Die Handelinge Van Die Apostels

37/59

Hoofstuk 36—Afvalligheid in Galasië*

Terwyl hy in Korinthe vertoef het, het Paulus rede tot ernstige bedenkinge gehad aangaande sommige van die gemeentes wat hy reeds gestig het. As gevolg van die invloed van valse leraars wat onder die gelowiges in Jerusalem opgestaan het, het verdeeldheid, dwaalleringe en sensualisme spoedig veld gewen onder die gelowiges in Galasië. Hierdie valse leraars het Joodse tradisies met die waarhede van die evangelie vermeng. Hulle het die besluite van die algemene raad in Jerusalem verontagsaam en by die Heidense bekeerlinge aangedring om die voorskrifte van die seremoniële wet na te kom. DHDA 327.1

Die toestand was kritiek. Die euwels wat ingebring is, het gedreig om spoedig die gemeentes in Galasië te vernietig. DHDA 327.2

Paulus se hart was deurboor en sy siel was deur hierdie openlike afvalligheid van diegene aan wie hy die beginsels van die evangelie so getrou geleer het, ontroer. Hy het dadelik aan die misleide gelowiges geskryf en die vals teorieë wat hulle aangeneem het aan die kaak gestel en diegene wat van die geloof afgedwaal het, streng bestraf. Nadat hy die Galasiërs gegroet het met die woorde: “Genade vir julle en vrede van God die Vader en onse Here Jesus Christus...” het hy hierdie woorde van skerp teregwysing tot hulle gerig: DHDA 327.3

“Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” Paulus se leringe was in ooreenstemming met die Skrif en die Heilige Gees het van sy arbeid getuig; daarom het hy sy broeders gewaarsku om nie na iets te luister wat in stryd is met die waarhede wat hy hulle geleer het nie. DHDA 327.4

Die apostel het die gelowiges in Galasië vermaan om hul eerste ervaring in die Christelike lewe deeglik te oorweeg. “O, onverstandige Galasiërs...” het hy uitgeroep, “...wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was! Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?” DHDA 328.1

So het Paulus die gelowiges in Galasië voor die regterstoel van hulle eie gewete gedaag en getrag om hulle in hul weg te stuit. Die apostel het op die reddende krag van God vertrou en geweier om die leer van die afvallige leraars te erken. Hy het gepoog om die bekeerlinge te lei om in te sien dat hulle grootliks mislei was, maar dat hulle, deur na hulle vorige geloof in die evangelie terug te keer, die doel van Satan kon verydel. Hy het ferm aan die kant van waarheid en geregtigheid gestaan; en sy onwankelbare geloof en vertroue in die boodskap wat hy verkondig het, het baie wie se geloof gewankel het, gehelp om na hul trou aan die Verlosser terug te keer. DHDA 328.2

Hoe anders was Paulus se wyse van skrywe aan die gemeente in Korinthe, as die metode wat hy teenoor die Galasiërs gevolg het! Eersgenoemdes het hy met omsigtigheid en teerheid bestraf, maar laasgenoemde met woorde van onbeskroomde teregwysing. Die Korinthiërs is deur versoeking oorkom. Mislei deur die vernuftige drogredenasies van leraars wat dwalinge onder die dekmantel van waarheid voorgehou het, het hulle onseker en verward geraak. Om hulle te leer om valsheid van waarheid te onderskei, het versigtigheid en geduld geverg. Strengheid of onoordeelkundige haas van Paulus se kant af, sou sy invloed oor baie van diegene wat hy verlang het om te help, vernietig het. DHDA 328.3

In die gemeentes van Galasië het openlike, ontmaskerde dwalinge die evangelieboodskap vervang. Christus, die ware Fondasie van die geloof, is feitlik ten gunste van die uitgediende seremonies van Judaïsme versaak. Die apostel het besef dat om die gelowiges in Galasië van die gevaarlike invloede wat hulle bedreig het te red, die mees vasbeslote maatreëls getref en die skerpste waarskuwings gegee moes word. DHDA 329.1

’n Belangrike les vir elke dienaar van Christus om te leer, is om sy arbeid by die toestand van diegene wat hy wil bevoordeel aan te pas. Deernis, geduld, vasberadenheid en fermheid is net so nodig; maar dit moet met groot omsigtigheid toegepas word. Om onder uiteenlopende omstandighede en toestande, met wysheid teenoor mense met verskillende vlakke van denkwyses op te tree, vereis groot wysheid en insig wat deur die Gees van God verlig en geheilig word. DHDA 329.2

In sy brief aan die gelowiges in Galasië het Paulus kortliks die belangrikste voorvalle ten opsigte van sy bekering en vroeë Christelike ervaring bespreek. Hierdeur wou hy aantoon dat hy deur ‘n spesiale manifestasie van Goddelike krag gelei is om die groot waarhede van die evangelie in te sien en te begryp. Dit was deur ‘n opdrag van God self dat Paulus gelei was om die Galasiërs op so ‘n plegtige en positiewe wyse te waarsku en te vermaan. Hy het nie met aarseling of twyfel geskryf nie, maar met die versekering van ‘n vaste oortuiging en absolute kennis. Hy het die verskil tussen menslike onderrig en die direkte onderrig van Christus duidelik omskryf. DHDA 329.3

Die apostel het by die Galasiërs aangedring om die valse leiers deur wie hulle mislei is, te verwerp en terug te keer na die geloof wat met onmiskenbare bewyse van Goddelike goedkeuring gepaard gegaan het. Die manne wat gepoog het om hulle van hul geloof in die evangelie weg te draai, was huigelaars, onheilig van hart en verdorwe in hul lewenswyse. Hulle godsdiens het uit ‘n reeks seremonies bestaan, die uitvoering waarvan hulle verwag het om die guns van God te wen. Hulle het geen begeerte na ‘n evangelie gehad wat gehoorsaamheid aan die woord geverg het: “As iemand nie weer gebore word nie. kan hy die koninkryk van God nie sien nie...” (Johannes 3:3). Hulle het gemeen dat ‘n geloof wat op so ‘n leerstelling gegrond is, ‘n te groot opoffering vereis en hulle het aan hul dwalinge vasgehou en hulself en andere mislei. DHDA 330.1

Om die heiligheid van hart en lewe met eksterne vorms van godsdiens te vervang, is steeds net so aanneemlik vir die ongeheiligde natuur soos dit in die dae van hierdie Joodse leraars was. Vandag, soos destyds, is daar valse geestelike leiers wie se leerstellings deur baie mense gretig aangehoor word. Die Satan lê hom doelbewus daarop toe om mense se gedagtes weg van die hoop op verlossing deur geloof in Christus en gehoorsaamheid aan die wet van God te lei. In elke eeu pas die aartsvyand sy versoekings by die vooroordele of neigings aan van diegene wat hy trag om te mislei. In die apostoliese tye het hy die Jode gelei om die seremoniële wet te verhef en Christus te verwerp; tans moedig hy baie belydende Christene aan, onder die voorwendsel dat hulle Christus daardeur vereer, om minagting op die morele wet te werp en te leer dat die voorskrifte daarvan ongestraf oortree kan word. Dit is die plig van elke dienaar van God om hierdie verdraaiers van die geloof vasberade te weerstaan en onverskrokke, deur die woord van die waarheid, hul foute bloot te lê. DHDA 330.2

In sy poging om die vertroue van sy broers in Galasië te herwin, het Paulus sy bevoegdheid as ‘n apostel van Christus op ‘n bekwame wyse bevestig. Hy het verklaar dat hy “...’n apostel nie vanweë mense of deur ‘n mens...” was nie, “...maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het.” Hy het sy opdrag nie van mense ontvang nie, maar van die hoogste Gesag in die hemel. En sy posisie is deur ‘n algemene raadsvergadering in Jerusalem erken, die besluite waaraan Paulus in al sy arbeid onder die heidene voldoen het. DHDA 331.1

Dit was nie om homself te verhef nie, maar om die genade van God te verhoog dat Paulus aan diegene wat sy apostelskap ontken het, bewys gelewer het dat hy “...niks agterstaan by dié uitnemende apostels nie.” (2 Korinthiërs 11:5). Diegene wat sy roeping en sy werk probeer verkleineer het, het teen Christus, wie se genade en krag deur Paulus geopenbaar is, geveg. Die apostel is deur die teenstand van sy vyande gedwing om ‘n besliste standpunt in te neem om sy posisie en gesag te handhaaf. DHDA 331.2

Paulus het by diegene wat voorheen die krag van God in hulle lewens geken het, gesmeek om na hul eerste liefde vir die evangeliewaarheid terug te keer. Met onweerlegbare argumente het hy aan hulle die voorreg voorgehou om vry manne en vroue in Christus te word, deur wie se versoenende genade, almal wat hulle ten volle oorgee, met die kleed van Sy geregtigheid beklee word. Hy het die standpunt ingeneem dat elke siel wat gered wou word ‘n egte, persoonlike ervaring in die dinge van God moes hê. DHDA 331.3

Die apostel se ernstige pleidooie was nie vrugteloos nie. Die Heilige Gees het met groot krag gewerk en baie wie se voete op vreemde weë gedwaal het, het na hulle vorige geloof in die evangelie teruggekeer. Hulle was voortaan standvastig in die vryheid waarmee Christus hulle vrygemaak het. Die vrugte van die Gees is in hulle lewens geopenbaar: “...liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing... ” Die Naam van God is verheerlik en baie is tot die aantal gelowiges in daardie streek bygevoeg. DHDA 331.4