Die Handelinge Van Die Apostels

38/59

Hoofstuk 37—Paulus se Laaste Reis na Jerusalem*

Paulus het grootliks begeer om Jerusalem voor die Paasfees te bereik aangesien hy die geleentheid sou kry om mense wat uit alle dele van die wêreld sou kom om die fees by te woon, te ontmoet. Hy het altyd die hoop gekoester dat hy op die een of ander wyse instrumenteel sou wees om die vooroordeel van sy ongelowige landgenote te verwyder, sodat hulle gelei kon word om die kosbare lig van die evangelie te aanvaar. Hy het ook begeer om kennis te maak met die gemeente in Jerusalem, sodat hy aan hulle die geskenke wat die Heidense gemeentes aan hulle behoeftige broeders in Judea gestuur het, kon oorhandig. En met hierdie besoek het hy gehoop om ‘n hegter band tussen die Joodse en Heidense bekeerlinge tot die geloof te smee. DHDA 333.1

Nadat hy sy werk in Korinthe voltooi het, het hy besluit om direk na een van die hawens aan die kus van Palestina te vaar. Al die reëlings is getref en hy was op die punt om aan boord te gaan, toe hy van die sameswering deur die Jode verneem om hom om die lewe te bring. In die verlede is al hierdie teëstanders van die geloof se pogings om die werk van die apostel te beëindig, verydel. DHDA 333.2

Die sukses wat die prediking van die evangelie bygewoon het, het die woede van die Jode opnuut laat opvlam. Uit alle oorde het berigte van die verspreiding van die nuwe leerstelling gekom, waardeur die Jode van die rituele van die seremoniële wet vrygestel is en Heidene gelyke voorregte met die Jode, as kinders van Abraham, gedeel het. Paulus het in sy prediking in Korinthe dieselfde argumente geopper as wat hy met soveel nadruk in sy sendbriewe aangebied het. Sy duidelike verklaring dat daar “...nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene...” (Kolossense 3:11) is nie, is deur sy vyande as uitdagende laster beskou en hulle het besluit dat sy stem stilgemaak moes word. DHDA 333.3

Nadat Paulus die waarskuwing aangaande die sameswering ontvang het, het hy besluit om met ‘n ompad deur Macedonië te reis. Hy moes sy plan om Jerusalem betyds vir die Paasfees te bereik laat vaar, maar hy het gehoop om met Pinkster daar te wees. DHDA 334.1

Paulus en Lukas was vergesel van “...Sopater van Berea ... en ... van die Thessalonicense, Aristárchus en Secundus en Gajus van Derbe en Timotheus en uit Asië Tichikus en Trofimus.” Paulus het ‘n groot som geld van die Heidense gemeentes by hom gehad, wat hy van plan was om in die hande van die broeders wat in beheer van die werk in Judea was, te oorhandig; en om hierdie rede het hy reëlings getref dat hierdie verteenwoordigende broeders uit die verskillende gemeentes wat bygedra het, hom na Jerusalem sou vergesel. DHDA 334.2

Paulus het in Filippi vertoef om die Paasfees te vier. Net Lukas het by hom gebly, terwyl die ander lede van die groep verder na T roas gereis het om daar vir hom te wag. Die Filippense was die mees liefdevolste en opregste van hart van al die apostel se bekeerlinge en gedurende die agt dae van die fees het hy vreedsame en gelukkige gemeenskap met hulle geniet. DHDA 334.3

Toe het Paulus en Lukas Filippi verlaat en hulle reisgenote in Troas vyf dae later bereik, waar hulle sewe dae lank by die gelowiges in daardie plek gebly het. DHDA 334.4

Op die laaste aand van sy verblyf het die broeders saamgekom “...om brood te breek.” Die feit dat hul geliefde leraar op die punt was om te vertrek, het ‘n groter groep as gewoonlik byeengebring. Hulle het in ‘n “bovertrek” op die derde verdieping saamgekom. Daar het die apostel, in die ywer van sy liefde en besorgdheid vir hulle, tot middernag gepreek. DHDA 334.5

In een van die oop vensters het ‘n jeugdige, met die naam van Eutichus, gesit. Hy het op hierdie gevaarlike plek aan die slaap geraak en deur die venster op die plaveisel na benede geval. Alles was meteens in rep en roer. Die jeugdige is dood opgetel en baie van hulle het om hom gestaan en gerou en getreur. Maar Paulus het sy weg deur die verskrikte groep gebeur, hom omhels en ‘n ernstige gebed tot God gerig om die oorledene tot die lewe te herstel. Sy gebed is verhoor. Bo die geluid van die geweeklaag en geween is die stem van die apostel gehoor wat sê: “Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom.” Met blydskap het die gelowiges weer in die bovertrek vergader. Hulle het “...brood gebreek en geëet; en...” daarna het “...hy nog ‘n geruime tyd gespreek ... tot dagbreek toe.” DHDA 335.1

Die skip waarop Paulus en sy geselskap hulle reis sou voortsit, was op die punt om te vertrek en die broeders het aan boord gehaas. Die apostel self het egter verkies om die kortpad oorland van Troas na Assus te neem en sy reisgenote weer in laasgenoemde te ontmoet. Dit het aan hom ‘n kort geleentheid vir oordenking en gebed verleen. Die probleme en gevare verbonde aan sy komende besoek aan Jerusalem, die houding van die gemeente daar teenoor hom en sy werk, sowel as die toestand van die gemeentes en die belange van die evangeliewerk op ander terreine, was onderwerpe aan ernstige, besorgde oordenking en hy het van hierdie spesiale geleentheid gebruik gemaak om God vir krag en leiding te smeek. DHDA 335.2

Soos die reisigers suidwaarts van Assus af gevaar het, is hulle by die stad Éfese verby, wat vir so lank die toneel van die apostel se arbeid was. Paulus het grootliks begeer om die gemeente daar te besoek, want hy het belangrike opdragte en raad gehad om met hulle te deel. Maar na oorweging het hy besluit om sonder onderbreking verder te reis, want hy wou, “...as dit vir hom moontlik was, op die pinksterdag in Jerusalem ... wees.” Toe hulle egter by Milete aankom, wat ongeveer agt-en-veertig kilometer van Éfese was, het hy verneem dat hy moontlik in kontak met die gemeente sou kon kom voordat die skip vertrek. Hy het dus dadelik ‘n boodskap aan die ouderlinge gestuur en hulle versoek om haastig na Milete te kom sodat hy hulle kon sien voordat hy sy reis voortsit. DHDA 335.3

Hulle het in antwoord op sy berig gekom en hy het aangrypende woorde van vermaning en afskeid tot hulle gespreek. “Julle weet...” het hy gesê, ...“hoe ek, van die eerste dag af dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle gewees het en die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge wat oor my gekom het deur die komplotte van die Jode; hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise, terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus.” DHDA 336.1

Paulus het die wet van God altyd verhef. Hy het daarop gewys dat daar in die wet geen gesag was om die mens van die straf vir ongehoorsaamheid te red nie. Oortreders moet berou hê oor hulle sondes en hulle voor God verootmoedig, wie se geregtelike toorn hulle, deur Sy wet te verbreek, oor hulself gebring het en hulle moes ook geloof in die bloed van Christus uitoefen as die enigste middel tot vergifnis. Die Seun van God het as hul Soenoffer gesterf en het na die hemel opgevaar om as hulle voorspraak voor die Vader te staan. Deur berou en geloof kan hulle van die veroordeling van die sonde vrygespreek word en deur die genade van Christus voortaan in staat gestel word om die wet van God te gehoorsaam. DHDA 336.2

“En kyk...” het hy vervolg, “...ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie.” DHDA 336.3

Paulus was nie van plan om hierdie getuienis te lewer nie, maar terwyl hy gepraat het, het die Gees van Inspirasie oor hom vaardig geword en sy vrese bevestig dat dit sy laaste ontmoeting met die broeders van Éfese sou wees. DHDA 337.1

“Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.” Geen vrees dat hy sou aanstoot gee, geen begeerte na vriendskap of byval, kon Paulus beweeg om die woorde wat God aan hom vir hulle onderrig, waarskuwing en teregwysing gegee het, te weerhou nie. Van Sy dienaars vereis God vandag dat hulle vreesloos die woord sal verkondig en die voorskrifte daarvan sal uitoefen. Die predikant van Christus moet nie slegs die aangename waarhede aan die volk voorhou, terwyl hy ander waarhede wat kan kwes weerhou nie. Hy moet met diepgaande besorgdheid die ontwikkeling van karakter dophou. As hy sien dat enigeen van sy kudde sonde koester moet hy, as ‘n getroue herder, uit die Woord van God aan hulle die opdrag gee wat in hulle geval van toepassing is. As hy hulle toelaat om in hulle selfvertroue ongewaarsku voort te gaan, sal hy verantwoordelik vir hulle siele gehou word. Die predikant wat sy hoë opdrag vervul, moet sy mense getroue opdragte aangaande elke punt van die Christelike geloof gee en aan hulle toon wat hulle moet wees en doen om in die dag van God volmaak te staan. Slegs hy wat ‘n getroue leraar van die waarheid is, sal aan die einde van sy werk soos Paulus kan sê, dat hy “...rein is van die bloed van almal.” DHDA 337.2

Die apostel het die broeders vermaan: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.” Indien bedienaars van die evangelie in gedagte sou hou dat hulle met mense te doen het wat deur die bloed van Christus gekoop is, sou hulle ‘n dieper insig van die belangrikheid van hulle werk hê. Hulle moet op hulself en op hulle kudde let. Hulle moet deur hul eie voorbeeld hul opdragte uitbeeld en toepas. As leraars van die weg van die lewe, moet hulle geen geleentheid vir die waarheid om belaster te word bied nie. As verteenwoordigers van Christus moet hulle die eer van Sy Naam handhaaf. Deur hulle toewyding, hulle rein lewe en hul godvrugtige gesprek, moet hulle bewys dat hulle hul hoë roeping waardig is. DHDA 338.1

Die gevare wat die kerk in Éfese sou teëkom, is aan die apostel geopenbaar. Hy het gesê: “Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.” Paulus het vir die gemeente gevrees toe hy in die toekoms kyk en sien wat se aanvalle hulle van interne sowel as eksterne vyande sou moes verduur. Met plegtige erns het hy die broeders gemaan om hulle heilige pand sorgvuldig te bewaak. As voorbeeld het hy hulle op sy eie onvermoeide arbeid onder hulle gewys: “Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie. DHDA 338.2

“En nou, broeders...” het hy vervolg, “...dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes. Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie.” Sommige van die gelowiges in Éfese was welaf, maar Paulus het nooit na persoonlike voordeel van hulle gesoek nie. Dit was nie deel van sy boodskap om die aandag op sy eie behoeftes te vestig nie. “Julle weet self...” het hy gesê, “...dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was.” Te midde van sy moeisame arbeid en uitgebreide reise vir die saak van Christus, was hy daartoe in staat om nie net in sy eie behoeftes te voorsien nie, maar om ook iets eenkant te sit vir die onderhoud van sy medewerkers en vir die verligting van die verdienstelike armes. Dit kon hy alleen deur onverpoosde ywer en streng spaarsaamheid vermag. Hy kon met reg na sy eie voorbeeld verwys en sê: “Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei, die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” DHDA 338.3

“En na hierdie woorde het hy neergekniel en met hulle almal saam gebid. En daar het ‘n groot geween ontstaan van almal en hulle het Paulus om die hals geval en hom gesoen, veral bedroef oor die woord wat hy gesê het, dat hulle sy aangesig nie meer sou sien nie. En hulle het hom na die skip begelei.” DHDA 339.1

Van Milete het die reisigers weggeseil “...en reguit koers gehou en by Kos aangekom en die volgende dag by Rhodus en daarvandaan na Patara...” aan die suidwestelike kus van Klein-Asië, waar hulle ‘n skip gevind het, “...wat na Fenicië sou oorseil...” en hulle het “...daarop gegaan en afgevaar.” By Tirus, waar die skip se lading afgelaai is, het hulle ‘n paar dissipels gevind by wie hulle toegelaat was om sewe dae lank te vertoef. Deur die Heilige Gees is hierdie dissipels aangaande die gevare wat Paulus in Jerusalem ingewag het gewaarsku en hulle het by hom aangedring “...om nie op te gaan na Jerusalem nie.” Maar die apostel het nie toegelaat dat vrees vir beproewing en gevangenskap hom van sy voorneme laat afsien nie. DHDA 339.2

Aan die einde van die week wat Paulus in Tirus deurgebring het, het al die broeders met hulle vrouens en kinders saam met hom na die skip gegaan en voordat hy aan boord gegaan het, het hulle op die strand gekniel en gebid, hy vir hulle en hulle vir hom. DHDA 339.3

Die reisigers het hulle reis voortgesit en by Cesárea aangekom en hulle “...intrek geneem in die huis van Filippus, die evangelis, wat een van die sewe diakens was en by hom gebly.” Daar het Paulus ‘n paar gelukkige dae in vrede deurgebring-die laaste volmaakte vryheid wat hy in ‘n lang tyd sou geniet. DHDA 340.1

Terwyl Paulus in Cesárea vertoef het, “...het ‘n sekere profeet met die naam van Agabus van Judea afgekom. En toe hy by ons kom...” sê Lukas, “...neem hy die gordel van Paulus en bind sy eie hande en voete en sê: Dit spreek die Heilige Gees: So sal die Jode die man wie se gordel dit is, in Jerusalem bind en in die hande van heidene oorlewer.” DHDA 340.2

“En toe ons dit hoor,” het Lukas voortgegaan, “...het ons saam met die broeders van die plek hom gesmeek om nie op te gaan na Jerusalem nie.” Maar Paulus het geweier om van sy plig af te sien. Indien nodig sou hy Christus tot in die gevangenis en selfs tot die dood toe volg. Hy het uitgeroep: “Wat doen julle dat julle ween en my hart week maak? Want ek is bereid nie alleen om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van die Here Jesus.” Toe hulle besef dat hulle smart vir hom veroorsaak sonder om hom van sy plan te laat afsien, het die broeders opgehou om hom te smeek, en net gesê: “Laat die wil van die Here geskied!” DHDA 340.3

Die tyd het spoedig aangebreek dat die kort verblyf in Cesárea tot ‘n einde moes kom en saam met sommige van die broeders, het Paulus en sy geselskap na Jerusalem vertrek terwyl die voorgevoel van komende onheil hulle harte met ‘n donker skaduwee oordek het. DHDA 340.4

Nooit tevore het die apostel Jerusalem met so ‘n beswaarde gemoed genader nie. Hy het geweet dat hy min vriende en baie vyande daar sou aantref. Hy het die stad wat die Seun van God verwerp het en waaroor die bedreiginge van Goddelike toorn gehang het genader. Omdat hy onthou het hoe bitter sy eie vooroordeel teen die volgelinge van Christus was, het hy die innigste meegevoel vir sy misleide landgenote gehad. En tog, hoe weinig was sy hoop dat hy in staat sou wees om hulle te help! Dieselfde blinde woede wat eens in sy eie hart gebrand het, het nou met onuitspreeklike krag die harte van die hele volk teen hom laat opvlam. DHDA 340.5

En hy kon nie eers op die meegevoel en ondersteuning van sy eie broeders in die geloof staatmaak nie. Die onbekeerde Jode wat so noukeurig op sy spoor gevolg het, het nie op hulle laat wag om die mees ongunstigste verslae oor hom en sy werk, persoonlik in Jerusalem en per brief te versprei nie; en sommige, selfs van die apostels en ouderlinge, het hierdie gerugte vir waarheid aangeneem sonder om te probeer om dit te weerspreek en het geen begeerte gemanifesteer om met hom ooreen te stem nie. DHDA 341.1

Tog, te midde van ontmoediging, was die apostel nie wanhopig nie. Hy het vertrou dat die Stem wat tot sy eie hart gespreek het, nog tot die harte van sy volksgenote sou spreek en dat die Meester wat deur sy mededissipels gedien is en vir Wie hulle lief was, tog hulle harte met hom in die werk van die evangelie sou verenig. DHDA 341.2