Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 33—Werk Onder Moeilike Omstandighede
Hoewel Paulus versigtig was om die duidelike leer van die Skrifte met betrekking tot die regmatige ondersteuning van die werk van God noukeurig aan sy bekeerlinge voorgehou het en hoewel hy, as prediker van die evangelie, die “...reg om die handearbeid na te laat... ” (1 Korinthiërs 9:6) om in sy lewensonderhoud te voorsien, vir homself voorbehou het, het hy homself tog op verskillende stadiums gedurende sy bediening in die groot sentrums van die beskawing, deur middel van sy eie handearbeid onderhou. DHDA 296.1
Onder die Jode was handearbeid nie as vreemd of vernederend beskou nie. Die Hebreërs het deur Moses opdrag ontvang om hul kinders op te lei tot vlytige gewoontes en dit was as ‘n sonde beskou om die jeug onkundig in fisiese arbeid te groot te maak. Al moes ‘n kind vir ‘n heilige amp opgelei word, was kennis van die praktiese lewe as noodsaaklik beskou. Elke jeugdige, ongeag of sy ouers ryk of arm was, is in die een of ander ambag opgelei. Ouers wat nagelaat het om opleiding van hierdie aard aan hulle kinders te gee, is beskou as dat hulle van die opdragte van die Here afwyk. Ooreenkomstig hierdie gewoonte het Paulus reeds vroeg die ambag van tentmaker geleer. DHDA 296.2
Voordat hy ‘n dissipel van Christus geword het, het Paulus ‘n hoë posisie beklee en hy was nie van handearbeid afhanklik vir sy onderhoud nie. Maar later, nadat hy al sy middele vir die bevordering van die saak van Christus aangewend het, het hy soms op sy beroep teruggeval om ‘n bestaan te maak. Dit het veral in plekke gegeld waar sy motiewe moontlik misverstaan kon word. DHDA 296.3
Dit is in Thessalonika dat ons vir die eerste keer lees van Paulus se selfonderhoudende handearbeid terwyl hy die Woord verkondig het. Toe hy aan die kerk van die gelowiges daar geskryf het, het hy hulle daaraan herinner dat hy “...met gesag...” kon opgetree het en bygevoeg: “Julle onthou tog, broeders, ons arbeid en inspanning; want terwyl ons nag en dag gewerk het om niemand van julle te beswaar nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig.” (1 Thessalonicense 2:6,9). En weer, in sy tweede sendbrief aan hulle het hy verklaar dat hy en sy medewerker, terwyl hulle by hulle was, “...nie brood by iemand kosteloos geëet...” het nie. Hy het geskryf dat hulle dag en nag gewerk het “...om nie iemand van julle tot las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as ‘n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg.” (2 Thessalonicense 3:8,9). DHDA 296.4
In Thessalonika het Paulus diegene teëgekom wat geweier het om met hul hande te werk. Dit was van hierdie klas wat hy agterna geskryf het: “Ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is. Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet.” Terwyl hy in Thessalonika gewerk het, het Paulus hom daarop toegelê om vir sulke persone die regte voorbeeld te stel. “Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (Verse 11,12,10). DHDA 297.1
In elke eeu het Satan gepoog om die pogings van God se dienaars te belemmer, deur ‘n gees van fanatisme in die kerk in te bring. So was dit ook in Paulus se dag en so was dit eeue later tydens die Hervorming. Wycliffe, Luther en baie ander wat die wêreld met hulle invloed en geloof geseën het, het met die liste waardeur die vyand gestreef het om oorywerige, ongebalanseerde en onheilige gedagtes tot fanatisme te lei, te doen gekry. Misleide siele het verkondig dat die bereiking van ware heiligheid, die denke bo alle aardse gedagtes voer en dit het daartoe gelei dat mense hulle heeltemal van werk weerhou het. Ander, wat uiterste standpunte oor sekere tekste van die Skrif ingeneem het, het verkondig dat dit ‘n sonde is om te werk-dat Christene hulle nie met hul eie en hul gesinne se tydelike welsyn moet bemoei nie, maar hul lewens geheel en al aan geestelike dinge moet wy. Die leer en voorbeeld van die apostel Paulus is ‘n teregwysing van sulke uiterste sienings. DHDA 297.2
Paulus was nie heeltemal van die werk van sy hande afhanklik vir sy onderhoud terwyl hy in Thessalonika was nie. Later, met verwysing na sy ervarings in daardie stad, het hy aan die Filippense, in erkenning vir die geskenke wat hy van hulle ontvang het toe hy daar was, geskryf en gesê: “Want ook in Thessalonika het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur.” (Filippense 4:16). DHDA 298.1
Ondanks die feit dat hy hierdie hulp ontvang het, was hy versigtig om aan die Thessalonicense ‘n voorbeeld van ywer voor te hou, sodat niemand hom tereg van hebsug kon beskuldig nie en ook sodat diegene wat fanatiese sienswyses aangaande handearbeid gehuldig het, ‘n praktiese teregwysing kon ontvang. DHDA 298.2
Toe Paulus Korinthe vir die eerste keer besoek het, het hy hom onder ‘n volk bevind wat agterdogtig oor die motiewe van vreemdelinge was. Die Grieke aan die seekus was ywerige handelaars. Hulle het hulself vir so lank in geslepe sakepraktyke opgelei, dat hulle geglo het dat wins godvrugtig is en dat dit prysenswaardig was om geld te verdien, hetsy of dit deur billike of oneerlike maniere was. Paulus was bekend met hulle karaktereienskappe en hy sou aan hulle geen geleentheid bied om te sê dat hy die evangelie verkondig het om homself te verryk nie. Hy kon met reg onderhoud van sy Korintiese toehoorders geëis het; maar hy was gewillig om hierdie reg te verbeur sodat sy bruikbaarheid en sukses as prediker nie geskaad sou word deur die onregverdige agterdog dat hy die evangelie vir wins verkondig het nie. Hy sou poog om alle geleenthede vir wanvoorstelling uit die weg te ruim, sodat die krag van sy boodskap nie verlore sou gaan nie. DHDA 298.3
Kort na sy aankoms in Korinthe het Paulus “...’n Jood gevind met die naam van Aquila, afkomstig uit Pontus, wat onlangs met sy vrou Priscilla van Italië gekom het.” Hulle was “...van dieselfde ambag...” as hy. Omdat hulle uit Rome deur ‘n dekreet van Claudius wat alle Jode beveel het om Rome te verlaat verban is, het Aquila en Priscilla na Korinthe gekom, waar hulle ‘n onderneming as vervaardigers van tente begin het. Paulus het navraag oor hulle gedoen en toe hy leer dat hulle God vrees en probeer het om die besoedelende invloede waarmee hulle omring was te vermy, “...het hy by hulle gebly en gewerk. ... En hy het elke Sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig.” (Handelinge 18:2-4). DHDA 299.1
Later het Silas en Timotheus in Korinthe by Paulus aangesluit. Hierdie broeders het geld van die gemeentes in Macedonië vir die ondersteuning van die werk saamgebring. DHDA 299.2
In sy tweede sendbrief aan die gelowiges in Korinthe, wat geskryf is nadat hy ‘n sterk gemeente daar opgerig het, het Paulus aangaande sy lewenswyse onder hulle geskryf. “Het ek sonde gedoen...” het hy gevra, “...deur my te verneder sodat julle verhoog kan word, omdat ek die evangelie van God kosteloos aan julle verkondig het? Ander gemeentes het ek beroof deur vergoeding te neem om julle te bedien; en toe ek by julle teenwoordig was en gebrek gehad het, het ek niemand lastig geval nie. Want in my gebrek het die broeders voorsien wat van Macedonië gekom het. En ek het my in alles in ag geneem om julle nie te beswaar nie en ek sal my in ag neem. So seker as die waarheid van Christus in my is, sal hierdie roem in die streke van Achaje my nie ontneem word nie.” (2 Korinthiërs 11:7-10). DHDA 299.3
Paulus vertel waarom hy hierdie weg in Korinthe gevolg het. Dit was sodat hy vir diegene “...wat ‘n aanleiding wil hê...” geen rede tot verwyt sou gee nie. (2 Korinthiërs 11:12). Terwyl hy as tentmaker gewerk het, het hy ook getrou in die verkondiging van die evangelie gewerk. Aangaande sy arbeid verklaar hy self: “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade. Want wat is daar waarin julle oortref word deur die ander gemeentes, behalwe dat ek persoonlik julle nie lastig geval het nie? Vergeef my hierdie onreg. Kyk, vir die derde keer is ek gereed om na julle te kom; en ek sal julle nie lastig val nie, want ek soek nie julle goed nie, maar julle self ... En ek sal baie graag uitgee, ja myself weggee vir julle siele.” (2 Korinthiërs 12:12-15). DHDA 299.4
Gedurende die lang tydperk van sy bediening in Éfese, waar hy drie jaar lank aktiewe evangelisasiewerk deur die hele streek voortgesit het, het Paulus weer sy ambag beoefen. Soos in Korinthe, is die apostel ook in Éfese deur die teenwoordigheid van Aquila en Priscilla bemoedig, wat hom met sy terugkeer na Asië aan die einde van sy tweede sendingreis, vergesel het. DHDA 300.1
Daar was sommige wat daarteen gekant was dat Paulus handearbeid verrig en verklaar dat dit nie met die werk van ‘n evangeliedienaar strook nie. Waarom moes Paulus, ‘n prediker van die hoogste rang, handearbeid met die prediking van die woord verenig? Was die arbeider nie sy loon werd nie? Waarom moes hy tyd, wat in alle waarskynlikheid beter bestee kon word, aan die maak van tente bestee? DHDA 300.2
Maar Paulus het die tyd wat daaraan bestee is, nie as verlore beskou nie. Terwyl hy saam met Aquila gewerk het, het hy kontak met die Groot Onderwyser gehou en geen geleentheid laat verbygaan om vir die Heiland te getuig en diegene wat hulp nodig gehad het te help nie. Sy gedagtes was voortdurend besig om na geestelike kennis te reik. Hy het sy medewerkers oor geestelike dinge onderrig en hy het ook ‘n voorbeeld van vlytigheid en deeglikheid gestel. Hy was ‘n vinnige, bekwame werker, ywerig in besigheid en “...vurig van gees...” en het die Here gedien. (Romeine 12:11). Terwyl hy sy ambag beoefen het, het die apostel toegang tot ‘n klas mens wat hy anders nie sou kon bereik het nie, gehad. Hy het aan sy medewerkers getoon dat vaardigheid in die alledaagse kunste ‘n gawe van God is, wat die gawe sowel as die wysheid om dit reg te gebruik, geskenk het. Hy het hulle geleer dat God selfs in alledaagse take vereer moet word. Sy grofgewerkte hande het geen afbreuk aan die mag van sy oproepe as Christen-prediker gedoen nie. DHDA 300.3
Soms het Paulus dag en nag gewerk, nie net vir sy eie lewensbehoud nie, maar ook om sy medewerkers te help. Hy het sy verdienste met Lukas gedeel en ook vir Timotheus gehelp. Hy het soms selfs honger gely om die nood van ander te verlig. Sy lewe was onselfsugtig. Teen die einde van sy bediening, tydens sy afskeidsrede aan die ouderlinge van Éfese, in Milete, kon hy sy vereelte hande voor hulle oplig en sê: “Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” (Handelinge 20:33-35). DHDA 301.1
As predikante voel dat hulle in die saak van Christus swaarkry en ontbering ervaar, laat hulle in hul verbeelding besoek bring aan die plek waar Paulus gewerk het. Laat hulle in gedagte hou dat, terwyl hierdie uitverkore man van God met die seil gewerk het, hy vir die brood wat hy na regte met sy arbeid as apostel verdien het, gewerk het. DHDA 301.2
Werk is ‘n seën, nie ‘n vloek nie. ‘n Gees van traagheid vernietig godsaligheid en bedroef die Gees van God. Stilstaande water is aanstootlik, maar ‘n suiwer, vloeiende stroom versprei gesondheid en vreugde regdeur die land. Paulus het geweet dat diegene wat fisiese arbeid verwaarloos vinnig verswak. Hy wou die jong predikers leer dat deur handearbeid, wat die spiere en senings oefen, hulle sterk sou word om die moeite en ontberings wat hulle op die evangelie-gebied te wagte kons wees, te verduur. En hy het besef dat sy eie onderrig geen lewenskrag sou hê indien hy nie alle dele van sy liggaam behoorlik oefen nie. DHDA 301.3
Die luiaard verbeur die waardevolle ervaring wat deur die getroue uitvoering van die algemene pligte van die lewe opgedoen word. Nie net ‘n paar nie, maar duisende mense bestaan net om die voordele wat God in Sy genade aan hulle skenk, op te gebruik. Hulle vergeet om dankoffers aan die Here te bring vir die rykdom wat Hy aan hulle toevertrou het. Hulle vergeet dat deur met wysheid te handel met die talente wat aan hulle verleen is, hulle voorsieners, sowel as verbruikers moet wees. As hulle die werk wat die Here van hulle as Sy helpende hand verlang om te doen sou verrig, sou hulle nie hul verantwoordelikhede vermy nie. DHDA 302.1
Die bruikbaarheid van jong manne wat voel dat hulle deur God geroep word om te preek, hang van die wyse waarop hulle hul werk aanpak af. Diegene wat deur God vir die werk van die bediening gekies word, sal bewys van hul hoë roeping lewer en op elke moontlike manier streef om tot bekwame werkers te ontwikkel. Hulle sal poog om ondervinding op te doen wat hulle in staat sal stel om te beplan, te organiseer en uit te voer. Hulle sal die heiligheid van hul roeping waardeer en deur selfdissipline meer en meer soos hul Meester word en Sy goedheid, liefde en waarheid openbaar. En namate hulle erns met die verbetering van die talente wat aan hulle toevertrou is maak, moet die kerk hulle oordeelkundig bystaan. DHDA 302.2
Nie almal wat voel dat hulle geroepe is om te preek, moet aangemoedig word om hulself saam met hul gesinne onmiddellik op die kerk te verlaat vir deurlopende finansiële ondersteuning nie. Die gevaar bestaan dat sommige met beperkte ervaring deur vleitaal bederf kan word en deur onverstandige aanmoediging, volle ondersteuning verwag sonder enige ernstige pogings van hulle kant af. Die middele wat aan die uitbreiding van die werk van God gewy is, behoort nie deur manne wat slegs wil preek gebruik te word nie, sodat hulle ondersteuning kan ontvang en sodoende ‘n selfsugtige ambisie vir ‘n maklike lewe bevredig nie. DHDA 302.3
Jong manne wat begeer om hul gawes in die werk van die bediening te gebruik, sal ‘n nuttige les in die voorbeeld van Paulus in Thessalonika, Korinthe, Éfese en ander plekke vind. Alhoewel hy ‘n welsprekende spreker was en deur God gekies is om ‘n besondere werk te doen, het hy hom nooit bo arbeid verhewe gevoel nie en het hy nooit moeg geword om op te offer vir die saak wat hy liefgehad het nie. Aan die Korinthiërs het hy geskryf: “Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit.” (1 Korinthiërs 4:11,12). DHDA 303.1
Paulus, een van die grootste menslike leraars, het die nederigste, sowel as die hoogste pligte met blydskap verrig. Wanneer, in diens van sy Meester, omstandighede geblyk het dit van hom te verg, het hy gewillig sy ambag beoefen. Nietemin het hy homself altyd gereed gehou om sy sekulêre werk opsy te sit om die teëstand van die vyande van die evangelie die hoof te bied, of om gebruik van ‘n besondere geleentheid te maak om siele vir Jesus te wen. Sy ywer en vlytigheid is ‘n bestraffing vir traagheid en gemaksug. DHDA 303.2
Paulus het ‘n voorbeeld gestel teen die mening wat destyds ‘n invloed in die kerk verkry het, dat slegs diegene wat geheel en al van die noodsaaklikheid om te werk vrygestel is, die evangelie met welslae kan verkondig. Hy het op ‘n praktiese wyse geïllustreer wat deur toegewyde leke op baie plekke verrig kan word, waar die mense nie vertroud met die waarhede van die evangelie was nie. Sy optrede het baie nederige arbeiders met die begeerte besiel om te doen wat hulle kon om die saak van God te bevorder, terwyl hulle hulself terselfdertyd met daaglikse arbeid onderhou het. Aquila en Priscilla was nie geroep om al hul tyd aan die diens van die bediening van die evangelie te bestee nie, maar hierdie nederige arbeiders is deur God gebruik om die weg van waarheid meer volledig aan Apollos te toon. Die Here gebruik verskillende instrumente om Sy doel te bereik en hoewel sommige met besondere talente gekies word om hul kragte aan onderrig en verkondiging van die evangelie te wy, is baie ander, wat nooit deur die oplegging van mensehande georden is nie, geroep om ‘n belangrike rol in die redding van siele te speel. DHDA 303.3
Daar is ‘n groot veld oop vir die selfonderhoudende evangeliewerker. Baie kan waardevolle ervarings in die bediening opdoen terwyl hulle deeltyds een of ander vorm van handearbeid verrig en op hierdie wyse, kan kragtige werkers vir belangrike diens in behoeftige velde ontwikkel word. DHDA 304.1
Die selfopofferende dienskneg van God wat onvermoeid in woord en leer arbei, dra ‘n swaar las op sy hart. Hy meet nie sy werk aan ure nie. Sy loon beïnvloed hom nie in sy arbeid nie en hy word ook nie van sy plig afgesit as gevolg van ongunstige toestande nie. Hy het sy opdrag uit die hemel ontvang en hy kyk na die hemel vir sy vergoeding wanneer die werk wat aan hom toevertrou is, gedoen word. DHDA 304.2
Dit is God se voorneme dat sulke werkers van onnodige bekommernis bevry sal word, sodat hulle die volle geleentheid kan hê om die opdrag van Paulus aan Timotheus te gehoorsaam: “Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin.” (1 Timotheus 4:15). Hoewel hulle moet sorg dat hulle genoeg oefening kry om liggaam en verstand lewenskragtig te hou, is dit nogtans nie God se plan dat hulle gedwing moet word om ‘n groot deel van hul tyd aan sekulêre werk te bestee nie. DHDA 304.3
Alhoewel hierdie getroue werkers bereid is om vir die evangelie op te offer en opgeoffer te word, is hulle nie teen versoeking gevrywaar nie. Wanneer hulle deur bekommernis, as gevolg van versuim van die gemeente om voldoende finansiële bystand aan hulle te verleen gekniehalter word, word sommige hewig deur die verleier aangeval. Wanneer hulle sien dat hulle arbeid so min gewaardeer word, raak hulle depressief. Dit is waar dat hulle na die tyd van die oordeel uitsien om hulle regmatige beloning te ontvang en dat dit hulle opbeur, maar intussen moet hulle gesinne voedsel en klere hê. As hulle kon voel dat hulle van hul Goddelike opdrag bevry is, sou hulle gewilliglik met hul hande werk. Maar hulle besef dat hulle tyd aan God behoort, ongeag die kortsigtigheid van diegene wat hulle van voldoende middele moes voorsien het. Hulle styg bo die versoeking uit om sake te doen wat hulle buite die bereik van armoede kan plaas en hulle volhard in die bevordering van die saak wat vir hulle kosbaarder is as die lewe self. Om dit te kan doen, kan hulle egter gedwing word om die voorbeeld van die apostel Paulus te volg en tydelik handearbeid te verrig terwyl hulle met hulle evangeliewerk voortgaan. Hulle doen dit nie om hul eie belange te bevorder nie, maar die belange van God se saak op aarde. DHDA 304.4
Daar is soms tye wanneer dit vir die dienaar van God onmoontlik lyk om die werk wat nodig is uit te voer, as gevolg van ‘n gebrek aan middele om ‘n sterk, standvastige werk te verrig. Sommige vrees dat met die middele op hande, hulle nie alles kan doen wat hulle verplig voel om te doen nie. Maar as hulle in geloof voortgaan, sal die verlossing van God geopenbaar word en voorspoed sal hulle werk vergesel. Hy wat Sy volgelinge beveel het om na alle dele van die wêreld te gaan, sal elke arbeider onderhou wat in gehoorsaamheid aan Sy opdrag, Sy boodskap wil verkondig. DHDA 305.1
In die opbou van Sy werk maak die Here nie altyd alles aan Sy dienaars duidelik nie. Soms beproef Hy die vertroue van Sy volk deur omstandighede te bewerkstellig wat hulle dwing om in geloof voort te gaan. Hy bring hulle dikwels in moeilike en beproewende plekke en gebied hulle om, wanneer hulle voete die water van die Jordaan blyk te raak, voort te gaan. Dit is op sulke tye, wanneer die gebede van Sy dienaars in ernstige geloof tot Hom opstyg, dat God die weg voor hulle oopstel en hulle by ‘n groot plek uitbring. DHDA 305.2
Wanneer die boodskappers van God hulle verantwoordelikhede teenoor die behoeftige dele van die Here se wingerd besef en in die gees van die Meesterwerker onvermoeid vir die bekering van siele werk, sal die engele van God die weg voor hulle berei en die middele wat nodig is om met die werk voort te gaan, sal voorsien word. Diegene wat verlig word, sal mildelik bydra om die werk wat in hulle belang verrig word, te ondersteun. Hulle sal op elke oproep om hulp vryelik reageer en die Gees van God sal hulle harte beweeg om die saak van die Here, nie net op die tuisvelde nie, maar in die buitelandse gebiede te ondersteun. Sodoende sal daar vir die arbeidskragte op ander plekke versterking kom en die werk van die Here sal op Sy eie voorgeskrewe wyse voortgaan. DHDA 306.1