Die Handelinge Van Die Apostels

36/59

Hoofstuk 35—Verlossing vir die Jode*

Na baie onvermydelike vertragings het Paulus Korinthe uiteindelik bereik, die toneel van soveel angsvolle arbeid in die verlede en vir ‘n tyd lank die voorwerp van diep kommer. Hy het gevind dat baie van die vroeëre gelowiges hom steeds met toegeneentheid, as die een wat die lig van die evangelie vir die eerste keer na hulle gebring het, beskou het. Toe hy hierdie dissipels groet en die bewyse van hulle getrouheid en ywer sien, het hy hom verheug dat sy werk in Korinthe nie tevergeefs was nie. DHDA 318.1

Die gelowiges in Korinthe, wat eens so geneig was om hul hoë roeping in Christus uit die oog te verloor, het die krag van ‘n Christelike karakter ontwikkel. Hulle woorde en dade het die herskeppende krag van die genade van God geopenbaar en hulle was nou ‘n sterk mag ten goede, te midde van heidenisme en bygeloof. Die afgematte en bekommerde gees van die apostel het rus in die gemeenskap van sy geliefde metgeselle en getroue bekeerlinge gevind. DHDA 318.2

Gedurende sy verblyf in Korinthe het Paulus tyd gevind om na nuwe en groter diensvelde uit te sien. Sy voorgenome reis na Rome het veral sy gedagtes in beslag geneem. Om die Christelike geloof stewig in die middelpunt van die bekende wêreld gevestig te sien, was een van sy hoogste verwagtinge en mees gekoesterde planne. Daar was reeds ‘n gemeente in Rome gevestig en die apostel het begeer om die samewerking van die gelowiges daar, in die werk wat in Italië en ander lande verrig moes word, te verseker. Om die weg vir sy werk onder hierdie broeders, van wie sommige nog vreemdelinge vir hom was, voor te berei, het hy ‘n brief aan hulle gestuur waarin hy hulle van sy plan om Rome te besoek verwittig het en die hoop uitgespreek om die vaandel van die kruis ook in Spanje te plant. DHDA 318.3

In sy sendbrief aan die Romeine het Paulus die groot beginsels van die evangelie uiteengesit. Hy het sy standpunt oor die vrae wat die Joodse en Heidense gemeentes in beroering gehad het uitgespreek en het hulle daarop gewys dat die hoop en beloftes wat voorheen veral aan die Jode behoort het, nou ook aan die Heidene aangebied is. DHDA 319.1

Met groot helderheid en krag het die apostel die leer van regverdiging deur die geloof in Christus uiteengesit. Hy het gehoop dat ander gemeentes ook baat sou vind by die instruksies wat hy aan die Christene in Rome gestuur het; maar hoe dofweg kon hy die ingrypende invloed van sy woorde voorsien! Deur al die eeue heen het die groot waarheid van regverdigmaking deur die geloof ‘n magtige baken vir boetvaardige sondaars geword om hulle op die lewensweg te lei. Dit was hierdie lig wat die duisternis wat Luther se gemoed omvou het, verdryf het en aan hom die krag van die bloed van Christus om van sonde te reinig, getoon het. Dieselfde lig het duisende sondebelaste siele na die ware Bron van vergifnis en vrede gelei. Elke Christen behoort God te dank vir die sendbrief aan die gemeente te Rome. DHDA 319.2

In hierdie sendbrief het Paulus vrylik sy las vir die Jode uitgespreek. Sedert sy bekering het hy verlang om sy Joodse broeders te help om ‘n duidelike begrip van die evangelieboodskap te kry. Hy het verklaar: “Die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.” DHDA 319.3

Dit was geen gewone begeerte wat die apostel ervaar het nie. Hy het voortdurend ‘n beroep op God gedoen om ten behoewe van die Israeliete wat nie daarin geslaag het om Jesus van Nasaret as die beloofde Messias te erken nie, te werk. “Ek spreek die waarheid in Christus...” het hy die Romeine verseker, “..ek lieg nie-my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees-dat dit vir my ‘n groot droefheid is en ‘n onophoudelike smart vir my hart. Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ‘n vervloeking te wees, weg van Christus af. Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees-Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid!” DHDA 319.4

Die Jode was God se uitverkore volk deur wie Hy van plan was om die ganse mensdom te seën. Onder hulle het God baie profete opgewek. Hulle het die koms van ‘n Verlosser voorspel wat verwerp en gedood sou word deur hulle wat die eerstes moes wees om Hom as die Beloofde te erken. DHDA 320.1

Die profeet Jesaja, wat deur die eeue heen vooruitgekyk het en getuie was van die verwerping van profeet na profeet en uiteindelik van die Seun van God self, was geïnspireer om oor die aanneming van die Verlosser deur diegene wat nog nooit tevore onder die kinders van Israel getel is nie, te skryf. Met verwysing na hierdie profesie verklaar Paulus: “Jesaja durf selfs sê: Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het nie. Maar van Israel sê Hy: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na ‘n ongehoorsame en teësprekende volk.” DHDA 320.2

Al het Israel Sy Seun verwerp, het God hulle nie verwerp nie. Luister hoe Paulus sy betoog voortsit: “Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin. God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elia sê nie?-hoe hy by God optree teen Israel en sê: Here, hulle het U profete gedood en U altare het hulle afgebreek en ek het alleen oorgebly en hulle soek my lewe! Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself seweduisend manne laat oorbly wat die knie voor Baal nie gebuig het nie. Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.” DHDA 320.3

Israel het gestruikel en geval, maar dit het dit nie vir hulle onmoontlik gemaak om weer op te staan nie. In antwoord op die vraag: “Het hulle miskien gestruikel om te val?” antwoord die apostel: “Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek ‘n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening-as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red! Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?” DHDA 321.1

Dit was God se doel dat Sy genade onder die Heidene sowel as onder die Israeliete geopenbaar moes word. Dit is duidelik in die Ou-Testamentiese profesieë uiteengesit. Die apostel gebruik sommige van hierdie profesieë in sy betoog. Hy vra: “Het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? En as God, al wil Hy Sy toorn bewys en Sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van Sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? Soos Hy ook in Hosea sê: Ek sal die wat nie My volk is nie, My volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie My volk nie!-daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.” (Sien Hosea 1:10). DHDA 321.2

Ondanks die mislukking van Israel as nasie, het daar nogtans ‘n goeie oorblyfsel van diegene wat gered sou word, onder hulle oorgebly. Ten tye van die koms van die Heiland was daar getroue manne en vroue wat die boodskap van Johannes die Doper met blydskap ontvang en sodoende gelei is om die profesie aangaande die Messias opnuut te bestudeer. Toe die vroeë Christelike kerk gestig is, het dit uit hierdie getroue Jode wat Jesus van Nasaret erken het as die Een na wie se koms hulle so verlangend uitgesien het, bestaan. Dit is na hierdie oorblyfsel wat Paulus verwys wanneer hy skryf: “As die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook.” DHDA 321.3

Paulus vergelyk die oorblyfsel in Israel met ‘n edele olyfboom waarvan sommige van die takke afgebreek is. Hy vergelyk die Heidene met takke van ‘n wilde olyfboom wat op die oorspronklike stam ingeënt is. “As sommige van die takke afgebreek is en jy wat ‘n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem-dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou. Jy sal dan sê: Die takke is afgebreek sodat ek ingeënt kon word. Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie. Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word.” DHDA 322.1

Deur ongeloof en die verwerping van die doel van die Hemel vir hom, het Israel, as volk, hul verbintenis met God verloor. Maar die takke wat van die oorspronklike stam afgebreek was, kon God weer met die ware stam van Israel-die oorblyfsel wat getrou aan die God van hulle vaders gebly het-herenig. Aangaande die takke wat afgebreek is, verklaar die apostel: “Ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent.” Hy skryf aan die Heidene: “As jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word. Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: DHDA 322.2

“Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem. Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders. Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik. Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid, so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang. Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees.” DHDA 323.1

“O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele en onnaspeurlik Sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was Sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.” DHDA 323.2

So wys Paulus dat God ruim in staat is om die hart van Jode, sowel as Heidene te verander en om aan elke gelowige in Christus die seëninge wat aan Israel beloof is toe te ken. Hy herhaal die verklaring van Jesaja aangaande God se volk: “Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word; want Hy volbring ‘n saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here ‘n saak wat verkort is, op die aarde sal doen. En soos Jesaja tevore gesê het: As die Here van die leërskare vir ons nie ‘n nageslag oorgelaat het nie, soos Sodom sou ons geword het en aan Gomorra gelyk gewees het.” DHDA 323.3

In die tyd toe Jerusalem verwoes en die tempel in puin gelê is, is baie duisende van die Jode verkoop om as slawe in heidense lande te dien. Soos wrakke op ‘n verlate strand is hulle onder die nasies verstrooi. Die Jode het agtienhonderd jaar lank van land tot land oor die hele wêreld uitgewyk en op geen plek is aan hulle die voorreg gegun om hul eertydse aansien as ‘n nasie te herwin nie. Van eeu tot eeu, belaster, gehaat en vervolg was hulle erfenis een van lyding. DHDA 324.1

Ondanks die verskriklike oordeel wat tydens hul verwerping van Jesus van Nasaret oor hulle uitgespreek is, het daar van eeu tot eeu baie edele, godvresende Joodse manne en vroue geleef wat in stilte gely het. God het hulle harte in hul verdrukking vertroos en hulle vreeslike situasie met deernis aanskou. Hy het die gefolterde gebede van diegene wat Hom met hul hele hart gesmeek het vir ‘n ware begrip van Sy woord, gehoor. Sommige het geleer om die nederige Nasarener wat hulle voorvaders verwerp en gekruisig het, as die ware Messias te sien. Namate hulle die betekenis van die bekende profesieë wat so lank deur tradisie en wanvertolking verduister was begryp het, is hulle harte met dankbaarheid jeens God vir die onuitspreeklike gawe wat Hy aan elke mens gee wat kies om Christus as persoonlike Verlosser aan te neem, gevul. DHDA 324.2

Dit was na hierdie klas wat Jesaja in sy profesie verwys dat: “Die oorblyfsel sal gered word.” Van Paulus se tyd af tot vandag toe, roep God deur Sy Heilige Gees die Jood sowel as die Heiden. Paulus het verklaar: “Daar is geen aanneming van die persoon by God nie.” Die apostel het homself as skuldenaar teenoor “...Grieke sowel as nie- Grieke...” beskou; maar hy het nooit die besliste voordele wat die Jode bo ander gehad het uit die oog verloor nie, “...ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is ... Die evangelie...” het hy verklaar, “...is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” Dit was van hierdie evangelie van Christus, van eweveel krag vir Jood en Heiden, dat Paulus in sy sendbrief aan die Romeine verklaar het dat hy hom nie skaam nie. DHDA 324.3

Wanneer hierdie evangelie in sy volheid aan die Jode voorgehou word, sal baie van hulle Christus as die Messias aanvaar. Onder Christen predikante is daar slegs ‘n paar wat geroepe voel om vir die Joodse volk te werk; maar die boodskap van genade en hoop in Christus moet aan diegene wat so dikwels oor die hoof gesien is, sowel as aan al die ander, verkondig word. DHDA 325.1

Aan die einde van die verkondiging van die evangelie, wanneer ‘n spesiale werk vir klasse van mense wat tot nog toe verwaarloos is verrig moet word, verwag God dat Sy boodskappers hulle veral vir die Joodse volk, wat hulle in alle dele van die wêreld sal aantref, sal beywer. Soos die Ou-Testamentiese geskrifte met die van die Nuwe Testament saamgevoeg word, ter verduideliking van die ewige planne van Jehova, sal dit vir baie van die Jode soos die aanbreek van ‘n nuwe skepping wees, die heropstanding van die siel. Wanneer hulle die Christus van die evangeliebedeling op die bladsye van die Ou- Testamentiese Skrifte uitgebeeld sien en besef hoe duidelik die Nuwe Testament die Ou Testament verklaar, sal hulle sluimerende vermoëns opgewek word en sal hulle Christus as die Verlosser van die wêreld erken. Baie sal Christus deur die geloof as hulle Verlosser aanvaar. Vir hulle sal die woorde vervul word: “Almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.” (Johannes 1:12). DHDA 325.2

Onder die Jode is daar sommige wat, net soos Saulus van Tarsus, magtig in die Skrifte is en hulle sal die onveranderlikheid van die wet van God met wonderbare krag verkondig. Die God van Israel sal dit in ons tyd laat geskied. Sy arm is nie te kort om te red nie. Soos Sy dienaars in geloof vir diegene werk wat lank afgeskeep en geminag is, sal Sy verlossing geopenbaar word. DHDA 326.1

“Daarom, so sê die Here tot die huis van Jakob, Hy wat Abraham verlos het: Jakob sal nou nie meer beskaamd staan nie en nou sal sy aangesig nie meer bleek word nie; want as hy, as sy kinders die werk van My hande in sy midde sien, sal hulle My Naam heilig; ja, hulle sal die Heilige van Jakob heilig en vir die God van Israel met ontsag vervul wees; en hulle wat dwalende van gees is, sal insig verkry en die murmureerders sal lering aanneem.” (Jesaja 29:22-24). DHDA 326.2