Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 32—'n Vrygewige Gemeente
In sy eerste sendbrief aan die kerk in Korinte het Paulus die gelowiges opdrag gegee met betrekking tot die algemene beginsels onderliggend aan die ondersteuning van God se werk op aarde. In sy skrywe aangaande sy apostoliese arbeid namens hulle, vra hy: DHDA 287.1
“Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant ‘n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ‘n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie? Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word.” DHDA 287.2
Die apostel het verder verneem: “As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai? As ander deel het aan die reg op julle diens, het ons nie nog meer nie? Ons het ewenwel nie gebruik gemaak van hierdie reg nie, maar ons verdra alles om geen hindernis vir die evangelie van Christus te veroorsaak nie. Weet julle nie dat die wat met heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie? So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe. ” (1 Korinthiërs 9:7-14). DHDA 287.3
Die apostel het hier na die plan van die Here vir die onderhoud van die priesters wat in die tempel dien, verwys. Diegene wat vir hierdie heilige amp afgesonder is, is deur hul broers wie hulle met geestelike seëninge bedien het, onderhou. “Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel ‘n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem.” (Hebreërs 7:5). Die stam van Levi is deur die Here gekies vir die heilige ampte met betrekking tot die tempel en die priesterskap. Aangaande die priesters is gesê: “Die Here jou God het hom ... uitverkies, dat hy altyd kan staan om te dien in die Naam van die Here.” (Deuteronomium 18:5). Een tiende van al die aanwas is deur die Here as Sy eie geëis en indien iemand die tiende weerhou het, is dit deur Hom as roof beskou. DHDA 287.4
Paulus het na hierdie plan vir die onderhouding van die bediening verwys toe hy gesê het: “So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.” En later het die apostel in sy brief aan Timotheus gesê: “Die arbeider is sy loon werd.” (1 Timotheus 5:18). DHDA 288.1
Die betaling van tiendes was maar net ‘n deel van God se plan vir die onderhouding van Sy diens. Talle geskenke en offergawes is duidelik deur God gespesifiseer. Onder die Joodse stelsel is die volk geleer om ‘n vrygewige gees in die onderhoud van die saak van God te koester, sowel as om in die behoeftes van behoeftiges te voorsien. Vir spesiale geleenthede was daar vrywillige offergawes. Met oestyd en parstyd is die eerstelinge van die veld-koring, wyn en olie-as ‘n offer aan die Here gewy. Die oorblyfsels en die hoeke van die lande was vir die behoeftiges gereserveer. Die eerste vrugte van die wol wanneer die skape geskeer is, van die graan wanneer die koring gedors is, is vir God afgesonder. Dit het ook vir die eerstelinge van alle diere gegeld en ‘n losprys vir die eersgebore seun moes betaal word. Die eerste vrugte moes voor die aangesig van die Here in die heiligdom aangebied word en vir die gebruik van die priesters gewy word. DHDA 288.2
Deur hierdie stelsel van welwillendheid wou die Here Israel leer dat Hy eerste in alles moet wees. So is hulle daaraan herinner dat God die Eienaar van hulle lande, hulle kleinvee en hul beeste was; dat Hy die sonskyn en die reën gestuur het wat die oes laat ontwikkel en ryp gemaak het. Alles wat hulle besit het, was Syne; hulle was slegs die rentmeesters van Sy goedere. DHDA 288.3
Dit is nie God se doel dat Christene, wie se voorregte die Joodse nasie ver oortref nie, minder vrygewig moet wees as hulle nie. Die Heiland het verklaar: “Elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word.” (Lukas 12:48). Die vrygewigheid wat van die Hebreërs vereis was, was grootliks om hul eie nasie te bevoordeel; vandag strek die werk van God oor die hele aarde. Christus het die skatte van die evangelie gedelegeer en op hulle het Hy die verantwoordelikheid gelê om die blye boodskap van verlossing aan die hele wêreld te verkondig. Ons verpligtinge is beslis baie groter as dié van antieke Israel. DHDA 289.1
Namate die werk van God uitbrei, sal die oproepe om hulp al hoe meer toeneem. Om aan hierdie versoeke te voldoen, moet Christene ag slaan op die bevel: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees.” (Maleagi 3:10). As belydende Christene hul tiendes en offergawes getrou aan God bring, sal Sy skatkis vol wees. Dan sal dit nie nodig wees om kermisse, loterye, of plesierige partytjies te reël om fondse vir die ondersteuning van die evangelie in te samel nie. DHDA 289.2
Mense word in die versoeking gebring om hulle middele vir selfbevrediging, vir die bevrediging van eetlus, vir persoonlike versiering of vir die versiering van hul huise te gebruik. Talle gemeentelede aarsel nie om vrylik en selfs uitspattig geld hieraan te bestee nie. Maar wanneer hulle versoek word om tot die skatkis van die Here by te dra vir die voortsetting van Sy werk op aarde, het hulle bedenkinge. Moontlik sal hulle, omdat hulle voel dat hulle nie anders kan nie, ‘n bedrag wat veel kleiner is as wat hulle vir onnodige selfbevrediging uitgee, bydra. Hulle openbaar geen ware liefde vir die diens van Christus nie en geen opregte belangstelling in die redding van siele nie. Dit is geen wonder dat die Christelike lewe van sulke mense net ‘n verdwergde, sieklike bestaan is nie! DHDA 289.3
Hy, wie se hart met die liefde van Christus gloei, sal dit nie net as ‘n plig beskou nie, maar ook as ‘n plesier om te help met die bevordering van die hoogste, heiligste werk wat aan mense toevertrou is, naamlik om die rykdom van goedheid, genade en waarheid aan die wêreld te verkondig. DHDA 290.1
Dit is die gees van hebsug wat mense daartoe lei om hulself tevrede te stel met wat regmatiglik aan God behoort en hierdie gees is vir Hom vandag net so afskuwelik soos toe Hy Sy volk streng deur Sy profeet bestraf en gesê het: “Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!” (Maleagi 3:8,9). DHDA 290.2
Die gees van vrygewigheid is die gees van die hemel. Hierdie gees vind sy hoogste manifestasie in die offer van Christus aan die kruis. Om ons ontwil het die Vader Sy eniggebore Seun gegee; en Christus, nadat Hy alles wat Hy gehad het prysgegee het, Homself gegee sodat die mensdom gered kon word. Die kruis van Golgota behoort vir elke volgeling van die Verlosser ‘n oproep tot weldadigheid te wees. Die beginsel wat daar uitgebeeld word, is om te gee en te gee. “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1 Johannes 2:6). DHDA 290.3
Aan die ander kant, is die gees van selfsug die gees van Satan. Die beginsel wat in die lewe van wêreldlinge uitgebeeld word, is om te vat, vat, vat. Hulle hoop om op hierdie wyse geluk en gemak te verseker, maar die vrug van die saad wat hulle saai, is ellende en die dood. DHDA 290.4
Eers wanneer God ophou om Sy kinders te seën, sal hulle vrygestel word van die bande om aan Hom die gedeelte wat Hy eis te gee. Hulle behoort nie slegs aan die Here daardie deel te gee wat aan Hom behoort nie, maar behoort ook ‘n ruim bydrae as dankoffer na Sy skatkis te bring. Met vreugdevolle harte moet hulle die eerste vrugte van hulle oorvloed aan die Skepper wy, naamlik hul beste en heiligste diens. So sal hulle ryke seëninge ontvang. God self sal hulle siel soos ‘n besproeide tuin maak waar water nooit ontbreek nie. En wanneer die laaste groot oes ingesamel word, sal die gerwe wat hulle in staat was om na die Meester te bring, die loon wees van hul onbaatsugtige gebruik van die talente wat aan hulle verleen is. DHDA 290.5
God se uitverkore boodskappers, wat met aggressiewe arbeid besig is, behoort nooit gedwing te word om op hul eie onkoste tot die stryd toe te tree sonder die deernisvolle en opregte steun van hul broers nie. Dit is die gemeentelede se deel om vrygewig teenoor diegene, wat hul sekulêre diens verlaat het om hulself aan die bediening oor te gee, te wees. Wanneer die predikers van God aangemoedig word, word Sy saak grootliks bevorder. Maar wanneer hul regmatige steun weens die selfsug van mense weerhou word, word hulle hande verswak en dikwels word hul bruikbaarheid ernstig belemmer. DHDA 291.1
Die misnoeë van God word ontketen teen diegene wat beweer dat hulle Sy volgelinge is, maar toelaat dat toegewyde werkers gebrek ly aan lewensbehoeftes terwyl hulle besig is met aktiewe bediening. Hierdie selfsugtiges sal verantwoording moet doen, nie net vir die misbruik van hul Here se geld nie, maar ook vir die neerslagtigheid en hartseer wat hulle optrede aan Sy getroue dienaars veroorsaak het. Diegene wat tot die werk van die bediening geroep is en gehoorsaam aan die roepstem van hulle plig alles prysgegee het om die diens van God te aanvaar, behoort weens hulle selfopofferende werk genoegsaam beloon te word om hulself en hul gesinne te onderhou. DHDA 291.2
In die verskillende afdelings van sekulêre arbeid, kan getroue werkers, geestelik en liggaamlik, ‘n goeie loon verdien. Is die verspreiding van die waarheid en die leiding van siele na Christus nie belangriker as enige gewone sake nie? En is diegene wat hierdie werk getrou verrig, nie met reg op ruim vergoeding geregtig nie? Volgens ons skatting van die relatiewe waarde van arbeid vir morele en liggaamlike beswil, bewys ons ons waardering vir die hemelse in vergelyking met die aardse. DHDA 291.3
Sodat daar fondse in die skatkis vir die onderhouding van die bediening kan wees en om aan die oproepe om hulp in sendingondernemings te voldoen, is dit nodig dat die volk met blymoedigheid vrylik moet bydra. ‘n Plegtige verantwoordelikheid rus op die predikante om die behoeftes van die saak van God aan die gemeentes voor te hou en om hulle te leer om vrygewig te wees. Wanneer dit afgeskeep word en die gemeentes nalaat om in die nood van ander te voorsien, is dit nie slegs die werk van God wat daaronder ly nie, maar word die seën wat die gelowiges toekom, van hulle weerhou. DHDA 292.1
Selfs die heel armstes behoort hulle offergawes aan God te bring. Hulle moet in die genade van Christus deel, deur self te verloën om andere te help wie se behoeftes dringender as hul eie is. Die geskenk van die behoeftige, die vrug van selfverloëning, styg soos welriekende wierook voor God op. En elke daad van selfopoffering versterk die gees van welwillendheid in die hart van die gewer en bring hom in noue kontak met die Een wat ryk was, maar om ons ontwil arm geword het sodat ons deur Sy armoede ryk kan word. DHDA 292.2
Die daad van die weduwee wat die twee muntstukkies, wat alles wa wat sy gehad het, in die skatkis gegooi het, is op rekord geplaas ter aanmoediging van diegene wat, terwyl hulle met armoede worstel, steeds verlang om die saak van God te ondersteun. Christus het die dissipels se aandag op hierdie vrou gevestig wat “...haar hele lewensonderhoud...” (Markus 12:44) gegee het. Hy het haar gawe van meer waarde geag as die groot offergawes van diegene wie se aalmoese geen selfopoffering vereis het nie. Uit hulle oorvloed het hulle ‘n klein gedeelte geskenk. Om haar offergawe te gee, het die weduwee haar selfs van die lewensbenodigdhede ontneem en op God vertrou om in haar behoeftes vir die volgende dag te voorsien. Van haar het die Heiland gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het.” (vers 43). So het Hy geleer dat die waarde van die offergawe nie volgens die bedrag geskat word nie, maar volgens die verhouding wat gegee word en die dryfveer wat die gewer beweeg. DHDA 292.3
In sy bediening van die gemeentes het die apostel Paulus onvermoeid getrag om die harte van die nuwe bekeerlinge te besiel met ‘n begeerte om groot dinge vir die saak van God te doen. Hy het hulle dikwels aangespoor om vrygewig te wees. Aangaande sy vroeëre arbeid onder hulle het hy aan die ouderlinge van Éfese gesê: “Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” (Handelinge 20:35). Aan die Korinthiërs het hy geskryf: “Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.” (2 Korinthiërs 9:6,7). DHDA 293.1
Byna al die gelowiges in Macedonië was arm aan wêreldse goedere, maar hulle harte het oorgeloop van liefde vir God en Sy waarheid en hulle het met blymoedigheid gegee om die evangelie te ondersteun. Toe algemene insamelings ter ondersteuning van die Joodse gelowiges in die Heidense gemeentes ingevorder is, is die vrygewigheid van die Macedoniese gemeentes as voorbeeld aan die ander gemeentes voorgehou. In sy brief aan die gelowiges in Korinthe vestig die apostel hulle aandag op “...die genade van God wat aan die gemeentes van Macedonië geskenk is, dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke milddadigheid. Want hulle was na vermoë ... ja, bo vermoë gewillig, en het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang.” (2 Korinthiërs 8:1-4). DHDA 293.2
Die bereidwilligheid van die Macedoniese gelowiges om op te offer, was die gevolg van heelhartige toewyding. Deur die Gees van God beweeg, het hulle “...hulself eers aan die Here gegee...” (2 Korinthiërs 8:5) en daarna was hulle bereid om hulle middele vrylik by te dra vir die onderhoud van die evangelie. Dit was nie nodig om hulle aan te moedig om te gee nie; hulle het hulle eerder in die voorreg om hulself van selfs die nodige te ontsê sodat hulle in die behoeftes van andere kon voorsien, verbly. Toe die apostel hulle wou keer, het hulle hom oorreed om hulle offergawe te aanvaar. In hulle eenvoud en opregtheid en liefde vir die broeders, het hulle hulself verloën en was sodoende oorvloedig in die vrug van hul welwillendheid. DHDA 294.1
Toe Paulus Titus na Korinthe gestuur het om die gelowiges daar te versterk, het hy hom beveel om die gemeente in die genade van vrygewigheid op te bou en in ‘n persoonlike brief aan die gelowiges het hy self ook ‘n beroep op hulle gedoen: “Soos julle in alles oorvloedig is...” het hy gepleit, “...in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons-sorg dat julle ook in hierdie liefdedaad oorvloedig is ... Maar voltooi nou die daad ook, sodat, net soos die bereidheid om te wil daar was, so ook die voltooiing kan wees uit wat julle besit. Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie ... En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk ... Sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.” (2 Korinthiërs 8:7,11,12;9:8-11). DHDA 294.2
Onselfsugtige vrygewigheid het aan die vroeë kerk groot vreugde besorg, want die gelowiges het geweet dat hul pogings gehelp het om die boodskap van die evangelie na diegene in duisternis te stuur. Hulle welwillendheid het getuig dat hulle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. Wat anders as die heiligmaking van die Gees kan sulke vrygewigheid voortbring? In die oë van gelowiges sowel as ongelowiges, was dit ‘n wonderwerk van genade. DHDA 294.3
Geestelike voorspoed hang ten nouste saam Christelike vrygewigheid. Die volgelinge van Christus moet hulle verheug in die voorreg om die weldadigheid van hulle Verlosser in hul eie lewens te openbaar. As hulle aan die Here gee, het hulle die versekering dat hulle skatte voor hulle na die hemel uitgaan. Wil mense hulle besittings beveilig? Laat hulle dit in die hande wat die littekens van die kruisiging dra plaas. Wil hulle hul middele geniet? Laat hulle dit gebruik om die armes en ellendiges te seën. Wil hulle hul besittings vermeerder? Laat hulle ag gee op die opdrag van God: “Vereer die Here uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.” (Spreuke 3:9,10). As hulle probeer om hulle besittings vir selfsugtige doeleindes te behou, sal hulle dit vir ewig verloor. Maar as hulle hul skatte aan God gee, dra dit van daardie oomblik af Sy inskripsie. Dit is met Sy onveranderlikheid verseël. DHDA 295.1
God verklaar: “Welgeluksalig is julle wat by alle waters saai.” (Jesaja 32:20). Om die gawes van God voortdurend aan die saak van God, oral waar mense se behoeftes ons hulp nodig het te bestee, neig nie na armoede nie. “Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.” (Spreuke 11:24). Die saaier vermenigvuldig sy saad deur dit weg te gooi. So gaan dit met diegene wat die gawes van God getrou uitdeel. Deur uit te gee, vermenigvuldig hulle hul seëninge. God het beloof: “Gee en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee.” (Lukas 6:38). DHDA 295.2