Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 34—'n Gewyde Bediening
In Sy lewe en lesse het Christus ‘n volmaakte voorbeeld van die onselfsugtige bediening wat sy oorsprong in God het, gegee. God leef nie vir Homself nie. Deur die wêreld te skep en alle dinge te onderhou, dien Hy voortdurend andere. “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.” (Mattheus 5:45). Die Vader het hierdie ideaal vir die bediening aan Sy Seun opgedra. Jesus is gegee om aan die hoof van die mensdom te staan om deur Sy voorbeeld te leer wat dit beteken om te dien. Sy hele lewe het onder die wet van diens gestaan. Hy het almal gedien en was diensbaar vir almal. DHDA 307.1
Jesus het telkens weer hierdie beginsel by Sy dissipels probeer inskerp. Toe Jakobus en Johannes hulle versoek om voorrang te geniet gerig het, het Hy gesê: “Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Mattheus 20:26-28). DHDA 307.2
Sedert Sy Hemelvaart het Christus Sy werk op aarde deur gekose gesante, deur wie Hy tot die mensekinders spreek en in hulle behoeftes voorsien, voortgesit. Die Groot Hoof van die kerk hou toesig oor Sy werk, deur die bemiddeling van mense wat deur God georden is om as Sy verteenwoordigers op te tree. DHDA 307.3
Die posisie van diegene wat deur God geroep is om in woord en leerstelling vir die opbou van Sy kerk te werk, behels groot verantwoordelikheid. Hulle moet, In die plek van Christus, manne en vroue versoek om hulle met God te versoen en hulle kan hul sending slegs vervul as hulle wysheid en krag van Bo ontvang. DHDA 307.4
Christus se bedienaars is die geestelike voogde van die mense wat aan hulle sorg toevertrou is. Hulle werk word met dié van wagte vergelyk. In antieke tye is wagte dikwels op die mure van stede geplaas waar hulle vanaf gunstige uitkykpunte die belangrike punte wat bewaak moes word, kon sien en ‘n waarskuwing kon gee wanneer ‘n vyand nader. Die veiligheid van almal binne die stad was van hulle getrouheid afhanklik. Op vasgestelde tye moes hulle na mekaar roep om seker te maak dat almal wakker was en dat geeneen van hulle enige skade aangedoen is nie. Die uitroep van bemoediging of van waarskuwing is van die een na die ander oorgedra en elkeen het die uitroep herhaal totdat dit rondom die stad weerklink het. DHDA 308.1
Aan elke prediker sê die Here: “En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit My mond hoor, moet jy hulle van My kant waarsku. As Ek aan die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer ... jy het jou siel gered.” (Esegiël 33:7-9). DHDA 308.2
Die woorde van die profeet verklaar die ernstige verantwoordelikhede van diegene wat as voogde van die kerk van God, as rentmeesters van die verborgenhede van God, aangestel is. Hulle moet as wagters op die muur van Sion staan om die alarm te sein wanneer die vyand kom. Siele loop die gevaar om in versoeking te kom en hulle sal vergaan tensy God se predikante getrou aan hul vertroue is. Indien hulle geestelike sintuie om een of ander rede so afgestomp raak dat hulle nie in staat is om die gevaar te sien nie en die mense as gevolg van hulle versuim om hulle te waarsku sterf, sal God die bloed van die verlorenes van hulle hand eis. DHDA 308.3
Dit is die voorreg van die wagte op die mure van Sion om so naby aan God te bly en so gevoelig vir die indrukke van die Sy Gees te wees, dat Hy deur hulle kan werk om manne en vroue aangaande hulle gevaar te waarsku en hulle na ‘n plek van veiligheid heen te wys. Hulle moet hulle getrou waarsku oor die sekere gevolge van oortreding en hulle moet die belange van die kerk beskerm. Hulle mag hul waaksaamheid nie vir een oomblik verslap nie. Hulle werk is ‘n werk wat die inspanning van alle vermoëns van die hele wese vereis. Hulle stem moet soos die klank van ‘n trompet en in geen onsekere noot of wanklank verhef word. Hulle moet nie vir ‘n loon werk nie, maar omdat hulle nie anders kan nie, omdat hulle besef dat daar ‘n wee op hulle is indien hulle nalaat om die evangelie te verkondig. Uitverkies deur God, verseël met die bloed van toewyding, moet hulle manne en vroue van die naderende vernietiging red. DHDA 309.1
Die prediker wat ‘n medewerker van Christus is, sal ‘n diepe besef van die heiligheid van sy werk hê en van die moeite en opoffering wat vereis word om dit met welslae te verrig. Hy streef nie na sy eie gemak of gerief nie. Hy vergeet van homself. In sy soeke na verlore skape, besef hy nie dat hy self moeg, koud en honger is nie. Hy het net een doel voor oë-die redding van die wat verlore is. DHDA 309.2
Wie onder die bloedbevlekte vaandel van Immanuel dien, sal alles moet doen wat heldhaftige inspanning en geduldige uithouvermoë vereis. Maar die soldaat van die kruis staan onverskrokke aan die voorpunt van die stryd. Wanneer die vyand die aanval op hom toespits, wend hy hom na die vesting om hulp en wanneer hy die beloftes van die Woord aan die Here voorhou, word hy vir die pligte van die uur versterk. Hy besef sy behoefte aan krag van omhoog. Die oorwinnings wat hy behaal, lei nie tot selfverheffing nie, maar laat hom al hoe swaarder op die Almagtige steun. Wanneer hy op hierdie krag vertrou, word hy in staat gestel om die boodskap van redding met soveel mag aan te bied, dat dit in andere gemoedere vibreer. DHDA 309.3
Hy wat die Woord leer, moet self in ‘n bewuste, uurlikse gemeenskap met God leef deur gebed en ‘n studie van Sy woord, want dit is die bron van krag. Gemeenskap met God sal aan die pogings van die prediker ‘n mag verleen wat groter as die invloed van sy prediking is. Hy moet hom nie van hierdie mag laat ontneem nie. Met ‘n onweerlegbare erns, moet hy by God pleit om hom krag te gee en te versterk vir die plig en die beproewing en om sy lippe met ‘n lewende kool van die altaar aan te raak. Die houvas van Christus se gesante met die ewige werklikhede is dikwels te gering. As mense met God wil wandel, sal Hy hulle in die rotskloof verberg. In hierdie geborgenheid, kan hulle God sien soos Moses Hom gesien het. Deur die krag en die lig wat Hy voorsien, kan hulle meer begryp en vermag as wat hulle beperkte oordeel moontlik geag het. DHDA 310.1
Die slinksheid van die Satan word met die meeste welslae teen diegene gebruik wat depressief is. Wanneer die prediker deur moedeloosheid oorweldig word, moet hy sy behoeftes aan God bekend maak. Dit was toe die hemele bokant Paulus soos koper voorgekom het dat hy die meeste vertroue in God gehad het. Meer as die meeste mense het hy die betekenis van beproewing geken; maar luister na sy triomfantlike uitroep wanneer hy, deur versoeking omring, sy skrede na die hemel rig: “Ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare.” (2 Korinthiërs 4:17,18). Paulus se oë was altyd vas op die onsigbare, ewige dinge gevestig. Omdat hy besef het dat hy teen bonatuurlike magte stry, het hy sy vertroue in God geplaas en hierin het sy krag gelê. Dit is deur Hom wat onsigbaar is te sien, dat krag en lewenskragtigheid van siel verkry word en die mag van die aarde oor die verstand en karakter verbreek word. DHDA 310.2
’n Predikant behoort vrylik met die mense onder wie hy arbei te meng en deur hulle te leer ken, kan hy weet hoe om sy leer by hul behoeftes aan te pas. Wanneer ‘n leraar ‘n preek gelewer het, het sy werk maar pas begin. Daar is persoonlike werk vir hom om te verrig. Hy moet die mense in hulle huise besoek en in alle erns en nederigheid met hulle praat en saam bid. Daar is gesinne wat nooit deur die waarhede van God se Woord bereik sal word nie, tensy die rentmeesters van Sy genade na hul huise gaan en hulle op die hoër weg wys. Maar die harte van diegene wat hierdie werk doen, moet in harmonie met die hart van Christus klop. DHDA 311.1
Daar is baie in die opdrag vervat: “Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.” (Lukas 14:23). Laat predikante die waarheid aan gesinne leer, nader aan diegene vir wie hulle werk en namate hulle op hierdie wyse met God saamwerk, sal Hy hulle met geestelike krag beklee. Christus sal hulle in hul werk lei en die woorde aan hulle gee, wat diep in die harte van die luisteraars sal indring. Dit is die voorreg van elke prediker om soos Paulus te kan sê: “Ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie ... niks agtergehou van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar [nie] en [het] in julle huise ... aangedring ... op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus.” (Handelinge 20:27,20,21). DHDA 311.2
Die Verlosser het van huis tot huis gegaan, die siekes genees, die wat getreur het vertroos, die wat verdruk was opgerig en tot die troosteloses vrede gespreek het. Hy het die kindertjies in Sy arms geneem en hulle geseën en woorde van hoop en bemoediging tot die vermoeide moeders uitgespreek. Hy het elke vorm van menslike verdriet en ellende met oneindige deernis en teerheid ontmoet. Hy het nie vir Homself nie, maar vir ander gewerk. Hy was die Dienaar van almal. Dit was Sy spys en drank om aan almal met wie Hy in aanraking gekom het, hoop en krag te bring. En terwyl manne en vroue na die waarhede wat oor Sy lippe gegaan het geluister het, waarhede wat so anders was as die tradisies en dogmas wat deur die rabbi’s geleer is, het daar hoop in hul harte ontstaan. In Sy leer was daar ‘n erns wat Sy woorde met oortuigende krag tuisgebring het. DHDA 311.3
God se dienaars moet die werkswyse van Christus leer sodat hulle daardie dinge uit die voorraadstoor van Sy Woord kan bring wat aan die geestelike behoeftes van diegene vir wie hulle werk, sal voldoen. Slegs op hierdie wyse kan hulle hul trou vervul. Dieselfde Gees wat in Christus gewoon het toe Hy die opdrag wat Hy voortdurend ontvang het en deurgegee het, moet die bron van hul kennis en die geheim van hulle krag wees om die Heiland se werk in die wêreld voort te sit. DHDA 312.1
Sommige wat in die bediening werksaam was, het geen welslae behaal nie omdat hulle nie hulle onverdeelde aandag aan die werk van die Here gewy het nie. Predikers behoort geen ander belange te hê behalwe die groot werk om siele na die Verlosser te lei nie. Die vissers wat deur Christus geroep is, het hulle nette dadelik verlaat en Hom gevolg. Predikers kan nie aanvaarbare werk vir die Here doen en terselfdertyd die las van groot persoonlike sakeondernemings dra nie. Sulke verdeelde belange verdof hul geestelike persepsie. Die verstand en die hart is met aardse dinge besig en die diens van Christus neem die tweede plek in. Hulle poog om hul werk vir God volgens hul omstandighede te vorm, in plaas van om die omstandighede te vorm om aan die eise van God te voldoen. DHDA 312.2
Al die energie van die predikant is nodig vir sy hoë roeping. Sy beste kragte behoort aan God. Hy moenie spekuleer of enige ander besigheid doen wat hom van sy groot take weglei nie. “Niemand wat ‘n krygsman is...” het Paulus verklaar, “...wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het.” (2 Timotheus 2:4). So het die apostel die predikant se behoefte aan onvoorwaardelike toewyding aan die Meester se diens beklemtoon. Die predikant wat volkome aan God toegewy is, weier om hom met sake te bemoei wat sal verhinder dat hy homself ten volle aan sy heilige roeping wy. Hy streef nie na aardse eer of rykdom nie; sy enigste doelwit is om ander van die Verlosser wat Homself gegee het om die rykdom van die ewige lewe aan mense te bring, te vertel. Sy grootste begeerte is nie om skatte op die aarde op te gaar nie, maar om die realiteite van die ewigheid onder die aandag van die onverskilliges en ontroues te bring. Hy kan moontlik genooi word om by ondernemings betrokke te raak wat groot wêreldse wins beloof, maar op sulke versoekings antwoord hy: “Wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?” (Markus 8:36). DHDA 312.3
Die Satan het hierdie versoeking aan Christus voorgehou, wetende dat indien Hy dit sou aanvaar, die wêreld nooit losgekoop sou word nie. En onder verskillende voorwendsels, bied hy vandag dieselfde versoekings aan God se dienaars, wetende dat diegene wat daardeur verlei word, ontrou aan hul trou sal wees. DHDA 313.1
Dit is nie die wil van God dat sy dienaars na rykdom moet strewe nie. Hieroor het Paulus aan Timotheus geskryf: “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg en jaag na die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.” Deur sy voorbeeld sowel as sy voorskrif, moet die gesant van Christus die welgesteldes in hierdie wêreld beveel “...om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf. ” (1 Timotheus 6:10,11,17-29.) DHDA 313.2
Die ervarings van die apostel Paulus en sy opdrag oor die heiligheid van die prediker se werk, is ‘n bron van hulp en inspirasie vir almal wat by die evangeliebediening betrokke is. Paulus se hart het gebrand van liefde vir sondaars en hy het al sy kragte in die werk om siele te red ingespan. Nooit het ‘n meer selfverloënende en volhardende arbeider gelewe nie. Die seëninge wat hy ontvang het hy as soveel voordele op prys gestel om tot seën van andere aan te wend. Hy het nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om oor die Verlosser te praat of diegene wat in die moeilikheid was te help nie. Hy het van plek tot plek gegaan en die evangelie van Christus verkondig en kerke gestig. Oral waar hy ‘n gehoor kon vind, het hy gepoog om die bose te bestry en die voete van manne en vroue op die weg van geregtigheid te draai. DHDA 314.1
Paulus het nie van die gemeentes wat hy gestig het vergeet nie. Nadat hy ‘n sendingreis voltooi het, het hy en Barnabas op hulle spoor teruggekeer, die gemeentes wat hulle gestig het besoek en daaruit manne gekies wat hulle kon oplei om die evangelie te verkondig. DHDA 314.2
Hierdie kenmerk van Paulus se werk bevat ‘n belangrike les vir hedendaagse predikante. Die apostel het dit ‘n deel van sy werk gemaak om jongmanne vir die amp van die bediening op te lei. Hy het hulle saam op sy sendingreise geneem en sodoende het hulle ervaring opgedoen wat hulle later in staat gestel het om verantwoordelike poste te vul. Nadat hulle van hom geskei is, het hy steeds kontak met hulle behou en sy briewe aan Timotheus en Titus is ‘n bewys van hoe diep sy begeerte vir hulle sukses was. DHDA 314.3
Ervare werkers verrig vandag ‘n edele werk wanneer hulle, in plaas van te probeer om al die laste self te dra, jonger werkers oplei en laste op hulle skouers plaas. DHDA 314.4
Paulus het nooit van die verantwoordelikheid wat op hom as dienaar van Christus gerus het vergeet nie en dat God hom tot verantwoording sou roep as siele as gevolg van ontrouheid aan sy kant verlore sou gaan. “Waarvan ek ‘n bedienaar geword het...” het hy aangaande die evangelie gesê, “...volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul, naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; waarvoor ek arbei en stry volgens Sy werking wat in my werk met krag.” (Kolossense 1:25-29). DHDA 315.1
Hierdie woorde hou ‘n hoë verwagting van die werker van Christus in, maar tog kan almal wat hulself daagliks in die skool van Christus onder die beheer van die Groot Onderwyser plaas, dit bereik. Die krag waaroor God beskik, is sonder perke en die prediker wat hom in sy groot behoefte met die Here omsluit, kan verseker wees dat hy dit sal ontvang wat vir sy hoorders ‘n geur van lewe tot lewe sal wees. DHDA 315.2
Paulus se geskrifte toon dat die evangeliedienaar ‘n toonbeeld moet wees van die waarhede wat hy leer. “Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie.” Hy het van sy eie werk vir ons ‘n voorbeeld in sy sendbrief aan die gelowiges in Korinthe, gelaat: “In alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede; in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly; in reinheid, in kennis, in lankmoedigheid, in vriendelikheid, in die Heilige Gees, in ongeveinsde liefde; in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand; deur eer en oneer, deur slegte en goeie gerug, as verleiers en tog waaragtig; as onbekendes en tog goed bekend; as sterwendes en kyk, ons lewe; as getugtig en tog nie gedood nie; as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit.” (2 Korinthiërs 6:3, 4-10). DHDA 315.3
Aan Titus het hy geskryf: “Vermaan die jong manne net so om ingetoë te wees. Betoon jou in alles ‘n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid. Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie.” (Titus 2:6-8). DHDA 316.1
Daar is niks meer kosbaar in die oë van God as sy bedienaars, wat na die verwoeste plekke van die aarde uitgaan om die saad van die waarheid te saai en na die oes uitsien nie. Niemand anders as Christus kan die besorgdheid van Sy diensknegte meet terwyl hulle na die verlorenes soek nie. Hy gee Sy Gees aan hulle en deur hulle pogings word siele daartoe gelei om hulle van sonde af te wend na geregtigheid. DHDA 316.2
God doen ‘n beroep op manne wat bereid is om hul plase, hul besighede en indien nodig, hulle gesinne te verlaat om sendelinge vir Hom te word. En die oproep sal beantwoord word. In die verlede was daar manne wat, aangespoor deur die liefde van Christus en die behoeftes van die verlorenes, die gerief van hul huise en die gemeenskap van hulle vriende, selfs dié van vrou en kinders, verlaat het om na vreemde lande te gaan en onder afgodedienaars en barbare die boodskap van genade te verkondig. Baie het in die proses hul lewens verloor, maar ander is opgewek om die werk voort te sit. So het die saak van Christus stap vir stap gevorder en die saad wat in droefheid gesaai is, het ‘n oorvloedige oes opgelewer. Die kennis van God is wyd versprei en die vaandel van die kruis is in heidense lande geplant. DHDA 316.3
Vir die bekering van een sondaar, moet die predikant sy middele tot die uiterste inspan. Die siel wat God geskape en Christus verlos het, is van groot waarde as gevolg van die moontlikhede wat voor hom is, die geestelike voordele wat dit verleen, die vermoëns wat dit kan besit as dit deur die woord van God lewendig word en die onsterflikheid wat dit kan verkry deur die hoop wat in die evangelie aangebied word. En as Christus die nege- en-negentig in die kraal agtergelaat het sodat Hy die een verlore skaap kan soek en red, kan ons dan geregverdig word as ons minder doen? Is versuim om te werk soos Christus gewerk het, om op te offer soos Hy opgeoffer het, nie ‘n verraad van heilige vertroue, ‘n belediging vir God nie? DHDA 317.1
Die hart van die ware prediker is gevul met ‘n intense verlange om siele te red. Tyd en krag word aangewend en moeisame inspanning word nie vermy nie; want ander moet die waarhede wat sulke blydskap en vrede en vreugde in sy eie siel gebring het hoor. Die Gees van Christus rus op hom. Hy waak oor siele soos een wat rekenskap moet gee. Met sy oë op die kruis van Golgota gevestig, terwyl hy na die verhewe Verlosser opkyk, op Sy genade vertrou en glo dat Hy tot die einde by hom sal wees as sy skild, sy krag, sy doeltreffendheid, werk hy vir God. Met uitnodigings en smekinge, gemeng met die versekering van God se liefde, streef hy om siele vir Jesus te wen en in die hemel word hy onder diegene getel wat “...geroepe en uitverkore en getrou...” (Openbaring 17:14) is. DHDA 317.2