voorregte wat tot dusver uitsluitlik as hul eie beskou is, te deel nie. Hulle het hul stemme bo die stem van die spreker verhef en geskreeu: “Weg van die aarde met so ‘n mens, want hy behoort nie te lewe nie!” DHDA 351.2
“Terwyl hulle so skreeu en hulle klere afgooi en stof in die lug werp, het die owerste oor duisend bevel gegee dat hy in die kamp gebring moes word en gesê dat hulle hom met gesel slae moes ondersoek, sodat hy kon weet om watter rede hulle so teen hom uitroep.” DHDA 351.3
“En onderwyl hulle hom met die rieme uitrek, sê Paulus vir die hoofman oor honderd wat daar staan: Is dit u geoorloof om ‘n Romeinse burger en dit onveroordeeld, te gesel? Toe die hoofman oor honderd dit hoor, gaan hy dit aan die owerste oor duisend vertel en sê: Pas op wat u gaan doen, want hierdie man is ‘n Romein. En die owerste oor duisend het gekom en hom gevra: Sê vir my of jy ‘n Romein is? En hy antwoord: Ja. Toe sê die owerste oor duisend: Ek het hierdie burgerreg vir ‘n groot som verkry! En Paulus sê vir hom: Maar ek het dit deur geboorte. Daarop het die wat hom sou ondersoek, hom dadelik laat staan; en die owerste oor duisend het ook gevrees, omdat hy nou wis dat hy ‘n Romein was en hy hom geboei het.” DHDA 351.4
“En die volgende dag wou hy met sekerheid weet waarvan hy deur die Jode beskuldig was; en hy het hom van sy boeie losgemaak en bevel gegee dat die owerpriesters en hulle hele Raad moes vergader; en hy het Paulus afgebring en voor hulle laat staan.” DHDA 352.1
Die apostel moes nou deur dieselfde hof verhoor word waarvan hy self voor sy bekering ‘n lid was. Terwyl hy voor die Joodse owerstes gestaan het, was sy houding kalm en sy gesig het die vrede van Christus geopenbaar. “En Paulus het die oë op die Raad gehou en gesê: Broeders, ek het met ‘n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag.” Toe hulle hierdie woorde hoor, is hulle haat opnuut ontketen. “Maar die hoëpriester Ananias het bevel gegee aan die wat by hom staan, om hom op die mond te slaan.” Op hierdie onmenslike opdrag het Paulus uitgeroep: “God sal u slaan, gewitte muur! U sit tog om my volgens die wet te oordeel en beveel u in stryd met die wet dat ek geslaan moet word? ... En die wat daarby staan, sê: Skel jy die hoëpriester van God uit?” Met sy gewone hoflikheid het Paulus geantwoord: “Ek het nie geweet, broeders, dat hy hoëpriester is nie, want daar staan geskrywe: Van ‘n owerste van jou volk mag jy nie kwaad spreek nie.” DHDA 352.2
“En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is ‘n Fariseër, die seun van ‘n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg.” DHDA 352.3
“En toe hy dit sê, het daar twis ontstaan tussen die Fariseërs en die Sadduseërs, en die menigte het verdeeld geraak. Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei.” Die twee partye het onderling begin twis en sodoende is die krag van hul teenkanting teen Paulus verbreek. “Die skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgestaan en heftig gestry en gesê: Ons vind geen kwaad in hierdie man nie; en as ‘n gees met hom gespreek het, of ‘n engel, laat ons nie teen God stry nie.” DHDA 352.4
In die verwarring wat daarop gevolg het, het die Sadduseërs gretig daarna gestreef om die apostel in hulle mag te kry sodat hulle hom kon doodmaak; en die Fariseërs was gretig om hom te beskerm. Die owerste oor duisend het gevrees “...dat Paulus deur hulle verskeur sou word...” en hy het “...die soldate bevel gegee om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp te bring.” DHDA 353.1
Later, terwyl hy oor die moeilike ervarings van die dag nagedink het, het Paulus begin vrees dat sy optrede dalk nie vir God aanvaarbaar was nie. Kon dit wees dat hy tog ‘n fout gemaak het om Jerusalem te besoek? Het sy groot begeerte om met sy broers te verenig tot hierdie rampspoedige gevolge gelei? DHDA 353.2
Die posisie wat die Jode as ‘n belydende volk van God voor ‘n ongelowige wêreld beklee het, het intense sieleangs vir die apostel veroorsaak. Hoe sou hierdie heidense offisiere na hulle kyk? Hulle beweer dat hulle aanbidders van Jehova is en die heilige amp aanvaar, maar hulle gee hulself oor aan onbeheerste, blinde, onredelike woede en probeer om selfs hul broeders wat dit gewaag het om met hulle in godsdienstige geloof te verskil, te vernietig en om hul mees plegtige beraadslagende vergadering in ‘n toneel van twis en verwarring te verander. Paulus het gevoel dat die Naam van sy God in die oë van die Heidene onteer is. DHDA 353.3
En nou was hy in die gevangenis en hy het geweet dat sy vyande in hulle desperate kwaadwilligheid, van enige metode gebruik sou maak om hom dood te maak. Kon dit wees dat sy werk vir die gemeentes beëindig is en dat roofsugtige wolwe nou sou intree? Die saak van Christus het baie na aan Paulus se hart gelê en hy het met diepe angs aan die gevare vir die verspreide gemeentes gedink, wat blootgestel was aan die vervolging van sulke manne soos wat hy in die Sanhedrin-raad teëgekom het. In nood en moedeloosheid het hy geween en gebid. DHDA 353.4
In hierdie donker uur was die Here nie onbewus van Sy dienaar nie. Hy het hom teen die moorddadige skare in die tempelhowe beskerm; Hy was by hom in die raadsitting van die Sanhedrin; Hy was saam met hom in die vesting; en Hy het Homself aan Sy getroue getuie, in antwoord op die ernstige gebede van die apostel om leiding, geopenbaar. “En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig.” DHDA 354.1
Paulus het lank daarna uitgesien om Rome te besoek; hy het grootliks begeer om daar vir Christus te getuig; maar hy het gevoel dat sy voorneme deur die vyandigheid van die Jode gefrustreer is. Selfs nou het hy nie gedink dat hy as gevangene daarheen sou gaan nie. DHDA 354.2
Terwyl die Here Sy dienaar bemoedig het, het Paulus se vyande hulle vir sy vernietiging beywer. “En toe dit dag geword het, het sommige van die Jode saamgespan en hulleself vervloek deur te sê dat hulle nie sou eet of drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie. En daar was meer as veertig wat hierdie sameswering gemaak het.” Hierdie was die soort vas wat die Here, deur Jesaja, veroordeel het-’n vas “...om te twis en te kyf ... en om te slaan met misdadige vuis.” (Jesaja 58:4). DHDA 354.3
Die samesweerders “...het na die owerpriesters en die ouderlinge gegaan en gesê: Ons het ons met vervloeking verwens om niks te gebruik totdat ons Paulus doodgemaak het nie. Laat dan nou, saam met die Raad, aan die owerste oor duisend weet om hom more af te bring na u toe, asof u oor sy saak noukeuriger ondersoek wil doen. En ons is gereed om hom uit die weg te ruim voordat hy by u kom.” DHDA 354.4
In plaas daarvan om hierdie wrede plan te bestraf, het die priesters en die owerstes gretig daartoe ingestem. Paulus het die waarheid gespreek toe hy Ananias met ‘n gewitte graf vergelyk het. DHDA 354.5
Maar God het tussenbeide getree om die lewe van Sy dienaar red. Die seun van Paulus se suster, toe hy hoor dat die sluipmoordenaars ‘n “hinderlaag” stel, “...het gekom en in die kamp gegaan en dit aan Paulus vertel. En Paulus het een van die hoofmanne oor honderd na hom geroep en gesê: Bring hierdie jongman by die owerste oor duisend, want hy het iets om aan hom te vertel. Daarop neem hy hom saam en bring hom by die owerste oor duisend en sê: Die gevangene, Paulus, het my na hom geroep en versoek om hierdie jongman na u te bring, omdat hy iets het om aan u te sê.” DHDA 355.1
Claudius Lisias het die jongeling vriendelik ontvang, hom eenkant geneem en gevra: “Wat het jy om aan my te vertel?” Die jongman het geantwoord: “Die Jode het ooreengekom om u te versoek om Paulus more af te bring na die Raad asof hulle iets noukeurigers omtrent hom wil verneem. Laat u dan nie deur hulle oorhaal nie, want meer as veertig man van hulle lê hom voor wat hulleself vervloek het om nie te eet of te drink totdat hulle hom omgebring het nie. En nou is hulle gereed en wag op u toestemming.” DHDA 355.2
“En die owerste oor duisend het die jongman laat gaan en hom bevel gegee: Vertel aan niemand dat jy dit aan my bekend gemaak het nie.” DHDA 355.3
Lisias het dadelik besluit om Paulus uit sy jurisdiksie na dié van Felix, die prokurator, oor te plaas. As volk, was die Jode in ‘n toestand van prikkelbaarheid en irritasie en daar het gereeld oproerigheid ontstaan. Die voortdurende aanwesigheid van die apostel in Jerusalem kon lei tot gevolge wat gevaarlik vir die stad en selfs vir die kommandant sou wees. Daarom het hy “...twee van die hoofmanne oor honderd na hom geroep en gesê: Hou tweehonderd soldate gereed om na Cesárea te gaan en sewentig ruiters en tweehonderd lig gewapende manne, teen die derde uur van die nag. En sorg vir pakdiere, dat hulle Paulus daarop kan sit en veilig na Felix, die goewerneur, oorbring.” DHDA 355.4
Geen tyd moes verspil word om Paulus weg te stuur nie. “En die soldate het Paulus geneem soos hulle beveel is en hom in die nag na Antipatris gebring.” Daarvandaan het die ruiters met die gevangene verder na Cesárea gegaan, terwyl die vierhonderd soldate na Jerusalem teruggekeer het. DHDA 356.1
Die offisier in bevel van die afdeling het die gevangene aan Felix oorhandig en ook ‘n brief aan hom voorgelê wat die owerste oor duisend aan hom toevertrou is: DHDA 356.2
“Claudius Lisias aan die hoogedele goewerneur Felix: Groete! Toe hierdie man wat deur die Jode gevang is, op die punt gestaan het om deur hulle omgebring te word, het ek met die soldate bygekom en hom gered, omdat ek verneem het dat hy ‘n Romein is. Maar omdat ek te wete wou kom wat die oorsaak was waarom hulle hom beskuldig, het ek hom na hulle Raad afgebring en uitgevind dat hy beskuldig word oor twisvrae van hulle wet, maar dat hy nie aangeklaag word van iets wat die dood of boeie verdien nie. En omdat aan my meegedeel is dat daar deur die Jode ‘n komplot teen die man sou gesmee word, het ek hom meteens na u gestuur en ook sy beskuldigers gelas om wat hulle teen hom het, voor u te sê. Vaarwel!” DHDA 356.3
Nadat hy die brief gelees het, het Felix verneem uit watter provinsie die gevangene kom en toe hy verneem dat hy uit Cilicië was, het hy gesê: “Ek sal jou in verhoor neem wanneer jou beskuldigers ook aangekom het. Toe gee hy bevel dat hy in die paleis van Herodes bewaak moes word.” DHDA 356.4
Paulus se geval was nie die eerste waarby ‘n dienaar van God asiel by die heidene teen die kwaadwilligheid van die belydende volk van Jehova gevind het nie. In hulle woede teen Paulus het die Jode ‘n verdere misdaad by die swartlys wat die geskiedenis van daardie volk gekenmerk het, gevoeg. Hulle het steeds hul harte teen die waarheid verhard en hul ondergang meer seker gemaak. DHDA 356.5
Min mense besef die volle betekenis van die woorde wat Christus gespreek het toe Hy in die sinagoge in Nasaret Homself as die Gesalfde aangekondig het. Hy het verklaar dat dit Sy sending was om die treurendes en die sondaars te vertroos, te seën en te red; en toe Hy sien dat hoogmoed en ongeloof in die harte van Sy toehoorders geheers het, het Hy hulle daaraan herinner dat God Hom in die verlede van Sy uitverkore volk onttrek het as gevolg van hul ongeloof en opstandigheid en Homself aan diegene in heidense lande wat nie die lig van die hemel verwerp het nie, geopenbaar het. Die weduwee van Sarfat en Naaman die Síriër, het volgens al die lig geleef wat hulle ontvang het; en daarom is hulle meer regverdig as God se uitverkore volk wat van Hom afvallig geword en beginsel vir gerief en wêreldse eer opgeoffer het, geag. DHDA 357.1
Christus het aan die Jode in Nasaret ‘n skrikwekkende waarheid vertel toe Hy verklaar het dat daar onder die afvallige Israel vir die getroue boodskapper van God geen veiligheid bestaan het nie. Hulle sou sy waarde nie ken en sy arbeid nie waardeer nie. Terwyl die Joodse leiers beweer het dat hulle groot ywer vir die eer van God en die welsyn van Israel het, was hulle vyande van albei. Deur voorskrif en voorbeeld het hulle die volk al verder van gehoorsaamheid aan God weggelei-hulle gelei na waar Hy hulle nie op die dag van benoudheid hulself sou kon verdedig nie. DHDA 357.2
Die Verlosser se woorde van bestraffing aan die manne van Nasaret was in die geval van Paulus nie net op die ongelowige Jode van toepassing nie, maar ook op sy eie broeders in die geloof. As die leiers van die kerk hulle gevoel van bitterheid teenoor die apostel heeltemal laat vaar het en hom as een wat spesiaal deur God geroep was om die evangelie aan die Heidene te verkondig aanvaar het, sou die Here hom vir hulle gespaar het. God het dit nie georden dat Paulus se werk so spoedig moes eindig nie, maar Hy het geen wonderwerk verrig om die reeks gebeurtenisse wat tot die optrede van die leiers in die gemeente in Jerusalem aanleiding gegee het, teë te werk nie. DHDA 357.3
Dieselfde gees lei steeds tot dieselfde gevolge. ‘n Versuim om die bepalings van Goddelike genade te waardeer en te verbeter, het die kerk van talle seëninge ontneem. Hoe dikwels sou die Here die werk van een of ander getroue predikant verleng het as daar waardering vir sy werksaamhede was! Maar as die kerk die vyand van siele toelaat om die gedagtes te verdraai sodat hulle die woorde en dade van die dienskneg van Christus wanvoorstel en vertolk; as hulle hulself toelaat om in sy weg te staan en sy bruikbaarheid te belemmer, verwyder die Here soms die seën wat Hy gegee het. DHDA 358.1
Die Satan werk voortdurend deur sy agente om diegene wat God uitverkies het om ‘n groot en goeie werk te verrig, te ontmoedig en te vernietig. Hulle is miskien bereid om selfs hul lewens vir die bevordering van die saak van Christus op te offer, maar die groot bedrieër sal steeds twyfel by hul broeders saai wat, indien hulle dit koester, vertroue in die onkreukbaarheid van hulle karakters ondermyn en sodoende hul bruikbaarheid belemmer. Te dikwels slaag hy daarin om, deur hul eie broers, vir hulle sulke groot hartseer te veroorsaak, dat God genadiglik tussenbeide tree om aan Sy vervolgde dienaars rus te gee. Nadat die hande op die lewelose bors gevou is en wanneer die stem van waarskuwing en bemoediging stil is, kan die gehardes miskien opgewek word om die seëninge wat hulle van hulself weggewerp het, te sien en te waardeer. Deur hulle dood mag moontlik bereik word wat hulle nie in die lewe kon bereik nie. DHDA 358.2